Gebed vir die Owerheid
Gebed vir die Owerheid
Die gebed vir die owerheid is ʼn Bybelse opdrag. In eredienste moet vir die owerheid gebid word. As sulks is die owerheid ʼn instelling , maar dit is mense wat deur hulle werk aan die owerheidsinstelling vorm en inhoud gee.
Voorskrif van die Woord⤒🔗
Ons bid vir baie dinge. Ons doen voorbidding vir mense in allerlei situasies. Teen dié agtergrond val dit op dat voorbede vir die owerhede deur die Skrif voorgeskryf word. Dit is dus nie 'n willekeurige aangeleentheid nie. ʼn Dominee, of ʼn ouderling in ʼn leesdiens, het die plig om die gebed vir die breë werk van die owerheid uit te spreek en dit aan die troon van die regering en die genade in die hemel op te dra. Dit beteken dat die uitgangspunt behoort te wees dat dié gebed elke Sondag in die gebede van die gemeente, soos vertolk deur die voorganger, plek behoort te hê. Die Here wil dié gebed uit die mond en die hart van sy gemeente hoor.
Daar kom merendeels ʼn vaste patroon in die voorbidding en danksegging in eredienste na vore, waarvan die voorbidding vir die owerheid deel sal wees. Dieselfde temas keer inderdaad met reëlmaat terug. Uiteraard soek ons na afwisseling in die bewoording van die gebede, ook om die opregtheid van ons gebed uit te spreek. Afwisseling in woordgebruik is egter nie die belangrikste nie. Die Here vind, menslik gesproke, nie ʼn gebed wat telkens met dieselfde woorde uitgespreek word, saai nie. Dit ‘verveel’ Hom nie, Hy word nie moeg daarvan nie.
Paulus aan Timoteus←⤒🔗
In die Bybel word die owerheid beskou as ʼn instelling van God. In dié verband is gedeeltes soos Romeine 13 en 1 Timoteus 2 bekend. Laasgenoemde hoofstuk word deur Paulus met sterk bewoording geskryf. Hy vermaan Timoteus, en dus ook ons, in die eerste plek “dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is” (vs. 1, 2). Die krag van die formulering en sy allesomvattendheid is opvallend. Dit is ’n vermaning. Wat Paulus hier skryf, is deel van die amptelike opdrag van Timoteus. Timoteus moet van hierdie gebedsinspanning ’n hoofsaak maak. “In die eerste plek vermaan ek..." Dit gaan die ander dinge vooraf en al die orige werk in diens van die Here word deur hierdie gebede gedra. Dit gee ons rede en stof tot selfondersoek. Die variasie in die gebedsinspanning is aansienlik. Dit gaan oor smekinge – gebede met die oog op konkrete nood; dit gaan oor gebede – ons nader tot God wat alle ontsag, eerbied en eerbetoon waardig is; dit gaan oor voorbede – smeek voor die troon van genade en regering vir hulp en bystand vir ander mense – by name vir dié by wie jy betrokke is en in ’n bepaalde verhouding staan. Jy tree by God in ten behoewe van ander. Die intrede kan net in gebedsvorm plaasvind. Dit gaan oor danksegging – die Here kry die lof en dank vir al sy goeie gawes – vir wat Hy is en vir wat Hy gee. In Christus is Hy ’n gewende en vergewende God. Hy is ’n God wat uitkoms gee waar dit vir mense nie moontlik is nie. Ook in moeilike en komplekse situasies is die uitkoms by die Here.
Dit is duidelik dat hierdie gebedsaktiwiteit net in geloof uitgevoer en volgehou kan word. Daar is inspanning by betrokke. Hierdie gebedsinspanning is gerig op alle mense, en dít is ’n gewigtige deel van die inleiding van 1 Timoteus 2. Alle mense beteken dit raak al wat mens is. Dit gaan oor alle soorte mense, in allerlei posisies en met allerlei verantwoordelikhede. Die gebedsinspanning strek ook uit tot en oor ongelowiges. Hoe 'n mens ook al daaroor mag dink, of dit gepas is al dan nie dat gemeentes in hulle samekomste ook vir ongelowiges bid – die feit bly dat dit ’n Bybelse opdrag is. Daarom moet ons ons besware eenkant toe skuif.
