Bron: Kompas. 5 bladsye.

Eenheid in Verskeidenheid in die Ampsdiens

Die samewerking tussen diaken, ouderling en predikant is van groot belang, aangesien dit die opbou van Christus se gemeente raak. As kerkraadslede onderling begin stry oor wat die een of die ander se werk is, doen dit skade aan die opbou van die gemeente. Die vraag is eerder hoe die diaken byvoorbeeld met die ouderlinge en die predikant mag en moet saamwerk. Wat is die plek van die diaken in die kerkraad? Behoort die diaken by die kerkraad of is hy nie werklik deel daarvan nie? Hieroor het al talle gesprekke plaasgevind en is daar vele artikels geskryf. Sommiges meen dat die diakens in alles deel van die kerkraad behoort te wees en dat die kerkraad altyd saam met die diakens moet vergader. Daar is ook dié wat vanuit die verskil in ampte juis tot ʼn ander gevolgtrekking gekom het. Dit is goed om te kyk wat die Skrif, die belydenis en die geskiedenis daaroor sê.

Samewerking in die Geskiedenis🔗

Die kerkverband van Gereformeerde Kerke het in die tyd van die Reformasie in die Nederlande ontstaan. Aandag is gegee aan die samewerking tussen diaken, ouderling en predikant. Ons sien dit by die eerste vergaderinge wat tot kerkverbandelike samewerking gelei het. Die eerste vergadering waar die kerkverband vorm begin kry, is die konvent van Wesel in 1568. Die artikels wat daar oor diakens se werk opgestel en aangeneem is, noem twee soorte diakens. Die eerste groep diakens het die taak gehad om geld in te samel en uit te deel. Van die ander soort diakens lees ons in hoofstuk V, artikels 6 en 7 die volgende:

  • Artikel 6: “Het ander deel zal meest bezig zijn omtrent zieken, gekwetsten, gevangenen, dewelke niet alleen moeten getrouw en vernuftig zijn, maar ook begaafd met ongemene kennis van vertroosting, en van Gods Woord, en naarstiglijk van de ouderlingen vernemen, wat hoe vele zieke en zwakke lidmate in hun wijken zijn, die met troost dienen ondersteund te worden.”

  • Artikel 7: “Die ziek te bed liggen, zullen hun ziekte door de diakenen of ouderlingen de predikant aandienen, opdat of hy zelf des noods zijnde, tot hen komen en uit Gods Woord vertrooste, of de ouderlingen, of diakenen dat aanbevele, als het hem door andere openbare zaken van groter gewicht verhinderd zijnde, niet gelegen komt.”

Dit is duidelik dat die Gereformeerde kerkverband vanuit die staanspoor aandag aan die samewerking tussen die ampsdraers gegee het. Ons sien dit ook by die Sinode van Dordrecht 1574. Artikel 34 bepaal hieroor die volgende:

Aangaande de uitdeling der aalmoezen, wien en hoeveel, dat zal staan in de diskretie der diakenen, die tot dien einde hun vergaderingen houden, opdat ze niets doen sonder malkanders advies in ordinaire zaken, en in gewichtige zaken zal het wel staan, dat ze de raad der konsistorie gebruiken.1

Onderskeid tussen die vergaderinge van ouderlinge en predikante, asook van die diakens, het toe reeds amptelik bestaan. In baie gevalle het dit nog nie werklik gefunksioneer nie en op baie plekke was die onderskeid tussen ouderlinge en diakens nog baie klein. In die 17de eeu het dit selfs gebeur dat dieselfde persoon ouderling en diaken was.2

Daarna het die onderskeid tussen die amp van diaken, ouderling en predikant al hoe meer in verskillende vergaderings vorm gekry. Vanuit die staanspoor is aan die samewerking tussen die ampte in die gemeente aandag gegee.

Vanuit die Apostelskap na Verskillende Ampte🔗

Wat was die taak van die apostels in die gemeente van die Nuwe Testament? Die leiding van Christus se gemeente is in die begin aan hulle toevertrou. Hulle moes daarvoor sorg dat die tug in die gemeente gehandhaaf word (Handelinge 5:3 e.v.). Ons lees in Handelinge 6 dat die apostels vir die prediking in die gemeente verantwoordelik was. Hulle het die gebede in die eredienste gedoen (Handelinge 6:4), en hulle moes uitspreek wat die gesonde leer is (Handelinge 15). Die algemene leiding van die groot gemeente in Jerusalem het op die skouers van die apostels gerus – ʼn baie groot taak.

