7 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler .

Geen Geloof sonder Belydenis van die Kerk

Die kultuur van die een-en-twintigste eeu skep nie ʼn gunstige klimaat vir ernstige handhawing van die kerklike belydenis nie. Die ware individuele keuse van ʼn gelowige het beter papiere, ook as hy vrymoedig oor die belydenis sê: Ek dink anders daaroor.

Die vraag of die kerk kan bestaan sonder belydenis, en of die belydenis kan bestaan sonder kerk, is dus relevant. In hierdie artikel wil ek graag op beide kante van die vraag hartgrondig ‘nee’ sê. Daar sal dan Bybels, histories en vanuit die kerklike praktyk iets meer oor gesê moet word.

God se Woord en ons woorde🔗

Eers ʼn nadere beskrywing van die vrae en begrippe wat aan die orde moet kom.

Wat bedoel ons met ‘belydenis’? En met ‘kerk’?

Dit is vroeër op katkisasie al by my tuisgebring dat die kerk haar belydenis uitspreek wat sy glo op grond van die Woord van God. Die verband tussen die belydenis en die Woord van God is van die eerste belang. Dit gaan hier nie oor willekeurige kerklike uitsprake wat net in ʼn bepaalde historiese situasie betekenis het nie. Dit gaan oor wat vir die kerk fundamenteel is op die snypunt van kerk en Heilige Skrif. Maarten Luther het gesê: ‘Die kerk is uit die Woord van God gebore.’ Dit is presies daar waar ons die belydenis teëkom. Waar daar geloof is, is immers ook die instemming met die inhoud van die geloof aanwesig. En daar is ook die kerk aanwesig.

Natuurlik is daar vrae rondom sulke stellings, veral by die gebruik van die woord kerk. Wat is die kerk? ʼn Gebou, ʼn plaaslike gemeente, of ʼn nasionale of internasionale organisasie? Of is die kerk net die geestelike werklikheid wat nie sigbaar as instituut hoef te bestaan nie, maar onsigbaar tog herkenbaar is waar gelowiges mekaar ontmoet en in ander dieselfde geloof herken? En wat is die kerk wanneer ons baie kerke rondom ons het, met ʼn verskeidenheid van tradisies, oortuigings en vorme van spiritualiteit, en wat almal daarop aanspraak maak dat hulle die kerk van die Here Jesus Christus is?

En wat is die nut van belydenisse as daar ondanks hulle bestaan ʼn verskeidenheid van konfessionele tradisies is? Ons besef dat die woord kerk ook in die meervoud bestaan, en dat ons daarom ook met ʼn meervoud van belydenis te doen het. Die Woord van God staan egter prinsipieel in die enkelvoud. Hoe kan die woorde ‘belydenis’ en ‘kerk’ dan in die meervoud bestaan? Tog is dit die realiteit: ʼn pluraliteit van kerke en ʼn pluriformiteit van belydenisse.

Hierdie artikel kan nie al hierdie soort moeilike vrae bespreek nie, laat staan nog daarop antwoorde gee. Om moet egter welbewus wees van die bestaan daarvan. By die vraag na die fundamentele betekenis van die geloofsbelydenis van die kerk sal die vrae – en moontlike antwoorde daarop – ewewel tog bly klink.

Belydenisse in die Bybel🔗

In literatuur oor die belydenisse van die kerk word deurgaans, tereg, aangevoer dat daar al in die Nuwe Testament belangrike Credo-woorde staan. Die gemeente van die Nuwe Testament het nooit sonder belydenis bestaan nie. Hoewel daar in die kerk in die eerste eeu nog nie ʼn amptelike, tekstueel vasgestelde belydenis bestaan het nie, kom ons tog heelwat belydende uitsprake teë.1

Ou Testament🔗

Ons moet nie vergeet dat in die Ou Testament in die spreke oor God herkenbare konfessionele patrone te vinde is nie. Dit is van belang dat sulke spreke teruggevoer kan word na ʼn duidelike uitspraak van God, wat dan herhaaldelik deur mense oorgeneem is. Hoe belangrik is die Woord van die Here in Eksodus 34:6-7:

