Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Geloof en Sekerheid

Is geloof maar net geloof? Sy het my ietwat hulpeloos aangekyk. En sy sê: “Ek beskou myself regtig as ‘n gelowige. Maar soms voel ek myself heel ongelowig en twyfel ek aan alles.” Ek het opgemerk dat sy moeite daarmee gehad het om haarself hieroor uit te spreek. Rooi vlekke in haar nek. Maar tog het sy verder gegaan: “Weet u, geloof is tog maar net geloof nê? ‘n Mens weet nooit heeltemal seker nie. Jou verstand heeltemal uitskakel. ‘n Blinde vertroue hê. Maar ja”, sug sy terwyl sy haar skouers optrek, “dit het ‘n mens nie altyd nie. En as ander mense dan praat oor die opbou van ‘n persoonlike verhouding met God, dan raak ek sommer heeltemaal verskrik”.

Hierdie kort verslag van ‘n lang gesprek met sr. N.N. bring ons by die vraag: Wat is dit om te glo? Om te staan op die rots? Of is dit om te loop op ‘n ysvloer? Is geloof maar net geloof? Jy moet maar wag of jou verwagting vervul sal word?

In allerlei verbande kom die verskynsel van twyfel ter sprake. Jy kan begin twyfel as jy by ander Christene hoor dat hulle ‘n sekere ervaring in hul lewe gehad het, waardeur hulle op ‘n skokkende manier te wete gekom het: Ek is ‘n ware gelowige. “Ek het nie so ‘n ervaring gehad nie. Is ek dan wel op die regte spoor?” Maar daar is ook ander oorsake vir die toenemende aandag vir die verskynsel van twyfel.

Ons dink byvoorbeeld aan wat iemand soos H.M. Kuitert hieroor sê. Hy kom in sy boek Het algemeen betwijfeld christelijk geloof (in Afrikaans: ‘Die algemene betwyfelde Christelike geloof’) nie slegs tot ‘n nuwe visie oor die inhoud van die geloof nie, maar ook tot ‘n nuwe benadering van die geloof self. Om te glo is ‘n haglike avontuur, sê hy. Dit is om aan ‘n draadjie te hang. Jy moet maar hoop dat dit alles is soos wat jy gedink het dit is. Maar dit is en bly haglik as dit oor geloof gaan. Die gereformeerde vrou wat ek nou-net aan die woord gestel het, het in feite net so daaroor gedink, al het sy miskien geen benul daarvan gehad dat sy Kuitert se gedagtegang gevolg het nie.

Naas bogenoemde merk ‘n mens die skade op wat deur die Godlose denk en –leefklimaat waarin ons leef, veroorsaak word. Mense soos ons, gegryp deur Jesus Christus, kan dikwels moeilik loskom van die greep van wat samevattend aangedui word as “die sekularisasie”. Die woord ‘godsverduistering’ kom al gou in hierdie verband te pas. Die vanselfsprekendheid waarmee ons omringende kultuur God ignoreer, kan jou laat twyfel.

Vastheid Besit🔗

Daarom is dit goed om vandag opnuut die vraag te vra: wat is dit om te glo? Om te glo het in die daaglikse taal geword: nie seker weet nie. Miskien het u al ‘n keer so half onseker op ‘n vraag gereageer: “Ek glo so”, en toe die antwoord gekry: “In die kerk kan jy glo, maar hier moet jy seker weet”.

Maar hoe bemoedigend is dit om te konstateer dat, in Bybelse taalgebruik, geloof nie ’n vermoede of onseker hoop is nie. Die kern van geloof is in wese toevertrouende sekerheid. Nie dat daar geen vrae, aanvegtinge of twyfel kan wees nie. Maar die aard van die geloof is en bly: sekerheid. Dink aan die drie byvoeglike naamwoorde van Sondag 7: dit is ‘n gewisse kennis, ‘n vaste vertroue, ‘n ontwyfelbare geloof. Die Hebreeuse woord vir glo het te make met vastheid wat jy buite jouself het en beteken: amen sê. Geloof? Dit is om met jou hart en siel amen te sê. En dit nie in ‘n neutrale erkenning ‘dat dit waar is’ nie. Glo in God is tegelyk God liefhê. Dit is Jesus Christus omhels.

