Bron: Kompas, 2008. 3 bladsye.

Film-Analise

Dit is geen geheim dat films in die Christelike wêreld nie ʼn baie goeie naam het nie. Die bioskoop word deur baie mense as ʼn plek gesien waar Christene nie behoort te kom nie. Dit is ʼn kykie in die wêreld, daar word baie gevloek en dit beïnvloed (die jeug se) lewenstyle. Hierdie argumente word dikwels by die intrapslag van ʼn bespreking oor films gebruik, met die gevolg dat die bespreking vinnig beëindig word. Die gevolg daarvan is dat daar bitter min diepgaande besprekings van films in Christelike (of Gereformeerde) lektuur en gesprekke voorkom.

Die feit bly egter staan dat films baie populêr is. Hierdie populariteit het egter geen geloofsgrense nie en, of ʼn mens dit wil of nie, in ons kerkverband word daar nie werklik minder na films gekyk as elders nie. Die noodsaak van ʼn meer volledige bespreking van films blyk dus duidelik.

Die doel van hierdie artikel is om die noodsaaklikheid van Christelike film-analise of -kritiek aan te toon en ʼn geskikte model hiervoor te gee. As hoofbron maak ek gebruik van prof. dr. B Kamphuis se artikel in De Reformatie (14 April 2007) getiteld De Matrix Code. Kamphuis stel dat die standpunt dat alle films per definisie sleg is en ons as Christene hiervan moet wegbly, moeiliker raak om te verantwoord indien daar gerealiseer word dat ons lewe in ʼn wêreld waar films ʼn groot rol speel in die werklikheidsbelewing van mense. Hy pleit hiermee vir ʼn Christelike manier van film-analise.

Christelike film-analise sal egter altyd gepaard gaan met die bespreking van die alomteenwoordige godslastering in die meeste films. Daar is talle Bybeltekste en aanhalings uit die kategismus wat aantoon dat dit ʼn werklike opdrag is om weg te bly van films waarin daar godslastering (d.i. bespotting of ydele gebruik van die Naam van God asook die verdraaiing van die geloofsfeite) voorkom:

Psalm 139 vers 19-22:

  1. O God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg!

  2. Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef — u teëstanders!

  3. HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ʼn afsku hê van die wat teen U opstaan  nie?

  4. Ek haat hulle met ʼn volkome haat; vyande is hulle vir my!

Dit is duidelike taal. Dit is ook baie belangrik om hierdie aanhaling altyd voor oë te hou tydens die kyk na of die bespreking van films. Verkieslik selfs vóór die besigtiging van ʼn film.

Maar beteken dit dan dat die veld van film-analise vanuit ʼn Christelike perspektief hiermee afgehandel is? Dit sou na my mening jammer wees, omdat daar dan net een aspek van films (wat ook van toepassing is op enige godslastering, nie net in films nie) bespreek word. Verder is dit helaas ʼn feit dat die aantrekkingskrag van films en televisie nie ons kerk verbygegaan het nie. Verder kan die beperking tot hierdie aspek tot gevolg hê dat mense dink dat films waarin daar nie gevloek word nie, per definisie reg is om na te kyk. Die persoon kyk dan sonder kritiese kykvermoë na ʼn film. Dit kan nogal gevaarlik raak.

Dit sal dus goed wees om, sonder om die etiese aspek wat eerder aangedui is uit die oog te verloor, ʼn film se verhaal, formalistiese eienskappe en dieper betekenis krities vanuit ʼn Christelike oogpunt te bespreek. Prof. dr. Kamphuis stel (vry vertaal):

Hierdie vraag (mag ons na ʼn film kyk, ja of nee?) is moralisties van aard (asof daar ten alle tye ʼn algemeen geldende antwoord moontlik is) en beperk hom meestal tot enkele kriteria (taalgebruik en erotiek). Miskien is dit so dat die een Christen moet kyk na ʼn film waarvan die ander een ver weg moet bly, terwyl daartussen ʼn groot veld van Christelike vryheid lê. Ons verantwoordelikheid is verskillend en juis die analise van verskillende aspekte van films help ons om konkreet ons verantwoordelikhede na te kom.

ʼn Goeie model om films Christelik te analiseer, bestaan uit ʼn paar fasette, aldus Kamphuis. Eerstens moet daar besef word dat films nie bloot vermaak is nie, maar dat dit een van die mees gewilde en kragtige maniere is om sekere gedagtes by ʼn massa mense oor te dra. Dis geen wonder dat Hitler se Nazi-ideale dikwels deur films aan die volk oorgedra is nie… Verder moet films as medium ook verstaan word, naamlik dat films van geweldig baie sintuie gelyktydig gebruik maak en daarom ʼn groot invloed op ʼn mens kan hê. Dit is dus moontlik dat die verhaal self, die beelde wat ʼn mens te sien kry, die dialoog, die musiek, die kamera-hoeke en alle ander onderdele van films, ʼn sekere boodskap herberg. Om orde in hierdie chaos te skep en ʼn struktuur te maak waarvolgens films krities en volledig geanaliseer kan word, kan die volgende model handig gebruik word. Dit is gebaseer op ʼn paar vrae:

