12 bladsye.

Evaluering van die Belharbelydenis

Belhar se Wortels🔗

In 1982 het die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke by hul vergadering in Ottowa die kwessie van apartheid in Suid-Afrika tot status confessionis verklaar. By dieselfde vergadering is ’n veldtog teen die NG Kerk en die Hervormde Kerk gevoer. Albei kerke is toe geskors. Om die spyker van die doodskis dieper in te slaan is dr. Allan Boesak van die NG Sendingkerk tot hul nuwe president verkies.

Net daarna vergader die sinode van die destydse NG Sendingkerk by Belhar. Hierdie sinode was byna ’n replika van die vergadering by Ottowa. Die chaos was net veel groter en dr. Boesak meer in die middelpunt van die twis. In die voetspoor van Ottowa verklaar die NG Sendingkerk toe ook ’n status confessionis. Hulle gaan nog verder en besluit om uit protes ’n nuwe belydenisskrif te skryf. Voorstelle dat daar eers met die NG Kerk gesprek moet wees, is verwerp. ’n Tydelike kommissie kry opdrag om voor die einde van die sitting ’n nuwe belydenisskrif te formuleer. Die resultaat is ’n protesskrif teen apartheid. Finale goedkeuring moes volgens kerkorde oorstaan tot die volgende sinode.

Binne die NG Kerk self sien ons 23 jaar se eierdans oor wat die kerk se standpunt oor Belhar moet wees. Dit wissel in dié tyd van totale verwerping tot totale aanvaarding! In 1986 verwerp die Breë Moderatuur Belhar as ‘ ’n dokument met ’n onaanvaarbare horisontalistiese eksegese eie aan die teologie van die bevryding’. Vier jaar later hoor ons dat ‘opsigselfgenome Belhar nie in stryd is met die Drie Formuliere van Eenheid nie’. In 2004 besluit die Algemene Sinode dat kerkvereniging so vinnig moontlik deurgevoer moet word en dat Belhar dan gelykwaardig met die Drie Formuliere van Eenheid as amptelike belydenis aanvaar moet word. Ironies genoeg besluit dieselfde sinode dat die ‘aanvaarding van Belhar as belydenis opsioneel sal wees!’ Is aanvaarding van die Drie Formuliere ook nou vir die NG Kerk opsioneel?

Die verband tussen die beoordeling van Belhar en die politieke oortuigings van die dag is duidelik. Die invloed van die tydsgees op die NG Kerk se standpunt is onmiskenbaar. Geen ander kerk in die wêreld aanvaar Belhar as belydenisskrif nie. Die vraag is: Indien die NG Kerk voortgaan om Belhar as belydenis te aanvaar, hoe raak dit ons eenheid en verhouding met die ander gereformeerde kerke in Suid-Afrika? Kan ons nog mekaar se lidmaatbewyse erken indien ons nie dieselfde belydenisskrifte aanvaar nie? Die Belhar-belydenis bring dus die eenheid tussen kerke van Gereformeerde belydenis in gedrang!

Jesus se woorde in Matthéüs 7:17-18 is belangrik by die evaluering van Belhar. ‘So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie’. In hierdie artikel kyk ons slegs na die wortels van Belhar. In die volgende aflewering sal ons na sy vrugte kyk.

Ons hoor herhaaldelik hoe vergaderings van die NG Kerk verklaar dat die Belharbelydenis ‘opsigselfgenome’ nie met die Drie Formuliere van Eenheid in stryd is nie. So word Belhar los van sy wortels, historiese-, politieke agtergrond en teologiese konteks beoordeel. Bloot op die klank af word gevra: Wat is fout met hierdie belydenis? Intussen wag lidmate van die NG Kerk al meer as 20 jaar tevergeefs vir die Algemene Sinode om ’n deeglike studiestuk op te stel oor die historiese aanloop, konteks en teologiese inhoud van die Belharbelydenis. Daarsonder is ’n verantwoordelike evaluering onmoontlik.

In Belhar:  bely of bestry? Word die historiese agtergrond en teologiese inhoud van Belhar bespreek*. Daarin word ook op skokkende gebeure, voor en tydens die sinode, gewys. Ons noem slegs enkele faktore wat Belhar se inhoud bepaal het.

Protes teen Apartheid🔗

Die Belharbelydenis het nie, soos ons gereformeerde belydenisse, uit ’n teologiese worsteling met die Skrif gegroei nie, maar uit ’n politieke worsteling met apartheid. Hoewel die woord ‘apartheid’ nie in Belhar gebruik word nie, was die doel van Belhar om finaal en ongekwalifiseerd met apartheid af te reken. Dr. Boesak stel dit duidelik as hy sê: ‘Daaragter (Belhar 1986) lê ’n lang stryd teen apartheid’. ’n Blote sinodale besluit oor apartheid was nie genoeg nie. Dit moes volgens dr. Boesak ‘onherroeplik’ in die vorm van ’n belydenis vasgelê word.

Die Ontstaan van Verskillende Soorte Apartheid🔗

Verskillende vorme van ‘apartheid’ het vroeg reeds vanuit die praktiese kontakervaring tussen die verskillende volkere in Suid-Afrika spontaan ontwikkel. Die meeste betrokkenes het aanvaar dit is in die beste belang van almal.

Dr. Nico Smith toon in sy doktorale proefskrif dat daar ’n jaar na die aankoms van Jan van Riebeeck reeds ’n spontane skeiding tussen die nedersetters en inheemse bevolking ontstaan het. ‘Hiervan getuig talle aanhalings uit die Dagregister van Van Riebeeck … Hierdie kontakervaring het veroorsaak dat daar spoedig na die begin van die volksplanting reeds ’n spontane skeiding in die vorm van ’n natuurlike afsondering ontwikkel het.’

Hy kom dan tot die slotsom: ‘In die voorafgaande bespreking is aangetoon dat die skeiding tussen Blank en nie-Blank op sosiaal-maatskaplike terrein in die Kaapse samelewing spoedig na die aanvang van die volksplanting reeds ’n aanvang geneem het’.

