Bron: Waarheid en Dwaling, 1999. 4 bladsye.

Eutanasie Vandag

eutanasie

Die feit dat eutanasie (genadedood) in ons samelewing 'n plek begin kry, is as gevolg van die feit dat ons in die postmoderne tyd op 'n sekere manier begin dink het oor die mens en die betekenis van sy lewe. Dit maak dit moontlik dat 'n praktyk wat vir baie eeue taboe was, nou as normaal beskou word. As die mens eers die band met God en sy gebod deursny, moet hy nie verbaas wees om uiteindelik ook die band met sy medemens te verloor nie en hou hy uiteindelik net homself oor.

Eutanasie Vandag🔗

In verskeie lande is daar bewegings wat die wettiging van eutanasie voorstaan. Tans is daar egter slegs in Nederland, Oregon State in die VSA en Queensland in Australië wette wat eutanasie toelaat. Ook in Suid-Afrika het die debat tans begin en het die regering reeds 'n kommissie aangewys wat met moontlike wetsontwerpe na vore gekom het. Die inhoud daarvan laat groot ruimte vir eutanasie.

Wat is Eutanasie?🔗

Maar, wat is eutanasie? In die postmoderne konteks kan eutanasie gedefinieer word as die doelbewuste terminasie van 'n pasiënt se lewe deur 'n geneesheer. Soms word daar tussen passiewe en aktiewe eutanasie onderskei. Passiewe eutanasie is dan die oorlaat van 'n bestaande siekteproses in 'n pasiënt wat dan tot die dood van die pasiënt sal lei, terwyl by aktiewe eutanasie gedink word aan 'n ingreep van die geneesheer, wat direk die dood van die pasiënt tot gevolg sal hê. Die staking van behandeling tydens sogenaamde passiewe eutanasie is egter ook 'n aktiewe besluit en dus nie so passief nie. Dit is daarom beter om gewoon te praat van die beëindiging of terminasie van behandeling wat lyding in 'n sterwende pasiënt kunsmatig verleng. Dit het met eutanasie in vandag se konteks niks te make nie. Behandeling word nie gestop om die dood van die pasiënt te veroorsaak nie. Die pasiënt sterf as gevolg van die siekte wat nie meer langer behandel kan word nie. Mediese behandeling wat wel nodig is, maar nie gegee word nie, moet ook as eutanasie gesien word. Die noodsaaklikheid van behandeling moet op mediese gronde en nie op grond van die kwaliteit van lewe gegee word nie. Die weerhouding van noodsaaklike behandeling in 'n ou, eensame of verstandelik vertraagde pasiënt, is gelykstaande aan eutanasie.

Die vraag hoe ons as Christene dink en doen ten opsigte van vrae omtrent die einde van ons aardse lewe, is belangrik om te vra. Ons moet egter ook weet hoe die postmoderne mens oor die einde van ons aardse lewe dink.

Tans sterf 2,5% van alle Nederlanders as gevolg van eutanasie. Hierdie syfer verteenwoordig die gerapporteerde aantal. Daar is aanduidings dat heelwat gevalle nie aangemeld word nie. Dit blyk uit 'n onlangse ondersoek van die KNMG (Koninklijke Nederlandse Maatschappij der Geneeskunst) in Utrecht.

Die aantal mense wat op hul sterfbed vra vir eutanasie, word al hoe meer. Al hoe meer dokters het ook geen probleem om eutanasie op versoek toe te pas nie. 'n Onlangse studie toon dat slegs 9% van alle dokters in Nederland nie eutanasie sal uitvoer nie. Daarvan sal slegs 2% ook nie 'n pasiënt wat daarom vra, verwys na iemand wat dit wel doen nie. Duitse pasiënte wat in hul eie land nie die dodelike inspuiting kan ontvang nie, omdat eutanasie as 'n kriminele oortreding in Duitsland beskou word, kan wel na Nederland kom om dit te ontvang. Onlangs is daar selfs 'n film gemaak deur 'n dokter wat die hele proses van eutanasie, van die terminale siekte van die pasiënt, tot die dodelike inspuiting, uitvoerig aantoon. Die film is gemaak met die doel om aan te toon hoe "menslik" die hele proses van eutanasie is.

Waar kom die Gedagte vir Eutanasie Vandaan?🔗

Hoekom is dit so dat daar vandag gedink word soos hierbo geskets? Hoekom is dit so dat daar vandag in die mediese praktyk plek gekom het vir iets wat oor honderde jare as 'n "taboe" gesien is – dat die dokter die lewe van sy pasiënt neem op versoek van die pasiënt? Hoe het dit gekom dat daar vandag wette bestaan wat ons die reg gee om 'n wet wat daar vir eeue was te verbreek?

inspuiting

Om hierdie vrae te beantwoord moet ons gaan kyk na 'n paar grondliggende gedagtes in ons huidige samelewing ten opsigte van die gesondheidsorg. Dit kan o.a. verdeel word in drie grond­liggende gedagtes:

  • Die outonomie van die pasiënt,

  • Die verabsolutering van die tegniek,

  • Die gedagtes ten opsigte van die kwaliteit van lewe.

