9 bladsye.

Duiwelbesetenheid en die Uitdrywing van Duiwels in die Lig van die Heilige Skrif

Studiestuk opgestel deur die Sinodale Kommissie vir Leer en Aktuele Sake en goedgekeur deur die Sinodale Kommissie van die Ned. Geref. Kerk in die O.V.S.

Inleiding🔗

Die aktualiteit🔗

Die onderwerp hierbo genoem, het in die jongste jare besonder aktueel geword. Verskeie publikasies hieroor het die lig gesien. Daar is ook die aansprake van gelowiges hier te lande en elders dat hulle ondervinding het van duiweluitdrywing.

Die vraag is: Hoe moet hierdie saak van duiweluitdrywing waarvan ons van kleins af in die Bybel gelees het, maar vir ons prakties tog vreemd is, beoordeel word? Kan dit vandag nog voor­kom, beide besetenheid en uitdrywing?

Die onfeilbare norm🔗

Wanneer die kerk vir sy lidmate aangaande hierdie saak rig­ting wil gee, moet dit voor alles vir ons duidelik wees dat die be­roep wat gedoen word op mense wat hier en elders duiwels sou uitdryf, vir ons nooit normatief kan wees nie. Alleen die Heilige Skrif is reël van ons geloof soos die kerk ook bely in artikel 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat lees:

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkomelik bevat en dat alles wat die mens moet glo tot saligheid, daarin genoegsaam geleer word. Want aangesien die hele wyse van die diens wat God van ons eis, uitvoerig beskrywe is, is dit aan geen mens, al was dit ook die apostels, geoorloof om anders te leer nie as wat ons alreeds geleer word deur die heilige Skrifte; ja al was dit ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê. Want omdat dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat, is daardeur duidelik genoeg dat die leer daarvan geheel volmaak en in alle opsigte volkome is. En geen geskrifte van mense, hoe heilig hulle ook al gewees het, mag met die goddelike Skrifte gelykgestel word nie, of ook die gewoonte met die waarheid van God nie – want die waarheid is bo alles – of ook die groot menigte of die oudheid of die opvolging van tye of persone, of die Konsilies, ver­ordeninge of besluite nie; want alle mense is uit hulself leuenaars en nietigheid self. Daarom verwerp ons van ganser harte alles wat met hierdie onfeilbare reël nie ooreenkom nie, soos die apostels ons geleer het as hulle sê: Stel die geeste op die proef of hulle uit God is. En ook: As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie.

Alleen vanuit die onfeilbare Woord van God kan dus riglyne aangedui word en nie vanuit die feilbare ondervinding van mense nie. Die Skrifwoord: "Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie" (Psalm 146:3) kan ook hier in gedagte gehou word.

Bewus daarvan dat hierdie studie nie volledig en uitgebreid aangebied word nie, wil ons tog enkele riglyne probeer aandui. Die riglyne wat ons wil aandui, behandel ons dan kortliks deur te antwoord op die twee vrae: Wat is duiwelbesetenheid? en: Is daar verlossing van duiwelbesetenheid?

Wat is duiwelbesetenheid?🔗

In ons antwoord op die eerste vraag moet ons begin deur iets te sê oor die leer aangaande die duiwels.

  1. Die leer aangaande die duiwels🔗

Die gegewens van die Heilige Skrif aangaande die duiwels, veral wat hul herkoms betref, is betreklik skaars, maar tog vol­doende om ons 'n beeld te gee van die Satan, sy mag en werkinge. Duiwels is gevalle engele; engele is geskape wesens. Hulle was aanvanklik perfekte, sondelose wesens, maar 'n groot menigte van hulle het onder aanvoering van hul leier wat Satan geword het, teen God in opstand gekom. Hulle was klaarblyklik nie gewillig om Gods bestel, sy gesag en sy beskikking vir hulle lewens te aan­vaar nie. Jesaja 14:14 meld dat Satan homself gelyk gestel het met die Allerhoogste; Petrus sê dat hulle gesondig het (2 Petrus 2:4), Judas dat hulle nie hulle beginsel (hul plek en taak as dienende geeste voor Gods troon (Hebreërs 1:14)) bewaar het nie (Judas: 6); Paulus sê dat hulle verwaand geword het. (1 Timoteus 3:6). God het hulle egter uit die hemel uitgewerp, en hulle het met groot woede na die aarde neergedaal (Openbaring 12:12), en hulle is, onder leiding van die Satan (wat beteken: teëstander van God) of duiwel (wat beteken: ophitser, lasteraar, kwaadspreker) op een ding toege­spits, en dit is om die goeie skepping van God te verongeluk (Openbaring 12:9).

