3 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Efesiërs 4:11 - Die Besondere Ampte

ampsdraer🔗

1. Apostels, Profete en Evangeliste🔗

Een van die heerlike voordele van ons Heiland se seëvierende hemelvaart (Ef. 4:8, vgl. Joh. 16:7) was om aan sy geliefde kerk manne te gee om aan haar die waarheid van sy Woord te leer. "En Hy [Christus] het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars" (v. 11).

In baie Pinkster-/charismatiese kringe word hierdie teks, Ef. 4:11, aangegryp as grond vir hulle voortgaande "Vyfledige Amp" of "Vyfledige Bediening." Dit is ‘n misvatting. Eerstens omdat hierdie vers na vier, en nie vyf, ampte verwys. Christus "het gegee [1] sommige as apostels, [2] ander as profete, [3] ander as evangeliste, [4] ander as herders en leraars" (v. 11). Die laaste frase is deurslaggewend in dié verband. Daar staan nie "ander as herders, ander as leraars" nie. Daar staan "ander as herders en leraars," wat aandui dat "herders en leraars" (albei val onder "ander as") na een amp verwys, dié van herder en leraar.

Kom ons kyk na elkeen van die vier ampte om die beurt en begin met die een wat eerste genoem word, dié van "apostels." Die apostels in die Bybel is, in ‘n tegniese sin, die elf dissipels (Judas synde afvallig geword), Matthías (Hand. 1) en Paulus (Hand. 9). Hierdie manne se kwalifikasie sluit in dat hulle die opgestane Christus gesien het; dat hulle direk deur Hom aangestel is; dat hulle gesag het oor al die kerke (2 Kor. 11:28); hulle ondergaan verskriklike vervolging (1 Kor. 4:9); en dat hulle ware wonders in diens van die evangelie bewerk het (2 Kor. 12:12). Die opgevare Christus het aan hierdie manne die genade en gesag verleen om, deur die evangelie van Jesus Christus, die fondamente van die Nuwe Testamentiese kerk te lê en om kanonieke boeke te skryf (dink aan die geïnspireerde geskrifte van Petrus, Johannes en Paulus).

Hierdie kwalifikasie sluit enige en alle aanspraak om apostel te wees, sedert die dood van die geliefde apostel Johannes tot by Christus se wederkoms aan die einde van die eeue, uit — in stryd met die aansprake van Rome dat die pous die opvolger van Petrus is en die voorwendsels van die "apostels" van die Katolieke Apostoliese Kerk van Edward Irving (1792-1834), die Mormone en baie Pinkster kerke.

Tweedens praat Ef. 4:11 van "profete." Hierdie profete is buitengewone ampsdraers met buitengewone gawes, in besonder daarin dat hulle openbaring direk van God ontvang het. Dit sluit die onfeilbare voorspelling van toekomsgebeure in. Só het die profeet Agabus die hongersnood in die dae van keiser Claudius (Hand. 11:28-30) en die bande en lyding van Paulus in Jerusalem (21:10-11) voorspel. Ook is verskeie kanonieke boeke (Mattheus, Markus, Lukas, Handelinge, Jakobus en Judas) deur geïnspireerde Nuwe Testamentiese profete geskryf. Hierdie, tesame met die kanonieke geskrifte van die apostels, is die fondament van Christus se Nuwe Testamentiese kerk (Ef. 2:20).

Derdens praat Efesiërs 4:11 van "evangeliste." Hierdie naam, in sy tegniese betekenis, is in besonder aan Filippus (Hand. 21:8) en Timoteus (2 Tim. 4:5) gegee. Hierdie manne en ander, soos Titus, het gedien as helpers van die apostels. Die evangeliste het ‘n buitengewone roeping ontvang; Timoteus is aangestel "deur die profesie" (1 Tim. 4:14). Evangeliste het besondere gawes beoefen. Filippus het wonders in Samaria bewerk (Hand. 8) en Timoteus het die "genadegawe van God" deur die oplegging van die hande van Paulus ontvang (2 Tim. 1:6). In die Nuwe Testamentiese boeke sien ons hoedat evangeliste na nuwe kerke gestuur is, of daar agtergelaat is, om hulle op te bou, soos Timoteus in Efese (1 Tim. 1:3) en Titus op die eiland Kreta (Tit. 1:5).