1. Die Outonomie van die Pasiënt🔗

Ons het in die postmoderne tyd op 'n sekere manier begin dink oor die mens en sy lewe. Die gedagte dat die pasiënt outonoom is, het sterk die denke in die gesondheidsorg begin beïnvloed. Daar is duidelik wegbeweeg van die modernistiese denke wat meer klem gelê het op die verhouding tussen mense. Die horisontale beklemtoning van die menslike, veral gestempel deur die humanisme, het sterk die denke van die moderne mens bepaal. In hierdie mensbeeld het die belang van die verhouding tussen dokter en pasiënt baie aandag gekry. Die terapeutiese effek van hierdie verhouding was fundamenteel. Verskeie beginsels oor die aard van hierdie verhouding is uitgewerk, byvoorbeeld:

  • die holistiese benadering tot nie alleen die pasiënt nie, maar die gesin in geheel;

  • die konteks van die verhouding;

  • die rol van die verhouding in voorkomende sorg;

  • die verhouding in die lig van verskeie ander ondersteunende dienste, soos verpleging, fisioterapie, arbeidsterapie, maatskaplike werk, die sielkunde ensovoorts; en

  • die subjektiewe en objektiewe aard van die verhouding.

Hierdie gedagte van die mens binne verhoudings het egter op 'n horisontale vlak gebly. Die vertikale, nl. God en sy gebod, het nie in die dokter-pasiënt verhouding 'n rol gespeel nie. Die pasiënt is egter wel in konteks van andere, soos sy gesin, gesien. Die postmoderne mens reken egter al hoe meer ook af met die horisontale of menslikheid in die dokter-pasiënt verhouding. Die postmoderne denke oor die dokter-pasiënt verhouding het wegbeweeg van die rol van die dokter in die verhouding en fokus sterk op die outonomie van die pasiënt, ja selfs absolute outonomie van die pasiënt.

Sy versoek tot eutanasie is amper 'n bevel. Die postmoderne denke in die gesondheidsorg het dus uit die modernistiese denke ontstaan. Die modernistiese denke behou nog die horisontale verhouding, maar die postmodernistiese denke behou slegs die outonome individuele pasiënt.

Dit is duidelik dat die postmoderne mens nader aan die heidendom staan as die moderne mens omdat hy ook die horisontale band afbreek.

Wie eers die vertikale band met God en sy gebod deursny, moet nie verbaas wees om uiteindelik net homself oor te hou nie, want hy sny al gou die horisontale band met sy naaste af.

Die humanisme eindig daarom altyd in 'n individualisme.

Die sesde gebod, waar God die lewe op horisontale vlak beskerm, het geen fondament in sy lewe nie. As Christene moet ons teenoor die outonomie (self-wet) die teonomie (God se wet) stel.

2. Die Verabsolutering van die Tegniek🔗

Die geweldige ontwikkeling van die tegnologie het vandag ook 'n groot invloed op die gedagtes omtrent eutanasie. Die gesondheidswetenskappe het 'n diensverskaffer geword en bied 'n groot aantal dienste aan vir die kliënt. Gewoonlik het hierdie dienste 'n tegniese dimensie; selfs die psigiatrie is vandag geweldig tegnies ingerig. Die pasiënt is dan 'n klant wat van hierdie produkte kan gebruik maak om 'n doel te bereik, ten opsigte van om gesond te bly.

Vir elke denkbare gesondheidsprobleem word 'n diensverskaffer en diens aangebied. Ja, die dokter word die gesondheids­voorsiener en die pasiënt die gesondheidsontvanger genoem.

Indien 'n pasiënt aan hartversaking lei, word daar verskeie toetse gedoen om sy siekte te diagnoseer; daarna word medikasie aangebied. Indien dit nie meer werk nie kan hy 'n pasaangeër kry, en indien dit nie meer werk nie kan hy 'n hartoorplanting kry.

hart en stetteskoop

Natuurlik is dit pragtig dat ons hierdie hulpmiddels van God ontvang. As dokters mag ons dit gebruik en as pasiënte ontvang. Dit word egter vandag los van sy oorsprong en buite 'n opdrag van die Here gesien. Dit is die reg van die outonome pasiënt om te ontvang van al die gesondheidsdienste wat op die mark is. Sodoende ontstaan terme soos gesondheidsvoorsieners en gesondheidskliënte. Die tegniek word nou 'n tegnisisme. Eutanasie is dan ook net 'n heel konsekwente deurvoer van hierdie mensbeeld. As daar dan geen middel of operasie of tegniek op die gesondheidsmark meer moontlik is vir die terminale siekte nie, dan kom die versoek om die laaste tegniese hulpmiddel, die dodelike spuit met langwerkende spierverslapper. Ja, die verabsolutering van die tegniek het 'n groot invloed op die postmoderne mens. Dit is so sterk dat hy op sy sterfbed, onder die waan van outonome beheer oor die tegniek, nie eers meer sy medemens en sy verhouding tot hulle raaksien nie, om nie eers van God te praat nie.

