Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Gee Ons Vandag Ons Daaglikse Brood

brood

"Gee ons vandag ons daaglikse brood." Dit is asof hierdie gebed wat die Here vir ons geleer het, in die jongste tyd weer sy trefkrag terugvind. Werkloos, uitgeboer en finansieel geknak het 'n stukkie brood in die kas vir baie van ons mense weer iets kosbaars geraak.

Daar is ook diegene wat nog nie die wurggreep van die ekonomie so ernstig aan eie lyf beleef nie. Van hulle mag dalk die indruk hê dat mense onnodig op loop gaan met die armoede van ons tyd. Die lang toue by sopkombuise, die lywige sakelyste op die tafels van diakonieë, en die onbetaalde rekenings van kerke — ook wat ramings betref! — ruk ons egter tot by die werklikheid.

Ja, ook die kerke voel die armoede aan eie lyf. Hoe dan anders? Die kerk is ʼn vergadering van mense — weliswaar van gelowige mense, maar steeds van mense. Mense wat in werkloosheid en in armoede kan beland. En as die lidmate ly, dan ly die kerk (2 Kor. 1:6). Die finansiële krisis van elke gelowige huisgesin is ook die finansiële krisis van die kerk. Daarom kan met reg gesê word dat die kerke op finansiële gebied beslis aan die verarm is.

Waarom laat God toe dat sy kerk finansieel swaarkry? Ons weet en bely dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet (Rom. 8:28). Maar hoe kan armoede dan vir die kerke ten goede wees?

Armoede 'n Tugtiging en Beproewing🔗

Op grond van die Skrif en belydenis is ons eerste en beste antwoord dat God deur swaarkry, en daarom ook deur finansiële swaarkry, sy kerk tugtig en beproef (Heb. 12:6; Kategismus Son. 10). Reeds in die Ou Testament lees ons dikwels dat God sy volk tot bekering roep juis deur hulle inkomste voor hulle oë te laat wegkwyn (byvoorbeeld Jes. 1:5-7).

Eeue later skryf die apostel Jakobus, wat spesifiek die armoedige gelowiges aanspreek, dat beproewings ons geloof louter, sodat ons sterker in die geloof aan die ander kant uitkom (Jak. 1:2-4). Stoflike armoede leer 'n mens om minder op jouself te vertrou en jou toevlug tot God te neem. Dit laat jou besef hoe afhanklik jy van God is. Dit maak jou arm van gees (vergelyk die 1983-vertaling van Matt. 5:3).

Hieruit is dit duidelik dat armoede vir die kerk werklik ten goede kan wees — op "geestelike" gebied. Maar stoflike beproewing is vir die kerk nie net tot geestelike voordeel nie. Armoede kan vir die kerk baie konkreet ten goede wees.

Die Kerk kan té "Ryk" Wees🔗

Finansiële voorspoed kan maklik ten kwade wees vir die kerk. Dink maar aan die Roomse kerk in die tyd van die Reformasie. Die Roomse kerk het 'n magtige organisasie geword met groot finansiële bronne tot sy beskikking. Om die mense met die kerk se rykdom en mag te beïndruk, moes groter en mooier katedrale gebou word. Terwyl die Roomse "geestelikes" (soos Johan Tetsel) hulle met fondsinsamelings besig gehou het, is die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus verwaarloos en is die waarheid van die Woord geminag! Rykdom het die kerk oppervlakkig gemaak. Van "kerk-wees" was daar feitlik nie meer sprake nie.

Gereformeerde Soberheid🔗

Daarom was dit kenmerkend van die kerke van die reformasie dat daar baie sober met geldsake gewerk is. Baie van ons sal uit ons kleintyd onthou dat die Gereformeerdes gewoonlik in die kleinste en die nederigste kerkgeboutjie op die dorp bymekaargekom het, dikwels niks meer nie as 'n eenvoudige kerksaaltjie! Maar dit was vir ons allermins tot vernedering. Ons het die eenvoud as 'n teken van gereformeerde deug beleef.

eenvoudige kerk

Sedertdien het sake verander. Imposante kerkgeboue het begin verrys, en om by te hou, het baie kerke hulle self diep in die skuld gedompel. En nou het die geldnood wat deur die kerke begin spoel dalk die hand geword wat ons in eie boesem moet steek en vra: Is ons nie besig om die kenmerkende gereformeerde soberheid te verloor nie?

So kan die geldnood in vele opsigte versoberend op die kerke inwerk — op 'n baie konkrete wyse. Dit mag moontlik lei tot kleiner gemeentes wat tevrede is met groter eenvoud in die kerklike lewe, en wat selfs vreugde daarin vind!

  • Mense wat om verkeerde redes na die kerk toe gelok mag word (byvoorbeeld oor die indrukwekkende kerkgebou, oor die opgegaarde kapitaal van die kerk waarin straks gedeel kan word, ensovoorts), sal duidelik die boodskap kry: die kerk het nie geld nie!

  • Instansies wat vir alles en nog wat by die kerke vir geldelike hulp kom aanklop ("want die kerk het mos onbeperkte geldbronne"), sal hopelik ook die boodskap kry: die kraantjie het opgedroog; die kerk het nie geld nie! 

  • Dit is ook nie ondenkbaar nie dat daar diegene is wat lankal nie meer in hulle hart gereformeerd is nie, maar wat ter wille van geldelike voordeel aan die "struktuur" bly vasklou. Ook so 'n bedenklikheid sou by die wortel afgesny word as die boodskap deurkom: die kerk het nie geld nie!

Oor die algemeen mag die geldnood wat oor ons samelewing en oor die kerke spoel dalk tot 'n hernuwing van die gereformeerde waardes lei: dat ons die dinge waarop dit aankom, sal onderskei (Fil. 1:10); dat, wat finansies betref, dit weer vir ons sal gaan oor niks meer nie as instandhouding van die erediens en die uitbreiding van die evangelie; dat ons weer sal leer om vreugde te vind in die eenvoud van die lewe en sal leer om met 'n opregte hart te bid: "Vader, gee ons vandag ons daaglikse brood."