2 bladsye.

Eksodus 2 - Die Here Reageer op die Geweld teen Sy Kinders

Lees Eksodus 2:11–2:25

moses

Eksodus 2 loop oor van geweld. Geweld wat groot gevolge gehad het vir die kinders van die Here. Hulle was self ook nie immuun teen die gebruik van geweld nie. Op ʼn heel eerlike manier laat Eksodus ons sien hoe geweld ook vir kinders van die Here lyk na ʼn oplossing vir probleme. Die belangrike vir ons is egter nie hoe die Israeliete gereageer het op die geweld nie, maar die Here se reaksie op die geweld wat sy kinders aangedoen word, wat vir ons ʼn pragtige en vertroostende evangelie is.

Dit begin alles by Moses se reaksie teen die geweld wat sy volksgenote aangedoen word. Moses, wat in die paleis van die Egiptiese koning groot geword het, het die geweld wat die Here se kinders aangedoen is, op hom laat inwerk. Hy het “gesien” wat sy broers aangedoen is in hulle slawerny. Hierdie “sien” van Moses, is nie ʼn afstandelike waarneming nie. Dit is die “sien” van ʼn ouer wat reageer op ʼn kind se vraag: ”Sien, pappa / mamma hoe seer ek kry?”. Wanneer die ouer sê: “Ek sien, my kind”, dan is dit die reaksie van iemand wie se hart geraak en geroer word tot medelye met die kind.

Moses “sien” hoe ʼn Egiptiese man ʼn Hebreeuse man, een van Moses se broers, slaan. Hierdie onreg maak iets in Moses wakker. Die onreg kan hy nie verdra nie. En dan moet ons nie dink dat Moses hom sommer in blinde woede tot geweld wend nie. Moses kyk oral om hom rond, maar sien niemand wat kan help nie. Niemand keer die onreg en geweld wat teen sy broer gepleeg word nie! Dit kan nie so wees dat onreg seëvier nie! Die Egiptenaar word nie aangedui as iemand met amptelike regte nie; hier is sommer willekeurige geweld teen ʼn Hebreër. Dit bring Moses in beweging tot verdediging van sy broer. Die onreg word teëgestaan. Geen wonder dat later in die gee van die tien woorde van die Here op die kliptafels, daar so uitdruklik in die sesde woord gesê word: “Jy mag nie doodslaan nie”.

Die Here wou die lewe van sy kinders in beskerming neem. Moses doen hier niks minder nie. Hy beskerm die lewe van ʼn kind van die Here. Moses staan op vir die reg van die onderdrukte – dit vra moed. En dit tot sy eie nadeel. As iemand wat opgegroei het in die paleis van die Egiptiese koning, sal sy eie lewe in gevaar wees as hy bekend raak as verdediger van ʼn kind uit die Hebreërs. So gou hy kan, begrawe hy die Egiptenaar wat hy doodgeslaan het. Maar Moses se eie doodmaak van die Egiptenaar, bring nie die verlossing vir die Hebreërs nie.

Intussen het die invloed van die geweld in Egipte, die Hebreërs nie onaangeraak gelaat nie. Die volgende dag sien Moses twee Hebreeuse manne met mekaar veg. Geweld het kennelik die manier van oplossing vir probleme vir mense uit die volk Israel geword.  Moses kom nog ʼn keer op vir die reg. Hy vra vir die een wat ongelyk gehad het: “Waarom slaan jy jou naaste?”. Vir Moses is dit ondenkbaar dat twee lede van die kinders van die Here geweld en onreg teen mekaar pleeg.

Moses, met al sy bewoënheid oor die lot van sy volksgenote wat ly onder die onregverdige geweld (of van die Egiptenaars, of van eie volksgenote), word nie as verlosser ontvang nie. Die Hebreër wat die onreg gepleeg het verwoord die afwysing van Moses as verlosser uit hul nood: “Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel?”. Selfs Moses se solidariteit met hulle wat ly onder geweld en onreg, veroorsaak nie dat hy as iemand oor hulle aangestel, ontvang word nie. Daar is by die volk nog geen verwagting dat die Here hulle deur Moses dalk sou wou red nie. Om die waarheid te sê, Moses word selfs afgepers oor die Egiptenaar wat hy doodgeslaan het ter beskerming van een van sy broers. Dit lei regstreeks daartoe dat hy moet vlug vir sy lewe. Dit word klaar duidelik dat Moses ʼn regstreekse aanstelling van die Here moet kry, voordat hy as verlosser vir die volk sou kon optree.

