Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Eerbied en Ontsag vir God

Ons kinders weet nie meer wat respek is nie. So kla 'n opvoedkundige onlangs in een van ons populêre tydskrifte. Kinders word nie meer geleer om respek teenoor grootmense te betoon nie. In navolging van die Amerikaanse TV-programme (baie kinders se grootste "opvoeder") word grootmense sommer ge-"jy" en ge-"jou", op die voornaam genoem en as gelykes gehanteer. En baie volwassenes, onder die indruk dat informeel-wees baie oulik is, moedig hulle kinders aan om so op te tree.

Natuurlik moet elke kind grootwoord in 'n ontspanne atmosfeer van liefdevolle nabyheid van sy ouers. Maar so 'n atmosfeer word nie bevorder deur ouers wat hulle op dieselfde vlak as die kind stel nie. Inteendeel. Sonder die nodige respek en eerbied vir sy ouers voel die kind hom onveilig en ongeborge. Die kind sal eers werklik die vrymoedigheid hê om sy ouers met sy probleme te vertrou as hy ook die nodige respek vir hulle het. Dit is 'n kwessie van gesonde balans tussen vrymoedigheid en eerbied.

Respek vir Ouers en Eerbied vir God🔗

Hierdie balans is ook van ontsaglike belang vir die kind se geloofsvorming. Dit leer hom van kleins af iets van hoe sy verhouding met sy hemelse Vader moet wees. Nie sonder rede nie het die Here Jesus ons geleer om God aan te spreek as "Ons Vader wat in die hemel is" (Matt. 6.9). Die oorspronklike Aramese woord vir "Vader" is Abba (Rom. 8.15), wat letterlik beteken: "Pappa". Die gelowige staan dus voor God soos 'n klein kindjie voor sy pappa staan.

  • Met vrymoedige oorgawe gaan ons as kinders in alles na Hom toe terwyl ons weet dat Hy intiem persoonlik in liefde na ons neerbuig.

  • Terselfdertyd sien ons na Hom op met ontsag, eerbied en respek.

In sy Woord maak God Hom aan ons bekend as Vader. Maar Hy maak ook aan ons bekend dat Hy steeds die Heilige, Almagtige God bly wat ver bo mens verhewe is (Jes. 55:8). In ooreenstemming daarmee bely ons in Sondag 46 van die Heidelbergse Kategismus dat ons nie van die hemelse majesteit van God aards moet dink nie en dat ons Hom daarom ons hemelse Vader noem.

God is Nie Sommer 'n Vriend Nie🔗

Watter onreg doen ouers dan hulle kinders aan as hulle hulle nie leer om respek aan hulle ouers te betoon nie. 'n Kind wat geleer word dat sy Pappa eintlik maar sy pêl is, kan ook nie anders nie as om so van God dink. So 'n kind dink maklik ook van God as sommer 'n vriend teenoor wie dit nie nodig is om eerbied en agting te betoon nie.

Veel eerder behoort kinders van kleins af te besef dat die Here nie sommer ons vriend is nie. Ja, die bekende Halleluja-lied "Wat 'n vriend het ons in Jesus" kan inderdaad misleidend wees. Ons kan ons kinders liewer leer om saam met Psalm 97:7 te sing van "Gods vriendelike aangesig" waarmee Hy in sy vaderlike goedheid na ons neerbuig, maar steeds: "Hy's hoog en heilig Hy!" (berymde Ps.97:7).

Vanuit sy hoë heiligheid kon God in toegeneentheid neerbuig en Abraham sy vriend noem (Jak. 2:23) en het Jesus die dissipels sy vriende genoem (Joh. 15:1). Maar selfs Abraham en die dissipels het hulleself nie aangematig om God hulle vriend te noem nie. Hy is ons hemelse Vader aan wie ons alle liefde en toenadering verskuldig is. Maar Hy is steeds die allerheilige God aan wie ons eerbied en ontsag verskuldig is.

Gebrek aan Eerbied Lei tot Ongehoorsaamheid🔗

Gebrek aan eerbied en ontsag vir die Here God lei tot allerhande ander wanoptredes. Dit veroorsaak dat ons nie veel ag slaan op sy woorde nie, soos 'n kind wat nie eerbied vir sy pa het nie. Die gevolg is dat gelowiges dit waag om God se Woord af te takel en selfs ongeldig te verklaar - in woorde en in optrede.

'n Kind wat durf sê dat sy pa se opdrag sommer onsin is, is onverskoonbaar. Hoeveel te meer 'n kind van die Here wat sy Woord verwerp. Die Here beloof dat Hy sulke opstandige optrede nie maar daar sal laat nie. Daarom hoor ons in die Bybel oor en oor woorde van tugtiging, van straf, van oordeel (Spr. 3:11,12). Het ons nog genoeg vrees vir die toorn van ons hemelse Vader dat ons ons aan sy vermaning sal steur?

Gebrek aan eerbied en ontsag veroorsaak ook dat kinders traak-my-nie-agtig optree. Hoe lyk ons optrede Sondae in die erediens? Is dit vir ons 'n wonderbaar plegtige geleentheid waar ons die almagtige God ontmoet? Kom ons voor sy aangesig met vrymoedigheid en blymoedigheid én heilige eerbied? Of probeer ons die erediens so gou as moontlik en met so min inspanning as moontlik agter die rug kry sodat ons met "belangriker" dinge kan aangaan?

Hoe lyk ons kerklike bydraes? Hoe lyk ons gebede? En ons huisgodsdiens? Watter gesindheid is daar by ons oor die sakramente wat die Here vir ons gegee het? Probeer ons voortdurend na redes soek om anders te doen as wat ons hemelse Vader van ons vra? Uit eerbied en ontsag vir ons Vader durf ons nie anders nie as om met blymoedige en dankbare bereidwilligheid ons hartsnare op sy wil in te stem.

Eer jou Vader en jou Moeder🔗

Laat dit nie van ons kinders gesê word dat hulle nie meer weet wat respek is nie. "Eer jou vader en jou moeder." Leer jou kind wat eerbied en respek vir sy meerderes beteken, en jy leer hom ook hoe om sy hemelse Vader te eer. Geen wonder nie dat die Here by hierdie gebod 'n belofte gevoeg het : "... dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee".