Bron: Die Kerkblad, 1995. 3 bladsye.

Gebede in die erediens

Daar word vertel dat Calvyn meer tyd aan die voorbereiding van erediensgebede spandeer het, as aan die voorbereiding van sy preke ... en by die nagaan van sy preke sien ons hoe deeglik hy sy preke voorberei het. In die ontmoeting van die heilige God met sy diep sondige gemeente sit 'n ontsaglike wonder: die wonder dat God in hulle midde is en regstreeks tot hulle in die Skriflesing en prediking praat, roep aanbidding, gebed op. Daarom is gebede van die Ou-Testamentiese tempeldiens, deur die erediens van die sinagoge en in die Nuwe-Testamentiese tyd 'n onmisbare deel van die erediens van die volk van God. Ons belydenis, die Kategismus, noem die openlike aanroeping van die Naam van die Here as wesentlike deel van die erediens.

Die drie-enige God en ons erediensgebede🔗

Ons hele erediens, veral ook die gebedsdeel daarvan, is alleen moontlik deur die middelaarswerk van ons Here Jesus Christus. Deur Hom het ons toegang tot God en kan ons gebede voor die troon van God gebring word. Omdat die dood en opstanding van Jesus ons in 'n radikaal nuwe verhouding tot God geplaas het, kan ons God nou in die gebede aanspreek met die intieme Naam "Abba", Vader, wat iets van ons innige "Pappa" beteken! God die Heilige Gees kom ons in ons gebedswakheid te hulp as ons nie weet hoe en wat om te bid nie, en Hy bring ons gebede in Goddelike taal voor die Vadertroon. Die groot troos vir die voorganger in die erediens is dat Christus as Middelaar vir ons by God intree en dat die Gees ons gebede heilig om vir God aangenaam en verheerlikend te wees.

Maar die gemeente kan in sy gebede nie anders as om huiwerend en klein te wees nie. Die Drie-enige God wat in die erediens teenwoordig is, wat in die erediens die geweldige krag deur sy Woord uitoefen, bring by ons vrees, ontsag, eerbied. Daarom bid die voorganger, as mond van die gemeente, met huiwering. Maar daar is tog ook vrymoedigheid! Want ons bid in die krag van die Gees. Die Gees gee die gawe van vrymoedigheid wanneer die gemeente daarom vra (Hand. 4:29-31).

Die eerste gebed in die erediens🔗

By die intree in die teenwoordigheid van God is daar blydskap (die lofpsalm), geloofsdurf (die belydenis) en dankbaarheid (die Wet as riglyn vir dankbaarheid). Alles is in afwagting vir die Skriflesing as regstreekse preke van God tot sy gemeente.

Voor die Skriflesing en prediking as Woorddiens, verenig die gemeente in die aanroeping van die Naam van die Here. Hierdie eerste gebed het Calvyn die gebed om die verligting van die Heilige Gees genoem. In hierdie gebed is drie elemente belangrik. Die eerste is die verheerliking of lofprysing van God. Nou nog eers kort en vol huiwering. Daarmee saam gaan die tweede, naamlik die verootmoediging voor die heilige God. Wanneer die gemeente hulle kleinheid voor God bely het, volg dit dat hulle sal bid om die verligting van die Gees vir die verstaan, toe-eiening en uitvoering van die Woord van die Here. Alleen die Heilige Gees kan die verdonkerde verstand verlig en die Woord van God diep in die luisteraars se harte indra.

Die eerste gebed is kort en kragtig, want daar is steeds 'n afwagting, 'n stille ootmoed voor God aan die Woord kom. In die besluite van ons kerke is daar ruimte om tussen die Skriflesing en prediking 'n langer gebed te bid, in plaas van die kort eerste gebed voor die Skriflesing en prediking, wat as eenheid die Woorddiens vorm. Hierteen kan nie besware op grond van die Skrif ingebring word nie. Tog verkies ek die beskeie korter gebed, omdat die Woorddiens die gemeente tot aanbidding, skuldbelydenis, ensovoorts oproep. Die Nuwe-Testamentiese erediens verskil hierin van die ou sinagogale diens dat die erediens in die sinagoge met gebede begin het en op prediking uitgeloop het. Die Nuwe-Testamentiese erediens en die gebruik in die eerste kerk was dat die diens op aanbidding moet uitloop. So is God eerste en as Inisiatiefnemer in die erediens eerste aan die werk en stel sy werk die erediensdeelnemer in staat om tot aanbidding oor te gaan.

Die tweede gebed🔗

Die tweede gebed volg regstreeks op die Woorddiens, die Skriflesing en prediking. God roep deur sy Woord aanroeping van sy Naam op. Die oorgang van prediking na die gebed moet met groot sorg gemaak word, want dit is feitlik altyd dieselfde persoon wat net klaar gepreek het, as mond van God (so sê die Here), wat nou voorgaan in die gebed, as mond van die gemeente. Waar God in die prediking aan die Woord gekom het, kom die gemeente nou aan die woord. En tog is dit dieselfde persoon wat praat, die liturg.

Daarom behoort daar ná die preek 'n oomblik van stilte te wees. Die gewoonte om met die "amen" na die preek sommer op te staan en sommer so gereed te wees vir gebed, is nie ‘n goeie gewoonte nie. ‘n Psalm na die preek kan die oproep tot gebed vanuit die Woorddiens versteur, maar as dit alreeds deel van die gebed is, is daar nie besware nie.