Hierdie spontane skeiding het eers later na die kerklike lewe deurgewerk. ‘Wanneer dit soms gestel word as sou die Nederduitse Gereformeerde Kerk eers vanaf sy sinode in 1857 die praktyk van afsonderlike byeenkomste vir Blank en nie- Blank begin toepas het, is hierin ’n vergissing.’ Prof. Gerdener se navorsing bevestig dat daar lank voor 1857 verskillende vorms van spontane skeiding op kerklike terrein was.

Die NG Sendingkerk was self vir meer as 100 jaar ’n uitgesproke voorstander van afsonderlike kerke. Dit het nooit die eenheid van die kerk bedreig nie. In 1857 het  die NG Kerk ter wille van beter verkondiging van die evangelie en eiesoortige behoeftes, toestemming gegee dat bruin mense afsonderlik mag vergader. Hierdie versoek het van die bruin mense self gekom (Nico Smith; H.R. Kotze; D. Crafford; J. Ernst; T. Danzfuss).

Selfs die versoek tot stigting van ‘n eie selfstandige NG Sendingkerk in 1881 het van die bruin gemeenskap en die sendingkommissie gekom. Met toestemming van die sinode is die NG Sendingkerk op 5 Oktober 1881 as selfstandige kerk gekonstitueer. Dit was nie ’n kerkskeuring nie, maar ’n inheemse kerkplanting in belang van die kleurlinggemeenskap.

Vir 100 jaar hierna was die NG Sendingkerk gelukkig om as eie selfstandige kerk te funksioneer. Hulle het in die tyd gefloreer en saam met die ander gereformeerde kerke in Suid-Afrika die Drie Formuliere van Eenheid as die ware en volkome leer van die saligheid aanvaar. Kerklike notules getuig van ’n wonderlike gees van samewerking, liefde en eensgesindheid wat daar vir 100 jaar tussen die NG Kerk en die NG Sendingkerk geheers het.

Verskeie sinodale besluite bevestig dat afsonderlike kerkformasies ook die NG Sendingkerk se eie amptelike beleid was. Ons noem slegs een: ‘Hierdie eerwaarde vergadering wil baie duidelik onderskei tussen apartheid enersyds en aan die anderkant eiesoortige ontwikkeling op kerklike gebied soos dit al die jare in die NG Sendingkerk aanvaar is … Die hoogeerwaarde Sinode (van die NG Sendingkerk) is daarvan oortuig dat elke bevolkingsgroep deur selfverwesenliking en selfontplooiing die beste bydrae kan lewer tot die liggaam van Christus op aarde’ (Acta NG Sendingkerk Sinode soos aangehaal deur ds. P.J. Booys in Die Ligdraer, 1/08/1982 (292-294).

Ons moet verskillende soorte apartheid in daardie tyd onderskei.

Die Redakteur van die Ligdraer (amptelike blad van NG Sendingkerk) skryf in 1986 dat daar onderskei moet word tussen:

  • Die skeiding wat deur blankes voorgestaan was in belang van die blankes.
  • Die skeiding deur swartmense in belang van die swartman.
  • Die skeiding wat deur blankes geïnisieer is hoofsaaklik ten bate van die swart- en bruinmense.

Hewson maak dieselfde onderskeiding. Dr. J.H. Ernst onderskei in sy doktorale proefskrif tussen horisontale en vertikale apartheid. Selfs dr. Ben Marais skryf dat afsonderlike kerke vir taal- of rassegroepe hom nog nooit gehinder het nie.

Politieke agitators misbruik die situasie om spanning aan te blaas. Op 1 November 1982 skryf die Ligdraer: ‘Al drie voer die besware teen apartheid terug na agitators’ (Ligdraer, 01/11/82). In dieselfde tyd lees ’n hoofartikel van Die Burger: ‘Soos die NGSK verklaar in sy brief aan die Eerste Minister, … is die agitators besig om die apartheidsbeleid magtig teen die Moeder- en die Sendingkerk uit te buit’. Dr. Boesak en ander sluit aan by die agitators.

Die Rol van Buite-Instansies🔗

Die massamedia het daarin geslaag om apartheid te brandmerk as die oorsaak van alle probleme in Suid-Afrika. Dit was ’n wêreldwye georkestreerde poging om Suid-Afrika op alle terreine te isoleer. Binnelands sowel as buitelands het organisasies na vore getree wat hulle beywer om apartheid uit te wis. Kerke, politieke groeperings saam met Marxistiese en Neo-Marxistiese agente vorm ’n verenigde front teen apartheid. Suid-Afrika word gelykgestel met die ou Hitler-bewind in Duitsland. Die Afrikaanse kerke word as die grootste sondebok gebrandmerk. Groepe soos die Wêreldraad van Kerke, Cottesloe Beraad, Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, Lutherse Wêreldfederasie, Alliance of Black Reformed Christians in South Africa en die Belydende Kring het die tafel vir die Belharbelydenis gedek.

Ottowa-1982: Die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke🔗

Die NG Sendingkerk se sinode in Belhar (1982) was ’n replika van dit wat ’n paar dae vroeër in Ottowa by die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke gebeur het. Beide vergaderings se notules lees soos ’n riller. Met verborge agendas en gekonkelde protesaksies is die NG Kerk en Hervormde Kerk ten aanskoue van die ganse wêreld melaats verklaar en geskors uit die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke. Hoe?

Dr. Boesak se toespraak teen apartheid waarin hy ‘the white dutch reformed churches’ as die grootste sondebok brandmerk. Hy kom tot die slotsom: ‘This situation constitutes a status confessionis'. Apartheid word ongekwalifiseerd as ketterse afgodsdiens verwerp. Boesak word as held vereer. By  sy terugkoms verklaar die NG Sendingkerk ook ’n status confessionis.

Die nagmaalboikot. Die vergadering in Ottowa is geopen met ’n gesamentlike nagmaal. Net voor die erediens begin, staan die Suid-Afrikaanse afvaardiging van die dogterkerke op en lees ’n verklaring voor dat hulle van die nagmaal onttrek uit protes teen die blanke afvaardiging van die NG Kerk. Altesaam 11 afgevaardigdes staan toe op en stap uit tot groot vreugde van die pers en televisie. Enkele dae later by Belhar word dieselfde taktiek gevolg. Die volgelinge van dr. Boesak maak heftig beswaar teen die sittingsreg van blanke sendelinge op die vergadering. Dit ontwrig die vergadering só dat hulle daardie hele dag glad nie kon konstitueer nie.

