Bron: De Reformatie. 4 bladsye.

Evangelisasie - 'n Eindelose Gesprek?

Hy begin die artikel deur te verwys na ’n moedelose evangelisasiewerker. Daar is geen beweging meer in sy werk nie. Hy het sy vaste mense met wie hy gesels, maar die gesprekke vorder nie regtig nie. Almal is baie bly as hy kom praat, maar daar is geen konkrete reaksie op die gesprekke nie. Hy stap maar net sy ou paadjie oor en oor ... en ondertussen word hy net meer gefrustreerd en moedeloos. Hoe lyk ’n regte evangelisasiegesprek? Hier volg nou die res van die artikel.

Ons moet na my mening eers ʼn goeie aanvoeling hê wat ʼn evangelisasiegesprek is. Dit het ʼn baie doelgerigte eindpunt: om mense tot geloof in Christus te beweeg; vir Christus te wen, sê Paulus. Daarom moet ons hulle met Christus konfronteer. Dit beteken nie dat jy die hele Bybel moet deurgaan of die hele Kategismus met hulle moet behandel nie. Nee, stel hulle voor Christus. Nog beter: stel Christus voor húlle. Dan moet jy die reaksies fyn waarneem, bespreek en analiseer, met liefde, geduld en wysheid, tyd en duidelikheid. En daarna moet dan ook die volgende stap geneem word. Julle saam, jy en die persoon met wie jy praat, moet hierdie stap neem om te sê waar julle met mekaar staan. Want die evangelisasiegesprek is altyd duidelik, konsekwent en doelgerig. Ek wil dit toelig deur die volgende ses punte.

1. Evangelisasiedoelwitte is nie ʼn Oefening in Kommunikasie nie🔗

Tereg word tydens evangelisasie gebruik gemaak van kommunikasiekundigheid. Maar wat die deskundiges nie wil hê nie, gebeur tog dikwels. Die middel – die gesprek – word uiteindelik die doel. Daar word van “tegnieke” gebruik gemaak om die gesprek aan die gang te hou. Nuwe elemente word gebruik om nuwe lewe in die gesprek self te blaas. En dan dink ons dikwels dat dit bewys is van vindingryke liefde en geduld. By Paulus vind ons dit egter nie so nie. Hy het wel in die persoon se skoene probeer staan en in sy vel probeer kruip, maar hy het vasgehou aan sy doel: “om in alle geval sommige te red” (1 Korintiërs. 9:22). Hy sê nie dat hy ten alle koste ʼn goeie uitkoms probeer kry het nie. Let op die verskil met 9:19: “om soveel van hulle as moontlik vir Christus te wen”. In die loop van die praktyk leer hy om te erken dat daar beperkings is. Hierdie beperkings kom juis met so ʼn metode aan die lig. “Almal” word enkeles. Hy forseer nie iets nie. Sy houding tydens die gesprek getuig van diensbaarheid en begrip, maar die inhoud en die doelwit bly op mekaar afgestem. As mense nie op sy gesprekke reageer nie, maak Paulus self sy gevolgtrekking hieruit. Dan stap hy verder. Hy is naamlik bo alles ʼn dienskneg van Christus. Sy diensbaarheid word begrens deur die ruimte wat Christus gee. Daarom wel diensbaar aan mense, maar nie ten koste van alles nie. Hy is nie ʼn speelbal van mense nie, en ook nie ʼn vrywilliger by ʼn humanitêre of sosiale dienste-organisasie nie.

2. Gesprekke in die Bybel🔗

Ek wil ten tweede dieper ingaan op gesprekke wat in die Bybel gevoer word. Byvoorbeeld die gesprekke van Paulus en Jesus. Sommiges wil ʼn hele stel reëls vir kommunikasie daaruit aflei. Ons moet onthou dat die Bybel nie in die eerste plek ʼn handboek vir kommunikasiereëls is nie. Uit die optrede van Jesus kan ’n mens ewenwel baie dinge leer wat ons ook kan gebruik in ons kommunikasie. Maar dan moet ’n mens ook werklik alle onderdele van sy gesprekke gebruik. Nie net die oulike, vindingryke, geduldige, behulpsame en barmhartige optrede van Jesus, wat boonop ook nog kon wonders doen nie.

Dink aan al die mense wat deur Jesus gekonfronteer word, bv. die ryk jong man (Matteus 19:21); of hard aangespreek word oor die stryd om in te gaan (Lukas 13:24); of waar onwil bemerk word (“altyd kommentaar hê”), deur Hom afgewys word (Matteus 11:17-19); of ontvlugting deur Hom ontmasker word by Nikodemus (Johannes 3:10); of ook kan kwaad word en mense wegjaag tydens die tempelreiniging (Matteus 21:12 e.v.); of mense teregwys oor die afwysende houding van die owerpriesters en skrifgeleerdes oor die “Hosanna” van die kinders (Matteus 21:17); of verdere gesprek weier, “dan vertel ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie” (Matteus 21:27). 

