Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Fundamentaliste, Die Skeldwoord Vir Ons Teoloë

Deesdae het dit ’n mode geword om teologiese profes­sore en predikante wat aan die Skrifgesag en die Gereformeerde Belydenisskrifte vashou, as ‘funda­mentaliste’ te bestempel. Nou kom ons agter dat dieselfde skeldwoord ook vir ons broeders wat aan die Skrifgesag en die gereformeerde belydenis in die VSA en Europa vashou, gebruik word.

In De Wekker van die Christelike Gereformeerde Kerke in Nederland, skryf prof. W. van’t Spyker die volgende:

Fundamentalisme🔗

In 1915 is die twaalfde aflewering van ’n tydskrif met die naam The Fundamentals aan ongeveer honderdduisend Engelssprekende predikante, evangeliste, sendelinge, onderwysers, en studente gestuur. Die vorige aflewerings is ruim versprei. Van toe af is die naam Fundamentalisme in swang as ’n aanduiding van die voorstanders van ’n streng Bybelse opvatting oor die Skrif, die Drie-eenheid, die Godheid van Christus, die versoening deur die kruis, die noodsaak van die wedergeboorte en soortgelyke onderwerpe. Die inhoud van die 12 boekies spreek vir hulleself. Dit verteenwoor­dig die gedagtes wat altyd binne die historiese christendom geleef het. Dit word nie alleen vertolk nie, maar ook verdedig.

Van die begin van hierdie eeu af was daar Funda­mentaliste en hulle sal steeds daar wees. Daarvoor is ons dankbaar, en daar sal steeds ’n massa wees wat nie toegee nie. Die Bybel oorleef alle kritiek. En die geloof wat die wêreld oorwin, vind in die Bybel sy vaste grond. Daarmee het ons nie gesê dat die Fundamentalisme die een en die al is nie. Maar ons is bly en dankbaar daarvoor. Hulle wat hulle nie vir die evangelie skaam nie moet hulle nie op ons meelewing reken nie?

Bedrieglike taalgebruik

Ons stel hierdie dinge aan die orde omdat ons vandag met ’n bedrieglike taalgebruik te doen het. Die begrip Fundamentalisme het vir baie mense deur ’n sosiolo­giese transformator gegaan. Die begrip het sy oor­spronklike betekenis verloor. By voorkeur word nie meer aan die inhoud gedink nie, maar aan ’n manier van optrede. Nou word die term Fundamentalis vir allerlei mense of standpunte vir dinge wat ons teen die bors stuit, gehanteer.

Khomeini (die fanatieke leier van Iran) is byvoor­beeld ’n fundamentalis. So is daar ook fundamentalis­tiese Jode en Marxiste. En so het die woord Funda­mentalisme oornag van betekenis verander, en dit op ’n bedrieglike manier.

Dat Khomeini ’n kanniedood is wat sy pad en die van sy volk met lyke plavei, is bekend. En dat hy nou ’n fundamentalis genoem word, kry ongeag die inhoud, vir die begrip ortodoksie (= die regte leer) ’n nare, onaangename en selfs gevaarlike bysmaak: Pasop vir fundamentaliste! Hulle is hard in hulle oordeel. Hulle skrik vir niemand nie. Hulle is altyd moeilike mense. Jy weet wat jy aan hulle het (altyd die Bybel en die belydenis) maar jy kan nie met hulle saamwerk nie.

Die sosiologiese kwalifikasie was nie lui in hulle werk nie. En dit noem ons nou bedrieglike taalgebruik. Die stemtone wat hierin meeklink, is beslis nie simpatiek nie. Fundamentaliste moet afgeskryf word. Hulle is a-kultureel. ’n Mens moet maar medelye met hulle hê. Ja, nog erger, hulle is gevaarlik. Hulle versteur die rus. Want hulle hou onversetlik vas aan die Bybel, aan die versoening, aan die kruis. Dit help nie om met hulle te praat nie.

‘Fundamentalis’ ’n skeldnaam in die teologie? As jy onversetlik die Skrifgesag handhaaf - laat dit dan maar so wees. Moenie skaam wees nie!