“En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.”2

Ons kan hierdie woorde sien as ʼn belydenis van die lankmoedigheid van God waarin terselfdertyd die geheimenis van die voortgang van die wêreldgeskiedenis geopenbaar is. Juis nadat dat die volk van God so vreeslik gesondig het met ʼn selfgemaakte godsbeeld, die goue kalf, en die HERE genoeg rede gehad het om met hierdie volk af te reken (Eksodus 32:10), kom hierdie openbaring wat verwoord wie God is. Ons vind hierdie credo weer in ʼn hele aantal Bybelse verklarings by profete en in die Psalms.3 Dit is van betekenis dat hierdie belydende spreke in die Ou Testament juis die woorde bevat wat eers uit God se eie mond gekom het. Dié besef is ook fundamenteel vir ons begrip van die belydende spreke van die gelowiges en die kerk. Belydenis wil sê: beaming van die Woord van God.

Nuwe Testament🔗

In die Nuwe Testament word dit duidelik dat ʼn Christendom sonder belydenis onmoontlik is.4 Die woord in Romeine 10:9 maak dit voldoende duidelik: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.” En die Here Jesus het gesê:

Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.

Matteus 10:32-33

Verloën (arneomai) is die keersy van bely (homologeoo). Bely staan dan ook in dieselfde spanningsveld as geloof. Wie nie glo nie, kan nie behou word nie. Dieselfde geld van die mens wat nie bely nie.

Wat is die inhoud van belydenis in die Nuwe Testament? Allereers vind ons in Romeine 10:9, 1 Korintiërs 12:3 en Filippense 2:11 belydenis van Jesus Christus as Heer (Kurios). Die doel van die evangelie is, soos Johannes in Johannes 20:31 skryf: “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.”

Die gelowiges gaan staan met hierdie belydenis nie net teenoor die keiserverering nie, maar ook teenoor elke vorm van politeïsme; want, sê 1 Korintiërs 8:6:

daar (is) vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.5

Ons vind veral by Johannes (in 1 Johannes 4:2-3) sterk antitetiese uitsprake oor die belydenis van die geloof as ʼn kenmerk van die Gees van God. “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris...”. Die afwysing van dwaalleer speel hier ʼn groot rol, hetsy dié van Cerinthus hetsy dié van die docetisme6

Bybelwoorde soos 1 Korintiërs 15:3-5 en 1 Timoteus 3:16 en Filippense 2:6-11 vorm óf die weergawe van vasstaande stereotipe belydenisuitsprake óf sodanig opvallende formulerings uit die onderrig van die apostels, dat dit as grondvorm van die Christus-belydenis van die vroeë kerk sou kon funksioneer. In elk geval vorm Christologie die kern van die oud-kerklike belydenis.7 Die manier waarop spesifiek Johannes (in 1 Johannes 2:22-23; 4:1 en 5:6) hierdie belydenis met die Vader en die Heilige Gees in verband bring, verskaf rede om daarin ook van ʼn trinitariese belydenis te praat.

Soms kry die belydende spreke van die Nuwe Testament die vorm van ʼn himne. Die Griekse woord homologeoo kan terselfdertyd die betekenis van lofsang én van belydenis hê. Hebreërs 13:15 laat ons dit sien: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ʼn lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely”.

Die kerk bely🔗

Hierdie kort oriëntering met betrekking tot die daad van belydenis van die geloof soos ons dit in die Woord van God self aantref, leer ons die volgende elemente oor die belydenis van die kerk:

  • Belydenis oriënteer hom allereers op die openbaring van God.
  • Sonder belydenis bestaan daar geen geloof nie en ook geen kerk nie. Belydenis is noodsaaklik!
  • In die belydenis van die kerk word sy één as die een liggaam van Christus; die lede van die kerk kan nie individueel ʼn eie keuse uit die belydenis maak nie.
  • Oor die sentrale artikels van die belydenis kan nie onderhandel word nie.
  • Wie die belydenis van Christus verwerp, verwerp sy eie saligheid en sy plek in die koninkryk van God.
  • In die belydenis van die geloof word die antitese tussen die ryk van Christus en die ryk van die duiwel duidelik.
  • In die belydenis is daar nie ʼn rasionele teorie nie, eerder ʼn vreugdevolle lofsang wat die hart vrolik maak.

Belydenis in die kerkgeskiedenis🔗

Tydens die eerste eeue van die gemeente van Jesus Christus het geloof op ʼn vanselfsprekende manier sy herkenbaarheid gekry in die vorm van bepaalde belydenisse. Dit het die diversiteit getoon van die funksies wat dit bely het.