Die Naudé-brief. Op 23 Augustus 1982 lees die sekretaris by Ottowa ’n brief van dr. Beyers Naudé aan die vergadering voor. Hy pleit vir die ‘liberation … from the inhuman system of apartheid’. Hierdie brief het ’n groot invloed op die besluite by Ottowa en by Belhar.

Oproep van lidkerke tot boikot-aksies. Lidkerke word openlik gevra om die NG Kerk te boikot.

Direkte televisie-uitsending. Daar word met die internasionale televisie gereël om die verslag: Racism and South Africa direk wêreldwyd uit te saai.

Die verklaring van ’n status confessionis en skorsing van die NG Kerk en die Hervormde Kerk. Weereens volg Belhar dieselfde taktiek. Hulle kondig ook ’n status confessionis aan en verbreek hul bande met die NG Kerk. Hieruit volg die besluit om ’n nuwe belydenis op te stel.

Dr. Allan Boesak word as president van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke verkies. Dieselfde patroon word weer gevolg in Belhar, maar met minder sukses. Die vergadering word vir ’n baie lang tyd ontwrig deur besware van dr. Boesak se volgelinge teen die verkose moderator, ds. Mentor, en hul eie aandrang dat dr. Boesak moderator moet wees.

Invloed van die Bevrydingsteologie🔗

Sleutelfigure in die Belhar-geskiedenis was aanhangers van die bevrydingsteologie. Dr. Boesak is ’n ondertekenaar van The Kairos – Challenge to the Church. Name soos A.A. Boesak, J.J.F. du Rand en D.J. Smit verskyn as ondertekenaars van The Road to Damascus – Kairos and Conversion. Almal was nóú betrokke by die ontstaan van Belhar. Belhar gebruik dieselfde begrippe wat in bogenoemde dokumente gebruik word. Hoekom sou hulle in Belhar dan skielik iets anders daarmee bedoel? Die Kairos-dokument sê: ‘The conflict in South Africa is between the oppressor and the oppressed’ en ‘The god of the South African State is not merely an idol or false god, it is the devil disguised as Almighty God – the antichrist’. Wanneer ’n mens Belhar se omstrede uitspraak, dat God op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is, teen hierdie agtergrond lees, kan geen gereformeerde die Belharbelydenis onderteken nie. Dit is verstaanbaar waarom Belhar begrippe soos versoening, eenheid, ensovoorts nie met ’n Bybelse inhoud vul nie, maar met ’n horisontalistiese betekenis.

Vleeslike Gesindheid en Drukgroepe🔗

Hieroor sal in die volgende artikel meer gesê word wanneer ons kyk na die bloedspoor van verdeeldheid wat Belhar oor 20 jaar nagelaat het. Ons volstaan voorlopig slegs met die woorde van ’n waardige kleurlingpredikant aan die einde van die sinode van Belhar 1982. ‘… ek is met verslaentheid geslaan om in ’n vergadering van die kerk soveel liefdeloosheid en onverdraagsaamheid te kon waarneem … Die gees en gesindheid wat hier openbaar is, het die kerk op ’n pad geplaas waarop ons die vrugte nog sal pluk …’ Ons sal in die volgende artikel wys hoe hierdie profetiese woorde waar geword het.

Slotsom🔗

Die Belharbelydenis is nie in ’n teologiese- of geloofstryd gewortel nie, maar in ’n sosiale en politieke stryd. Sy ontstaansgeskiedenis wemel van vreemde invloede. Die Belydenis het nie gegroei uit ’n nederige omgang met die Skrif nie, maar uit ’n onverdraagsame invloed van drukgroepe. Die Belharbelydenis is in sonde ontvang en gebore. Dit voorspel nie goeie vrugte nie.

Alle aanhalings en feite waarna in hierdie artikels verwys word kan gekontroleer word in die skrywer se boek: Belhar: bely of bestry?

Evaluering van die Belharbelydenis (II)🔗

Belhar, die Trojaanse Perd met ’n Vreemde Teologie en Suur Vrugte🔗

Ons ken die legende van die Trojaanse perd. Die Grieke het Troje binnegeval deur hul soldate in ’n groot houtperd weg te steek. Onbewus van die gevaar is die perd tot binne die stad gebring. Skielik is die perd se maag oopgemaak, die soldate het uitgespring en die stad oorwin. Die Belydenis van Belhar is net so gevaarlik soos hierdie Trojaanse perd. Niksvermoedende lidmate aanvaar dit, onbewus van die vreemde teologie wat daaragter skuil. Soos die Trojaanse perd ’n bloedspoor in Troje nagelaat het, so het Belhar ’n geskiedenis van verdeeldheid in die kerk nagelaat. ’n Boom met suur vrugte.

Onenigheid by Sy Geboorte🔗

In die vorige artikel het ons gewys op die invloed wat die Wêreldberaad van Gereformeerde Kerke in Ottowa op die sinode van Belhar 1982 gehad het. Die sinode van Belhar word ’n replika van Ottowa met sy verdeeldheid en dubbele agenda.

Eerste tekens. Reeds voor die konstituering was daar ’n groep wat van meet af aan probeer het om die vergadering volgens ’n geheime agenda te stuur. Dr. van der Merwe beskryf dit in sy doktorale proefskrif: ‘Kort nadat die Scriba synodi ds. P.W.L. Sinclair die amptelike sameroeping van die sinode voorgelees het … het die poppe begin dans’. Dominees De Waal en Appies, albei ondertekenaars van die rewolusionêre Kairos-dokument van 1986, het ’n ordemosie ingedien om die stemreg van die blanke NG predikante (sendelinge) te ontneem. Dit het soveel chaos veroorsaak dat die vergadering vir ’n dag lank moes verdaag om regsadvies in te win. Die mosie was buite orde.