Die tweede gebed is die omvattende gebed wat vyf elemente insluit: lofprysing (aanbidding), skuldbelydenis, danksegging, smeking (waaronder voorbidding) en vasgryping aan die beloftes van die Here. Hierdie vyf elemente hoef nie in waterdigte kompartemente geskei te word en dan een vir een afgehandel te word nie. Die lofprysing is die grootmaking van God vir Wie Hy is, teenoor die danksegging vir wat Hy doen. Die skuldbelydenis kan nie as agterna-gedagte aan die einde van die gebed geplaas word nie. Dit behoort vroeg in die gebed al na vore te kom, omdat ons besef hoe geweldig groot God teenoor ons nietige, moedswillige sondaars is. Die smeking is vir die lewe van die gemeente onderling en in die gemeenskap waar God die gemeente geplaas het, vir owerhede (lands-, provinsiaal, plaaslik, onderwys, kerklik, ens.), vir individuele nood by bepaalde gemeentelede. Die vasgryp aan God se beloftes in die gebed is baie belangrik – byvoorbeeld die belofte dat God sy Gees gee aan elkeen wat daarom bid of vra.

Omdat die tweede gebed die inleiding van die laaste deel van die erediens is (die dankseggingsdeel), behoort danksegging hierin 'n belangrike plek in te neem. Dikwels is die tweede gebed 'n gebed wat net op danksegging toespits en bid die voorganger kort, soms selfs met 'n stem wat deur die prediking uitgeput is. Voorganger en gemeente moet weet dat die reaksie wat die Woord onmiddellik by die luisteraars opwek en wat in 'n kragtige en goed voorbereide gebed weerklink, verder deurwerk na die persoonlike en openbare gebede van lidmate gedurende die week.

Die gebedshouding🔗

Die mees voorkomende gebedshouding in die erediens is dat die manlike lidmate staan en die vroulike lidmate sit onder die gebed. Allerlei redes vir hierdie gebruik is al aangegee. Waar kom dit vandaan? In die eredienste van die vroeë kerk het lidmate meestal die hele diens gestaan, terwyl die "prediker" gesit het. Hierdie gebruik het voortgeduur, hoewel die hele gemeente by tye in die kerkgeskiedenis almal gekniel het vir die gebed. Ná die hervorming is baie van die katedrale deur die Protestante gebruik. Dit was baie koue geboue met min sitplek.

Daarom het die vroue voetstofies saamgebring en het die mans die hele diens deur gestaan. Gedurende die negentiende eeu is hiervan 'n beginsel gemaak: die man is die hoof van die vrou en daarom kan hy voor God staan, terwyl die vrou onder hom voor God in nederigheid moet sit. Maar die man is nie die hoof van elke vrou nie, alleen maar van sy eie vrou.

In die besinning oor die gebedshouding wys Totius daarop dat elke gebedshouding 'n bepaalde gesindheid uitdruk. Die belangrikste is in die eenheid van die gemeente: lidmate moet as een liggaam van Christus in elke handeling dieselfde liggaamlike houding inneem: staan of sit onder die sang, sit by die aanhoor van die Woord, ensovoorts. Dit is dus verkieslik dat lidmate, of hulle nou sit of staan onder die gebed, dieselfde liggaamlike ekspressie sal hê. Prakties kan dit dalk beter wees dat hulle by die korter gebed staan en by die langer gebed almal sit.

Die gemeente is die bidders🔗

Die erediensgebed is altyd die hele gemeente se gebed. Dit is die betekenis van die "amen" na die gebed. Die gemeente eien met hierdie woord die gebed as hulle eie toe, bo en behalwe die feit dat elkeen daarmee die versekering uitspreek dat God die gebed sekerlik sal hoor en volgens sy wil sal verhoor. In die Bybelse tyd is die gebed verder toegeëien deur uitroepe onder die gebed te maak soos "Maranata", "Halleluja", "Amen", "Hosanna". Hiermee is, eie aan die destydse kultuur, bevestig wat gebid is. Ons hoef dit nie vandag met uitroepe te doen nie, veral omdat hierdie uitroepe uiterlike en sektariese betekenis het. Maar die lidmaat wat saambid, kan in sy gedagtes, met eie woord, bevestig en beaam wat gebid word.

Om ten volle aan die erediensgebede deel te kan neem, moet lidmate vrymoedigheid neem om aan die voorganger (gewoonlik die dominee) vooraf te noem waarvoor geloof, gedank, gesmeek en in verootmoediging skuld bely moet word. In die konsistorie behoort daar geleentheid geskep te word om van ouderlinge en diakens te hoor wat in die bepaalde erediens as gebede ook aan die orde kan kom.

Die belangrikste is dat klein en groot saam moet kan bid. Daarom moet die taal van die gebed eenvoudig, nederig en kinderlik wees, sonder om platvloers te word.

Die erediensgebed in die lewe van elke dag🔗

Die gebed in die erediens het ‘n kragtige uitwerking in die lewe van die lidmate van elke dag. God verhoor die gebed en die gebedsdeelnemers moet dit raaksien. Verder is die erediensgebede gebind aan die vooraf-gebede van die lidmate persoonlik en met huisgodsdiens. Tydens hierdie gebede moet vir die gebede van die gemeente gebid word. Ook die natrilling van die erediensgebed sal in die huise en persoonlike gebede van die lidmate neerslag vind. Die gebed, so is gesê, is die asemhaling van die gees van die gelowige.

Daarom behoort die gesamentlike gebed van die gemeente van die Here die gebedslonge van die individuele lidmaat ruimte te gee. Die voorganger het 'n groot verantwoordelikheid, omdat die erediensgebed die lewens van lidmate regstreeks raak en ten goede of ten kwade kan beïnvloed. Maar die gebede van lidmate is net so belangrik vir die openlike aanroeping van die Naam van die Here in die erediens. Want juis deur toegewyde gebede voor, tydens en na die erediens, kan nie die kerkgebou nie, maar die gemeente bestempel word as "'n huis(gesin) van gebed"!