Bron: Kompas, 2006. 3 bladsye.

Efesiërs: Loflied op Christus en Sy Kerk

ʼn Pragtige en Diepgaande Brief🔗

Die brief wat by ons bekend staan as die brief van die apostel Paulus aan die Efesiërs dra ʼn baie algemene karakter. In hierdie artikel word net aandag gegee aan die inhoud van die brief. Dit is ʼn pragtig opgeboude geheel en grawe baie diep. Dit handel oor die kerk van Christus. Of eintlik kan ons beter sê dit handel oor die Hoof van die kerk, Jesus Christus, wat tewens is die Koning van die heelal aan Wie die kerk haar oorsprong ontleen en waarvan sy afhanklik is.

Twee dele kan in die brief onderskei word: hoofstuk 1-3 wat die prinsipiële onderbou van die daarstelling en eenheid van die kerk beskrywe en vervolgens hoofstuk 4-6 waarin ʼn nadere uitwerking van die gelegde fondament gegee word. Ons kan onderskei maar dit mag nooit tot ʼn skeiding van die onderdele lei nie.

Paulus rig hom blykbaar veral tot die Christene wat uit die heidene tot geloof gekom het. Die eenheid van die kerk was maar ʼn moeilike punt. Het die heiden-Christene teenstand ondervind of verward geraak? In elk geval – Paulus lê op ʼn pragtige manier uit hoe die posisie van alle lidmate is.

Opbou van die Eerste Hoofstukke – Lofprysing🔗

Daar is op gewys dat die eerste drie hoofstukke van die Efesiërbrief ooreenkoms vertoon met ou Joodse gebede. Hierdie gebede het altyd elemente bevat soos lofprysing, voorbidding en geloofsbelydenis. In hierdie geval is hfst. 1:3-14 ʼn lofrede, hfst. 1:15-23 bevat voorbidding vir die gemeente; hfst. 2 en hfst. 3:1-13 is ʼn geloofsbelydenis en oproep; hfst. 3:14-19 verwoord nuwe voorbidding en hfst. 3:20-21 gee die finale lofsegging weer. So ʼn indeling kan baie nuttig werk om hierdie diepsinnige hoofstukke te verstaan.

Daar is in die eerste plek alle rede om God te loof. In ʼn lang sin wat in ons vertaling twaalf verse omvat word die redes vermeld. Die Drie Persone van die Goddelike Wese word hierby betrek.

God die Vader het ons uitverkies in Christus voor die grondlegging van die wêreld (vs. 4-6). Toe reeds is die grondslag vir lofprysing gelê. Daar is rede om hierdie verkiesende daad te prys omdat ons daardeur weet dat die kerk op vaste grond gestel is.

God die Seun het ons verlos deur sy bloed (vs. 7-10). God se verkiesing word in die tyd gerealiseer.

God die Heilige Gees druk binne die gemeente sy seël hierop af (vs. 11-14).

Ook Moses het, toe die volk Israel by die grens van die land Kanaän gestaan het, die volk uitdruklik gewys op die verkiesing van God (Deuteronomium 7:6-9).

Die Nuwe Testamentiese gemeente mag weet: dieselfde heil geld ook vir hulle, sonder onderskeid.

Eerste Voorbidding🔗

“Daarom … hou ek ook nie op om vir julle te dank as ek in my gebede aan julle dink nie” (vs. 15 en 16). Die eerste ding wat gedoen moet word, is om God Maar die kerk van Christus, moet ook verder. Daar moet meer insig kom in alle skatte en gawes wat ontvang is.

Paulus bid vir die werking van die Heilige Gees. Hy vra om “verligte oë van die verstand”. Om die “uitnemende grootheid van sy (Christus se) krag” te ken. Want die werking daarvan is “vir ons wat glo”.

God het dit in Christus bewerk toe Hy Hom uit die dood opgewek het en Hom aan die regterhand van God laat sit het. Met die hemelvaart en die sit aan die regterhand van God het die Christus bevoegdheid ontvang bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy. Hy is Koning van die heelal en bly dit tot in die toekomstige eeu. En hierdie Koning is nou die Hoof van sy gemeente. Behalwe die nuwe Israel is die kerk ook die nuwe mensheid. Christus vergader nou alles onder een hoof en regeer daaroor (1:10 en 21).

Geloofsbelydenis: Verlossing uit Genade🔗

Hoofstuk 2 kan hierop voortbou. Die redding deur Christus beteken in die eerste plek verlossing uit die dood tot die lewe. Ons almal was dood deur die misdade. Dooie mense ontvang egter saam met Christus die verlossing deur sy opstanding en die oorwinning in sy hemelvaart. Dit alles ontvang ons uit genade. Daardie genade moet volgens die instelling van God in geloof aangegryp word. Dit word nie deur ons werke verkry nie.

In die tweede plek, so sê vs. 11-18, julle, heidene, was vroeër ver en vervreemd van God. Maar nou het ook julle naby gekom en het toegang tot God deur een Gees. Die middelmuur wat skeiding bewerkstellig het, is afgebreek. Dit beteken almal kan nou tot die troon van God gaan.