Dit kan wel waar wees, sê iemand, maar vanwaar hierdie sekerheid? Daar is soveel godsdienste in die wêreld. Waarom sou die Bybel die enigste boek wees waarin God spreek? In die Koran staan ook diep dinge…

In antwoord op dié vraag drie dinge.

In die eerste plek: die bron van geloof is God se Gees. As gevolg van evangeliese invloede begin die klem dikwels val op die menslike keuse, die menslike kant van geloof. Dit bring twyfel. Dan gaan dit al baie gou oor jou eie persoonlike verhouding met God, en dan gaan dit veel te min oor God se verhouding met jou! God het ‘n sterk band met u, met jou. Dit het by Hom begin en dit begin telkens weer opnuut by Hom. Geloof is nie in die eerste plek ‘n menslike keuse nie, maar gawe van God, geskenk van God se Gees. Ek omhels Christus, omdat Hy my gegryp het. En selfs daardie een ding wat ek moet doen, glo, kan ek nie uit eie krag doen nie. As geloof slegs was: my keuse, my werk aan ‘n persoonlike verhouding met God, dan was dit al gou verby. Maar geloof is nie slegs werk van mense nie – dan bly die onsekerheid – geloof is ‘n Goddelike werk en daarom Goddelik sterk. Daarom is Christelike geloof opgewasse teen alle moontlike aanvalle van die teenstander, ook teen die pyle van die twyfel.

Vervolgens: die bron van geloof is God se Gees, die basis van geloof is God se Woord. Mense het die Bybel al vergelyk met ‘n lappieskombers. Mense het die Bybel al probeer gelyk stel met die Koran. Maar op die punt waarop dit in werklikheid aankom, moet ons nadruklik daarop wys dat God se Woord nie ‘n lappieskombers is nie, maar ‘n boek van belofte en vervulling. Die stelling (van Kuitert): ‘dit moet alles nog maar blyk waar te wees’ het nie erns gemaak met die feit dat die Here al ontelbaar kere laat sien het dat Hy sy beloftes nakom. Die Bybel: boek van magtige beloftes, maar ook boek van vervulde beloftes! Geloof is nie maar net geloof, ‘n sprong in die duister nie. Nie verstand op nul nie. Nie blinde vertrou nie. Ek wéét aan Wie ek my toevertrou: aan die God wat bewys het dat Hy geloofwaardig is. Die God van Ou en Nuwe Testament, wat sy beloftes vervul het in Jesus Christus. Lê maar al die religieuse boeke van die hele wêreld naas dit. Nêrens vind u so ‘n boek nie, waaraan soveel verskillende outeurs uit soveel verskillende tye aan meegewerk het, en tog is dit één Boek waarin die één stem van die Vader klink. Die sekerheid van die geloof het haar eie bewys. Ons lees oor Apollos dat hy in die openbaar uit die Skrifte ‘bewys het’ dat Jesus die Christus is (Handelinge 18:28).

In die derde plek: ook die inhoud van die Christelike geloof beteken sekerheid. Geloof rig haarself voor alles op Jesus Christus. Die Rooms-Katolieke Kerk laat die heil nie alleen van God se genade afhang nie, maar ook van die menslike prestasie. Van goeie werke. Die mens kan daarom nooit egte rus vind nie. Altyd bly die vraag: het jy genoeg verdienste? Die reformatore, met name Luther en Calvyn, het die sekerheid van die geloof weer onder die stof uitgehaal. Hulle het alle nadruk gelê op die kruis van Christus as die enige grond van ons heil. Dan staan jy op vaste grond. Die kruis sê: die afwagting is nie op ‘n onsekere afloop nie, dit is volbring, klaar. Dit is by die prys ingesluit dat Christus u nie oorlaat aan die twyfel nie, maar u van die ewige lewe verseker deur sy Gees en Woord.

Twyfel🔗

Bron, basis, inhoud van die Christelike geloof maak duidelik dat twyfel sonde is, waardeur ons God se Gees bedroef. Maar daar is twyfel en twyfel. Die Nuwe Testament gebruik verskillende woorde. Ek pleit daarvoor dat ons hierin sorgvuldig sal onderskei.

