Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Filippense 3:12-15 - Gegryp deur Christus

….omdat ek deur Jesus Christus gegryp is.

Filippense 3:12–15

Elkeen van ons kan getuig van ʼn besondere verloop wat ons lewens gehad het. In Filippense vertel Paulus ook iets van sy eie lewensverhaal. Hy kom staan langs ons. Want hy wil ons bemoedig en verder help.  Hy wil standvastigheid gee.  Daarom skryf hy: "My geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan vas in die Here, geliefdes" (4:1).  Sy eie lewensverloop gee hy vir hulle as voorbeeld – ʼn voorbeeld van hoe om vas in die Here te bly staan en só jou blydskap in die lewe te bly behou.

Een ding word duidelik uit Paulus se lewe - ʼn lewe van blydskap in die Here is geen oninteressante lewe nie.  Dit is geen lewe sonder spanning en uitdagings nie.  Dit is nie asof ons klaar alles het wat die Here ons wil gee nie.  Selfs as apostel reken hy nie dat hy al alles gekry het wat die lewe met die Here insluit nie.  Dit word steeds mooier en meer uitdagend.  Hy is nog nie daar waar hy kan sê dat alles in sy lewe volmaak is nie.  Hy wil veral dít beklemtoon – die lewe van blydskap in die Here is nie iets wat geniet word omdat ons die eindpunt en hoogtepunt bereik het nie. Dit is ook nie die rede waarom mense belydenis van geloof doen nie. Aflegging van belydenis van geloof is geen eindpunt nie. Wel ʼn heel spesiale baken in die lewe. Maar ons wil wel net soos Paulus daarmee getuig dat ons ons wil uitstrek na die volmaaktheid, asof ons dit al kan vasgryp.

Geloof in Christus bring geen dooie bewegingloosheid in ons lewe nie. Dit bring inspanning.  Geloof in Jesus Christus maak ons net al hoe meer bewus van hoe ver ons nog is van die volmaaktheid. Geloof maak begeertes in ons wakker. Begeertes wat ons tot inspanning bring.  Geloof gee ons nooit die gevoel dat ons nou die eindpunt bereik het nie. Geloof maak ons wel van iets anders bewus. Paulus noem dit "gegryp wees deur Jesus Christus". Jesus Christus het hom in sy greep gekry. Jesus Christus het met sy genade en teenwoordigheid Paulus se hele lewe onder sy leiding en invloed gebring. En wanneer ʼn mens se lewe só onder Christus se invloed kom, dan kry jy self greep op die toekoms. In Christus se greep, het jy greep op die lewe.

Paulus dink glad nie dat sy greep op die lewe sy behoud in die lewe is nie. Hy verduidelik: "Broeders, ek dink nie dat ek dit self gegryp het nie" (3:13). Hy het nie onsekerheid oor sy standvastigheid in Christus nie. Hy wil alleen maar beklemtoon dat hy diep onder die indruk daarvan is, dat dit Christus se greep om hom is wat sy behoud in die lewe is. Vasgehou in die liefdesgreep van Jesus Christus gryp hy self na "meer van dieselfde"– méér van Christus… hy gryp na die volmaaktheid.

Alles het nie begin toe Paulus begin gryp het nie. Alles het begin met ʼn heel swak menselewe wat in die magtige genadegreep van Jesus die Here kom. Dink maar aan die ontmoeting met Jesus op die pad na Damaskus. Met sy verlossingsgreep gryp die Here die vervolger van die gemeente en hou hom vas; nie om hom te wurg nie, maar om hom te beskerm. Te beskerm teen homself in al sy verkeerde ywer. 

Want toe Paulus in Jesus se verlossingsgreep kom, het hy geleer om sy krampagtige greep op ʼn klomp ander dinge te laat gaan. Dinge wat voorheen vir hom geweldig belangrik was – sy Joodse afkoms, sy godsdienstige ywer – daarop het hy greep verloor. Hy het agtergekom dat jy nie, wanneer jy in Christus se greep gekom het, op al daardie ander dinge greep kan hê. Hy vergeet daarom die dinge wat agter is en strek hom uit na wat voor is. 

Maar Paulus wil nie by homself bly nie. En ons mag ook nie vandag by hom bly nie. Hy wil dat almal wat in die gemeente in Filippi is, soos hy sal wees. Hierdie “gegryp-saak” is nie ʼn uniekheid aan apostels nie. Dit is ʼn gemeente-ding!  Vir die hele gemeente moet dit gaan oor die hoë roeping wat ons het in Jesus Christus. Dit gaan oor ʼn houding waardeur Jesus Christus vir ons meer waardevol is en steeds meer word as enigiets wat ek nog ooit voorheen as belangrik beskou het.  Paulus vra nie dat hulle almal apostels moet word nie. Hy wil wel die ywer in hulle opwek om dieselfde gesindheid te hê as wat hy het – die gesindheid om niks belangriker te ag as Jesus Christus nie. Dieselfde ywer om steeds meer van Christus te kan hê en te kan ontvang. 

Sy aanmoediging was nie om dowe neute nie. Hy hou rekening met die skrikwekkende werklikheid dat nie almal in die gemeente hierdie gesindheid het nie: "As julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar" (3:15b). In Filippi was dit ook ʼn werklikheid dat nie almal in die gemeente dieselfde ywer en toewyding het nie. Sommige is andersgesind. Dit is nie ʼn interessante feit wat Paulus noem nie. Hy spreek die vertroue uit dat die Here dit aan die wat nie dieselfde gesindheid het nie, sal bekendmaak. Hierdie een reël moet in die gemeente geld  - in hierdie een reël moet ons eensgesind wees – almal moet hulle uitstrek om die prys in Christus te kan kry. Meer as dit is uit die bose! 

Elkeen in die gemeente het hulle eie verhaal oor hoe hulle deur Christus gegryp is. Nie een van ons se verhale is ʼn norm vir die ander nie. Net soos wat Paulus se Damaskusverhaal geen norm is vir ander gelowiges nie. Één ding moet ons wel almal met mekaar in gemeen hê – vergeet dit waarop jou lewe gebou is as dit enigiets anders as Christus alleen is! Ons verlede mag grootliks van mekaar verskil. Ons toekoms egter nie. Ons toekoms kan almal net in een rigting gaan, anders is daar grootliks fout!  Ons toekoms moet ʼn saam-gryp-na-Christus wees.