Die kategetiese funksie van die belydenis🔗

Die opdrag van die gemeente was allereers die opvoeding en vorming van ʼn nuwe geslag kinders en volwassenes wat deur die Woord en die Gees van God in die lig van die evangelie gekom het. Dit was dus die opdrag van kategese. In die kategetiese onderrig van die kerk is die grondwaarhede van die Christelike geloof by die kategete tuisgebring. Só het die belydenis ook die funksie van doopbelydenis gekry, waarmee die dopeling instemming betuig met die geloof van die kerk in ʼn drievoudige ‘ek glo…’. Op die basis kon die doop ook bedien word aan diegene wat nie as kind gedoop is nie.

ʼn Vroeë voorbeeld van so ʼn doopbelydenis is aan ons bekend uit die Kerkorde van Hippolitus (± 215):

Glo u in God, die almagtige Vader?
Glo u in Jesus Christus, die Seun van God,
wat gebore is van die Heilige Gees uit die maagd Maria,             
gekruisig is onder Pontius Pilatus, gesterf het en
begrawe is, op die derde dag lewend uit die dood
opgestaan het, opgevaar het na die hemel, en sit aan die regterhand van
die Vader, en sal terugkom om die dode en de lewendes te oordeel?
Glo u in die Heilige Gees, die heilige kerk en die
opstanding van die vlees?

In die daaropvolgende eeue het die ontwikkeling verder gegaan. In verskillende plaaslike en nasionaal aanvaarde belydenisse het hierdie grondvorm herkenbaar gebly, totdat in ongeveer die sewende eeu die teks van ‘ons’ Apostolicum aanvaar en vasgestel is.8

 Deur die eeue heen het die kategetiese funksie van die belydenis, soos in die gebruik van die Heidelbergse Kategismus, steeds aktueel gebly en is as ʼn belangrike taak van die kerk gesien.

Die anti-heretiese funksie van die belydenis🔗

Reeds in die Nuwe Testament word die noodsaak van nog ʼn tweede funksie van die belydenis duidelik, naamlik die herkenning en afwysing van dwaalleer.

Al vroeg in die kerkgeskiedenis het sinodes en konsilies ook die afwysing van dwalings aan die positiewe leeruitsprake van die kerk toegevoeg; die sogenaamde canones. Die Konsilie van Nicéa, in 325, het nie alleen die belangrike belydenis van die godheid van Christus vasgestel nie, maar ook uitdruklik die dwaalleer van Arius veroordeel. In die Dordtse Leerreëls, uit 1619, wat ook as Canones aangedui is, kan hierdie aspek van die belydenis duidelik herken word.

In Nicéa is van alle teenwoordige biskoppe vereis om die uitspraak van die konsilie te onderteken. Die ondertekening van die belydenis deur ampsdraers is nog steeds ʼn vereiste waarborg van hulle betroubaarheid. Arius en twee van sy aanhangers het geweier. Dit is meteen duidelik hoe die belydenis ʼn belangrike verdedigingslinie teen dwaalleer en dwaalleraars vorm as die belydenis deur die ampsdraers en in die kerklike vergaderings gehandhaaf en verdedig word.

Die apologetiese funksie van die belydenis🔗

Midde in vervolging en verdrukking van die kant van die owerheid en van kragte in die samelewing, het die kerk haar geloof steeds ook met die belydenis na buite kenbaar gemaak. Die kerk is nie ʼn geheime organisasie nie. Haar hele wese met al haar motiewe kan in haar belydenis gevind word. Daarom, byvoorbeeld, is die Nederlandse Geloofsbelydenis voorafgegaan deur ʼn begeleidende brief aan koning Filips II. Om dieselfde rede is die Lutherse Augsburgse Konfessie tydens die Ryksdag van 1530 as ʼn apologie, ʼn verdeging van die geloof na die buitewêreld, voorgelees. Ook vir die vroeë kerk was hierdie openheid na buite ʼn belangrike grondmotief, in lyn met wat die apostel Petrus geskryf het: “...wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is” (1 Petrus 3:15).9

Naas hierdie drie primêre funksies van die belydenis, vergeet ons nie dat belydenisse ook ʼn bepaalde betekenis in die liturgie van die erediens het nie, en dat dit ook vir elke Christen ʼn heel persoonlike bron van kennis en sekerheid van die geloof bevat.