Dit was nie al nie. Die eerste tyd was die diakonale werk ook deel van die apostels se daaglikse taak. Ons lees dit in Handelinge 4:33, 34:

En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê.

Ons sien juis in die apostelskap hoe die hele ampsdiens in Christus se gemeente ʼn eenheid is; ʼn eenheid om Christus se gemeente op die beste manier op te bou en te versorg. Hierin lê ʼn baie belangrike aanwysing dat die verskillende ampte mekaar nooit as konkurrente mag begin sien nie. As dit gebeur het die duiwel ʼn plek onder ons gekry. Dan gaan dit oor onsself en oor ons amp, en nie oor hoe ons as ampsdraers saam die gemeente van Christus op die beste manier dien nie.

Uit Handelinge 6 word dit duidelik dat die diakonale taak op daardie oomblik die apostels se werk was. Hierdie hoofstuk beskryf dat die apostels al die werk wat gedoen moes word nie meer kon behartig nie; die take is daarom verdeel. Sewe manne is aangestel om die diakonale take van die apostels oor te neem. Die apostels trek hulle van hierdie diakonale take terug. Ons lees naamlik in vers 2-4:

En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie. Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.

ʼn Werkverdeling het plaasgevind. Beteken dit nou dat die apostels en die diakens langs mekaar begin leef? Nee, verseker nie. Nadat die name van die sewe diakens genoem is, lees ons in Handelinge 6:6: “… wat hulle voor die apostels gestel het; en hulle het gebid en hulle die hande opgelê”. Handoplegging is onder andere die teken van amptelike gemeenskap tussen die apostels en die diakens. Hulle werk in diens van dieselfde Here. Hulle werk saam aan die versorging van Sy kudde. In Efesiërs 4:11-13 word dit omskryf:

En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ʼn volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.

Die apostels was besondere ampsdraers. Hulle amp was tydelik. ʼn Apostel kon net ʼn man wees wat Jesus se werk met eie oë en ore gesien en gehoor het, of iemand soos Paulus wat regstreeks deur Christus se eie stem geroep is en ook in Jesus se tyd geleef het. Dit word baie duidelik wanneer ʼn nuwe twaalfde apostel in Judas se plek gekies moet word. Waaraan moet die twaalfde apostel voldoen? Petrus (gelei deur die Heilige Gees) verduidelik dit só dat hy een moet wees

Van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het al die tyd waarin die Here Jesus by ons in- en uitgegaan het, van die doop van Johannes af tot op die dag dat Hy van ons opgeneem is – van hulle moet daar een saam met ons getuie word van sy opstanding. Handelinge 1:21, 22

Die amp wat die apostelskap vervang, is die amp van ouderling. In die eerste gemeentes het die ouderlinge dieselfde take as die apostels in Jerusalem gekry. Hulle was in daardie tyd vir die hele versorging en leiding van die gemeente verantwoordelik. As Paulus in die begin die ampte instel, lees ons net van ouderlinge en nie van diakens nie. Die volgende word oor Paulus en sy medewerkers in Handelinge 14:23 gesê:

En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.

Handelinge 11 beskryf dat ouderlinge geld uit ander gemeentes gekry het om dit vir diakonale doeleindes in hulle gemeente uit te deel: “… en die dissipels het besluit dat iedereen van hulle na sy vermoë iets sou stuur tot versorging van die broeders wat in Judéa woon. Dit het hulle ook gedoen en dit deur Bárnabas en Saulus aan die ouderlinge gestuur” (vers 29 en 30).

Nie net in Jerusalem nie, maar ook in ander Nuwe Testamentiese gemeentes word diakens aangestel – waarskynlik ʼn soortgelyke ontwikkeling as in die gemeente van Jerusalem. Die ouderlinge kon nie meer al hulle take nakom nie. Al hoe meer gemeentes het daartoe oorgegaan om diakens te verkies. Op hierdie manier kon die barmhartigheidswerk in die gemeente goed funksioneer.