Twis oor moderatuur. Die twee kandidate vir moderator was dominees Mentor en Boesak. Ds. Mentor is verkies met ’n meerderheid van 7 stemme. Die volgelinge van dr. Boesak het geweier om die uitslag te aanvaar. Dr. van der Merwe beskrywe dit so: ‘Met die aanvang van die teepouse was die pasverkose moderatuur se posisie onmiddellik betwis … Selfs die ernstige pleidooi van die lankdienende skriba ds. PWL Sinclair kon nie verhoed dat met die protes voortgegaan word nie. Sy woorde: “Ons het so iets nog nooit beleef nie” eggo waarskynlik die gebeure op die vergadering die beste … Die pasverkose moderator het verskeie kere onsuksesvol probeer om voort te gaan met die verkiesing van ’n assessor, maar die proteste het voortgegaan … Daar was duidelik tweespalt in die geledere van die NG Sendingkerk tussen die gematigde groep afgevaardigdes en ’n meer radikale groep Boesak-ondersteuners.

Status Confessionis. Die verborge agenda word al duideliker. Op Vrydag 1 Oktober 1982 word ’n Status Confessionis oor apartheid verklaar. Apartheid word as kettery en afgodsdiens verwerp. 185 Afgevaardigdes stem daarteen en 74 dring aan dat hulle teenstem skriftelik genotuleer word. Die notule toon dat daar groot skok en verslaenheid in die vergadering was.

’n Nuwe belydenisskrif. Sonder dat daar ooit so ’n item op die agenda was, besluit die sinode om hul eie nuwe belydenisskrif op te stel. Nadat die veroordeling van apartheid en die besluit oor die Status Confessionis goedgekeur is, staan prof. Bam op en verduidelik dat die besluit ingrypende implikasies het. Hy wys dat die sinode verplig is om verder te gaan en ’n nuwe geloofsbelydenis moet opstel.

Die moderatuur benoem toe ’n kommissie wat nog tydens die vergadering ’n geloofsbelydenis vir goedkeuring moet voorlê. Hulle ontvang geen duidelike opdrag oor die inhoud van die belydenis nie. Al wat duidelik was, was dat dit teen apartheid moes wees, en dat dit baie haastig opgestel moes word.

Profetiese woorde. Die vleeslike gesindheid in die sinode het gesentreer rondom die verborge agenda. Die woorde van die bejaarde kleurling predikant, ds. Smith van Upington, is ’n goeie opsomming van die atmosfeer. Op 5 Oktober lees hy ’n skriftelike verklaring aan die sinode voor: ‘ek is met verslaenheid geslaan om in ’n vergadering van ’n kerk soveel liefdeloosheid, venyn, bitterheid en onverdraagsaamheid te kon waarneem … Die gees en gesindheid wat hier geopenbaar is, het die Kerk op ’n pad geplaas waarop ons die vrugte nog sal pluk … As hierdie gees en gesindheid voortduur, dan gaan ons mekaar vorentoe verteer, as ons voortbou op die ingeslane weg sal ons voordat ons kerkeenheid bereik, in ons eie geledere disintegreer en verbrokkel …’ Die woorde was profeties oor die verdeeldheid wat sou volg.

Eenheid met die NG Kerk is Verbreek🔗

Die eerste vrug van Belhar was dat die NG Sendingkerk eensydig die eenheidsband tussen moeder- en dogterkerk verbreek het. Ten spyte hiervan het die NG Kerk nog nooit sy finansiële of geestelike ondersteuning aan hierdie dogterkerk gestaak nie.

Skeuring in die NG Kerk🔗

Die omvang van onenigheid en skeuring wat die Belharbelydenis reeds binne die NG Kerk veroorsaak het, is moeilik berekenbaar, maar enorm. Vanaf 1986 is daar toenemende druk op die NG Kerk geplaas om die Belharbelydenis te aanvaar. Dit het baie verdeeldheid veroorsaak wat op ’n groot kerkskeuring in 1987 uitgeloop het, toe die Afrikaanse Protestantse Kerk met 3 000 lidmate gestig is. Tans het hulle gegroei tot 50 000 lidmate en 246 gemeentes. Die kerkgeskiedenis toon ’n direkte verband tussen die AP Kerk se groei en die NG Kerk se houding teenoor die Belharbelydenis.

’n Mens sidder as jy dink aan skeurings wat vir die NG Kerk wag as Belhar sy amptelike belydenis gaan word! Daar is nog duisende lidmate in die NG Kerk wat nie bereid is om die knieë voor Belhar te buig nie. Die Algemene Sinode probeer om hierdie skeuring te verhinder. In 2004 by Hartenbos is ’n dwase besluit geneem: Belhar kan as volwaardige belydenis aanvaar word, maar dit sal opsioneel wees vir gemeentes en lidmate! Watter krag het so ’n belydenis dan? Beteken dit dan dat aanvaarding van ons ander belydenisse ook opsioneel is?

Skeuring in die NG Kerk in Afrika (NGKA)🔗

Dit was die volgende skeuring as gevolg van die Belharbelydenis. Belhar het die NG Sendingkerk geïsoleer. Dit was vir hulle belangrik om nou so gou as moontlik met iemand te verenig. In 1994 is ’n kerkvereniging met die NGKA op ’n onbehoorlike wyse deurgedruk. Die resultaat was dat slegs ’n deel van die swart NGKA met die bruin NG Sendingkerk verenig het om die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (VGKSA) te word.

Baie van die NGKA se gemeentes het geweier om te verenig. In die Vrystaat was daar ’n hele sinode met 123 gemeentes asook die sinode van Noord-Kaap (Phororo) wat teen die vereniging was. Die tussentydse moderator van die NGKA, ds. Kue Kue, skryf kort na die skeuring: ‘Die totstandkoming van bogenoemde kerk (die VGKSA) op 14 April 1994 is vir baie van ons kerkrade en gemeentes en selfs ringe van die NG Kerk in Afrika ’n oorsaak van groot smart en ’n rede tot groot kommer ... Die NGKA het baie verloor ... Hy het sy eenheid in Christus verloor. Hierdie nuwe kerk het onder ons as broeders in Christus in ons gemeentes, ringe en selfs streeksinodes nou verdeeldheid gebring en geen eenheid nie’. Al hierdie gemeentes het die Belharbelydenis verwerp. Ongelukkig was die skade reeds gedoen. Belhar was vir nog ’n onherroeplike skeuring verantwoordelik.