Volgens Petrus is hulle tuiste die hel (2 Petrus 2:4); volgens Judas "onder die duisternis" (:6); volgens Openbaring die aarde (12:9, 12). Verskeie Bybelskrywers meld dat hulle aan bande gelê is; in ewige boeie bewaar, in kettings van duisternis oorgegee, en vir die ewige oordeel bewaar word (lees 2 Petrus 2:4; Judas: 6).

Die Satan, al was en is hy en sy engele buitengewoon magtige wesens, bly afhanklik en ondergeskik aan God, en vermag niks as dit hul nie toegelaat word nie. Dit word baie duidelik in die geskiedenis van Job. Greijdanus skryf aan die hand van Judas 6:

We hebben ook hier beeldspraak. Banden wijzen op geboeid zijn, zich niet vrij kunnen bewegen, volstrekt afhankelijk zijn in al zijne bewegingen, zoodat men niets doen kan, noch zich ergens heen begeven kan, dan voorzoover wie God daarvoor toestemming geeft. Duisternis is beeld van ellende. Er is dan geen uitzicht, noch toekomst. In zulk een toestand verkeeren de afgevallen engelen nu de eeuwen door. Zij verkeeren onder de booze zekerheid van eene noch schrikkeliker eeuwige toekomst.

In Openbaring 20:1-3 sien Johannes in 'n hemelse gesig hoe die duiwel, die ou draak/slang gebind word vir 1 000 jaar lank, en daar­deur nog verder aan bande gelê word sodat hy die nasies nie meer sou verlei nie. Ongetwyfeld staan laasgenoemde in verband met die oorwinning van Jesus Christus oor die duiwel in sy koms na die aarde, met die klimaks aan die kruis toe die kop van die slang vermorsel is, terwyl die Saad van die vrou in die hakskeen gebyt is. (Genesis 3:15).

Satan is in beginsel 'n oorwonne vyand – al beteken dit nie dat hy magteloos is nie. Sy nederlaag is verseker; sy oordeel is gewis. (Kolossense 2:15). En sy mag oor die wêreld is gekortwiek – al word ook gesê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê.

Duidelike blyke hiervan is die spoedige verandering wat in die eerste eeue van die Christelike jaartelling ingetree het: Waar voor Christus al die nasies met uitsondering van die Jode in die duisternis van bygeloof en sonde geleef het, het die Christelike godsdiens spoedig na Christus die enigste erkende godsdiens geword, en is die vaandel van die Christelike evangelie tot in die verste heidenland geplant.

Ten opsigte van hierdie een saak, te wete die verleiding van die nasies (Openbaring 20:3) is die duiwel en sy leërmag sterk aan bande gelê tot kort voor die wederkoms, wanneer hy weer geleentheid gebied sal word om sy mag oor heel die aarde te ontplooi in 'n laaste wanhopige poging om die koningskap van Christus omver te werp (Openbaring 20:7, 8). Wie weet of ons nie reeds daardie kort tydjie binne getree het nie? Hy is ewewel steeds in groot woede besig om hom as in sy laaste stuiptrekkings teen die mense van God te keer en hulle teen God op te sweep.

Onthou moet word dat die duiwel 'n geskape wese is en derhalwe nie almagtig, alomteenwoordig of alwetend nie. Ook dat hy 'n oorwonne vyand is. Maar dan weer moet ook rekening gehou word met die feit dat hy as leier van die opstandelinge en afvalliges in die hemel uitermate magtig en slinks was en is; hy is tewens die vader van die leuen (Johannes 8:44); dat hy die bystand van derduisende ander bose en magtige geeste het wat in hul verterende woede en wraaksug 'n formidabele vyand uitmaak; asook dat 'n groot deel van die mensheid hom dien. Hy word derhalwe 'die god van hierdie eeu' (2 Korintiërs 4:4) en die 'owerste van hierdie wêreld' (Johannes 12:31) genoem, en na sy leërmag verwys as die 'owerhede, magte, wêreldheersers van die duisternis, die bose geeste in die lug' (Efesiërs 6:12).

Met Jesus se koms na die aarde, het die Bose klaarblyklik sy magte teen hierdie nuwe aanslag gemonster, en kry ons dan ook te doen met baie gevalle van duiwelbesetenheid, iets waarvan ons in die Ou Testament haas niks verneem nie.

