Bron: Wegwijs, 1993. 3 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius .

Frontvegters van Jesus Christus

Weerloosheid🔗

Die stryd teen die bose gaan maar altyd voort. Daarvan kan elke gelowige getuig. Satan is sterk en vindingryk.

Weet u wat daarby ʼn groot probleem is? Dis dat ons dikwels sulke slap hande en lam knieë het (Hebreërs 12:12). Die stryders wat voor in die loopgrawe vir Jesus Christus moet stry is nie sterk jong soldate met stoer verhale en gebalde vuiste nie, maar swak, hulpbehoewende klein mensies.

Maar weet u wat volgens my ʼn nog groter probleem is? Dit is dat ons so dikwels nie ons eie slapheid insien nie. Ons dink graag heeltemal te veel van onsself. Ons vergelyk onsself met ander mense en vind dan dat ons darem nie te sleg afsteek nie. Ons is meelewende lidmate, aktief in ons bybelstudiegroep en in ons kerk, besoek saamtrekke, ens. Goeie stryders, wat vir die Here iets beteken. Ons voel dan dat ons in ons stryd vir die kerk van Jesus Christus heelwat bereik het. Baie mense buite ons kerke is jaloers op wat ons het.

Tog dink ek dat ons eers regtig goed weerbaar is teen die bose wanneer ons besef hoe weerloos ons is, wanneer ons kan insien dat ons maar ʼn spul swakkelinge is, wat nie die vermoë het om die oorlog te wen nie. Die gevolg is dan egter gewoonlik dat ons dan alles aan die Here oorlaat. Hy wen die stryd – nie ons nie. Al wat van ons verwag kan word, glo ons dan, is dat ons Sy oorwinningswerk in ons lewens toelaat. Dink egter eers ʼn bietjie na oor die invloed van die wêreld in ons lewens. In onlangse jare, so beweer sommiges, het baie gelowiges hulleself meer oopgestel vir wêreldse invloede. Ons laat ons al meer beïnvloed deur dinge wat in die wêreld gebeur en aktueel is. En dit is, in baie opsigte, ʼn goeie ding. ʼn Christen mag homself nie terugtrek uit die wêreld, omdat hy dink dat sy eie geestelike en kerklike lewe voldoende is nie. Hy kan en moet baie beteken vir die wêreld daarbuite.

Maar, oop oë vir die wêreld gaan by ons so dikwels gepaard met ʼn oop hart vir die wêreld. Dit word dan ons probleem. Ons laat ons so maklik verlei en dan val ons. Want ons is uit onsself so swak dat ons nie ʼn oomblik kan standhou teen ons drie doodsvyande nie: die duiwel, die wêreld en ons eie vlees (H.K. Sondag 52).

Ons moet ons harte dus oopstel vir Christus, maar dit veroorsaak stryd. Daarvoor moet daar in ons harte heelwat oorwin word - ons harte staan nie sommer vanself oop vir Christus nie.

Lekkende Emmers🔗

Vir hierdie stryd word daar van ons verwag om afrigting te kry – oefening vir die geestelike lewe. Hier dink ek aan Paulus se woorde in Efesiërs 5: ‘Laat die Gees julle vervul’. Dit is ʼn opdrag. ʼn Mens kan, na aanleiding hiervan, jouself afvra: As ons glo, het ons tog reeds die Gees ontvang? Dit is reg, maar tog reken Paulus dat die opdrag nodig is vir gelowige mense. Laat my toe om met ʼn beeld te verduidelik wat Paulus hier bedoel: Ons is almal soos emmers wat lek, wat wel vol gemaak word met water, maar as jy dit nie voortdurend onder ʼn kraan laat staan nie, loop dit leeg. So moet ons gedurig onder die kraan van die Heilige Gees staan om vol te bly. Want uit onsself is ons lek soos ʼn sif. Ons het immers nie ʼn volmaakte geloof nie. Ons dien God ook nie met die ywer wat ons verskuldig is nie. U ken tog hierdie woorde uit die Nagmaalsformulier.

Om op te som: Weerbaarheid begin met die besef van weerloosheid.

Afrigting🔗

Daarna volg daar dus afrigting. Ons moet oefen. Wanneer ons besef hoe onfiks ons is, is ons dadelik innerlik gemotiveerd om te begin oefen. ʼn Sportman wat weet dat hy nie 100 persent fiks is nie, weet tog dat hy ekstra moet oefen om sy kondisie reg te kry.

Daar is ʼn verskeidenheid van afrigtingstoerusting tot ons beskikking. Ek wil hier verwys na die Dordtse Leerreëls, hoofstuk V. Dit is ʼn belangrike hoofstuk in ons belydenisskrifte vir hierdie onderwerp. Hoe kan jy, as ʼn gelowige kind van die Here, volhou met die stryd? Keer op keer blyk dan dat God bewaar. Dit kom alles van Hom af.  Hy sorg dat die stryd vir Sy kinders goed afloop. Maar Hy doen dit deur goeie oefeninghulpmiddels tot ons beskikking te stel. DL V, 14: ‘Dit het God behaag om sy genadewerk deur middel van die verkondiging van die evangelie in ons te begin. So bewaar Hy dit, sit Hy dit voort en voleindig Hy dit deur die aanhoor, die lees en die oordenking van die evangelie, deur die aansporing, vermanings en beloftes daarin en ook deur die gebruik van die sakramente’.

God is hier die onderwerp van die sin. Hy begin sy genadewerk, Hy sit dit voort en Hy voleindig dit.