Burgerlike Hofsake🔗

Na die kerkskeuring van 1994 het ’n reeks hofsake gevolg. Die nuwe VGKSA het die gemeentes van die NG Kerk in Afrika gedagvaar om te verenig of om die eiendom op hul naam te kry. Daar is minstens 41 hofsake tussen die twee kerke aanhangig gemaak. Tans, na 11 jaar, is daar sovêr ons kon vasstel nog 24 hofsake aan die gang!

Verhouding tussen Dogterkerke Vertroebel🔗

Die ongeveer 11 inheemse kerke wat uit die NG Kerk se sendingwerk ontstaan het, was jare lank een familie met ’n gemeenskaplike belydenisgrondslag. Hulle verteenwoordig ’n verskeidenheid taal- en kultuurgroepe onder swartmense, Indiërs, Portugese, ensovoorts. Die NG Sendingkerk (nou die VGKSA) het nie een van hierdie familiekerke geraadpleeg met die opstel van hul nuwe belydenis nie. Geen wonder dat nie een van hierdie kerke Belhar as belydenis wil aanvaar nie.

Band tussen Susterskerke Verbreek🔗

Die debat rondom Belhar raak tans ook die susterskerke van die NG Kerk. Indien die NG Kerk voortgaan om sonder raadpleging van sy susterkerke die Belharbelydenis te aanvaar, verbreek hy eensydig sy belydenisband met die Hervormde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Hoe gaan dit ons verhouding raak in sake soos erkenning van lidmaatbewyse en kategese, ensovoorts?

Ekumeniese Eenheid is Vertroebel🔗

Sovêr ons kon vasstel is daar geen ander kerk in die wêreld wat Belhar as belydenis aanvaar nie! Selfs die Gereformeerde Ekumeniese Sinode het besluit om nie die Belharbelydenis te aanvaar nie. Die Drie Formuliere van Eenheid word wel wêreldwyd deur gereformeerde kerke aanvaar.

Uit die paar voorbeelde hierbo genoem, is dit duidelik dat Belhar ’n lang bloedspoor van verdeeldheid tot gevolg het. Geen goeie boom kan sulke slegte vrugte dra nie!

Belharbelydenis: Die Draer van ‘n Vreemde Teologie🔗

Die belydenis bestaan uit vyf artikels met ’n kort slot. Hulle het die belydenis self opgesom in vyf stellings wat oor die kerk handel.

Die belydenis sentreer rondom vyf begrippe naamlik: geloof, eenheid, versoening, geregtigheid en gehoorsaamheid. Hierdie begrippe kry in Belhar ’n ander betekenis as wat dit in ons gereformeerde belydenisse het.

Dit begin met die woorde dat die drie-enige God deur Woord en Gees sy kerk versamel, beskerm en versorg. As Belhar hier sou stop, was daar geen probleme nie.

Vir Belhar is kerkeenheid primêr ’n sigbare, strukturele eenheid.

Hierteenoor bely ons in artikel 27 van die Nederlandse Geloofsbelydenis geen strukturele eenheid nie: ‘Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot ’n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig’.

Belhar sê tereg dat ‘hierdie eenheid slegs in vryheid gestalte kan vind en nie onder dwang nie’, maar Belhar weerspreek homself weer as hy afsonderlike kerkformasies as sonde verwerp. Jonas Mabaso van die NGKA sê in sy verhandeling oor Belhar: ‘It is therefore regrettable that the issue of church unification should now be pursued through a court of law, given that there is a court case pending between the URCSA and the DRCA. In this way church unification ceases to be a matter of faith, but is now driven by force’. Indien eenheid slegs in vryheid te vinde is, waarom stel die VGKSA dan aanvaarding van die Belharbelydenis as voorvereiste vir kerkeenheid?

Belhar ken slegs een vorm van kerkeenheid, naamlik organisatoriese of strukturele eenheid, wat meer op ’n Roomse as ’n gereformeerde kerkbegrip lyk. Mabaso antwoord so: ‘The Bible does not provide or prescribe a specific model for the unity of the church. Structural unity can only be taken to be the most suitable way of expressing this unity to be visible’.

Weereens is daar ’n groot verskil tussen Belhar en ons gereformeerde belydenisse se begrip van versoening. Die Bybel praat van versoening vanuit die plaasvervangende versoeningswerk van Jesus Christus. Hiervan weet Belhar blykbaar niks. Belhar skryf vyf paragrawe oor versoening sonder om ’n enkele woord te sê van die plaasvervangende offer van Christus, sy ewige Hoëpriesterskap, soendood aan die kruis en toegerekende geregtigheid. Belhar se versoeningsleer gaan slegs oor horisontale versoening. Sy teksverwysings is ook bedenklik. 2 Korinthiërs 5:17-21 word byvoorbeeld aangehaal waar Belhar van ’n horisontale versoening tussen mense praat. Die deel gaan egter oor versoening tussen God en mens. Vers 18 sê: ‘En dit alles is uit God’. Belhar se versoeningsleer is subjektief en horisontaal waar alles die werk van die mens is. Die plaasvervangende werk van Christus wat die hart van die Bybel se versoeningsboodskap is, funksioneer nie in Belhar nie.

Die begrip geregtigheid is ’n sentrale begrip in die Bybel. Die mens se eie geregtigheid het misluk, maar die geregtigheid van God is nou aan ons geopenbaar (Romeine 3).

Belhar gebruik die woord weereens in ’n ander betekenis: ‘God wil geregtigheid en ware vrede onder mense bring … God is op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte … God wil hê dat Sy Kerk Hom hierin moet navolg … Die kerk staan teen onreg … God en Sy Kerk staan by die verontregtes teen ongeregtigheid … Die Kerk moet getuig teen die selfsug van magtiges en bevoorregtes …’

Wat is geregtigheid? Belhar se geregtigheid is slegs sosiale geregtigheid. Mabaso is reg as hy sê: ‘Belhar has an element of Liberation Theology in itself, and is also humanistic in nature. Man is gradually pushed to the centre, whilst God seems to be gradually moved to the periphery’.