  1. Duiwelbesetenheid🔗

Oor die vraag wat ons onder duiwelbesetenheid moet ver­staan, laat die Heilige Skrif ons nie in die duister nie. Hieroor skryf die bekende Bybelverklaarder dr. S. Greijdanus:

Beseten­heid is dus nie maar die verkeer van 'n geesteskranke onder die oorheersende mag van 'n waandenkbeeld, 'n louter subjektiewe verstoring in die voorstellingswêreld van 'n sielsieke, 'n psigose nie. Ewemin is dit dieselfde as liggaamlike krankheid, hoewel liggaamlike krankheid daarmee kan saamgaan soos blindheid en doofheid (Matteus 12:22), stomheid (Lukas 11:14) en verskynsels van vallende siekte (Markus 9:18) en maansiekte (Matteus 17:15). Dergelike liggaamlike ongesteldhede kan ook heeltemal afwesig wees (Handelinge 19:15, 16). Ook is dit nie gelyk aan kranksinnigheid en waansin nie, ofskoon hierdie geesteskrankheid daarmee kan saamgaan. (Markus 5:2 e.v.).

Besetenheid is volgens die Heilige Skrif dat 'n onge­lukkige na liggaam en siel geheel en al oorheers word deur een (Lukas 4:33 e.v.) of meer (Lukas 8:2; 11:26) of selfs 'n hele menigte (Markus 5:9) duiwels wat aan 'n lyer geweldige liggaamskrag kan gee (Markus 5:3, 4; Handelinge 19:16), hom sy beheer oor eie doen en late heeltemal kan ontneem (Markus 9:18; Matteus 17:15; Lukas 9:39), allerlei krankheid kan veroorsaak soos doofheid en blindheid (Matteus 12:22) en stomheid (Lukas 11:14), sy voorstellings- en gedagtewêreld heeltemal in verwarring kan bring (Lukas 4:34), in die mate selfs dat sy selfbewussyn heeltemal teruggestoot en oorheers word, sodat hy hom vereenselwig met die duiwel wat hom oorheers. (Markus 5:7, 9).

Christelijke Encyclopaedie 1925 1, bl. 301

Dit moet dus vir ons duidelik wees dat duiwelbesetenheid nie met elke siekte of hinderlike gewoonte of sonde uit swakheid van die vlees vereenselwig mag word nie. Duiwelbesetenheid kan met genoemde dinge gepaard gaan, maar nie noodwendig nie. Dit is 'n groot mistasting om die duiwel alleen verantwoordelik te hou vir elke sonde of siekte of lastige gewoonte. Die mag van die vlees en van die wêreld wat in die Heidelbergse Kategismus (Sondag 52) saam met die duiwel genoem word as die doodsvyande van die Christen, moet nie onderskat word nie.

  1. Die voorkoms van duiwelbesetenheid🔗

Duiwelbesetenheid is 'n verskynsel wat veral tydens die aardse omwandeling van Jesus en in die eerste eeu van ons jaartelling voorgekom het. Die apostel Johannes skryf dat die Seun van God gekom het om die werke van die duiwel te verbreek. (1 Johannes 3:8). Dit het die duiwel alte goed geweet (Markus 1:24; 5:7). Dit spreek dan ook vanself dat die Satan al sy mag ingespan het om te oorwin. Daartoe het hy persoonlik probeer om deur versoekings die Here Jesus te verlei (Matteus 4:1 e.v.). Toe hy hiermee geen sukses gehad het nie, het hy op ander maniere probeer om Christus te bestry en teen te werk, en die voortgang van die Evangelie te verhinder. (Lukas 10:19; Openbaring 12:12 e.v.). Besetenheid was een van die mid­dele waarvan die ryk van die duiwels hom bedien het om hierdie onheilige doel te bereik. In 'n poging om sy buit hom nie te laat ontneem nie, het die duiwel in 'n heel besondere sin beslag gelê op hulle vir wie hy in sy mag gekry het, en dit het 'n besondere uit­daging vir die verlossingsmag van die Here Jesus gevorm.

Beseten­heid is egter nie die hoogste doel wat Satan beoog nie. Hy wil dit wat hy by Judas Iskariot bewerk het (Johannes 13:27) en wat hy by die antichris tot stand sal bring (2 Tessalonisense 2:9; Openbaring 13:2 e.v.), naamlik dat die mens hom geheel en al aan die duiwel oorgee en as gewillige instrument aan hom diensbaar word. Aan die einde van die dae sal die duiwels, aangesien dit spoedig met hul mag en vrye beweging klaar sal wees (Openbaring 12:12), en wetende dat 'n ewige en rampsalige oordeel vir hulle wag (Openbaring 19:20; 20:10) nogeens, en dan vir die laaste keer, doen wat hulle kan om hul neerlaag in 'n oorwinning te omskep, of om die koninkryk van die Here soveel moontlik te benadeel. Waar die Evangelie van Jesus Christus teëgestaan en verwerp word, kry die ryk van die duisternis meer heerskappy. Gevalle van besetenheid kan daarom in 'n verwêreldlikte Christendom wat aan sy wese ontrou geword het, nie on­moontlik of ondenkbaar genoem word nie (Lukas 11:24:26), en dit is in die heidendom, wat die seënryke inwerking van die Evangelie ontbeer of hulle daarteen afsluit en verset, allermins ondenkbaar. (Efesiërs 2:2; Kolossense 1:13). Hier (in die heidendom) is duiwelbeseten­heid veral reaksie teen die verkondiging van die Evangelie van Jesus Christus en die koms van Sy Koninkryk. Namate die wederkoms van Jesus Christus naderkom, en die loslating van die duiwel plaasvind sal in toenemende mate die werking van die duiwels in die mensdom ondervind word, en dit nie alleen in versoeking en verleiding nie, maar veral ook in besetenheid en verleiding tot aanbidding van homself.