Met die ontwikkeling van die apostelskap na verskillende ampte is dit duidelik dat die ampsdraers saam Christus se gemeente moet versorg. Hulle moet sy genadeheerskappy aan die gemeente en die wêreld wys. Hulle moet só werk dat Christus se vrede in die gemeente woon en deur die gemeente die wêreld instraal.

Hierdie eenheid moet in die verskeidenheid gewys word. Dit is goed en heilsaam om steeds weer op hierdie eenheid te let. Nogtans mag die eenheid nie die verskeidenheid van take en opdragte dooddruk nie. Elkeen het in sy amp ʼn eie verantwoordelikheid van en vir die Here gekry.

Die predikant is veral verantwoordelik vir die prediking en die verdere onderwys in God se Woord. Hy is ook saam met die ouderlinge geroep tot versorging en regering van die gemeente. Hierby behoort die toesig oor en die tug in die gemeente. Die ouderlinge moet saam goeie leiding aan die gemeente gee.

Die goeie leiding aan die gemeente word op hierdie punt nie van die diakens gevra nie. Dit wil nie sê dat die advies van die diakens nie van groot waarde kan wees nie. Die ouderlinge moet egter oor hierdie punte besluite neem; dit is hulle verantwoordelikheid. Só het dit in die gereformeerde kerkregering gefunksioneer. ʼn Illustrasie daarvan is die besluit van die Partikuliere Sinode van Zuid-Holland in 1644 waarmee die ander Partikuliere Sinodes saamgestem het. Daar was onenigheid in die kerkraad van Rotterdam. Die diakens van Rotterdam was van mening dat hulle saam met die ouderlinge moet besluit oor die uitbreiding van die aantal ouderlinge in die gemeente. Die Partikuliere Sinode se uitspraak is:

dat dese ende diergelijcke stucken de regeringe der kercken aengaende, den diaconen nie toe en kommen, noch volgens Godts Woort, noch volgens het formulier harer bevestinge, noch ook volgens voorgaende synodale resolutiën. Ende wat aangaet den 6 Art. Synodi Embdensis 1571, blijckt uyt den naerder verclaringe daervan in Synodo Dordracena 1574, Art. 4, dat se dan eerst in diergelijke saken hebben te adviseren, wanneer sij van de kerckenrart daertoe geroepen worden.

Die diakens het hulle eie taak, naamlik om die vrede van Christus in hulp en vertroosting uit te dra; om die gemeente so te help en te stimuleer dat hulle dit ook buitentoe kan uitleef. Die diakens het hierby hulle eie beslissingsreg en verantwoordelikheid gekry. Dit word beskryf in artikels 25 en 40 van die Kerkorde:

  • Artikel 25: “Die eintlike amp van die diakens is om die liefdesgawes in geld en goedere wat aan die armes gegee word, nougeset te versamel en dit met gesamentlike oorleg getrou en vlytig uit te deel volgens die eis van die behoefte aan sowel die behoeftiges in die gemeente as aan ander… Die diakens moet in die kerkraad verslag doen van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente wanneer die kerkraad dit geskik ag.”3

  • Artikel 40: “Die diakens moet gereeld saamkom om met die aanroeping van die Naam van God te handel oor die sake wat hulle amp aanbetref.”

Die laaste sin van artikel 25 beteken nie dat die ouderlinge oor diakonale sake en hulpaansoeke besluite neem nie. Vanuit ʼn goeie verhouding met mekaar moet aan die ouderlinge, wat oor die gemeente regeer, verslag gedoen word.

Enkele Konkrete Aanwysings🔗

Hoe kan ons nou prakties, in alle verskeidenheid, vorm gee aan die samewerking om die gemeente van Christus te dien?

Alle ampsdraers moet ingestel wees op ʼn innige samewerking in Christus se diens. Met opset word die woord innig gebruik. Dit gaan hier naamlik oor ʼn noue samewerking, wat deur die liefde vir Christus gedra behoort te word. Dit gaan oor Christus en nie oor onsself of ons amp nie.

ʼn Saak waarby hierdie samewerking duidelik na vore kom, is die talstelling. Soms hoor ʼn mens iemand vra: “Sou dit nie beter wees dat dit net deur die ouderlinge gedoen word nie? Die ouderlinge weet tog van dinge wat vertroulik is en waarvan die diakens nie weet nie?”