Al hierdie elemente mag gebruik word om aan mense duidelik te maak waaroor dit in die evangelie gaan. Nie om aan die gesels te bly nie, maar om die verdere verloop van die evangelie te stimuleer. Hoe graag jy dit ook al sou wou hê (Jesus ook, Lukas 13:34), dat elkeen op hierdie pad moet saamstap, moet ons daarmee rekening hou dat nie almal sal saamstap nie. Ons moet leer om dit te aanvaar, nie gelate nie, maar as resultaat van ’n mens werk. Ja, die resultaat dat ongeloof steeds duideliker na die oppervlakte toe sal kom. Hoe vreemd dit ook al mag klink, en hoe graag ons dit anders wil hê, die ongeloof wat na vore kom, is ook die resultaat van jou verkondiging.

3. Doelgerigtheid ʼn Vereiste🔗

Dit bring my by die derde punt. Dis opvallend dat in die Bybelse gesprekke iets gebeur waaraan ’n konsekwensie gekoppel word. Jesus het nie net gepraat nie, hy het ook gevolgtrekkings gemaak uit vrae wat gevra is en uit opmerkings wat gemaak word. En op daardie punte het Hy verder ingegaan. Hy het nie bekering afgedwing nie, maar wel opgeroep daartoe. En juis dit gee duidelikheid. Om dit so te stel: Tydens sy gesprekke het Hy ook geëvalueer waar die ander persoon staan. En daarop het Hy dan ingegaan: ontvangend of afwysend. 

Dit is die doel van die luister-proses. Nie om sommer net stories en klagtes aan te hoor nie, maar om waar te neem waar iemand staan in sy verhouding met God, of wat hom verhinder om na God te kom. En dit word dan die fokuspunt! Dan moet jy skynargumente en bykomstighede in die gesprek ontrafel, natuurlik met die mees passende en geskikte woorde en begrip. En dit vra die nodige tyd. Maar jy moet daardie sake aanspreek waaroor dit in werklikheid gaan!

Vergelyk dit met ʼn gids in die Alpe. Hy kan ter wille van sy reisgeselskap, inagnemend of hulle beginners of gevorderde klimmers is, ʼn vinniger of makliker pad kies, maar hy sal weier as hulle nie die pad vat wat hulle by die beplande eindpunt sal uitbring nie; of ʼn pad kies wat nie veilig is nie, dan sal hy elke stap vorentoe weier; of as hulle ʼn pad kies wat doelloos in die rondte loop om die bergtop heen, sonder om ooit êrens uit te kom. Indien almal eenstemmig is, sal hy die koers vasstel. Die koers staan almal helder voor oë. As die stappers nie volgens die vasgestelde koers wil stap nie, moet hulle nie die gids blameer nie. Die gids moet hulle voor die keuse bring: óf verder saamstap, of die staptog  opsê. Hierdie duidelikheid hoort by die taak van die gids. En net so geld dit ook vir jou. Dit is uiteindelik die beste vir hom, vir haar, die hele reisgeselskap, jou medegelowiges, insluitend die kerkgemeenskap.

4. Jou Kennis op Jou Vingertoppe🔗

Die vierde punt kom hieruit voort. Die feit dat jy nodig het om te luister in die evangelisasiegesprek, beteken nie dat jy nie ʼn eie boodskap of doel mag hê nie. Tereg is daar verset teen ’n hoogmoedige manier van gesprekvoering, maar dit moet ook nie ontaard in ʼn doellose of ’n sogenaamde “oop” gesprek nie. Uiteindelik het jy tog ʼn vasgestelde doelwit: jy wil die evangelie verkondig, die ander persoon by Christus uitbring.

Dan moet jy ook presies en doelgerig weet wat om te sê, en waaroor dit gaan, gefokus op die situasie voor jou. Dit moet nie ʼn afgerammelde geprogrammeerde argument wees nie, maar wel ʼn goed voorbereide boodskap uit die Bybel, wat jy in die gesprek inweef. Lokkend, uitnodigend, korrigerend, afwysend, om só die regte hindernis te probeer identifiseer. Dis nooit maklik om dit met een gesprek reg te kry nie. ʼn Mens kan dit egter aanleer, indien jou eie kennis van die Skrif baie goed is.