  1. Die Christen en duiwelbesetenheid🔗

Dat duiwels in ongeredde mense kan woon en dat mense só onder die mag van die duiwel kan kom, dat hulle as duiwelbesetenes beskou moet word, is dus volgens die Heilige Skrif; maar dan ont­staan die vraag of die kinders van die Here ook so deur die duiwel in besit geneem kan word dat daar van duiwelbesetenheid sprake kan wees. Met ander woorde, moet ons aanvaar dat die duiwel met die Heilige Gees in een lewe kan saamwoon? Ons wil aanvaar dat as 'n duiwel of demoniese mag uit iemand gedrywe word, hy dan in daardie lewe moes gewees het. Om uitgedrywe te word, moes hy in die lewe wees. Dit sal duidelik wees dat as die duiwel nie saam met die Heilige Gees in een lewe en liggaam kan woon nie, daar nie sprake van kan wees dat duiwels uit sodanige kind van die Here gedrywe kan word nie en ons dus versigtig moet wees om nie duiwels in gelowiges te soek nie.

As ons 'n antwoord op die vraag moet gee of die duiwel in iemand wat deur die Heilige Gees wederbaar is en in wie Christus kom woning maak het, kan woon, dan moet ons, op grond van die Woord, onomwonde verklaar dat so iets nie moontlik is nie.

Die Woord van die Here leer dat selfs die gelowiges dikwels sondig. Gods kinders kan die Heilige Gees bedroef en ongehoor­saam aan God wees. Hoeveel bewyse het ons nie daarvan in die Heilige Skrif dat die beste onder Gods kinders een of ander tyd in 'n oomblik van swakheid of onnadenkendheid teen God gesondig het nie.

Sou ons egter toegee dat elke sonde of swakheid met 'n duiwel geïdentifiseer of gelykgestel moet word, moet ons ook aanvaar dat die duiwels in onse Here Jesus ingetrek het toe Hy aan die kruis vir die sondes van die mens gesterwe het. Die Skrif leer ons in 1 Petrus 2:24 van Jesus wat "self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het", en in 2 Korintiërs 5:21 word verklaar: "Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom." 'n Stelling dat die demone van Jesus besit sou geneem het toe Hy ons sondes op Hom geneem het, sou heeltemal in stryd wees met die Skrif.

Sonde het ook geen persoonlikheid op sigself nie, maar is die verleiding en ongehoorsaamheid en opstandigheid waartoe 'n duiwelse persoonlikheid ons as kinders van die Here kan bring. Johannes skryf in sy eerste brief: "Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie (hulle leef onder die genade), …maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie." (1 Johannes 5:18). Die duiwel het geen vat op die gelowige nie. Hy sal met die gelowige praat soos hy met Jesus gepraat het. Hy sal die kind van die Here versoek en probeer ver­lei, maar hy sal nooit in die kind van God kan intrek nie, net so min as wat by in Christus kon ingetrek het.

Ons is bewus van die duiwel se aanval op Jesus en die ver­soekinge wat hy oor die weg van Jesus gebring het. Hy het buite die lewe van Christus gestaan en van buite af Hom probeer beïnvloed om hom gehoorsaam te wees. So sal hy van buite af die kinders van die Here ook probeer verlei om aan hom gehoorsaam te wees en aan God ongehoorsaam. En hy doen dit deur gedagtes in die hart en verstand van die mens te plant. Dit is dus duidelik dat die duiwel vir ons as gelowiges kan gebruik na die mate waarin by daarin slaag om ons te mislei. Maar selfs al sou die kind van God aan die duiwel gehoor gee, wil dit nog nie sê dat die duiwel die plek van die Heilige Gees ingeneem het of langs Hom plek inge­neem het nie.