Hierdie drie ampte, hoewel hulle in sommige besonderhede van mekaar verskil, het verskeie belangrike dinge in gemeen. Eerstens is hulle buitengewone ampte. Apostels, profete en evangeliste het ‘n buitengewone roeping ontvang. Apostels en evangeliste en (waarskynlik sommige) profete het wonders gedoen. Apostels en profete (maar oënskynlik nie evangeliste nie) was in besonder deur die Gees geïnspireer.

Tweedens het hierdie drie ampte rondreisende werk behels, reisende van een arbeidsveld na die ander. Dit is besonder duidelik by die apostels en evangeliste.

Derdens — en dit is besonder belangrik teen die Pinkster-aanslag — was al drie die ampte tydelik. Die apostels en profete het die fondament van die kerk gelê (Ef. 2:20), en dié word net een maal gelê. Deur die apostels en profete het ons nou die geïnspireerde, onfeilbare, voldoende en volledige Skrif (2 Tim. 3:16-17; Openb. 22:18-19). Die evangeliste het verbygegaan saam met die amp wat hulle gehelp het, dié van die apostels. Vir geeneen van hierdie ampte word aan ons voorskrifte vir die voortsetting daarvan of ‘n lys vereistes gegee nie, anders as by die permanente ampte van ouderling en diaken (1 Tim. 3; Titus 1).

In die vierde plek is die ampte van apostel, profeet en evangelis, soos die amp van herder en leraar, leerampte (Ef. 4:11). Dit is ‘n sleutelgedagte in die verband (vv. 11-16). Dit verklaar ook waarom die besondere ampte van ouderling en diaken nie hier genoem word nie, want die sleutelgedagte van dié ampte is om te regeer en om die barmhartigheid van Christus te bedien, onderskeidelik, en nie lering as sulks nie.

2. Die Amp van Herder en Leraar🔗

Anders as die ampte van apostel, profeet en evangelis, is die amp van herder en leraar (die ander kerklike amp wat in Ef. 4:11 genoem word) nie ‘n buitengewone amp nie (hoewel dit ‘n besondere amp is). Eerstens het die buitengewone ampte (apostel, profeet en evangelis) die volgende of sommige daarvan behels: ‘n buitengewone roeping, direkte openbaring en wonderwerke. Nie een van hierdie buitengewone gawes is deel van die amp van herder en leraar nie. Tweedens is die buitengewone ampte tydelik, en met die apostoliese era afgesluit, terwyl die amp van herder en leraar (sóós die ampte van ouderling en diaken) permanent is en duur tot met Christus se wederkoms (vgl. 1 Tim. 3; 6:14). Derdens behels die buitengewone ampte gesag oor die kerke in die algemeen (en het gewoonlik reisendheid ingesluit), terwyl herders en leraars in ‘n besondere kerk geroep word. 

man met tas

Die hoofsaaklike ooreenkoms tussen die drie buitengewone, tydelike ampte en die besondere, permanente amp van herder en leraar — en die rede waarom van hierdie vier ampte in Ef. 4:11 gepraat word — is dat hulle almal leerampte is. Jesus Christus, die opgevare hoof van die kerk, het ruim voorsiening gemaak vir die toerusting en opbouing van sy volk (vv. 11-16). In die apostoliese tyd is apostels, profete en evangeliste, sowel as plaaslike herders en leraars, geroep om die kennis van Christus te versprei. In die na-apostoliese tyd word amptelike prediking van die Woord aan herders en leraars opgedra. Daar is nie hier of elders in die Heilige Skrif melding van, of voorsiening vir, of behoefte aan ‘n pous wat onfeilbaar ex cathedra spreek, laat staan nog ander onbybelse en teenbybelse ampte soos aartsbiskoppe en kardinale, nie.

Die amp van herder en leraar is nie net te onderskei van die buitengewone ampte van apostel, profeet en evangelis nie, maar dit is ook onderskeie van die besondere, permanente ampte van (regeer) ouderling en diaken. Diakens bedien hulp en ouderlinge regeer, terwyl die essensie van die amp van die herder is om te leer. Nietemin regeer leerouderlinge ook, en het regeerouderlinge leergawes ten einde in die kerk te kan regeer (vgl. "bekwaam om te onderrig;" 1 Tim. 3:2). Die Bybelse onderskeid tussen ‘n leerouderling — herder en leraar in Efesiërs 4:11 en "engel" of "boodskapper" in Openbaring 2-3 — en ‘n regeerouderling, word gemaak in 1 Tim. 5:17.