En tog word sy optrede vir die instandhouding vir die reg, wel onder die heidene erken. Wanneer hy vlug en onder die Midianiete kom, tree Moses weer op vir die reg van die magteloses wat ly onder geweld. Hierdie keer is dit sewe dogters van ʼn sekere Réhuel wat ly onder die veewagters wat hulle met geweld verdryf van die put waar hulle self en hulle vee wou drink. Moses help hierdie vroue. En hulle vertel en getuig van sy goedheid vir hulle. Moses kry erkenning onder die heidene – hulle besing sy deugde! – wat hy nie onder die volk van die Here gekry het nie! Hy word met groot entoesiasme genooi vir ete en kry op die koop toe selfs nog ʼn dogter as geskenk om sy vrou te wees. En tog is dit nie die eindpunt wat die Here met hom wil hê nie. Die seun wat hy by Sippora kry, word Gersom genoem: Ek is ʼn vreemdeling in ʼn vreemde land. Moses bly vreemdeling in ‘n vreemde land. Die belofte van ʼn eie land vir sy kinders, het die Here nog nie vervul nie. Die naam van Moses se seun hou groot belofte in vir ʼn beloofde land.

waterput

Gebed in Geweld🔗

Die optrede van Moses is nie genoeg om die volk te red nie. Die nuwe geslag kinders in Egipte se toekoms word op net een manier verseker. Nie deur hulle ouers nie. Hulle is magteloos. Ook nie deur mense wat ʼn gevoel het vir wat reg is en selfs aksies onderneem, soos Moses nie. Die draaipunt in hierdie verhaal kom wanneer die kinders van Israel begin sug, roep en huil in hul gebede. Hulle geroep het opgeklim tot God. Hy het hulle gebede gehoor.

Op veelkleurige manier word duidelik gemaak dat die gebede wat gebore is uit ʼn situasie van geweld en onreg teen hulle, die Here nie onaangeraak gelaat het nie. Veel meer as Moses word nou geraak deur die geweld teen die Here se kinders. Die Here God self kom staan skielik in die middelpunt van die verhaal. Hulle geroep om hulp het God geraak:

God het hulle gekerm gehoor – dit beteken nie dat die Here voorheen doof was en nou eers hul gekerm gehoor het nie. Dit wil sê dat die Here deur hul geroep nou in beweging gebring word.  Hy reageer nou op hul geroep.

God het gedink aan sy verbond – dit gaan hier ook oor veel meer asof die Here se geheue skielik ʼn helder oomblik gehad het. “Dink aan sy verbond” beteken dat die Here doelbewus sy beloftes aandag gee. Hy bring Homself onder die besef van die verpligting waaronder Hy Homself gestel het teenoor Abraham, Isak en Jakob. Dit gaan hier oor ʼn goddelike “verantwoordelikheidsbesef”. Wanneer die Here “dink aan” beteken dit vir die Here dat dit vir Homself tyd geword het om doelgerig iets daaraan te doen.

God het die kinders van Israel aangesien – dit beteken nie dat ʼn blinde vlek in die sig van die Here skielik helder geword het nie. Wel dat Hy sy aandag doelbewus aan hulle gee in goedheid, simpatie en liefde … en God het hulle geken – meer kan dit nie! Ken is hier die bekende woord wat gebruik word vir “gemeenskap hê met”. Die Here kom deel hier doelbewus in die lewenservarings van sy kinders. Hy deel in hulle ervarings van onreg en maak dit sy eie.  Hy kom deel in hul lyding en geweld teen hulle. Só is ons Here. Nie as ‘n magtelose nie, maar as Een wat self die geweld oorwin.