Die Woord van die Here leer verder dat as ons eenmaal Sy kind is, ons dit vir altyd is. Ons hoor Hom sê in Johannes 10:18 en 29:

En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit My hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand sal hulle uit die hand van My Vader ruk nie.

Ons lees in Romeine 8:38, 39: "Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, ons Here is nie."

lees ook Romeine 11:29; Filippense 1:6.

Hierdie leer van die Heilige Skrif word in hoof­stuk 5 van ons belydenisskrif, die Dordtse Leerreëls soos volg saam­gevat:

1. "Diegene wat God na Sy voorneme roep tot die gemeenskap van Sy Seun, onse Here Jesus Christus, en deur die Heilige Gees wederbaar, hulle verlos Hy wel van die heerskappy en slawerny van die sonde, maar Hy verlos hulle in hierdie lewe nie geheel en al van die vlees in die liggaam van die sonde nie.

3. Vanweë hierdie oorblyfsels van die inwonende sonde en ook vanweë die aanvegtinge van die wêreld en van Satan, sou die bekeerdes in die genade nie standvastig kan bly as hulle aan hulle eie kragte oorgelaat was nie. Maar God is getrou, wat hulle in die genade wat aan hulle eenmaal gegee is, barmhartigheid bevestig en hulle tot die einde toe kragtiglik bewaar.

4. En alhoewel die mag van God waardeur Hy die ware gelowiges in die genade bevestig en bewaar so groot is dat hulle deur die vlees nie kan oorwin word nie, so word die bekeerdes nogtans nie altyd deur God so gelei en beweeg dat hulle in sommige besondere dade, deur hul eie skuld, van die leiding van die genade nie sou kan afwyk en deur die begeerlikhede van die vlees verlei sou word en dit volg nie. Daarom moet hulle gedurigdeur waak en bid dat hulle nie in versoeking gelei word nie. En as hulle dit nie doen nie, kan hulle nie alleen deur die vlees, die wêreld en Satan tot sware en ook gruwelike sondes verlei word nie, maar word hulle ook inderdaad, deur die regverdige toelating van God, daartoe soms verlei. Soos die droewige val van Dawid, Petrus en ander heiliges wat vir ons in die Skrif beskrywe is, bewys.

6. Want God, wat ryk is in barmhartigheid, neem, volgens die onveranderlike voorneme van die uitverkiesing, nie die Heilige Gees van Sy eiendom, ook selfs in hul droewige val, heeltemal weg nie, en Hy laat hulle nie so ver verval dat hulle uit die genade van die aanneming en uit die staat van die regverdigmaking uitval nie, of dat hulle die sonde tot die dood of teen die Heilige Gees bedrywe en, geheel en al deur Hom verlate, hulself in die ewige verderf stort nie.

9. Van hierdie bewaring van die uitverkorenes tot die salig­heid en van die volharding van die ware gelowiges in die geloof, kan die gelowiges self versekerd wees, en hulle is dit ook volgens die maat van die geloof waarmee hulle sekerlik glo dat hulle ware en lewende lede van die kerk is en altyd sal bly, dat hulle vergifnis van die sondes en die ewige lewe deelagtig is.

14. Soos dit God dan behaag het om hierdie goddelike genadewerk deur middel van die evangelieverkondiging in ons te begin, so bewaar, agtervolg en volbring Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking daarvan, asook deur ver­maninge, bedreiginge, beloftes en deur die gebruik van die heilige sakramente."

Wie vir elke sonde 'n duiwel in die mens sien, verstaan nie ge­noegsaam die stryd in die gelowige teen die vlees en die ou mens nie.

In hierdie verband praat dr. W. D. Jonker van 'Die Ou en die Nuwe Mens': Dit hang saam met die feit dat die gevolge van die sonde in hierdie bedeling nog nie heeltemal verwyder word nie. Een van die vernaamste gevolge van die sonde is egter dat ons natuur, ons innerlike aard as mense, bedorwe geraak het deur die sonde. Hierdie ou geaardheid word nie direk van ons weggeneem as ons tot bekering kom nie. Inteendeel, dit bly in ons aanwesig tot ons dood.

Die Bybel noem hierdie ou, sondige geaardheid die ou mens en bedoel daarmee ons sondige self soos ons deur die sondeval geword het (lees Efesiërs 4:22; Kolossense 3:9). Hierdie ou sondige mens staan onder die heerskappy van die sonde. Dit is vol opstand teen God. Dit staan lynreg teenoor die wil van God vir ons lewe. Dit haat die nuwe mens wat in ons tot stand gekom het deur die wedergeboorte. (Efesiërs 4:24). Dit bly ons by en soek voortdurend om in ons die botoon te voer. Die Bybel staan vol oproepe tot ons dat ons hierdie ou mens in ons moet verloën en hom moet kruisig, aan hom geen ruimte moet gee nie en geen voorsiening vir hom moet maak nie. Dit is die wil van God vir ons lewe dat ons onsself tot beskikking van God moet stel en ons steeds meer moet beklee met die nuwe mens wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. (Efesiërs 4:24).

