3 bladsye.

Eerstens Tuis 'n Man van God, die Man as Vader

Om eerlik te wees, ek gaan liewer na my werk toe,
as om my tuis met die kinders besig te hou,
het een van die aanwesiges by ʼn manne-dag toegegee.
En ek is nie die enigste nie.
Daarom moet ek telkens bewustelik vir my gesin kies, en vir myself sê:
as ek nou geen tyd aan my kinders bestee nie,
dan doen hulle dit later ook nie vir my nie.

ʼn Ander een het gesê: “Ek is ʼn ingenieur by ʼn groot firma. By ʼn nuwe projek sê ek vir my werkgewer dat my gesin eerste kom en ek daarom geen oortyd wil werk nie. Enkele dae later gee hy my, so in die verbygaan, te kenne: ‘Is dit nie voor die handliggend nie, dat hierdie besluit van jou jou loopbaan tot ʼn einde kan bring nie?’ Daarin moes ek berus, maar ek was tog bly dat ek dit duidelik aan hom gestel het.”

Twee uitsprake van twee vaders. Manne wat vir hulle gesinne gekies het. ʼn Goeie saak?

Natuurlik!

Maar waarom eintlik? Mans kry tog al swaar genoeg by hulle werk en by die werk in die kerk? Het hulle nog tyd oor om hulle met hulle gesinne te bemoei?

In hierdie artikel gaan dit oor die man as vader...

Vaders se Belangrikheid🔗

In die laaste tyd word die rol van die man as vader al hoe belangriker. Onthou u nog die snaakse beeld van ʼn streng man aan die hoof van die tafel? Aan die tafel, teenoor die man, sit ʼn goedgeklede jong seuntjie, wat so by homself dink: “Wie is hierdie man tog, wat altyd op ʼn Sondag die vleis kom sny?” Dan blyk dit dat dié man sy vader is. Die bedoeling van hierdie beeld is om dit aan ons duidelik te maak dat die vader tuis net so belangrik is as by sy werk, en om ons te laat sien dat vaders nie tuis gemis kan word nie.

Daar verskyn ook boeke en artikels oor vaderskap, wat heel duidelike verhale bevat. Lees die vaders dié boeke ook? As hy so ʼn boekie van sy vrou kry, hoe reageer hy dan daarop? Wat doen mans met artikels oor hierdie onderwerp?

Eerste Verantwoordelikheid🔗

God gee in die Bybel aan die vaders groot verantwoordelikhede in die gesin. Die vaders is die primêr verantwoordelike persoon as dit oor die opvoeding gaan. In Efesiërs 6:4 word dit duidelik gesê.

Vaders moet aan hulle kinders opvoeding en leiding gee. Hulle moet die kinders grootmaak deur hulle te vorm en te vermaan, soos die Here dit wil hê. Vaders moet hulle kinders die goeie weg wys. Hulle moet hulle kinders op die goeie weg voorgaan en vir hulle ʼn voorbeeld wees op die weg van die Here.

Die opvoeding is nie net ʼn saak vir die moeders alleen nie. Al sou die moeder (veral as die kinders nog klein is) die grootste deel van die versorging op haar neem, mag sy in die opvoeding nie alleen voorgaan nie, of alleen ʼn voorbeeld wees op die weg van die Here nie. Die vader moet nie die taak wat hy van God ontvang het, aan ʼn ander (die moeder, sy vrou), of aan andere (die onderwysers in die skool en die dominees in die kerk) oorlaat nie.

Die taak van die vader vra toenemend van sy tyd, al dink hy soms dat hy nie tyd het nie. Daar is soveel meer om te doen... Daar word soveel van hom verwag, deur bv. sy werkgewer, selfs ná werkstyd, of deur sy kollegas of deur die kerk en vele ander.

In een van die boekies wat ek gelees het, staan daar ʼn opmerklike mooi uitspraak. Die vrou van die skrywer sê op ʼn gegewe oomblik aan hom: “Eberhard, wees eers tuis ʼn man van God, en daarná in die openbaar!”

Daarop reageer die skrywer met: “Dit is so. As jong gesinshoof begin ek nou iets te verstaan van die voorskrifte van God vir getroude manne. Eindelik begin ek om na te dink oor my roeping en verantwoordelikheid in ons huwelik en gesin.”

By al die keuses wat deur mans gemaak word, geld die volgende reël: die opvoedingstaak kom eerste!

Om ʼn Vader te wees, is ʼn Opdrag🔗

Om ʼn vader te word, is ʼn voorreg, en om ʼn vader te wees, is ʼn kuns! ʼn Uitspraak wat in vele boeke gebruik word. ʼn Uitspraak wat sekerlik die waarheid is. Om ʼn vader te word, is iets baie mooi! Maar, dit bring ook ʼn groot verandering in jou lewe. Uit twee mense ontstaan ʼn nuwe lewe as ʼn geskenk van God! Op daardie oomblik word daar ʼn groot verantwoordelikheid op die skouers van die ouers geplaas. Die lewensuitkyk, om slegs te doen wat vir jou sin uitmaak, is iets van die verlede. Skierlik kan julle nie meer sommer saam in die aand uitgaan nie. Daar moet eers met iemand gereël word om na die kind te kyk. Om julle tyd self in te deel bestaan nie meer nie, aangesien rekening gehou moet word met die “kleinding”.

Die vader is nou dikwels in die tyd van sy lewe dat daar by die werkplek groter verantwoordelikhede op hom geplaas word. Sy naam word nou ook al hoe meer by allerlei kommissies genoem. Daarmee saam word hy by al hoe meer dinge by die kerk ingeskakel.

