Bron: Kerk en Woord, 1997. 2 bladsye.

Fundamentele Christelike Waardes

geknoopte tou

Dr. J. Hoek skryf in “De Waarheidsvriend” oor wat belangrik mag wees in die Christelike lewe.

Dit gaan vir ons oor die fundamentele waardes wat vir Christene geld in die verhouding tot God, tot die naaste en tot die hele skepping, sê maar “die wêreld”. Hierdie verskillende verhoudings moet vanuit die luister na en buig voor die Woord van God as gesaghebbende openbaring beskou word vanuit vier gesigspunte: skepping, sondeval, versoening en voltooiing. Hy bied dan hier 12 fundamentele christelike waardes aan (sien die tabel hieronder).

Persoon / Gemeente / Organisasie God Naaste Wêreld
Skepping Toewyding Respek Roeping
Sondeval Verootmoediging Solidariteit Vreemdelingskap
Versoening Dankbaarheid Ontferming Sending
Voltooiing Verwagting Geduld Geregtigheid

Hy wil dit nogmaals beklemtoon dat ander begrippe gekies kan word en dat die inkleding die karakter het van ’n verkenning. Maar tog meen hy dat deur hierdie koördinasiestelsel die belangrikste Christelike waardes genoem word. Nou volg hier ’n toeligting, waarby hy ook baie kortliks sal aandui watter konstante norme myns insiens uit hierdie waardes voortvloei.

Noodsaaklike Voedingsbodem🔗

Hy stel voorop dat die genoemde waardes gedevalueer word tot min of meer leë terme sodra hulle nie meer betrek word op die waarheid, ja op die God van die waarheid en die Woord van die waarheid nie, sodat norme wegkwyn sonder om in waardes te wortel en dat waardes verskrompel sonder die voedingsbodem van die waarheid.

Verhouding tot God🔗

Dit is noodsaaklik en fundamenteel vir die menswees om in ’n vertikale verhouding te lewe. In die verhouding tot God staan ons in die eerste plek as sy skepsels en weet ons dat ons geroepe is tot erkenning en toewyding aan Hom, aan Wie ons die lewe te danke het. As ons Skepper is God ook ons Wetgewer en Koning (Jesaja 33:22). Hierdie erkenning beteken ’n liefdevolle respek wat ons “vrees vir die HERE” kan noem wat ons God laat liefhê bo alles en almal.

bome

Hierdie diep lewensbesef wat beslissend vir die hele oriëntasie van ons bestaan is, is deur Calvyn aan die begin van sy Geneefse Kategismus treffend onder woorde gebring: “Wat is die bestemming van die menslike lewe? Dat ons God deur Wie ons geskape is, ken. Op grond waarvan sê u dit? God het ons geskep en in hierdie wêreld gesit om in ons verheerlik te word. En dit is seker tereg, dat ons ons lewe waarvan Hy die Skepper en die begin is, aan Sy glorie ondergeskik maak.” Ons is nie van onsself nie, maar van Hom. Daarin lê ook die diepste vreugde, die rykste lewensvervulling wat ’n mens kan beleef. Uit dié teosentriese belydenis, hierdie waarde van “toewyding aan die Skepper”, kom die norme op die eerste vier gebooie van die Dekaloog neer. In die aan die Skepper toegewyde lewe is die omgang met Hom, die afswering van die afgode en die eerbiediging van Sy naam en dag.

Die erkenning van God die Skepper stel grense aan die selfbeskikking van die mens. Hy is nie ’n heer oor eie dood en lewe nie. Daarom mag die mens die grense van eutanasie, lewensbeeïndigende handeling en hulp by selfmoord uit prinsipe nie oorskry nie.

Gelet op die werklikheid van die sondeval staan ek skuldig voor hierdie heilige God teen Wie ek in opstand gekom het. Ek moet my voor Hom verootmoedig. Ek moet ook leer sterf aan my revolusionêre, rebelse gesindheid en my grense leer erken as mensekind. Die net so dwase as hoogmoedige opset van die sonde is om net soos God te wil wees.

Dit beteken ’n oorskryding van die deur die Skepper gestelde grense in ’n sogenaamde outonomie, wat in werklikheid tot slawerny onder die magte van die duisternis bring. Vanuit hierdie verootmoediging leer ek des te meer die menslike selfbeskikking prinsipieel begrens.

Dit het eerstens konsekwensies vir my omgang met die wetenskap en tegniek en vir konkrete beslissinge in die etiek, nie die minste nie in die mediese etiek. Dit het net soveel konsekwensies vir die visie op gesag, op die noodsaak van milisie, justisie en polisie. Wie homself ken in sy rebellie teen God, sal hom heg aan strukture en middele wat die ongebondenheid van die mense in toom hou en orde handhaaf en beskerm. Om die evangelie van versoening, gelowig te deurleef as regverdiging van dié goddelose, word my lewe gekenmerk deur dankbaarheid. Hierdie dankbaarheid het ’n ander aard as die so pas genoemde “toewyding”. Hier kry die gehoorsaamheid aan God ’n nuwe motivering en impuls, terwyl die reeds vanuit die skepping gegewe motivering vernuwe word.

Ek wil ter beskikking staan aan God as die God wat my nie alleen uit die stof geskep het nie, maar ook uit dieptes van ellende verlos het.

Ons praat hier van “heiliging”, wat spontaan voortkom uit die geloofsverbondenheid met Christus. Hoe die nuwe lewe van dankbaarheid hom ontplooi, word in die Bergrede beskryf en in die apostoliese “paranese”, dit wil sê die konkrete vermanings en opwekkings wat ons veral in die slothoofstukke van die Nuwe-Testamentiese briewe kry. Daar word die onderrig van die Tien Gebooie radikaal onthul.

sonsondergang

Hierdie God gee verwagting, want Sy belofte waarborg ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde. Vanuit hierdie gegronde toekomsverwagting staan ons lewe onder die hoede van die hoop en dit maak wakker en aktief, waaksaam en werksaam in die groot toekomsperspektief van God se Koninkryk.

Christelike lewe is lewe “coram Deo”, voor God se aangesig, in toewyding aan Hom, verootmoediging voor Hom, dankbaarheid teenoor Hom en verwagting van Hom. Die grondhouding roep om eie gestalte in die lewe: gebed, Skriflesing, kerkgang, stilte tyd ensovoorts. In die Christelike skool of in die Christelike huis sal alle aandag en ruimte wees vir hierdie stilering van die lewe met God.