VLEES EN GEES': Die apostel maak dit duidelik dat daar in die gelowige mens eintlik twee beginsels aanwesig is: die beginsel van die sonde en die beginsel van gehoorsaamheid aan God. Hierdie twee beginsels staan lynreg teenoor mekaar en dit bring in die lewe van die kind van God 'n voortdurende stryd mee. Paulus noem hierdie twee beginsels die wet van die vlees en die wet van die Gees.

Onder die vlees verstaan hy die sondige geaardheid van die mens. Daarvan sê hy in Romeine 8:7 dat dit vyandskap teen God bedink en hom nie aan die wet van God wil of kan onderwerp nie. Diegene wat in die vlees is, dit wil sê wat onder die heerskappy van die ou sondige geaardheid verkeer, kan God nie behaag nie. (Romeine 8:8). Inteendeel: die vlees bring onnoemlik veel godde­loosheid en boosheid voort. Die mens wat volkome deur die vlees beheers word, kan nooit die koninkryk van God beërwe nie, want so 'n mens is deur en deur goddeloos.

Gelukkig is daar in die wedergebore mens ook 'n nuwe beginsel aanwesig, die Heilige Gees wat van binne uit die mens vernuwe na die beeld van Christus. Van die gelowiges geld dat hulle in die Gees is, dit wil sê dat hulle onder die heerskappy van die Gees van God staan. (Romeine 8:9).

Die dubbelslagtigheid van die posisie van die gelowige in hierdie aardse bedeling is dus dat aan die een kant van hom gesê kan word dat die Heilige Gees in hom woon en hom van binne-uit vernuwe, terwyl dit aan die ander kant ook van hom geld dat die vlees nog in hom aanwesig is en dikwels daarin slaag om hom die wil van die vlees te laat doen. Die Gees en die vlees staan in die gelowige teenoor mekaar (Galasiërs 5:17). Die vraag is aan wie hy gehoorsaam sal wees. Solank hy hom aan die leiding van die Gees toevertrou en deur die Gees wandel, kan hy die kwade weerstaan en oorwin. Sodra hy egter aan die lokstem van die vlees gehoor gee, dien hy weer die sonde en bedroef hy die Heilige Gees."

Die Probleem van Sonde deur dr. W. D. Jonker.

Ons sou dus kon sê:

  1. Duiwels kan in ongelowiges woon en hulle in mindere of meerdere mate oorheers en gebruik.
  2. Duiwels kan gelowiges aanval, versoek en verlei.

  3. Duiwels kan nie in gelowiges woon nie.

  4. Duiwels kan dus ook nie uit gelowiges uitgedryf word nie.

  5. Elke gelowige is die uitsluitlike eiendom van die Here. (1 Korintiërs 2:16, 23: Titus 2:14).

  6. As die gelowige eenmaal kind van God is, is hy dit vir altyd, al kan hy soms 'n ongehoorsame, wederstrewige opstandige, lui en vleeslike kind wees.

  7. Satan het geen reg of seggenskap op hulle wat deur die bloed van Christus met God versoen is nie. (Romeine 8:33).

  8. Die algenoegsame verlossingswerk van Jesus Christus word in twyfel getrek indien die duiwel nogtans in die kinders van die Here kan woon. Jesus Christus het deur een offer vir altyd volmaak die wat geheilig word. (Hebreërs 10:14). Die verlossing wat Jesus Christus teweeggebring het, is 'n ewige verlossing (Hebreërs 9:12).

  9. Daar moet gewaak word teen die gedagte om verlossing van sonde aan duiweluitdrywing alleen toe te skryf. Die kwaad moet oorwin word deur die goeie. "En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie. Dan sê hy, ek sal terug gaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgevee en versier. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. So sal dit ook wees met hierdie bose geslag." (Matteus 12:43-45).

  10. Almal wat duiwels uit gelowiges wil drywe, is besig met 'n twyfelagtig en gevaarlike praktyk en misken die alleenreg van die Here op Sy bloedgekoopte eiendom.

Is daar verlossing van duiwelbesetenheid?🔗

Nadat ons 'n antwoord gesoek het op die vraag wat duiwel­besetenheid is, wil ons vervolgens aandag gee aan die vraag: Is daar verlossing van duiwelbesetenheid?