Hoe openbaar God Hom? Belhar sê God het Hom geopenbaar as die Een wat geregtigheid en vrede onder mense wil bring. Volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis openbaar God Homself soveel as wat nodig is vir ons saligheid met die doel dat die mense tot sy eer kan lewe. By die een is die mens die middelpunt en by die ander een is God die middelpunt.

Wie se God is God? Volgens Belhar is God op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte. Hierdie stelling is die dryfkrag agter die bevrydingsteologie wat gebou is op ’n valse siening van God. Belhar werk nie met die Bybel se kontras tussen sonde en genade, gered en verlore nie, maar met die bevrydingsteologie se kontras tussen ryk en arm, bevoorregte teenoor minderbevoorregte. Die sonde skuil tog nie net by die bevoorregtes nie, maar ook by duisende minderbevoorregtes, nie net by rykes nie, maar ook by armes. God se genade is tog vir ryk en arm wat deur Jesus Christus verlos is.

Wat is die kerk se roeping? Volgens Belhar is die kerk se taak om te staan aan die kant van die verdruktes en minderbevoorregtes. Die kerk se stryd is die sosialistiese bevrydingstryd van die verdruktes. ‘God is op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte’. Die woordkeuse van hierdie artikel was nie ’n misverstand nie. Verskeie sinodegangers het beswaar gemaak teen die formulering, maar die radikales wou nie toegee tot ’n ander formulering nie.

God het nie sy kerk geroep tot ‘n sosialistiese drukgroep nie, maar om die versoening van Christus te bedien. Die vrug van ons versoening met God word dan sigbaar in ons verhouding met ons naaste. Laasgenoemde is onmoontlik sonder eersgenoemde. Dit geld vir slawe en hul eienaars, rykes en armes, bevoorregtes en minderbevoorregtes (Efésiërs 6:5,9).

Die oproep tot gehoorsaamheid aan God sou ’n mens kon aanvaar, maar ongelukkig staan daar: ‘Ons glo dat die Kerk geroep word om dit alles te bely en te doen’. ‘Dit alles’ verwys na die inhoud van die vorige artikels wat ons nie kan aanvaar nie.

Slotsom🔗

Die belydenis van Belhar is ’n gevaarlike Trojaanse perd wat ’n vreemde teologie in sy boesem koester en suur vrugte dra. ’n Kerk wat sy oë sluit vir hierdie belydenis se vreemde teologie en sy suur vrugte, moet nie verbaas wees as hy self die volgende slagoffer van verdeeldheid word nie.

Evaluering van die Belharbelydenis (III)🔗

Is die Belharbelydenis ’n Gereformeerde Belydenis?🔗

In die eerste artikel (Mei 2005) het ons die Belharbelydenis aan die hand van sy oorsprong en agtergrond getoets. In die tweede artikel is aangetoon dat Belhar die draer van ’n vreemde teologie is. Sedert sy ontstaan het dit ’n bloedspoor van verdeeldheid in die kerk nagelaat. Nou bly daar nog een vraag oor: Kwalifiseer hierdie geskrif enigsins as ’n gereformeerde belydenis?

Enige persoon wat met die historiese agtergrond en teologiese inhoud van ons gereformeerde belydenisse vertroud is sal erken dat dit nie dokumente is wat lukraak en onnadenkend saamgeflans is nie. Gereformeerde belydenisse is goed deurdagte en noukeurig geformuleerde dokumente. Heyns en Jonker is reg as hulle sê: ‘Die belydenisskrifte is immers die geformuleerde en gesaghebbende uitdrukking van die geloof van die kerk. Die kerk doen dit op geen onsekere toon nie … Dit wil niks anders wees nie as ’n gelowige en lofprysende repetitio Sacrae Scripturae – ’n naspreek van die spreke van die Skrif’ (Op Weg met die Teologie, p 200). In ’n ander bron sê prof. Jonker: ‘die Protestantse belydenisskrifte dra die karakter van omvangryke teologies deurdagte en noukeurig geformuleerde dokumente’ (Bevrydende Waarheid, p 11). Hoe vergelyk die Belharbelydenis met die algemene kenmerke van ’n gereformeerde belydenis?

Is Belhar ’n Repetitio Sacrae Scripturae?🔗

’n Gereformeerde belydenis se gesag is juis daarin geleë dat dit niks anders wil wees nie as slegs ’n gelowige naspreek van die Heilige Skrif. Die eerste vereiste is dus dat dit opkom vanuit ’n deeglike eksegese van die Skrif. Dit kan nie van Belhar gesê word nie. Daar is twee groot probleme met Belhar se Skrifhantering.

Belhar gebruik belangrike Bybelse begrippe soos eenheid, versoening en geregtigheid maar vul dit dan met ’n heeltemal ander betekenis as wat dit in die Bybel het.

Belhar se teksverwysings is bloot op die klank af gekies, sonder om erns te maak met die betekenis van die teks binne die konteks. Hier volg slegs enkele voorbeelde:

Lukas 16:19-31 wat gaan oor die ryk man en Lasarus, word gebruik om te bewys dat God op ’n besondere wyse die God van die armes en verdruktes is!

2 Korinthiërs 5:17-21 wat baie duidelik gaan oor die vertikale versoening tussen God en die sondaar word misbruik om die kerk ’n agent vir horisontalistiese versoening te maak. Die kerk se taak is suiwer sosialisties soos byvoorbeeld die wegneem van elke vorm van skeiding tussen rasse.

Efésiërs 2:11-22 praat van die middelmuur van skeiding tussen Israel en die heidene wat Christus kom wegneem het. Hierdie teks word in Belhar gebruik om te bewys dat daar geen afsonderlike kerke mag wees nie, aangesien die rasse- en kulturele skeidslyne nou weggeneem is. Deeglike eksegese van die deel sal dalk eerder die teenoorgestelde bewys! Jy hoef nie eers ’n Jood te word om die ware God te kan dien nie.

Anders as die gereformeerde belydenisse is Belhar nie ’n betroubare naspreek van die Heilige Skrifte, repetitio sacrae Scripturae, nie.