Maar daarby gee Hy ons ook werk. Hy laat ons die evangelie hoor, lees en oordink. Hier volg die eerste oefeninghulpmiddel:

Besig Wees met die Evangelie🔗

Ek het dit bewustelik so geformuleer: ‘besig wees met’. Hoe dikwels hoor ons nie oor ʼn Sondag se preek: ‘Die dominee het ons weer genoeg laat hoor om ons die hele week te hou’. Dit is dan natuurlik as ʼn pluimpie vir die predikant bedoel. Maar dit is eintlik ʼn gevaarlike opmerking. Want dit is nie ʼn goeie teken nie as jy slegs die een preek per week voldoende vind. Die Dordtse Leerreëls (V, 14) dui aan: Dit is maar net die begin. Na elke Sondag gaan God dan verder – wil Hy hê ons moet verder gaan: Ons moet elke dag hoor, lees en oordink. Ons moet daagliks tyd maak om te mediteer, na te dink en vrae vra oor die Bybelgedeelte wat ons gelees het. Ons moet tog nie bly vassteek by die versugting dat ons te besig is en nie meer, soos vroeër miskien, die tyd hiervoor kan inruim nie. Wie onder die kraan van die Heilige Gees staan, ontvang die kreatiwiteit om elke dag van die week sinvol besig te kan wees met die evangelie.

Die Sakramente🔗

ʼn Verdere oefeningshulpmiddel is die sakramente. Volgens die DL moet ons dit gebruik. Dit beteken eerstens om dit met besef van die volle betekenis daarvan te vier. Ons kan onsself dwing om die probleem dat die doop- en nagmaalsformuliere oorbekend is  en dat dit geen verrassings meer inhou nie, ter syde te stel. ‘Gebruik’ beteken egter ook om die gebruik daarvan later nog weer te oordink; om te mediteer oor die betekenis van doop en nagmaal vir ons lewe van elke dag.

Die Gemeenskap van die Heiliges🔗

Hierdie is die derde oefeningshulpmiddel. Ek dink dat dit, met betrekking tot ons stryd teen die bose, nie maklik oorbeklemtoon kan word nie: niemand hoef die stryd alleen te stry nie. Die woord ‘ mekaar’ soos dit voorkom in Hebreërs 10:24,25 is hier belangrik: ‘en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.’

Op mekaar ag gee, mekaar aanspoor, mekaar vermaan – dit lyk nogal soos mekaar ophits, mekaar dwing. Maar dit is nie so bedoel nie! ‘Aanspoor’ het in die oorspronklike Grieks ʼn ietwat wyer betekenis: vermaan, waarsku, vertroos, bemoedig. Letterlik: roep om saam te kom, en dan met die betekenis van: roep om saam te kom na Christus toe, na Sy liefde toe. Dit moet ons dus vir en met mekaar doen. In die liefde van Christus mekaar opsoek en aanmoedig.

Kom ons gee nou weer ʼn bietjie aandag aan die swakheid waarmee hierdie artikel begin. Wanneer jy besef hoe swak jy is in jou dienswerk vir Christus, dan is dit nie vir jou vreemd nie wanneer dit blyk dat jou broer of suster ook swak is. Dan is dit nie meer nodig om elkeen se swakheid vir mekaar weg te steek nie.  Ons hoef dan nie meer te skrik vir sondes of vertwyfeling, wat tog eintlik nie in die kerk tuishoort nie.  Dit kom tog steeds daar voor!  Ons is immers maar swak.

Dit beteken nou nie dat jy allerhande sondes en tekortkomings maar moet aanvaar nie. Maar dit beteken wel dat ons mekaar aanvaar en help om sulke sondes en tekortkomings te bowe te kom. Dink maar aan die optrede van die Here Jesus teenoor die vrou wat op owerspel betrap is in Johannes 8. Die skrifgeleerdes wou haar summier stenig. Maar Jesus laat haar gaan nadat Hy die mense wat die wet streng wou toepas, met hulle eie swakheid gekonfronteer het: ‘Dan oordeel Ek jou ook nie. Gaan maar en moet van nou af nie meer sonde doen nie.’

Hoeveel sou ons nie al vermag het nie in die stryd teen die bose, indien ons ook in die gemeenskap van die heiliges só sou kon omgaan met mekaar se sondes en gebreke. Dan sou ons mekaar kan ondersteun in die stryd. Dan sou ons ook ons siening oor die Christelike lewenswyse openlik met mekaar kon bespreek, sonder om mekaar dadelik te veroordeel, maar gevoelig vir elkeen se insette.

As ons almal besef hoe swak ons is, staan ons saam sterker in die stryd.

Die Gebed🔗

Ten slotte: Omdat ons swak is, is die gebed ons belangrikste oefeningshulpmiddel. ‘Vader, verlos ons van die bose.  Want ons is uit onsself so swak.’

Wie so bid, sê eintlik daarmee: ‘Gee tog U krag, Vader, want ek het niks, ek kan nie langer volhou nie. Vader, dit hang alles van U af!’  Dink maar weer aan DL. V, 14:  God begin die genadewerk in ons; Hy sit dit voort en Hy voleindig dit.

Daarom is oefening om te bid so ʼn belangrike deel van ons godsdiensoefening. Om te kan bid kom nie sommer vanself nie. Dit moet ook ingeoefen word. Ons moet regtig aandag daaraan gee. Want ons is uit onsself maar weerloos en daarom kan ons gebedslewe maklik kwyn. Maar wie ʼn lewendige omgang met die Here ken en Hom vertrou, hoef nie bang te wees vir die bose nie.

Elke gelowige wat leef in die besef van die geweldige mag van Satan en sy bose geeste, kan maklik daardeur bang gemaak word. Dit is egter nie nodig nie, want: ‘Wanneer ek swak is, vlug ek na die Here toe, en dan is ek sterk.’