3 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius .

Erediens

kerkdiens🔗

Om God te soek🔗

Ons glo in God, wat hierdie aarde geskep het en wat deur Christus ook ons Vader is. Dit is tog die heel belangrikste saak in ons lewe. Maar hierdie geloof word maar al te dikwels erg beproef. Want ons bevind ons in ʼn wêreld wat leef asof God nie bestaan nie. En dit veroorsaak ʼn sekere spanning waaraan ons maar moeilik kan ontkom. Die wêreld is tog hier om ons en die invloed daarvan is op allerhande maniere in ons lewe teenwoordig. Dit kan veroorsaak dat ons soms God en Sy rol uit die oog verloor. As Christen staan ons daarom maar altyd weer voor die vraag: Waar is God dan?

Nou ken ons wel die antwoord op hierdie vraag. God het Homself aan ons bekend gemaak. Maar terselfdertyd moet ons ook besef dat ons van ons kant af die plig het om Hom te soek daar waar Hy te vinde is. Want as ons realisties wil wees, moet ons opmerk dat baie mense verstrik raak in die vele vrae wat hierdie wêreld aan hulle stel. Daar is heelwat gelowiges vir wie die vraag: Waar is God dan? stadigaan verander het na die vraag: Is daar wel ʼn God?

Daarom is dit so belangrik dat ons moet aanhou om God te soek. Indien ons regtig die toenemende sekularisasie van ons samelewing, wat dreig om ons te oorweldig, wil weerstaan, gaan dit die deurslaggewende faktor wees. In die eerste plek gaan dit oor erediens aan God.

Die kerkdiens🔗

Wanneer ons praat van erediens, dink ons byna outomaties aan die kerkdienste op Sondag. Dit is tog voor die hand liggend. Daar beleef ons dan die erediens aan God. Dit is waar ons Hom opsoek, omdat dit juis daar is waar Hy na ons toe kom. Hy gee Homself aan ons in Sy evangelie. Hy spreek tot ons in die Skriflesing. Ons hoor Sy stem in die prediking en ons moet die seën wat ons ontvang voor ons huis toe gaan, nie vergeet nie. So bring Hy ons daartoe dat ons ons aan Hom oorgee. Ons kan onsself totaal aan Hom gee wanneer ons ons skuld bely, in ons gebed, wanneer ons sing en Hom prys, in die dankoffers wat ons bring.

Die hele kerkdiens vertoon so die kenmerke van ʼn ware ontmoeting met God. Die erediens is ʼn bewys dat God wel bestaan en dat Hy te vinde is wanneer ons Hom opsoek. Tog lyk dit asof dit in die praktyk nie vir almal so eenvoudig is nie. Daar is heelwat mense vir wie die erediens nogal probleme veroorsaak. Dit ontstaan meestal vanweë die verskil wat hulle ervaar tussen die kerkdienste op Sondag en hulle lewe van elke dag. Daar kan immers ʼn wêreld van verskil tussen wees.

Wanneer ons deur die week in ons daaglikse lewe staan, met alles wat daarmee saamgaan, en dan Sondae in die kerk kom, gaan dit daar oor dinge wat in die gewone lewe glad nie ter sprake kom nie, en dan kan dit nogal probleme oplewer. Dan begin jy wonder of dit wat jy in die kerk ondervind, wel nog betrekking het op wat daagliks in jou lewe gebeur. En dan kom jy soms tot die slotsom dat ʼn kerkdiens nie veel beteken vir jou lewe nie. Baie mense het op hierdie manier hulle motivering om nog kerk toe te gaan, verloor.

kerkdeur

Nie twee aparte wêrelde nie🔗

Dit is lewensbelangrik dat dit wat ons in ons kerkdienste beleef en ons verdere lewe nie twee aparte wêrelde sal vorm nie. Want dit sal een of ander tyd veroorsaak dat die ruimte wat ons toelaat vir die diens aan God, bepaal word deur wat in die res van ons lewe in hierdie wêreld met ons gebeur. En dit is dan meestal maar min ruimte.