Uit die geheel van die genoemde aspekte van die kerklike belydenis word dit duidelik dat kerk en geloof voortdurend op belydenis aangewese is. Besinning oor die vraag na die noodsaak van belydenisse kan eintlik net in sy doel slaag wanneer ons ons belydenisskrifte met groter belangstelling en biddend lees, en dit dan ook werklik ter harte neem.

Hedendaagse ontwikkelings🔗

Dat die kerk nie kan bestaan sonder Bybels gefundeerde belydenisse nie, is duidelik. Ons sou daarmee die beantwoording van die vraag na die noodsaak van belydenisse in ʼn sekere sin kon afsluit.

Ons moet egter daarmee rekening hou dat ons, wanneer ons oor belydenisse praat, ook met bepaalde nuwe ontwikkelings te doen het. In die geestelike geskiedenis van Europa het – sowel buite as binne die kerk – ʼn ontwikkeling op dreef gekom wat lynreg teenoor die kerklike belydenis staan. Dit kan aangetoon word hoedat in die eeue na die Reformasie die posisie van belydenisse stelselmatig gerelativeer is. ʼn Belangrike faktor daarin was, sedert die agtiende eeu, die invloed van die Verligting. Ek kan dit hier net as feit meld.10ʼn Aktuele en invloedryke voorbeeld van hierdie ontwikkeling is te vinde in die Leuenberger Konkordie uit die twintigste eeu.11

Die agtergrond van hierdie dokument lê in die konkrete situasie van die kerke in Duitsland waarin byvoorbeeld vasgestel is dat in Duitsland die Lutherse en Reformierte kerke, in die jaar 1948 in die EKD (Evangelische Kirche in Deutschland) opgegaan het. Mense was daarvan bewus dat daar sedert die tyd van die Reformasie teenstrydige konfessionele standpunte was wat in die geskiedenis van beide tradisies verdeeldheid teweeggebring het. Die nagmaalsleer, waaroor in die sestiende eeu heftige verwyte heen en weer geslinger is, was rede vir konflik. Dat daar in die twintigste eeu opnuut oor gepraat word, kan net maar verblydend wees.12

Daar was ook internasionale gesprekke waarin die WARC (World Alliance of Reformed Churches) en die LWB (Lutherse Wêreldbond) deelgeneem het. In 1973 word die resultaat te slotte gepubliseer as die Konkordie reformatorischer Kirchen in Europa (LK). Hierdie concordia, of ooreenstemming, handel nie net met die nagmaalsleer nie, maar ook oor die leer van die regverdiging, die leer oor die persoon van Jesus Christus en oor die predestinasie.

Dit is van belang dat hierdie worsteling deurgemaak is ter wille van die eenheid van die kerk. In haar wese is die kerk tog één! Maar hoe soek mens dié eenheid? Ek kan nie op detail ingaan nie, maar die metode wat gebruik is, laat feitelik ʼn relativering van die leer blyk.

ʼn Belangrike deel (LK par. 12) is gewy aan die regverdigingsleer, ‘die maatstaf van alle kerklike verkondiging’. In navolging van Barth word dié leer die middelpunt van die Skrif genoem. Klaarblyklik speel sy Christologiese uitganspunt, waarin alle mense in die werklikheid van die versoening wat deur Christus bewerk is, deel, hierin ʼn rol. Daar word ook nie gepraat oor geloof en ongeloof nie. Die roeping deur God word ook nie opgeneem as ʼn roeping uit ons verlorenheid nie. Die verskil met die Heidelbergse Kategismus is baie groot. Dáár word gepraat van ons verdorwenheid ‘behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word’ HK, antwoord 8). Dat geloof aan ons kant noodsaaklik is om behou te word, word in die LK by verre na nie so duidelik geleer soos byvoorbeeld in die NGB in artikels 22 en 23 nie. Ewe opmerklik is dat die koms van die Seun van God in hierdie wêreld in die LK aangedui word sonder om dit duidelik te maak dat dit gaan oor die sonde en versoening van sondaars. Wat daaroor gesê word, is te min en te vaag. Eenheid word gesoek in die stelling dat ons die historiese noukeurigheid van bepaalde denkvorme maar agter ons kan laat (par. 22). Dit lyk asof eenvoudig aangeneem word dat die denkvorme van die twintigste en een-en-twintigste eeu nie histories bepaal is nie. Sou die invloedryke modelle van die evolusionisme (Hendrikus Berkhof) of van ʼn ideologie van die geskiedenis (Wolfhart Pannenberg) ons nader aan die Christus van die Skrifte bring as die ‘modelle’ van die Reformasie? In die eeu van die Reformasie is daar soms gestry oor die verstaan van die Woord van God. Nou is die relevansie van die Heilige Skrif self oop vir diskussie. Lewer dit ʼn ‘denkvorm’ op wat die kerk op ʼn beter pad help?