Maar hy kan nie alles wil doen nie! Daar moet keuses gemaak word. Die “gewone” daaglikse werk neem alreeds soveel tyd in beslag. Wat kan nou nog bygevoeg word? Word die vrou en kind(ers) nie te veel alleen gelaat nie? Watter posisie neem die opvoeding in op die vader se lys van daaglikse take?

En van die daaglikse lys van take gepraat: die vader sit tog nie net op Sondae saam met die gesin aan die tafel en eet nie? Die vader is tuis tog net so belangrik as by die werk (en in die kerk)? Nee, nie net so belangrik nie. Die vader is tuis belangriker! Daar lê sy eerste verantwoordelikheid! Hy moet daar die kinders se vrae beantwoord. Gewone vrae oor alledaagse dinge, maar ook vrae oor God en die geloof.

Geloofsopvoeding🔗

“Pappa, waar woon God?” “Waar is die hemel?” “Hoe kom die Heilige Gees in my hart?”  Die kinders vra sulke dinge. Hulle verwag antwoorde op hulle vrae. Die vader moet, volgens die opdrag van God, besig wees met die deurgee van die groot dade van God. Psalm 78 sê mooi dinge daaroor: dit moet oorvertel word van vader tot kind. Wat aan ons vertel is, dit moet die volgende geslag óók weet. Die kinders moet dit hoor: “God het groot dinge gedoen”.

Die vader moet dit nie alleen in woorde duidelik maak hoe God is nie, maar hy moet dit ook sigbaar en voelbaar maak en dit in alles aandui, soos in sy verhouding met sy vrou, die moeder van sy kinders, en in die belangstelling wat hy toon in sy kinders en in ander mense in die omgewing en in die kerk, en in die insette wat hy by sy werk lewer.

Die vader moet liefdevolle leiding gee. Hy moet dit duidelik sigbaar maak hoe dit hoort. Hy moet sy kinders leer om hulle lewe aan God te gee. Dít vra nogal heelwat. Hoe leef die vader met God? Watter vaderbeeld kry die kind daardeur? Die vader se voorbeeld is baie belangrik vir die kinders. Wat ʼn verantwoordelikheid!

Betrokke wees by die Opvoeding🔗

ʼn Dom vraag: Ken ʼn vader sy kinders? Ja natuurlik ken hy hulle by naam. Maar weet hy wat in hulle omgaan? Of is dit alleen die moeder wat egte gesprekke met die kinders het, omdat sy altyd tuis is as hulle van die skool af kom en as hulle bed toe gaan?

Betrokkenheid is wat dit betref nogal ʼn mooi woord. Ons gebruik die woord so maklik, maar om betrokke te wees vra nogal baie. As die vader waarlik betrokke wil wees (en dit sal moet gebeur), dan vereis dit tyd en energie. Tyd wat gewy word aan gesprekke met die kinders, besoeke aan die skool, wegbring na sportgeleenthede, om deel te neem aan die reëling van verjaardagvieringe, en nog baie meer. Energie word benodig om saam met een van die kinders ʼn museum te besoek en om die kinders te help met hulle huiswerk en met die herstel van die fietse se bande, die aankoop van nuwe hengeltoerusting, en ʼn gesprek met die onderwysers by die skool oor voortgesette onderrig. Só bestee die vader aandag aan sy kinders op ʼn positiewe manier.

Maar die vader het ook sý werk. Sommige kinders het geen idee wat die vader se werk behels nie. Miskien het hulle heel verkeerde idees daaroor. Hulle het dalk nog nooit die kantoor gesien waar die vader daagliks sy werk doen nie. Laat die kinders ook maar betrokke wees by die werk van die vader. As die seun of dogter maar slegs een middag die werkplek van die vader sien, dan weet hy of sy ook waaroor pappa praat as hy oor sy werk praat.

Só leer die vader sy kinders beter ken, en leer die kinders hulle vader beter ken. Die tyd wat die vader se betrokkenheid by die kinders verg, is nie verlore tyd nie. Kinders wil hulle veilig voel by hulle ouers, in die gesin. Dit gaan beter as die betrokkenheid na albei kante groot is.

As die vader in sy gebed (saam met sy vrou) ook die kinders aan die Here wil opdra, sal hy hulle tog eers deur en deur wil en moet ken?

Sonder ʼn Vader?🔗

Dit het uit ʼn ondersoek geblyk dat vaders wat betrokke is, belangrik is vir die welsyn en die selfstandigwording van hulle kinders. Nie alle kinders het (lewende) vaders nie. Sommige kinders se vaders het miskien jonk reeds gesterf. Die verdriet oor ʼn afgestorwe vader sal altyd daar wees, en dit is ook goed dat daar openlik gepraat word oor so ʼn gestorwe vader.

Die vader kon sy gesin verlaat het, waarop ʼn egskeiding gevolg het. Dít plaas ʼn bykomende druk op die moeder, aangesien sy so baie dinge moet oorneem. Sy moet dit sorgvuldig bedink hoe sy oor hom praat. Hoe sien die kinders hul vader, wat hulle in die steek gelaat het? En op watter manier sien hulle God as Vader? Tref hulle dalk ʼn vergelyking met hulle eie vader?

Hoe moeilik dit ook al mag gaan in hierdie lewe, God laat niemand in die steek nie. Gelukkig mag selfs ʼn verlore seun terugkom.

Só ʼn Vader het ons!