Daarom is dit belangrik dat dit tydens die kerkdiens vir ons duidelik sal word hoe dit wat in die erediens gebeur, toegepas word in ons hele lewe. Die gebede en die prediking mag nooit wêreldvreemd wees nie. Want as die indruk sou ontstaan dat al die belangrike sake van hierdie wêreld, ons daaglikse lewe, niks te make het met wat ons in die kerkdiens ondervind nie, word dit moeilik om in te sien waarom dit dan belangrik is om wel die kerkdienste op Sondae by te woon. Dit plaas ʼn groot verantwoordelikheid op die voorgangers in kerkdienste. (Ons kan gerus ook hieraan dink in ons gebede.)

Maar tog is dit nie goed om maar net na die rol van die voorganger te kyk nie. Want die afstand tussen die kerkdiens en ons daaglikse lewe kan ook op ʼn ander manier al groter word: As die erediens van Sondag nie gekoppel is aan ʼn daaglikse erediens in jou persoonlike lewe nie.

Persoonlike erediens🔗

Saam erken ons dat ons Sondae, in die kerk, by die Bron van ons lewe verkeer. Tog is daar heelwat mense wat dit nie werklik so ervaar nie. Dan is die Sondag glad nie so ʼn fees as wat ons graag beweer dit behoort te wees nie. (Om maar nie eens te praat van bv. die viering van die Nagmaal nie!)

Maar ʼn fees wat saam gevier word, kry eers sy ware betekenis teen die agtergrond van die gehalte van die verdere omgang met mekaar. As ons wil feesvier met mense aan wie ons ons verder nie juis steur nie, sal ons teleurgestel word. Dan word dit maar ʼn gedwonge situasie. As ons in die gewone lewe nie eintlik veel met mekaar te doen wil hê nie, is die vreugde by ʼn fees gevolglik ook maar laag. En dit geld nog meer vir ons ontmoeting met God. Want die kerk, op Sondae, is tog nie al plek waar ons die Here kan hoor spreek nie. Deur die week lees jy tog ook jou Bybel en bid jy tot Hom. Maar as jou ontmoetings met Hom in jou gewone lewe maar skaars is en nie veel inhoud het nie, sal jou hele interaksie met Hom gou verskraal. 

En dan word ʼn kerkdiens sommer gou ʼn plek waar jy ontuis voel. Dan dink jy miskien steeds dat kerk toe gaan nou eenmaal so hoort, maar jy is nie met jou hart daarin nie – dit het nie veel betrekking op die res van jou lewe nie. Maar juis dan is die kans groot dat jou kerkgang jou sal teleurstel. Jy kan tog nie verwag dat jy in een enkel uur kan inhaal wat jy vir die hele vorige week verwaarloos het nie. Dan het ʼn kerkdiens vir jou inderdaad ʼn aparte wêreld geword; ʼn rots in die stroom van die res van jou lewe. Die stroom van jou daaglikse lewe vloei daaromheen omdat dit nie deel daarvan is nie.

Waar dit op aankom, is dat jou persoonlike erediens voor God lewend bly. Dit vorm tog die basis. Dit bepaal jou houding teenoor die wêreld om jou.

So is daar seine in ons lewe wat aandui wanneer ons persoonlike erediens verwaarloos word. Daarom is dit belangrik dat ons werk sal maak daarvan en mekaar ook aanspoor om gedurig aandag daaraan te gee.

kerkvenster

Luister🔗

ʼn Erediens is ʼn ontmoeting met God wat deur God self gereël is. Hy nader tot ons. Die rede vir so ʼn ontmoeting is dus dat ons na Hom sal luister. Dit lyk vanselfsprekend.

Tog kan ek nie nalaat om die aandag te vestig op die houding waarmee ons luister. Want nie alleen is ons maar te geneig om te praat nie (oor sake wat vir ons belangrik is), maar ook word ons so maklik doof vir dié sake waarvan ons dink dat dit ons lewens nie so direk raak nie. Verder word ons soms ook blind vir dit wat ons lees. Dit volg omdat ons so dikwels neig om die Bybel te benader uit die oogpunt van die vrae wat óns pla. Wie so lees, vind maar selde die antwoorde wat hy/sy verwag.  Die Bybel is nie geskryf met dieselfde uitkyk op die wêreld as ons s’n nie.  Vir wie dit nie in gedagte hou nie, kan dit maklik ʼn geloofskrisis veroorsaak. Wanneer ons die Bybel lees vanuit ons eie verwysingsraamwerk, is daar so veel in die Bybel wat vir ons nie meer relevant is nie. Dan begin jy al meer selektief lees en het die Bybel vir jou onherroeplik steeds minder inhoud, word dit vir jou al minder duidelik. Uiteindelik beteken dit maar min vir jou.