Dieselfde relativering kom voor in die paragrawe in die Konkordie wat oor die predestinasie gaan (par. 24-26). Die rigting wat die ooreenstemming inslaan, is klaarblyklik dié van die latere Lutherse teoloë wat op dieselfde opvatting uitgekom het as die Arminiane. Die belydenis van die verkiesing van God word gereduseer tot ʼn algemene heilswil van God, terwyl die beslissing oor die individuele saligheid sonder uitsondering ons eie menslike beslissing is. Dit is glashelder dat deur sulke formulerings van die kerklike leer, die betekenis van onder meer die Dordtse Leerreëls en ook van artikel 16 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en ook van die Westminster Konfessie en die Groter Kategismus van Westminster uitgeskakel word.

ʼn Dergelike reduksie van die belydenis is tendens én vrug van die hoofstroom van die huidige teologie en van die beleid van die groter kerke en instellings in die wêreld. Dat die LK ook ʼn plek in die Kerkorde van die Protestantse Kerk in Nederland gekry het – weliswaar enigsins apart van die oorblywende belydenisse – is eintlik ʼn onmoontlikheid.

Vas en trou🔗

Getrouheid aan die kerklike belydenis en die handhawing daarvan het, internasionaal beskou, ʼn saak van minderhede geword. Ons sal dit moet erken. Wanneer ons met oortuiging ons verbondenheid aan die belydenis van die Reformasie uitspreek, wen ons nie populêre pryse daarmee nie. Daar is diep ingrypende konflik rondom die konfessionele identiteit van die kerk in die wêreld.

Daarom moet ons juis nou die noodsaak van persoonlike en gemeenskaplike vashou aan die geloofsbelydenis van die kerk, helder en met oortuiging uitspreek.

Waarom? Omdat die Woord van God, wat ons ontvang het as beslissende norm van die waarheid, daaragter staan. Dit hoef nie uitgelê te word nie. Dit kan net onderstreep word met wat Paulus in Efesiërs 6 sê waar hy die wapenrusting wat ʼn Christen van God ontvang, beskryf. Die eerste, en daarom onmisbare deel van die wapenrusting is die gordel. Voordat daar oor die borsharnas, die swaard of die skild gepraat word, skryf die apostel: “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord... “ (Efesiërs 6:14a).

As ons besef welke betekenis die gordel vir ʼn Romeinse soldaat met sy swaar wapenrusting gehad het – soos wat Paulus dit in sy gevangeskap gereeld moes sien – dan weet ons hoe belangrik die gordel was. Voordat hy kon loop, moes die tuniek stewig met die gordel vasgeryg word, anders sou die soldaat al loop en struikel en strompel nog voordat ʼn swaard getrek of ʼn skild opgehou is. Die tuniek moes nie in die pad kom in die stryd nie.13

Dieselfde beeld van die gordel vind ons al in die Ou Testament by die uittog uit Egipte. Wanneer die Pasga geëet word, was dit met dié opdrag: “En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet” (Eksodus 12:11vv.; vgl. ook Lukas 12:35). Die volk van God moet hulle gereed hou vir onmiddellike aksie. Dit beteken: as die waarheid die gordel is, moet die gordel aan sy doel beantwoord, dit moet dus styf genoeg om die heupe vasgegespe wees. As alles loshang, kom ons nie aan die gang nie! Waarheid wat nie deeglik om die heupe van die kerk vas is nie, het die gevolg dat die kerk haar tyd verspeel. Die vryheid van die kerk is daarvan afhanklik dat die waarheid wat ons wil bely, stewig vas sal wees.