In Jakobus 1 staan die uitspraak dat wie twyfel by sy/haar gebed, nie daarop moet reken om iets van die Here te ontvang nie. Jy is dan innerlik verdeeld en lyk soos die golwe van die see wat deur die wind heen en weer geslinger word. Baie mense, wat deur kleingeloof lastig geval is, het dié woorde op hulself toegepas. Jy kan hier, deur ‘n verkeerde uitleg, selfs wanhopig raak. “Sien jy nou: bid help tog nie vir my nie, want ek twyfel so baie.” Vir sulke mense sê ons: gaan met jou vrae nou juis wel na die Here, bid tot Hom dat Hy jou daar deur help. Want dit gaan in Jakobus 1 nie oor die smeulende kerspit wat graag sterker wil brand nie. Jy hoef nie ‘n volmaakte geloof te hê om te kan bid en om seker te wees van verhoring nie! Dit gaan daar oor iemand wat ‘ongestadig is in sy/haar hele gedrag’, dus stuurloos, altyd maar wankelend op twee gedagtes. Jakobus praat van mense wat verkleef is aan die hartstogte van hierdie wêreld en tegelyk ook tot God bid, om self daardeur voordeel te trek (Jakobus 4:3, Judas 13).

Dat die Here wel luister na mense wat nog maar ‘n swak geloof het, blyk uit die voorbeeld van Petrus. Hy glo, maar dit is nog onvolkome. Christus roep: “Kom!” Jy gaan, lopend oor die water. Maar of jy wil of nie, jy word onseker, bang as jy kyk na die hoë golwe. Vir iemand, wat nie soos ‘n heen-en-weer gejaagde golf is nie (Jakobus 1:6), maar wat oor die water loop tussen die golwe (Mattheus 14:30) en dan twyfel, sê Christus nie: “Red jouself” nie. Petrus, terwyl hy doodsbenoud na die hoë golwe om hom heenkyk, begin te sink en skreeu: “Here, red my!”. En sy gebed word wel deeglik verhoor. Christus neem hom aan boord.

Daar is twyfel en twyfel. ‘n Voorbeeld. In die pers het ek ‘n voorbeeld teengekom: “Wie twyfel aan die gesag van die Skrif en die belydenis, moet sy studie as predikant direk staak.” Dit is waar dat jy twyfel by studente nie net kan laat lê en maar wag of dit tydens die eksamen of voor die klassis ter sprake kom nie. Maar by twyfel direk die studie staak? Ek soek liewer ‘n man op die preekstoel wat deur die dal van die twyfel gegaan het en gelouterd daaruit te voorskyn gekom het, as iemand wat nog nooit iets daarvan gevoel het nie. Ek wil dui op die onderskeid tussen iemand wat struikel in sonde en iemand wat daarin lewe, daarin bly lê. Dit gaan daaroor of jy (student of nie student) aan die einde van die dag jou skuld bely, ook die skuld van gebrek aan geloof, of dat jy dit goedpraat en twyfel inherent verklaar as deel van geloof.

Dit is waar: ons voel en ervaar die verborge krag van die Heilige Gees nie altyd so sterk in ons nie. Maar die vraag is nie: wat voel jy van die Heilige Gees nie. Die vraag is: wat glo jy van die Heilige Gees. Op my gevoel kan ek nie bou nie. Op die Woord van God wel. My idees, my geloofservaring en my spiritualiteit gee geen vastheid nie, maar God se vaste beloftes des te meer! Daarom is dit so troosvol dat Woord en Gees nie geskei kan word nie. Anders sou jy altyd die vraag moes stel: sou God se Gees wel in my woon? Maar omdat God dit vir u voorsê, mag u op sy gesag nasê, beaam, wat u anders nooit sou durf glo nie. U mag dit nasê, hierdie groot, byna ongelooflike feit: dat God Hom aan my gegee het en in my woon.

Ek eindig hierdie keer nie met die bekende ‘amen’ nie. Veel belangriker is dat u ‘amen’ sê!