Dit beteken nie dat ons net ’n klompie tekste moet aframmel nie, maar dat ons die luisteraar moet vertel wat God in die Skrif van Homself en sy raadsplan openbaar. Jy moet basies met die hele Kategismus as agtergrond kan redeneer, sonder om alle vrae en antwoorde uit jou kop op te sê. Die kennis wat jy in die loop van jare opgedoen het, moet jy verweef en aktualiseer in die gesprek. Jy kan deur die Kategismus of ander belydenisskrifte blaai, om te kyk op watter vraagstukke of probleme daar antwoorde gegee word. Kyk verby die woorde na die bedoeling en die kern. Dit is wat jy op jou vingerpunte moet ken, of anders gestel: in die stryd moet inbring. Dan sal jy agterkom hoe goed die gesprekke aan die gang kom!

Dan móét ’n mens ook verder gaan om saam te ontdek hoekom iemand nie oor die drumpel van die geloof in Christus kan kom nie en dan kan julle besluit om die volgende keer juis daaroor te praat. Dit vra geduld, liefde, vindingrykheid en tyd. By die huis kan ’n mens dan baie meer doelgerig nadink om helderheid te kry oor hierdie saak. Jy kan selfs ander kerkmense vra of hulle jou kan help op hierdie punt. Jy staan dan ook nie alleen voor die probleem nie, maar jy word die uitgesteekte hand van die gemeente van Christus na ander. Dit gee nuwe moed.

Gebruik maar jou tyd en studie en gesprekke hiervoor. Dit alles help om die boodskap duidelik te kan oordra. Dit kan steeds ’n hele paar gesprekke met my gespreksvennoot word, maar dis nie sonder einde nie. Nee, dan word dit ʼn uitdaging om te kyk of jyself die rigting van die gesprek kan bly bepaal en jou nie laat aflei op ʼn syspoor om ander probleme te probeer oplos nie. Die evangelie is nie ʼn handelsartikel wat elke keer opnuut uitgestal moet word aan onwillige kopers nie. Nee, op hierdie basiese punt moet die weg na Christus volledig afgelê word. Dan sal ’n mens sien waar ʼn deur is wat wyer oopgaan, of selfs heeltemal kan toegaan. Dit is jou doel. Wees maar baie eerlik en openlik daaroor. Dis goed vir hom, vir haar, vir jou en vir die hele gemeente om dit te besef. Om so met ’n gesprek te kan werk, vra van jou konkrete en verdiepte kennis van die Skrif. En dit bring ’n mens ook telkens weer met groot erns tot voor die Here in gebed, want Hy moet help om die situasie reg te beoordeel. Om in gebed tot God te veg vir die behoud van die ander , staan jy nie alleen nie.

5. Rond die Gesprek Af🔗

Die vyfde punt volg direk hieruit voort. As ’n mens so te werk gaan, neem dit nie jare voordat jy weet waar jy staan nie. Dit kan wees dat julle paadjies skei, maar dan weet jy wat die rede daarvoor is.

Die probleem van swak voorbereide gesprekke is dat die negatiewe resultate eenkant bly lê. Jou kontak met jou gespreksvriend raak koud, en besoeke word sporadies en dan stop dit net skielik. Jy kom nie meer daar nie. Dis onbevredigend, vir beide partye. Dit het nie tot by ’n konkrete punt gekom nie. Dit was net “skielik” verby.Dit mag nie gebeur nie.  ʼn Intensiewe gesprek kan nie sommer net verby wees nie, want die gesprek word immers die hele tyd gedra deur die erns van die boodskap! Dit was nie kinderagtige gesprekke oor wie die slimste kan lyk nie, maar dit het die doel gehad om die persoon van ondergang te red, te wen vir Christus. Daarom hoort daar by hierdie gesprekke ook die element van die toorn van God. Dit is uiteraard nie iets wat slegs aan die einde na vore kom nie, maar dit moet verseker aan die einde baie duidelik gestel word. Durf ons om die toorn van God te noem, op grond van die resultaat van so ’n gesprek? Durf ons om dit so uit te spreek, vir iemand duidelik te maak? Natuurlik nie om te oordeel oor wat sy lot eendag sal wees nie maar wel om indringend te waarsku, baie direk, op hierdie oomblik: met hierdie verset, langs hierdie pad loop dit vir jou uit op die dood!

Evangelisasiegesprekke mag nie koud word of doodloop nie. Die gesprekke moet voltooi en afgerond word. Waarop het ons gesprekke uitgeloop? Dit is die vraag wat duidelik beantwoord moet word. Dan is ook die noem van die Here se toorn ʼn waarskuwingsmiddel wat die Here gegee het. Nie om iemand goedkoop die skrik op die lyf te jaag nie, maar wel om iemand, na sorgvuldige evaluasie en waardering van die situasie, tot sy heil tot skrik te bring. Net soos Jesus gedoen het, toe Hy vir die oënskynlike bekommerde man in Lukas 13:23 e.v. gesê het om hard te stry om in die koninkryk in te gaan. Daar sal uiteindelik ʼn “te laat” wees.