Hierdie redenering doen egter tekort aan die gedagte om as broeders saam die goeie vir die gemeente te soek. Dit hou te min rekening met die onderlinge vertroue wat daar onder die ampsdraers behoort te wees. Hulle behoort hieroor voorbeelde vir die gemeente te wees. By talstelling kan dit gebeur dat die voorsitter of die wyksouderling van ʼn sekere broeder moet sê dat hy om bepaalde redes nie as ampsdraer kan dien nie, alhoewel die rede waarom hy nie kan dien nie, nie verder bespreek kan word nie. Waar Christus se liefde woon, behoort dit geen probleem te wees nie. Tog is dit belangrik dat die diakens ook by die talstelling betrokke is. Daar kan saamgepraat word oor wie die gemeente as ouderling en diaken nodig het. Dit kan na goeie oorleg selfs daartoe lei dat iemand wat al voorheen ouderling was, nou as kandidaat vir die diakenskap op tal kom. Met een of ander degradasie het dit niks te doen nie. Dit kan ook daartoe lei dat die vergadering na ʼn goeie gesprek daarvan oortuig raak dat ʼn broeder wat geskik is om as diaken te dien, eerder as ouderling in die gemeente moet arbei. In alles moet dit oor die belang van Christus se gemeente gaan. Dit vra juis vir ʼn oop gesprek in die kerkraad. Die oop-wees-na-mekaar is van die grootste belang. Christus se liefde moet onder die ampsdraers heers. Daarom is dit so belangrik dat die ampsdraers manne vol van die Heilige Gees sal wees.

Hierdie openheid moet daar eweneens wees tussen diakens en ouderlinge wat in dieselfde wyk werk; so ook na en van die predikant. As ʼn diaken sekere probleme in ʼn gesin opmerk wat nie diakonale sake is nie, sal dit goed wees dat hy dit met die wyksouderling en/of die predikant bespreek.

Hulle kan saam besin wat gedoen moet word om hierdie gesin in die regte rigting te lei.

Die predikant en die ouderlinge behoort op dieselfde manier met die diakens te werk. As dit nodig is om ʼn broeder of suster amptelik te vermaan en die tug toe te pas, is dit goed om die wyksdiaken daaroor in te lig; hy behoort daarvan te weet as iemand in sy wyk van die nagmaal afgehou, of verder getug word. Die wyksdiaken kan sodoende sekere reaksies van die broeder of suster beter verstaan.

Dit is belangrik dat preekbesprekings gereeld op die kerkraad plaasvind. Die diakens, met hulle wysheid, kan onmisbare insette lewer. Dit is vir die predikant van die grootste belang om deur al die ampsdraers in die prediking gehelp te word.

Sonder goeie kontak tussen diakens, ouderlinge en die predikant kan die gemeente van Christus nie met genoegsame sorg opgebou word nie. Hierby is openheid vanuit die saamwerk aan die vrede van Christus in die gemeente noodsaaklik. Die vrede van Christus behoort tussen die ampsdraers sigbaar te wees in hartlike vertroue teenoor mekaar. Vertroue vanuit die gesamentlike liefde vir Christus en vir sy gemeente.

Endnotes🔗

  1. ^ 1 Na hierdie uitspraak van die sinode ontstaan daar oor hierdie punt probleme in die kerkraad van Dordrecht self. Kyk Th.W. Jensma, 1981. Uw Koninkryk kome. Dordrecht: Van den Pol. p 24, 25
  2. ^ A. van Deursen, 1991. Bavianen en Slykgeuzen. Franeker: Van Wijnen. p 94 
  3. ^ Nuuste hersiening van Artikel 25 KO. Die amp van die diakens is om sorg te dra dat die gemeente hulle eenheid in Christus in daadwerklike onderlinge liefde beoefen. Hulle opdrag is om almal in die gemeente te besoek en uit die Skrif toe te rus en aan te spoor tot daadwerklike liefde teenoor almal, in besonder teenoor die medegelowiges; verder sien hulle toe dat niemand om watter rede ook al van die geloofsgemeenskap vervreem raak nie. Die liefdesgawes moet sorgvuldig ingesamel, met wysheid bestee en met vertroosting uit die Skrif uitgedeel word. Die diakens doen in die kerkraad verslag van hulle werksaamhede en, indien verlang, ook voor die gemeente soos wat die kerkraad dit geskik ag.