1. Psigiese Aspek: wat Voel of Beleef ek as ek na die Film kyk?🔗

Byvoorbeeld: In baie films is daar ʼn sekere hoeveelheid erotiek (dit is die SN in die ouderdomsbeperking) wat na vore kom. Hoe voel die kyker as hy dit sien? Voel hy deel van die seksuele daad wat op die skerm plaasvind? Dan word hy dus passief deel van die daad wat slegs vir twee mense en binne die huwelik bedoel is. Die ouderdomsbeperkings wat op ʼn film aangedui word, het te doen met hierdie aspek, omdat Geweld, Seks, Naaktheid, Taal en Vooroordele – dit is die kriteria wat in beperkings geld – die kyker altyd op hierdie manier sal beïnvloed.

2. Analitiese Aspek: wat Leer ons deur die Film van die Wêreld (bv. gedagtes, sentiment, tydsgees, ensovoorts)?🔗

Byvoorbeeld: In baie animasiefilms, soos veral dié van Disney, kom ʼn baie sterk boodskap deur dat elke mens sy eie lot moet bepaal. Dikwels sien ʼn mens dan die ‘underdog’ wat op ʼn sekere reis (beide fisies en geestelik) gaan en dan daaruit leer dat elke mens voluit moet lewe en in beheer van die situasie moet bly. Die kyker ‘leer’ dan dat hy die lot in sy eie hande het. Hierdie analitiese aspek kom in elke film geweldig sterk deur, en is krities belangrik vir ʼn volledige ontleding van ʼn film.

3. Sosiale Aspek: Watter Norme met Betrekking tot mense se Behandeling van mekaar word in die Film hanteer?🔗

Byvoorbeeld: In die film Gladiator word twee sosiale aspekte aangeraak: die belangrikheid van familie (ʼn nuwe tendens in films) en die reg op wraak teen almal wat iets aan die familie doen. Die karakter in die film is vernietig deur die verlies van sy familie, maar neem dan wraak op die daders. Die kyker van die film hoop op natuurlike wyse dat sy wraak suksesvol sal wees.

4. Estetiese Aspek: Watter Stylmiddele word gebruik in die Film en met Watter Rede (d.i. kamera-hoeke, ensovoorts)?🔗

Byvoorbeeld: In The Matrix moet Neo ʼn keuse tussen ʼn rooi en ʼn blou pil maak. Hierdie keuse staan in ʼn mate simbolies vir alle keuses wat die mens moet maak om sy lot te bepaal. Om die impak hiervan te versterk, word beide pille in een kamera-skoot gewys deur elkeen te laat weerkaats in die sonbril van Morpheus: die een op die linkerglas, die ander een regs (sien illustrasie). Dit demonstreer op dramatiese wyse dat die keuse wat Neo moet maak, bepalend gaan wees vir sy lot.

5. Etiese Aspek: Watter Morele keuses word in die Film gemaak en hoe word dit in die film benader? Byvoorbeeld: Word Egbreuk goedgekeur?🔗

In baie sogenaamde “chick-flicks” (romantiese komedies wat afspeel in ʼn hoërskool of kollege) word maagde as sosiale uitwerpsels gesien en word hulle belaglik gemaak. Die karakters maak ʼn 18-jarige maagd belaglik, omdat sy nog nooit seksuele omgang gehad het nie. Gesien die teikengroep van hierdie films (hoërskoolleerlinge, veral meisies), moet ʼn mens baie versigtig wees vir sulke films. Voorhuwelikse seks word geleidelik as normaal in die kykers ingeprent, met die gevolg dat baie tieners al vroeër ʼn seksuele behoefte het en baie druk ondervind om seksueel aktief te wees.

6. Spirituele Aspek: hoe word Geloof en Spiritualiteit in die Film duidelik?🔗

Byvoorbeeld: The Matrix is ʼn film waarin allerhande verskillende gelowe inmekaar verweef word om dit te laat ontspruit as ʼn New Age-uithangbord. Sekere simboliek van die Christelike geloof word baie sterk gebruik, byvoorbeeld die ‘stad van vrede’ in die film se naam is Zion. En die hoofkarakter, Neo, laat ʼn mens sterk dink aan ʼn Messiasfiguur, terwyl die sogenaamde “Architect” van The Matrix II en III nie ver afwyk van die populêre beeld van God as die “puppeteer” nie.

Ander dergelike vrae kan addisioneel bedink word om die film-analise meer volledig te maak. Indien hierdie model gebruik word in die bespreking van een film, kan die verskillende lae waaruit die film bestaan, in sy geheel verstaan word. Dit sal ook sorg dat ons meer bewus na films kyk en baie goed verstaan dat ʼn film meer is as net ʼn-uur-en-ʼn-half se tydverdryf.

Ons het ʼn verantwoordelikheid om hedendaagse populêre kultuur krities te bekyk. Hopelik maak hierdie model dit makliker om in die chaos van populêre kultuur orde te skep en dit vanuit ons Christelike oogpunt te analiseer.