  1. Wat leer die geskiedenis?🔗

In hierdie verband sal dit goed wees om kortliks op die ge­skiedenis ag te gee.

 

Die Heilige Skrif self bied weinig gegewens oor duiweluitdry­wing. Ons lees dat Jesus Christus deur die krag van God duiwels uitgedryf het (Matteus 8:28-34; 17:14-18; Markus 7:24-30), dat Paulus 'n waarsêende gees uit iemand uitgedryf het (Handelinge 16:16-­18), dat duiwels onder die bediening van die apostels uit mense uit­gegaan het (Handelinge 5:16; 8:7 en 19:12), dat die dissipels met die uitdryf van duiwels sukses (Lukas 10:17) en mislukking (Matteus 17:14-­17) gehad het, en dat Jode wat duiwelbesweerders was die Naam van die Here Jesus wou gebruik om duiwels uit te dryf. (Handelinge 19:13). In plaas daarvan dat hulle die duiwels uit die mense kon uitdryf, het die duiwels húlle naak en gewond uit die huis gedryf! (Handelinge 19:14-16).

Hoewel die teksverband van die verbod in Deuteronomium 18:11 wys in die rigting van dode- en geestesbesweerders, en Saul (1 Samuel 28:3-10) en Josia (2 Konings 23:24) die duiwelbesweerders uitgeroei het, was daar veral in die latere Jodedom ten tyde van Christus se aardse lewe, vele wat hierdie duistere kuns beoefen het en daarvan 'n wins­gewende bedryf gemaak het. Deur allerlei towerspreuke en die noem van name het hulle voorgegee om duiwels uit te ban. Ook Josephus die Joodse geskiedskrywer, spreek van dergelike praktyke. Daar moet egter op gelet word dat hierdie praktyk van duiwel beswering sy oorsprong in die heidendom het, juis daarom deur God verbied is (vgl. ook die Nagmaalsformulier) en geen verband het met die mag tot duiweluitdrywing wat Jesus aan al Sy gelowiges gegee het nie.

Na die afsluiting van die kanon vermeld die Apologete en Kerkvaders Justinus die Martelaar, Irenaeus, Tertullianus, Origenes en Athanasius, dat in hul dae besetenheid nog bestaan en dat ook genesing daarvan voorkom.

Eeue later, toe daar 'n nuwe, maar ook oordrewe en skeefge­trokke, belangstelling in en bewustheid van die teenwoordigheid en die werking van die duiwels was, en hulle al meer konkreet voorgestel was, en die hele lewe beskou was as geteister deur die duiwels, en allerlei verhale die rondte gedoen het van ontmoetings met die duiwels, het die kerk optrede beplan; egter op heel onskrif­tuurlike en bygelowige wyse: deur allerlei magiese afweermiddels teen die duiwels te versin, soos byvoorbeeld. Wywater, doopwater, relikwieë, kruistekens, ens.

Nog later, gedurende die Middeleeue het die angs vir die duiwel geweldige afmetings aangeneem, en is die spoor van die Skrif nog verder byster geraak. Toornvliet praat in Christelijke Encyclopaedie 2, p. 578 van 'n "psigiese epidemie" wat uitgebreek het. Duiwels is oral raakgesien. Mense is allerweë beskuldig as sou hulle deur die duiwel besete wees, of in alliansie met die duiwel leef. Niemand was heeltemal veilig nie. Heksejagters het hulle uitgeruik en verbrand. "Bewyse" is opgediep deur middel van allerlei metodes soos die "hekseskaal", bloedtoetse, maar veral die pynbank. Die infeksie was so intens dat baie mense onder die waan geleef het dat hulle hulself aan die duiwel gegee het, en hulleself vrywillig oorgegee het. Dit word beweer dat by die een miljoen mense as gevolg hiervan om die lewe gebring is.

In die jare van die Aufklärung met sy optimistiese lewensbe­skouing was daar eintlik geen plek meer vir die duiwel nie. Gaande­weg is die duiwels wegverklaar as projeksie van skuldgevoelens deur mense wat as kinders bang gepraat is.

Waar die lig van die Evangelie in die Reformasie egter deur­gebreek het, is enersyds aan die demoniese heksejagtery 'n einde gemaak, en andersyds weer met die duiwel rekening gehou as 'n werklikheid.

Bekend is veral die persoon van J.C. Blumhardt (1805-1880) wat oortuig geraak het daarvan dat baie mense deur die Satan gebind is, en wat talle deur sy groot vertroue in Jesus as die Oor­winnaar kon bevry.