Op dié manier moet ons gesprekke ook ernstig afgesluit word.

6. Die Einde of ʼn Nuwe Begin🔗

Dit bring ons by die laaste punt. Om so ʼn rondte van gesprek te voltooi, beteken een van twee dinge: (A) die einde of (B) ʼn nuwe begin.

  • A:  Dit kan wees (’n mens hoop uiteraard nooit so nie) dat daar geen vooruitgang is nie. Dan hou jou verantwoordelikheid op. Jy kan nie langer die evangelie aan iemand verkondig, sonder dat dit goedkoop en vervelig raak nie. En dan moet ’n mens dit ook reguit so sê: ek hou op – ek kom nie meer terug nie. ’n Mens moet ook nie dink dat jy wyser is as God nie; en ook nie swaarder laste dra as wat Hy jou gee nie. Ons weet nie hoe dit verder met hom of haar sal gaan nie. Miskien kom daar ʼn ander geleentheid, ander omstandighede of ʼn ander prediker. Hieroor hoef ’n mens nie te spekuleer nie, maar ons moet Bybels reageer op wat hier voor ons afspeel (Sondag 31 HK); oordeel volgens hierdie evangelie wat ons gebring het. En daarom is dit nou eers verby. En jy bly weg. Want juis deur die gesprek af te sluit op die wesenlike punt, help jy hom/haar om eerlik voor God te gaan staan. Moet dan ook nie hierdie harde werklikheid versag deurdat jy telkens weer terugkom nie. Ook deur jou weggaan, wys jy die regte pad na God aan.

  • B:  Dit kan ook wees dat die gesprek ’n deurbraak maak. Iemand maak ʼn duidelike keuse, miskien bietjie moeisaam, maar tog duidelik na Christus toe. Hierdie keuse moet gekonstateer word met groot blydskap.  Dan het die evangelisasiegesprek in werklikheid tot ʼn einde gekom. Dit moet nou aan die kerkgemeenskap gerapporteer word met die oog op lidmaatskap. Hierna volg dan die belydenisaflegging, hopelik nie te lank daarna nie. Duidelik moet daar nog baie onderwys gegee word maar nou binne die gemeenskap van die kerk, binne die strukture wat die kerk daarvoor aanbied of dalk moet organiseer. En veral ook rondom die één tafel van Christus.

Afsluiting:  Gebed vir Geopende Deure🔗

Soos jy kan agterkom, is dit nie ʼn pleidooi om sommer net weg te stap as die evangelisasiegesprek nie dadelik na wense gaan nie. Dit is egter wel ʼn pleidooi om te bid én te werk om deure oop te kry en ook om hulle raak te sien. Ook om te sien waar deure toegaan. Dis ʼn gebed wat jy met jou hele gemeente moet bid, want dis hulle na wie jy moet gaan met die produk van jou gesprek: die positiewe en die negatiewe resultate. Want al twee resultate is die gevolg van jou gesprekke. Evangelisasiegesprekke het die doel om mense te verlos, maar ook om ongeloof te ontmasker, aan die kaak te stel en selfs om mense te verhard. Evangelisasie roep onherroeplik skeiding op. As jy nie skeiding wil bring nie, is jy nog nie reg vir evangelisasiewerk nie. Juis deur hierdie geroepe skeiding het die kerk ontstaan. Alleen daardeur bly die kerk ook bestaan volgens die Kategismus, vraag en antwoord 20. Volgens hierdie pad bereik God sy doel.

En op hierdie pad plaas God ook jou gesprekke; die uitwerking van die gesprekke vind plaas volgens sy wil. Dit gee vir ’n mens nuwe moed, want ’n mens kan sien hoe Hy in jou gewerk het. Dit alles maak jou klein voor die Here, want dis Hy wat mense red, en nie jy nie. Dit maak jou ook nederig voor ander mense, omdat jy langs hulle moet gaan staan, van nature niks beter as hulle nie. Ook jy mag slegs uit genade hierdie God ontmoet. Só kom die ware liefde vir evangelisasie tot uiting.

Jy mag sonder bekommernis op hierdie pad stap. Jy mag die uitkoms van jou gesprekke oorgee in God se hande. Bly net self getrou aan God se weg, geanker in die Skrif, en dra hierdie werk deur jou gebed, én die gebede van die hele gemeente.

Hierdie is ’n vertaalde artikel van Prof CJ Haak. 
Sy vakgebied is die sendingswetenskap en evangelisasie.