Is Belhar ’n Noukeurige Geformuleerde Belydenis?🔗

Die gereformeerde belydenisse is so versigtig geformuleer dat dit die lyn tussen waarheid en dwaling duidelik en noukeurig trek. Dit is nooit ’n eensydige reaksiedokument wat slegs die een kant van ’n saak beklemtoon en die ander kant ignoreer nie. Belhar is presies die teenoorgestelde. In die Ligdraer van 16 Oktober 1986 word volledig gerapporteer oor die leiding wat dr. G. Bam en dr. D.J. Smit aan die sinode gegee het voor die finale aanvaarding van Belhar. Dit staan onder die opskrif: Die Belydenis van Belhar 1986 – Enkele toeligtende gedagtes voor die aanvaarding. Hierin erken dr. Bam dat hierdie nuwe belydenis nie noukeurig geformuleer is nie. Hy sê: ‘Die kommissie sou graag die Belydenis so wou formuleer sodat dit vir geen misverstand vatbaar is nie – veral rondom die enkele gedeelte wat binne hierdie vergadering omstrede is’. Dit was die deel wat sê dat God op ’n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die verontregte is.

’n Mens hoef nie ver te lees om te sien dat Belhar ook in verskeie ander opsigte nie akkuraat geformuleer is nie. Belhar moes so geformuleer word dat dit genoeg ruimte kon bied vir die ondersteuners van die swart- en bevrydingsteologie om hulself tuis te voel. In die Statement of the Institute for Contextual Theology wat tydens die Rustenburg-beraad gemaak is, word die Belharbelydenis in een asem met die ander dokumente van die bevrydingsteologie genoem. ‘We thank God that the prophetic voice, though vilified, condemned and discredited by other Christians, stayed alive through documents like The Kairos Document, The Belhar Confession, The Road to Damascus, Evangelical Witness … through the joint witness of Church leaders who took to the street to stand for the truth in the face of repression.’

Die feit dat hierdie belydenis in een asem met die protesverklarings van die bevrydingsteologie genoem word, is genoeg bewys dat Belhar geformuleer is om op twee stoele te sit. Vir die gereformeerdes moet dit gereformeerd, en vir die bevrydingsteoloë na hulle taal klink. Dit is geformuleer om ’n soort huwelik te bewerk tussen die gereformeerde teologie en die bevrydingsteologie. Selfs dr. Willem Nicol erken hierdie huwelik as hy sê: ‘Therefore I would say that the Belhar Confession which combines Reformed Theology with elements from Liberation Theology, is a legitimate Reformed development’. Die feit dat hierdie huwelik nie vir Nicol pla nie, is natuurlik nie vreemd vir mense wat vertroud is met sy teologiese denke nie. Die Belharbelydenis kwalifiseer nie as gereformeerde belydenis nie, want dit is nie ’n noukeurig geformuleerde belydenis nie.

Kan Belhar op die Quia-Standpunt Onderteken word?🔗

Hoewel die Hervormde Kerk ’n ander standpunt hieroor huldig, het die NG Kerk en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika nog altyd die Drie Formuliere van Eenheid onderteken op die Quia-standpunt, en nie op die Quatenus-standpunt nie. Ons onderteken dit nie maar net ‘in soverre’ dit met die Bybel ooreenstem nie, maar juis ‘omdat’ dit met die Bybel ooreenstem.

By die sinode van 1986 het dr. Bam gepleit dat die sinodegangers nie hulle steun vir Belhar moet terughou omdat die formulering daarvan misverstaan kan word nie. Sy woorde was: ‘Dit gaan in die Belydenis nie om die klein woordjie hier en daar wat iets anders sou sê nie. Dit gaan om die saak.’ Asof dit nie genoeg is nie, herhaal dr. D.J. Smit dit weer in sy toeligtende gedagtes: ‘Juis daarom is dit belangrik dat mens die saak waarom dit in die belydenis gaan, van harte onderskryf, en nie spesifieke woorde of uitdrukkings nie. Oor woorde en uitdrukkings en oor die beste uitleg daarvan, kan daar altyd ruimte vir meningsverskil, aksente en gesprekke bly bestaan’.

Hoe kan mens nou so ’n belydenis op ’n quia-standpunt aanvaar, as selfs die skrywers daarvan erken dat die formulering dubbelsinnig is? Wanneer ’n gereformeerde lidmaat ’n belydenisskrif onderteken, aanvaar hy nie maar net die saak waaroor dit gaan nie. As dit die geval was sou ons byna enige belydenis kon aanvaar. Die sinode van Belhar was ten volle bewus dat baie sinodegangers hoogs ontevrede was met sekere formulerings van Belhar. Al wat vir hulle belangrik was, was dat dit onderteken moet word as simbool van protes teen die saak van apartheid. Wanneer ’n kerk so ver daal dat akkurate formulering in sy belydenisskrifte nie meer belangrik is nie, dan is die waarheid vir daardie kerk ook nie meer belangrik nie.

Is Belhar ’n Belydenis met ’n Algemene (katolieke) Karakter?🔗

’n Gereformeerde belydenis is nie die privaatbesit van ’n enkele denominasie nie. Dit dra ’n katolieke karakter. Omdat die ware kerk, een heilige algemene (katolieke) kerk is, word sy ware belydenis ook algemeen deur gelowiges oor die hele wêreld aanvaar. ’n Gereformeerde kerk bely sy geloof saam met ander gelowiges oor die hele wêreld. Dit is waar van al drie ons Formuliere van Eenheid.

Die NG Sendingkerk het sedert sy ontstaan meer as 100 jaar gelede die gemeenskaplike belydenis van die ander gereformeerde kerke aanvaar as die ware en volkome leer van die saligheid. Hulle het alles verwerp wat daarmee in stryd is. In 1982 het hulle skielik met ’n voorstel van die vloer af besluit dat hierdie bestaande belydenisse blykbaar vir hulle nie meer waar en volkome genoeg is nie. Hulle benodig nog ’n belydenis. Sonder om enige van die ander gereformeerde kerke te raadpleeg, het hulle haastig in die laat nagte van die sinodesitting ’n nuwe belydenis opgestel. Nou verwag hulle dat die ander gereformeerdes maar net daarby moet inval. Kerkeenheid is nou vir die VGKSA (die ou NG Sendingkerk) slegs te vinde binne die aanvaarding van die Belydenis van Belhar.