  1. Skriftuurlike beoordeling🔗

In die jongste jare het gelowiges van oorsese kerke asook hier te lande gekom met aansprake dat hulle van duiweluitdrywing ondervinding het. Die vraag is vir ons: Hoe moet ons wat in die verband geskryf en beweer word, beoordeel? Moet dit gesien word as 'n besondere gawe wat die Here aan sommige gelowiges gee om duiwels uit te dryf? Is daar nie ook ander maniere om die duiwel te bestry nie?

Uit Matteus 10:1 is dit vir ons duidelik dat Christus aan al Sy gelowiges die mag (bevoegdheid) gegee het om duiwels uit te dryf en in Markus 16:17 sê die Here Jesus:

"En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: In My Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek"

Dit is 'n geestelike mag wat gegrond is in die mag van Jesus Christus; Hy aan wie alle mag in hemel en op aarde gegee is (Matteus 28:18). Vanweë die mistieke eenheid tussen Christus en Sy gelowiges is Sy oorwinning ook hul oorwinning.

Dit is 'n geestelike mag wat alleen in die krag van die ware geloof beoefen kan word. Juis vanweë hul kleingeloof het die dissipels die stomme gees nie uit die maansieke seun kon uitdryf nie (Matteus 17:19, 20). Dit kan egter nie aanvaar word dat hierdie geestelike mag beoefen kan word slegs deur diegene wat sogenaamd begiftig is met die gawe van 'n wondergeloof nie. Sonder kwalifi­kasie het Christus hierdie mag tot duiweluitdrywing toegesê aan dié wat glo. (Markus 16:17).

Vir die beoefening van hierdie mag wat Christus aan Sy apos­tels gee, vra Christus nie alleen 'n sterke geloof nie, maar ook gebed en vas, soos blyk uit die duidelike Skrifwoord: "Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie" (Markus 9:29).

Noukeurige ondersoek van wat die Heilige Skrif aangaande duiweluitdrywing en bestryding leer, bring ons verder tot die besef:

  1. Dat daar ook valse aansprake op die mag tot duiweluit­drywing bestaan. In sy Bergpredikasie het die Here Jesus onder andere gesê: "Baie sal in daardie dae vir My sê: Here, Here, het ons nie in U naam geprofeteer en in U Naam duiwels uitgedryf en in U Naam baie kragte gedoen nie? en dan sal Ek aan hulle sê: Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!" (Matteus 7:22, 23). Ja, die moontlik­heid is daar dat mense hulle op sulke kragtige dade kan beroem sonder dat Christus hulle ken, en dat hulle in die dag van gerig weggestuur sal word met die ontmaskerende woord: "Julle wat die ongeregtigheid werk" (lees ook Handelinge 19:13-16).
  2. Dat die mag tot duiweluitdrywing wat in die oorwinnings­mag van Christus beoefen word, nie die samewerking van die besetene behoef nie. Die persoon van wie die duiwel besit geneem het, sal nie gedwee en hulpsoekend na die gesante van Christus kom nie, maar eerder die Christus­gesant probeer ontwyk. Waar die samewerking van 'n persoon voorvereiste tot "duiweluitdrywing" is, wil dit eerder die indruk van 'n psigoterapeutiese behandeling wek as van werklike verlossing uit die mag van 'n duiwel.
  3. Dat die mag tot duiweluitdrywing nie die enigste en selfs nie die belangrikste metode van duiwelbestryding is nie. Dit is opmerklik dat in die voortgang van die Godsopen­baring, soos veral opgeteken in die briewe van die apostels, duiweluitdrywing geensins as metode van duiwelbestryding genoem word nie. Dit was by die apostels dus geen alge­mene praktyk nie. Die kerk word wel vermaan om aan die duiwel geen plek te gee nie (Efesiërs 4:27), om die duiwel te weerstaan (Jakobus 4:7), om in die stryd teen die duiwel nugter en waaksaam te wees (1 Petrus 5:8) en om die volle wapen­rusting van God aan te trek (Efesiërs 6:11). Selfs in die klassieke hoofstuk oor duiwelbestryding (Efesiërs 6) word van duiweluitdrywing geen woord gerep nie (Efesiërs 6:14-18). Ook sonder die praktyk van duiweluitdrywing is die wapen­rusting soos hier beskryf, nog "vol".

Duiweluitdrywing moet nie oorbeklemtoon word en tot 'n besondere bedieningsmetodiek verhef word nie. Veel eerder moet die Evangelie van Jesus Christus wat 'n krag van God is tot redding vir elkeen wat glo met nougesette suiwerheid verkondig word, die gebed volhardend en gelowig beoefen word, en die stryd teen die duiwel en sy helpers gevoer word met die middele waaroor die Heilige Skrif geen twyfel laat nie