Hoe belangrik is die belydenis van die kerk nie! Hoe noodsaaklik is die handhawing daarvan! Die kerk lewe van die vryheid wat aan haar gegee is in die ruimte wat die evangelie vir ons skenk. Om ons Hoof, ons Koning Jesus Christus, te volg op die reis deur die tyd en deur die wêreld tot sy terugkoms, is afhanklik daarvan dat ons getrou en in geloof aan sy waarheid vas sal wees. Dit is die ware vryheid van die kerk van Christus.

Endnotes🔗

  1. ^ ‘… the early church was from the start a believing, confessing, preaching Church’, J.N.D. Kelly, Early Christian Creeds, Harlow, Longman, 1972, p. 7v. Vgl. Ook L. Doekes, Credo. Handboek voor de gereformeerde symboliek, Amsterdam, Bolland, 1979, pp. 7-12.
  2. ^ Lees ook Numeri 14:18
  3. ^ Sien o.a. Psalm 86:5,15; 103:8-11; 145:8-9; Nehemia 9:17; Joël 2:13. Mens kan op nog vele variasies en eggo’s van hierdie woorde in die OT wys. Sien oor die konfessionele betekenis van hierdie Ou Testamentiese woorde H.G.L. Peels, Traag tot toorn. Een onderbelicht aspect van het oudtestamentische godsbeeld (Apeldoornse Studies 58), Apeldoorn, TUA, 2011, p.19v. 
  4. ^ Sien o.a. O. Cullman, Die ersten christlichen Glaubensbekenntnisse, Zürich, Evangelischer Verlag, 1943, 35f.
  5. ^ Vgl. ook 1 Timoteus 2:5-6.
  6. ^ .Cerinthus was ʼn verteenwoordiger van die vroeë gnostisisme in Klein Asië. Hy het geleer dat Jesus ʼn natuurlike seun van Josef en Maria was. By sy doop sou ʼn hoëre Christus van God op Hom neergedaal het, wat hom egter in sy lyde weer van Hom losgemaak het. Die docetisme is die dwaling dat die Seun van God net skynbaar in die vlees gekom het. Die heilsbetekenis van die geboorte van Jesus en van sy lyde en sterwe, en ook van sy opstanding en hemelvaart is gevolglik ook maar net skyn.
  7. ^ Cullman a.w., 35v. 
  8. ^ Oor die wordingsgeskiedenis van hierdie Twaalf Artikels gee Kelly, Early Christian Creeds, p. 368-434, omvattende inligting.
  9. ^ Vgl. ook Hebreërs 13:17.
  10. ^ In R. Frieling, E. Geldbach en R. Thöle, Konfessionskunde. Orientierung im Zeichen der Ökumene, Stuttgart, Kohlhammer, p. 13-32, word hierdie ontwikkeling, soos dit deur die Verligting aan die gang gesit is, aan die hand van die feite aangetoon. 
  11. ^ Die teks van die Leuenberg Konkordie is o.a. in: U. Aschendorf enF.W. Künneth, Leuenberg-Konkordie oder Diskonkordie? Ökumenische Kritik zur Konkordie reformatorischer Kirchen in Europa, Berlin, Verlag Die Spur, 1974, p. 355-366.
  12. ^ Vir die geskiedenis van hierdie ekumeniese gesprekke, sien R. Slencka, ‘Die Grundlagen der Evangelischen Kirche in Deutschland. Dogmatische Bedenken zum Emtwurf einer Grundordnung für die Evangelische Kirche in Deutschland’, in Kerugma und Dogma 18 (1972), p. 325-364; W.J. Kooiman, ‘Het gesprek over Avondmaalsgemeenschap tussen Lutherse en Calvinistische Kerken’, in C.W. Mönnich en G.C. van Níftrik (Hg.), Hervormd-Luthers gesprek over het Avondmaal, Nijkerk, Callenbach, 1958, p. 212-231; W.L. Boelens, Die Arnoldsheiner Abendmahlsthesen. Die Suche nach einem Abendmahlskonsens in der Evangelische Kirchen in Deutschland 1947-1957 und eine Würdigung aus katholischer Sicht, Assen, Van Gorcum, 1964. 
  13. ^ Die strokiesprente van Asterix  en Obelix skilder ʼn uitstekende historiese en waarheidsgetroue prentjie van die Romeinse wapenrusting!