Die tegniese verabsolutering (tegnisisme), het egter ook 'n besinning aan die gang gesit oor die sin van allerhande behandelingsopsies in die terminaal siek pasiënt. Beteken al die behandelings nie maar net 'n uitstel van lyding nie? Wat is die sin van lyding? Moet daar nie maar 'n einde aan gemaak word nie? Is dit nie die dokter se primêre taak om lyding te verlig nie? Waarom dan lyding uitrek? Dit is hierdie vrae wat JH van den Berg in sy boekie "Medische macht en medische ethiek", vra. Hy pleit vir 'n etiek wat lewe verleng, nie as dit moontlik is nie, maar as dit sinvol is. Dit is dan ook daarom dat hy tot die slotsom kom dat 'n dokter behandeling mag staak as dit lyding sinneloos uitstel (bv. om nie vir 'n pasiënt met verspreide lewerkanker en wat longontsteking ontwikkel, 'n antibiotikum te gee nie). As Christene mag ons inderdaad nie lyding sinneloos uitstel nie. Om dan behandeling gemik op genesing te weerhou is in ooreenstemming met ons priesterlike taak. Dit beteken egter nie dat sorg ten opsigte van die sterwende pasiënt weerhou word nie. Hier het ons as Christene 'n geweldige taak ten opsigte van palliatiewe sorg. Palliatiewe sorg is omvattende versorging van 'n sterwende of ongeneeslike pasiënt.

Dit is egter jammer dat Van den Berg nie 'n verdere uitwerking gee van wat sinvol is nie. Daarom kom hy ook tot die slotsom dat 'n dokter ook 'n pasiënt aktief sou kon doodmaak, as sy toestand sinloos is. Hierdie boekie wat talle drukke beleef het, word dan ook beskou dat dit die weg help baan het vir die huidige eutanasie-wet in Nederland.

Die rol van palliatiewe sorg het daarom 'n steeds kleiner plek in 'n samelewing wat die pasiënt-outonomie bo alle goed verhef en waar die sin van lewe nie vanuit die Skrif bepaal word nie.

3. Gedagtes oor die Kwaliteit van Lewe🔗

Die kwaliteit van lewe is vandag 'n bekende begrip wat baie gehoor word. Dit word gewoonlik gesien as dat die lewe slegs waarde het as jy fiks en gesond is. Kwaliteit van lewe word as 't ware objektief deur markkragte in die gesondheidswetenskappe bepaal.

Om die betekenis van siekte en lyding in 'n mens se lewe te vind, is 'n ongewone en amper ondenkbare begrip in ons postmo­derne samelewing. Die vraag na die betekenis van siekte en lyding in 'n mens se lewe skuif op die agtergrond met die vraag na die kwaliteit van so 'n lewe vir die pasiënt en sy omgewing.

Die begrip kwaliteit van lewe het die etiese meetsnoer van ons samelewing geword. Hierdie begrip veronderstel egter dat daar lewe is wat van minder kwaliteit is. Die vraag kom dan na vore wie gaan bepaal watter lewe aan die kwaliteitstandaarde vol­doen? Wie bepaal die kwaliteitstandaarde? Die realiteit leer ons dat dit deur die gees van die tyd bepaal word. Die postmoderne gees bepaal gewoonlik hierdie kwaliteitstandaarde. Dan val gebreklike kindertjies, verouderde mense, terminaal siekes, kwadrupleë en ander onder die maat van die standaarde.

hardloop

As Christendokters, -verpleegsters en ander werkers in die gesondheidswetenskappe mag ons egter in gehoorsaamheid aan God en sy gebod, Hom liefhê en daarom ook ons naaste soos onsself. Hierin het ons 'n opdrag van die Here, waarin ons die versorgingstaak van die terminaal sieke op ons neem met die tegniese hulpmiddels beskikbaar, sonder om dit te verabsoluteer. Hierin mag ons ook gebruik maak van die menslike hulpbronne wat die Here gee (priesterlike taak). Verder bely ons ook dat die sin en kwaliteit van lewe begrippe is waarvan God die inhoud weet en bepaal. As dokters en verpleegsters mag ons God se kwaliteit bely (profeties). Dan val die versorging van gebreklike kindertjies, verouderde mense, terminaal siekes, kwadrupleë en andere binne die raamwerk van God se soewereine wil.

Ten slotte mag ons stry teen die postmoderne tydsgees wat God se goeie gebod ten opsigte van ons en ons naaste se lewe vergeet.

Palliatiewe sorg (versorging van die terminaal sieke), word dan vir die Christendokter en -verpleegster 'n taak met 'n pragtige inhoud.