Dit is dus duidelik dat die Bybel vereis dat daar besondere ampte in die kerk as instituut sal wees. Dit is nie ‘n geval van dienstigheid, of natuurlike ontwikkeling of menslike bedenksel nie. Die kerklike ampte van herder en leraar, ouderling en diaken is deur God verordineer vir die hele Nuwe Testamentiese tyd. Om kerklike ampte te verwerp is om jouself wyser as God te ag, want een van die heerlike redes van Christus se hemelvaart (Ef. 4:8) is om ampsdraers te gee om sy liggaam op te bou (v. 11).

Nie almal is besondere ampsdraers in God se kerk nie. Kinders, klaarblyklik, ontbreek die vermoë en Christus verbied vroue ampsdraers. "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee [dit is, ‘n vrou kan nie ‘n herder en leraar wees nie] of oor die man te heers [as herder en leraar, ouderling of diaken, want al drie behels gesag oor die man] nie, maar sy moet haar stil hou" (1 Tim. 2:12). Ook word nie alle manne nie, maar net sommiges geroep en bevestig in die besondere ampte.

Dít doem alle verwerping van kerklike ampte by die Anabaptiste en die broederiste met hulle allemansbediening en allemansprediking. Hulle beskouing kyk net na gawes en nie ook na roeping en amp nie. In die kerke van die Reformasie is dit gebrandmerk as "fanatisisme" en "dwepery," want Christus het net spesifieke "ander" as herders en leraars gegee ("ander" word bepaal deur "sommige" in Ef. 4:11). Die opgevare Christus wat "ander as herders en leraars" gegee het, verbind amptelike prediking aan die amp van herder en leraar.1

skaapherder

Dit moet ook genoem word dat, hoewel daar "ongelykheid" onder gelowiges is, wat betref die besondere ampte, ons almal gelyk staan in die amp van die gelowige (Ef. 4:7). Die weg waarlangs ons in ons van God gegewe amp as gelowige groei, sluit in dat ons nie ons doel verbystrewe as lekepredikers nie. Ons groei eerder in genade deur te berus in die plek in die kerk wat God ons deur ons roeping aanwys, en gehoorsaam te wees aan die getroue prediking deur ware herders wat deur die opgevare Christus vir ons opbou gegee is (vv. 11-16). Dit is ook die manier om Bybelse eenheid in die kerk te bewaar (vv. 1-6).

As "herder" (v. 11) is ‘n Christelike predikant ‘n geestelike skaapherder. ‘n Skaapherder wys die kudde wat Christus aan hom toevertrou het die pad aan, laat hulle wei, regeer hulle, lei hulle en beskerm, tel en ken hulle. Hy moet dit wyslik, sagkens en voortdurend doen. Sy sorg is daarin geleë dat afgedwaalde skape nie verlore gaan nie, kwesbare skape teen roofdiere beskerm word, siek skape van siekte genees word en honger skape met goeie weiding gevoed word. As "leraar" (v. 11) pas hy die kudde op deur getroue verklaring en toepassing van die Woord van God.

Jesus Christus is, as die "groot Herder van die skape" (Heb. 13:20), die voorbeeld vir alle herders en leraars. Hy is die "goeie herder" wat sy lewe vir die skape afgelê het (Joh. 10:11) en wat hulle "vir Hom ... deur sy Gees en Woord ... vergader, beskerm en onderhou".2 Hierdie "Herder ... van ons siele" (1 Pet. 2:25) gee onderherders en rus hulle toe as herders en leraars, uit liefde vir die kudde. Ons verheerlik Hom deur op hulle ag te gee.

* Hierdie vertaling is geneem uit 'n reeks kort atikels deur Ds. Angus Stewart, predikant van die Covenant Protestant Reformed Church in Ballymena, Noord Ierland. Dit het oorspronklik verskyn in die maandblad van dié gemeente, die Covenant Reformed News, Vol. XI. (http://www.cprf.co.uk/crnews.htm)

Endnotes🔗

  1. ^ Westminster Larger Catechism, V. & A. 158.
  2. ^  Heidelbergse Kategismus, A. 54.