Gerig op Behoud←⤒🔗
Dit gaan oor ’n belangrike saak, belangriker miskien as wat ons besef. Die doel van hierdie gebede is verhoring in dié sin sodat dat ons – die gemeente in die wêreld en onder die owerheid – “ʼn rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid” (vs. 2). Paulus stel dit baie duidelik dat dit voor God, ons Heiland, “wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid (van die evangelie van Jesus Christus) kom”, “goed en aangenaam” is (vs. 3, 4). Om misverstand te voorkom: wanneer Paulus skryf dat God wil dat alle mense gered word, hou dit nie in dat alle mense, een vir een, eenmaal in die saligheid sal deel nie. Wat God wel wil, is dat elke mens, sonder uitsondering bekend sal word met die evangelie. Elke mens word deur die evangelie ernstig geroep om hom tot God te bekeer en te glo en langs dié weg die saligheid te verkry. Die heilswil van God gaan deur middel van die evangelie tot alle mense uit. Hierby mag ons geen beperkings stel nie. Wie dit wil doen het nie die Skrif aan hulle kant nie. Dit is inderdaad soms moeilik om ons gedagtes aan die Woord ondergeskik te stel, en selfs dan verstaan ons maar nog ten dele. Ten dele verstaan doen egter nie af aan ’n betroubare verstaan, ʼn verstaan in suiwerheid en waarheid nie.
Daar moet vir die arbeid van die gemeente in die wêreld ruimte wees. Dié ruimte moet mede deur die owerheid gegee word. Die owerheid doen nie kerklike werk nie, maar moet ruimte daarvoor skep. Hiervoor is gebed vir die owerheid onmisbaar, en onmisbaar beteken hier in alle opsigte onmisbaar. Hierdie gebede mag dus nie in die eredienste ontbreek nie. Hierdie artikel word geskryf om mekaar, vir sover dit nodig is, hiertoe op te skerp.
Daar is in baie gemeentes lidmate wat by die owerheid in diens is of owerheidsampte beklee. In die gemeente is hulle ons broeders en susters, want sosiale onderskeid is in die gemeente (nouliks) van belang. Dáár is Een ons Meester en ons Broeder en ons is almal broeders en susters in verbondenheid met die Here Jesus Christus. Dit is egter ook reg dat die werk wat ons in die week in die samelewing doen, plek kry in die gebede van die hele gemeente. Dit maak ons ook wakker. As ons ons werk in gebed opdra, beteken dit dat ons nie sinnelose en doellose werk doen nie. Dit waarvoor ons nie kan bid en dank nie, moet ons nalaat.
Die owerheid waarvoor ons bid, hoef nie ’n Christelike owerheid te wees nie. Dit is ’n ander vraag waar die grens van gehoorsaamheid aan die owerheid ter sprake kom en of daar tye kan kom wanneer ons nie meer vir die owerheid kan bid nie. Sulke grense kan ontstaan en die genoemde tye is nie denkbeeldig nie, maar ek laat die, boeiende en lastige vrae hier agterweë.
Die owerhede onder wie Paulus en die gemeentes geleef het, was beslis nie Christelike owerhede nie. Inteendeel. Tog wil God dat daar vir die Romeinse owerheid gebid word, hoeveel kwaad dié owerheid die gemeente ook al aangedoen het. Die owerheid kan die gemeente van Christus ten goede of ten kwade wees. Daarom is die gebede vir die owerhede noodsaaklik.
Die Reuk van die Kennis van Christus←⤒🔗
Dit geld plaaslike, provinsiale en sentrale owerhede, parlementslede en die president met sy kabinet. By alle demokratiserende gedagtes moet ons nie ons Bybels loslaat nie. Ons moet ons oefen in die “aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan” (2 Korintiërs 2:15) – om die Bybelse beginsels innerlik en geestelik ons eie te maak. Die optrede van die owerheid het direk te make met die voortgang van die evangelie en die koms van die koninkryk van God in hierdie wêreld. Die owerheid kan evangelie-bevorderend regeer of hulle kan evangelie-blokkerend regeer. Die laasgenoemde owerhede sal eenmaal verantwoording moet doen en tot verantwoording geroep word, net soos dit van alles wat ons doen of nalaat, geld.
Hoe nodig is dit om elke dag opnuut in geloof, hoop en liefde te leef. Hoe onmisbaar is die daaglikse gebed.
Mag die gebed van die kerk in ons land, deur God se verhoring die uitwerking hê dat ons as kerke te midde van die samelewing – maar met ’n eie taak en lewe – ’n stil en rustige lewe kan lei. Nie luilekker nie, maar om ons werk en diens, tot eer van God en die beswil van ons naaste, des te beter te kan verrig.
Ten slotte ’n bemoedigende woord aan almal in diens van die owerheid. U verrig ’n diens, nie net aan mense nie, maar bowenal aan God. Laat dit u opwek en bly maak.