So word jy vasgevang in ʼn bose kringloop. Omdat jy vanuit jou eie ervaring alleen begin redeneer, word jy vasgevang in jou eie denkwêreld. Dan vind jy God nie meer nie, omdat jy Hom soek daar waar jy ruimte vir Hom gelaat het. Maar ʼn kenmerk van luister na God is juis dat Hy alles vir jou soveel ruimer maak. As ons regtig luister staan ons wawyd oop vir wat God ook al vir ons wil laat verstaan.

Hy wat spreek is die God wat hierdie wêreld geskep het en nog steeds onderhou en regeer. Hy is die God wat ons lewens verlos en ʼn nuwe wêreld vir ons voorberei. As daar iémand is wat weet wat relevant is vir die wêreld waarin ons leef, dan is dit Hy. Want Hy laat ons die doel van Sy skepping sien en laat ons die nood van hierdie wêreld besef. Hy maak ook Sy plan van redding aan ons bekend en lei ons lewens na Sy toekoms.

As jy dit eers besef wanneer jy lees, begin jy merk wat ʼn geweldige openbaring die Woord van God regtig is. Dan leer jy dat hierdie wêreld en jou plek daarin nie die belangrikste sake van jou lewe is nie. Jy leer om dit te beskou in die lig wat Hy gee.

Bid🔗

Die mens wat geleer het om na God te luister, sal Hom ook begin opsoek. Deur gebed kan jy dan pleit op alles wat Hy beloof het. Maar as jy maar met moeite luister, sal dit ook reflekteer in jou gebedslewe. Dit is opmerklik dat ʼn geloofskrisis meesal ook ʼn gebedskrisis is.

Ons behoort die bestaan van so ʼn krisis nie te ontken nie. Daar bestaan immers soveel vrae en redenasies oor die sin van ons gebede. Maar byna altyd het dit dan te doen met die vraag of God wel teenwoordig is in ons lewe. As jy nie agterkom dat God daar is nie, kan jou gebedslewe ook soos ‘n kers uitdoof.

Dit is opvallend dat die Here Jesus so ʼn gebedskrisis by verskillende geleenthede ter sprake gebring het en dan altyd Sy hoorders aangespoor het om tog vol te hou en nie te verslap nie. Hy weet baie goed waar ons kwesbaarheid lê!

persoon bid

En dan het ons ook ‘n Bybelboek, wat baie gebede bevat en waaruit ons kan leer bid. En daarin vind ons dikwels die klag van die psalmdigter dat God nie meer daar is in sy lewe nie. Ons is nie die eerstes vir wie die uitsig na God verduister word nie. God se kinders het maar altyd nog daarmee geworstel dat dit soms wil lyk of God Homself vir ons wil verberg. Maar dan is dit ook opmerklik dat, selfs onder daardie omstandighede, hulle gebede nie opgehou het nie, maar dikwels dan meer dringend geword het. Die rede waarom hulle nie opgegee het nie, was omdat hulle God geken het. Hulle het geweet dat hulle op Hom kan staatmaak. Dit is ʼn belangrike aansporing vir ons om dan ook nie ons persoonlike erediens aan Hom te verwaarloos nie.

Volledige erediens🔗

Wie luister na wat God beloof, sal steeds daarop vertrou en altyd weer daarna bly vra. Dan is dit nie meer ʼn vraag of Hy wel bestaan nie. En dan sal jy ook nie leef asof Hy nie bestaan nie. Dan kan daar ʼn erediens in jou begin groei wat jou hele lewe bepaal. Want ʼn erediens in die kerk of in jou persoonlike lewe kan nooit los staan van wat in die res van jou lewe gebeur nie. Wanneer jou erediens inhou dat jy jouself aan Hom gee wat Homself eerste aan jou gegee het, dan sal alles in jou lewe ook daaraan onderworpe wees. So beskryf Paulus dit ook in Rom. 12:1. Wie Jesus se versoeningsoffer aanvaar, weet dat hy geroep word tot ʼn dankoffer van sy hele lewe. Dit is ons antwoord op alle neigings tot verwêreldliking. Dit bly maar dikwels ʼn stryd om jou lewe nie te verdeel tussen die kerk en die wêreld nie, maar jou hele lewe word dan een volkome erediens.