Bron: Kompas. 2 bladsye.

Geen bewussyn van sonde meer?

In ons plaaslike geestelike koerantjie getiteld: Jou Vryspraak (Uitgawe 3.1) verskyn daar ’n artikel onder die tema “Sondebewustheid”. Die (onbekende) skrywer eindig met die keuse aan die Christen: “Kies ons Christus of kies ons sondebewustheid?” Ja, die berig impliseer ondubbelsinnig dat die ware gelowige geen bewustheid van sonde meer moet hê nie. Ek haal dele uit die artikel aan:

Volgens God is die hele probleem van sonde… afgehandel deur Jesus Christus. Die probleem wat egter oorgebly het is die mens se sondebewustheid. Vir die mens is dit moeilik om te verstaan hoe kan die probleem van sonde afgehandel wees as ons nog steeds daagliks sonde doen… ’n mens kan nie sondaar en ’n regverdige wees nie… (Vetdruk PN).1 Kom ons kyk ’n bietjie dieper na die sondebewustheid van die mens. Vanaf Moses tot by die kruisiging van Christus was die tyd van die wet – die wet het die mens oortuig dat hy uit sy eie glad niks kan doen om homself regverdig voor God te kry nie.

In hierdie tyd moes die mens gereeld offers bring om vergifnis te vra – kom ons lees Hebreërs 10:1-2. “Want die wet, wat ’n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie… Anders sou hulle opgehou het om geoffer te word, omdat die wat die diens verrig, nadat hulle een maal gereinig is, geen bewussyn meer van sondes sou gehad het nie” (PN). Het ons reg gelees? As hulle eenmaal gereinig is sou hulle geen bewussyn van die sondes meer gehad het nie? Ruk dit u nie?

Waar kom ons sondebewustheid vandaan? Is dit nie omdat ons nie werklik glo (PN) dat ons een maal deur ’n volmaakte offer volkome gereinig is nie?… Ons moet dus geen bewussyn van sondes meer oor hê nie… Hebreërs 10:22 sê: “laat ons tot God nader met ’n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ’n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water.”2 was dus nie net om ons te reinig van sondes nie maar om ons ook te reinig van ’n skuldige gewete of ’n sondebewustheid.”

Die skrywer stel die toestand van Adam gelyk met die gelowige. Ons kan nou weer net soos Adam kies tussen die sondebewussyn (die boom van kennis van goed en kwaad) of Christus. Die artikel lê ’n wrede druk op die gewete van die opregte. Solank jy nog weet van sonde in jou, “het” jy nog nie werklik Christus in jou lewe nie. Saligheid is weer jou eie probleem want volgens so ’n oortuiging sou die werk van die Heilige Gees in ons harte tevergeefs wees. Solank ek bewus van sonde bly sal ek nooit kan glo nie!

Andersom, ware geloof is om, selfs as jy iets verkeerd doen, nie sleg te voel daaroor of dit enigsins te bely voor God nie. Die gelowige Dawid se sonde moes hom dus nooit gepla het nie en solank dit hom gepla het was hy ongelowig … ongered. Dawid se sonde het hom egter aanvanklik nie eers gepla nie! Was dit ’n teken dat hy glo? En was sy skuldbesef daarna die teken van sy ongeloof? Dit blyk geen verskil te gemaak het nie. Dawid was in die verlore era. Soos die skrywer immers reeds verduidelik het, hy was onder die wet en dus weg van die offer van Christus!

Ek is bevrees die lering is ’n veel swaarder las as wat selfs die ongeredde moet dra. Gelukkig gee die Bybel ons ’n nugtere prent. Dit onderskei tussen ons onvolmaaktheid en die volmaaktheid van Christus. Dit is die volmaaktheid van Christus en sy offer wat ons uiteindelik red en nie die vraag of ons nog bewus van sondes is of nie. Die heilige apostel Johannes sê nie verniet in 1 Johannes 1:8 – 2:1:

“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ’n leuenaar en is sy woord nie in ons nie. My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”3

Paulus roep uit in Rom. 7:20-25:

Maar as ek doen wat ek nie wil nie, dan doen ek dit nie meer nie, maar die sonde wat in my woon. Ek vind dus hierdie wet: as ek die goeie wil doen is die kwaad by my aanwesig. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ’n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!

Twee heilige manne vol van die Heilige Gees en tog volgens ons skrywer… ongelowig? Nee, ons weet dat Paulus en Johannes heel seker was van… nie hulle eie menslike volmaaktheid nie, maar die volmaakte vergifnis van God in Christus. Ja selfs al sondig ek elke dag nog.

Maar wat maak ons dan met die argument uit Hebreërs 10:1-2? Wat Hebreërs baie duidelik sê is juis dat geen mens, ook nie die heilige priester Aäron, gered kon word deur menslike offers nie.

Priester en offer was onvolmaak en met sonde belaai. Met die koms van Christus is dit nou heeltemal anders. Hy is die Priester (Hebreërs 9:11), maar Hy is ook die offer (Hebreërs 9:14)! Hy is die Seun van God. Hy is sonder sonde en sy offer aan die kruis is volmaak (Hebreërs 10:14). Hy gaan nou as Priester in die hemelse tabernakel vir ons in. Daar pleit Hy steeds vir ons (Hebreërs 7:25).

Die gedeelte in Hebreërs 10:1-2 stel Priester teenoor priester. Ons het nog steeds ’n Priester wat vir ons ingaan en deur Wie ons na God gaan. Kyk mooi na vers 2. Die een wat offer sou geen wete meer van sonde hê nie. Dit was alleen die priesters wat geoffer het. Omdat hulle onvolmaak was moes God self die een wat offer en dit wat geoffer word vervang met ’n totaal nuwe volmaakte orde. Jesus’ offer en dit is volmaak. Ons kan sê Hy is sonder bewussyn van sonde. Hy sien geen sonde meer in die gelowige wat voor Hom kom buig nie. Vers 2 gaan immers oor die offeraar en die effek van sy offer op sy eie wete. God vergeef en vergeet nou deur die een offer. In Christus is alle sonde vergewe en daarom kan ons met vrymoedigheid na God gaan (Hebreërs 10:22), maar gaan moet en sal ons steeds! Ons weet immers dat Hy alles weggeneem het.

Dit beteken egter nie dat ons nie meer sonde doen nie. Ook nie dat ons ons moet verbeel dat ons nie meer sondig nie! Ons is immers net so min sondeloos as gewetenloos (1 Timoteus 1:19). Waarom sou Hebreërs immers die gelowiges, aan wie die brief geskryf was, so gedurig herinner aan hulle volmaaktheid in Christus as hulle self geen sondige twyfel daaroor gehad het nie? Ons… ons bly maar begenadigde sondaars, of ten minste… die wat besef hulle het nog sonde. Vir hulle is daar genade op genade.
1,3,4

Endnotes🔗

  1. ^ Die Bybel: Ou Vertaling, (Suid-Afrika: Bybelgenootskap van Suid-Afrika) 1953
  2. ^ Die Bybel: Nuwe Vertaling, (Suid-Afrika: Bybelgenootskap van Suid-Afrika) 1983. 
  3. ^ Die Bybel: Ou Vertaling, (Suid-Afrika: Bybelgenootskap van Suid-Afrika) 1953