Slegs ’n klein groepie mense by Belhar se sinode het gevoel dat hulle sosiaal en polities onderdruk word. Die kerk moes opgeroep word om hulle te steun in hul bevrydingstryd. Die belydenis van Belhar is dus ’n situasiegebonde protes teen sekere sosiaal-maatskaplike probleme. Geen wonder dat vandag, 23 jaar na die ontstaan van Belhar, daar steeds geen ander kerk in die wêreld is wat kans gesien het om dit as belydenisskrif te aanvaar nie! Ds. Mobaso is reg as hy sê: ‘The Belhar Confession is purely the product and brainchild of the then DRMC’ (Dutch Reformed Mission Church).

As ons dit vergelyk met die gereformeerde belydenisse, dan is die kontras soos nag teen dag. Die sinode van Dordrecht het in 1618-1619 baie gereformeerde kerke uit baie lande byeengeroep om die gemeenskaplike geloof saam uit te pluis en so die gereformeerde grondslag te bepaal.

Is Belhar ’n Regula Fidei?🔗

Volgens Heyns en Jonker is ’n gereformeerde belydenis vir die kerk ook ’n regula fide – ’n geloofsreël wat die ware geloof van die dwalinge onderskei. ’n Wesenlike element van elke belydenis is dat dit polemies gerig is teen allerlei vorme van kettery. Die gereformeerde belydenisse stel gewoonlik die waarheid positief, formuleer dit noukeurig om alle misverstande uit te skakel, en onderskei dan die leuen aan albei kante (links en regs) van die waarheid. Dit is in lyn met God se opdrag aan sy volk in Josua 1:7 en 23:6. ’n Pragtige voorbeeld van sulke gebalanseerde geloofsreëls kry ons in die Dordtse Leerreëls wat die waarheid eers noukeurig formuleer en dan na links en regs die dwalings afwys.

Die belydenis van Belhar is nie ’n gebalanseerde geloofsreël nie, maar ’n eensydige protesskrif wat van begin tot einde slegs oog het vir dwalings na regs, terwyl dit die dwalings na links nie net ignoreer nie, maar selfs huisves. As voorbeeld kan gekyk word na Belhar se belydenis oor versoening. Belhar verwerp alles wat die horisontale versoening tussen mense kan benadeel. Van die vele dwalinge wat versoening slegs horisontaal sien, en so die vertikale versoening tussen God en mens misken, word egter niks gesê nie. Sulke dwalinge word selfs in Belhar gehuisves deur sy taalgebruik wat aan die bevrydingsteologie ontleen is. Belhar is te eensydig om as regula fidei vir ’n gereformeerde kerk te dien.

Hoe Tyd- en Plekgebonde is Belhar?🔗

Die gereformeerde belydenisse is slegs ’n gelowige naspreek van die Skrif. Daarom oorspan dit alle tye en plekke. Dit is nie tyd- of plekgebonde nie. Dit is geloofswaarhede wat die kerk oor die hele wêreld deur die eeue moet dra. ’n Ware gereformeerde belydenis verouder nooit. Al moet dit van tyd tot tyd opnuut vertaal word, bly dit vir elke gelowige altyd vars en aktueel.

Aangesien Belhar se oorsprong nie lê in ’n worsteling met die Skrif en sekere eksegetiese probleme nie, maar in ’n bepaalde konkrete sosiaal-maatskaplike worsteling, is dit ‘n baie tyd- en plekgebonde dokument. Selfs die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) wat in 1992 in Athene vergader het, het besluit om nie Belhar as belydenis te aanvaar nie aangesien dit ‘te plek- en tydgebonde is om as ’n ekumeniese belydenisskrif vir kerke oor die wêreld opgeneem te word’ (sien die artikel van dr. Piet Meiring oor die GES in die NGTT nr 33(3) van 1992, p 354).

Is Belhar ’n Formulier van Eenheid of van Verdeeldheid?🔗

’n Belydenisskrif is vir die kerk ’n formulier van eenheid. Dit bind gelowiges saam in die waarheid. So bind die Apostoliese Geloofsbelydenis christene oor die hele wêreld saam in die een ware geloof. Die Drie Formuliere van Eenheid bind die gereformeerdes saam tot ’n eenheid.

Hoewel Belhar seker nog nie oud genoeg is om met die ander belydenisse te vergelyk nie, is dit sedert sy ontstaan duidelik dat Belhar gelowiges meer verdeel as saambind. Ons het in die vorige artikel gewys op die bloedspoor van verdeeldheid wat Belhar nalaat sovêr dit gaan. Dink maar aan die innerlike verdeeldheid binne die destydse NG Sendingkerk; die groot kerkskeuring binne die NG Kerk in Afrika plus al die hofsake wat daaruit gespruit het; die groot kerkskeuring binne die NG Kerk en stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk asook die huidige onrus binne die NG Kerk. Die verskeurdheid rondom Belhar sneeubal steeds. Ons het sopas verneem van die NG Kerk Brakpan-Suid se gemeente waar byna die hele kerkraad (14 van die 18 lede) plus meer as die helfte van die lidmate besluit het om uit die NG Kerk te bedank. Een van hul groot probleme is die NG Kerk se besluit by Hartenbos om Belhar as belydenis van die beplande nuwe verenigde kerk te aanvaar.

Een ding is seker: Belhar kwalifiseer nie as formulier van eenheid nie, maar eerder as formulier van verdeeldheid.

Slotsom🔗

Uit hierdie en die twee voorafgaande artikels is aangetoon waarom die belydenis van Belhar nie kwalifiseer as gereformeerde belydenis nie.

Die Belharbelydenis het ’n vreemde oorsprong. Dit kom nie voort uit ’n teologiese worsteling met die Skrif nie, maar uit ’n politieke en sosiaal-maatskaplike stryd van ’n klein groepie mense. Dit verdeel christene om polities eendersdenkendes saam te bind.

Die Belharbelydenis is die draer van ’n vreemde teologie. Dit is sterk beïnvloed deur drukgroepe uit die bevrydingsteologie. Dit is in sonde ontvang en gebore. Dit is soos die Trojaanse perd wat ’n groot gevaar in sy binneste ronddra.

Die Belharbelydenis dra nie een van die kenmerke van ’n ware gereformeerde belydenisskrif nie.