Bron: De Wekker. 2 bladsye.

Gees, Woord en Kerk

Beskuldiging🔗

Daar word deur groepe rondom die kerk soms met ’n beskuldigende vinger na die kerk(e) gewys. Daar is selfs diegene wat sê die kerk moet nie daar wees nie. Alles is daar doods. Jy tref slegs kilheid daar aan. Die mense is nie vuur en vlam nie. Slegs ou en ver­ouderde standpunte word herhaal en andersyds moet jy konstateer dat God se Woord losgelaat en eindeloos genu­anseer word, sodat jy tenslotte geen waarheid meer oorhou en dat normes en waardes vervaag, deurdat die kerk nie meer haar plek verstaan nie. By die kerk moet jy nie wees nie: op en­kele gunstige uitsonderings na kan jy die kerk afskryf. Want waar kry jy weergebore Christene wat vervul is met die Heilige Gees?

Moet jy daarvoor in die kerk wees? ’n Mens kan “beter” gemeentes aan­wys, waar ’n mens dit kry, waar daar entoesiasme is en ware blydskap, waar mense vol is van die Heilige Gees. Vry en bly hoor jy hulle getuig van wat God gedoen het en vandag nog doen. Is daar nie baie van hulle, wat met die Gees gedoop is en daarom die tekens daarvan dra, ondermeer in die spreek in tale en profeteer?

Meermale gebeur dit dat daar nie net beskuldigings teen die kerk gemaak word nie, maar dat daar ook neerge­sien word op Christene, wat daarin bly en só onmoontlik vervul kan word met die Heilige Gees. Nie almal in die kringe neem hierdie houding in nie. Daar is die wat met ’n sekere ontfer­ming na die kerke kyk en vanuit ’n sterk bewoënheid ook nog bid vir die kerke, dat daar ’n oplewing sal plaas - vind. Die mense verlang na ’n nuwe lewe en na ’n vernuwing.

Verootmoediging🔗

Verootmoediging pas by die kerk. Ons kan die woord wel in die mond neem, sonder dat ons daadwerklik met ootmoed beklee is. Want vir die ver­ootmoediging is meer nodig. Daarvoor het ons die werk van die Heilige Gees beslis nodig. Wat ons van ons “hoog­heid” en ons trots bevry en ons nederig maak voor God. Dan het jy ook nie meer soveel meer te sê oor ander kerke en groepe nie, want wie is jyself!

Ons kan in die kerk die Heilige Gees teëwerk en selfs teëstaan. Ons kan die Heilige Gees bedroef en smart aan­doen. Dit is erg as ons die Heilige Gees uitblus. Teen al hierdie werklikhede word ons in God se Woord gewaarsku. Want die Here gaan nie op elke pad van ons met ons saam nie. Ons kan die sonde in ons eie lewe en in die van die kerke “toelaat” en dink dat ons met kompromieë kan leef: vir God iets en vir die wêreld iets. Maar die gevolg is dat die Heilige Gees Hom terugtrek van sy werking. Wanneer ons nie erns maak met die Heilige Gees en sy werk nie, moet ons nie verbaas wees dat die geestelike lewe kwyn en daar dorheid en doodsheid ontstaan nie. Ons geniet dan nie (meer) die vertroostinge van die Heilige Gees nie, want die Gees gaan nie met die vlees mee nie. As ons nie naby die Here lewe nie, wanneer ons nie trou is aan sy Woord nie kan ons met geestelike louheid getref word. Vandaar dat bekering so nodig is, ook in kerke.

Op die Pinksterfees klink dit onom­wonde: bekeer u. By die verootmoedi­ging, wat ons in Jerusalem aantref, ontdek ons meteens ’n sterk groei en bloei van die kerk: duisende word toe­gevoeg tot die gemeente wat salig word.

Belofte🔗

By die afskeid het die Koning van die kerk aan sy dissipels beloof: Ek is met julle al die dae. Hierdie belofte geld vir die hele kerk, van alle tye. Daarvoor staan die Here in. En net so geld dit vir die Hemelvaart van Chris­tus. Sy belofte bly geld: volgens My genade en deur die stuur van My Gees wyk ek nie van u nie. Die Heilige Gees word uitgestort op die Pinksterfees. Die Gees werk voort, wêreldwyd. Hy laat mense weergebore word, Hy bring mense tot bekering en geloof en Hy sorg vir ’n totale vernuwing in die lewe van Christene. Hy neem dit uit Chris­tus en verkondig dit aan hulle.

Ons mag praat van die onweerstaan­bare werk van die Heilige Gees juis in en deur die kerk. Ons kan dit nie ge­noeg beklemtoon nie. Maar daar is ’n ander kant daarvan, naamlik dat die kerk ook by God se Woord bly en dit bewaar. God se beloftes word heerlik vervul, maar wel langs die weg van bid om die vervulling van hierdie belofte, ook in die voortdurende smeek daarom, soos ons dit aantref by die eerste Chris­ten-gemeente voor die Pinksterdag. Die Heilige Gees belowe om in ons te woon en te werk, maar nie sonder die vermaning: hoor wat die Gees aan die gemeente(s) sê nie. Die Woord van die Gees word verkondig, ook op die komende Pinksterfees. Die Gees werk deur en met en onder die Woord. Nie outomaties nie. Hy skakel die luister na en die onderworpe wees aan sy Woord daarby in. Daarom word met alle nadruk gesê: Salig is hulle wat die Woord van God, die Woord van die Heilige Gees, hoor èn bewaar. Dan is jy salig.