In die derde plek (vs. 19-22), julle is nou nie meer vreemdelinge en bywoners nie. Ook nie die gelowige heidene nie. Almal saam is huisgenote van die geloof, behorende tot die huisgesin, die kerk, wat gebou is op die fondament van apostels en profete. ʼn Woning van God in die Heilige Gees.

Nuwe Voorbidding en Lofprysing🔗

Daarom gaan Paulus weer in die gebed vir die gemeente. Daar is so grote en heerlike dinge gesê, laat tog niks daarvan verlore gaan nie. Mag die Heilige Gees al die gelowiges verlig sodat Christus deur die geloof in hulle harte mag woon. En dat hulle saam met al die heiliges (nie maar een-een nie) in staat kan wees om ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is van die liefde Gods in Christus.

Wie kan dit bereik? Dit kan Hy bewerk wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink. “Aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen”.

Oproep tot Eenheid en ʼn Nuwe Lewe🔗

In die eerste drie hoofstukke is op ʼn pragtige manier verwoord die rykdom van die Nuwe Testamentiese gemeente deur Christus. Nou begin die tweede deel van die brief in noue aansluiting by die eerste deel. “Ek vermaan julle dan (of daarom) om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is” (4:1). As die gemeente die heerlike beloftes en dade van God in geloof aanvaar, kan dit nie anders nie of dit moet ook in die lewe uitkom.

En dan in die eerste plek deur die eenheid van die gemeente te laat sien. “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping” (vs. 4). Daar is allerlei raakvlakke. Daar is ook velerlei gawes. Soos Dawid gawes uitgedeel het toe die ark van God na Jerusalem gebring is (2 Samuel 6:19), so gee Christus met sy hemelvaart ook gawes aan die gemeente. Dit kom spesifiek uit in die amptelike diens wat Hy aan sy kerk gee. Hy rus mense toe om sy gemeente verder te bou in die geloof. Hulle moet tot volle rypheid kom. Om nie heen en weer gedrywe te word deur allerlei leringe nie. Maar om te kan onderskei en vas te staan en as gemeente des te meer een te word in die Hoof, Christus.

Egter, nie net in die eenheid van die gemeente, maar in alle dinge moet blyk dat die gemeente deur die genade van God geraak is. Paulus handel in hierdie verband basies oor die afsterwing van die ou en die opstanding van die nuwe mens.

Vroeër was baie nog heidene en het gelewe soos mense wat verduister is in die verstand; vervreemd van die lewe met God. Oorgegee aan allerhande hebsug en onreinheid. “Maar julle het Christus nie so leer ken nie” (4:20). Hy het anders gelewe. Daarom moet julle nou die ou mens aflê en met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid (vs. 22-24).

In aansluiting by die tien woorde van die Verbond (of tien gebooie), word baie dinge genoem. Dit is opmerklik dat by die ou woorde dieper betekenisse gevoeg word. Die heilsgeskiedenis het aangestap.

Die goeie dinge wat nou ook gesien kan word, word gekenteken as vrugte van die Gees (5:9). Vrugte groei aan ʼn gesonde boom. Waar die Joodse leiers nadruk gelê het op wetswerke om selfverlossing te bewerk, kom die prediking tans met die boodskap van inlywing in Christus en vrugte van die Gees. Sonder om eie verantwoordelikheid te verwaarloos.

Op een saak word veral gewys. In die raamwerk van die brief word die huwelik geteken as ʼn afskaduwing van die verhouding tussen Christus en sy gemeente. Sowel voue as mans word hierin sterk aangespreek. In die eerste hoofstukke het geblyk dat die Christus gekom het om verhoudinge te vernuwe. Om alles weer onder een Hoof te verenig. Van daaruit moet die lewe gaan bloei. Nou, watter verhouding in hierdie wêreld is intiemer en meer grondliggend as die huwelik?

Ander verhoudings soos tussen ouers en kinders en slawe en hul base word ook genoem. Juis in die herstel van hierdie verhoudings blyk die verloste lewe. Dit hang saam met die vyfde gebod wat die eerste (klas, graad) gebod met ʼn belofte genoem word. In ʼn rewolusionêre tyd moet ons dit goed besef.

Blywende Stryd🔗

Is met die oorwinning van Christus en ons geloof in Hom alle stryd en moeite verby? Sekerlik nie! Die apostel Paulus roep in die laaste hoofstuk van hierdie brief op om die hele wapenrusting van God aan te trek. Stryd sal daar altyd bly. Die Satan gaan rond en probeer om die kerk te verlei. Ons stryd is teen die wêreldheersers van hierdie eeu; die bose geeste in die lug. Orals is verleiding en aanval.

Maar God self wil ons van ʼn goeie wapenrusting voorsien. Trek daardie wapenrusting dan ook aan! Efesiërs 6 is ʼn baie bekende hoofstuk. Laat dit nie net in teorie so wees nie. Mag die HERE daartoe die bereidheid van die evangelie gee.