Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

Geloofsbeproewing

Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word.

Hebreërs 11:17-18

Abraham offer Isak

In die huis van Abraham en Sara was die vreugde groot toe hulle seun Isak gebore is. Isak beteken "gelag" (Genesis 17:19). Dié gelag is nie meer die ongelowige spotlag van die verlede, waarmee Abraham en Sara aanvanklik na die Here se beloftes geluister het nie. Hierdie lag is 'n uitbundige jubeling omdat die Here gesorg het dat die onvrugbare geboorte geskenk het (Jesaja 54:1, Galasiërs 4:27). Na alles wat Abraham en Sara die afgelope jare deurgemaak het, is die blydskap soet.

Maar dan verskyn die HERE enkele jare later weer aan Abraham. 'n Nuwe opdrag word gegee: Abraham, neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak. Gaan na die land Moria en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys. Staan Isak aan My af. Gee hom vir My terug.

'n Onbegryplike opdrag. Dit is nog moontlik om op 75-jarige leeftyd in gehoorsaamheid alles agter te laat wat vir jou bekend en dierbaar is en na 'n onbekende bestemming toe te trek. Dit is ook nog moontlik om in die land van belofte as vreemdeling en bywoner te gaan vertoef. Dit word al moeilik om te glo dat 'n mens op 99-jarige leeftyd nog 'n kind van die Here gaan ontvang, te meer as jou vrou haar lewe lank onvrugbaar was. Dit is wonderlik om uiteindelik tóg 'n kind van die Here te ontvang. Maar hoe is dit menslik moontlik om dié kind, die enigste een, die een wat jy met jou hele wese liefhet, aan die dood af te staan? En wátter dood? Die kind word nie deur siekte of 'n ongeluk van jou af weggevat nie. Jy moet die kind self doodmaak. Inderdaad, menslik gesproke is dit 'n onbegryplike opdrag. Hoe kan 'n ouer so-iets doen?

Die onbegryplike opdrag word nog moeiliker as ons in ag neem wat die Hebreërskrywer in verband daarmee opmerk. Isak is nie net Abraham se enigste kind nie. Hy is die kind van die belofte. Die Here het vir Abraham belowe: "in Isak sal jou nageslag genoem word". Uit Isak is daar redding — nie net vir Abraham nie, maar ook vir Sara, vir alle mense op aarde. Uit Isak gaan die Verlosser, Jesus Christus die Here, gebore word. En nou eis die Here dat Abraham juis daardie kind moet offer. Hoe kán dit? Wat van die Here se beloftes? As Isak dood is, hoe gaan die Here Jesus gebore word? Hoe gaan daar redding van sonde kom?

Hierdie opdrag krap alles deurmekaar wat mooi agtermekaar in plek begin val het as hierdie opdrag uitgevoer word, maak niks meer sin nie. Inteendeel, die sinloosheid gaan groter wees as ooit tevore.

Hoekom doen die Here dit? Wat wil Hy hiermee bereik? Ons vind die antwoord op hierdie vraag sowel in Hebreërs 11 as in Genesis 22. Die Here stel Abraham op die proef. Die Here wil sien of Abraham onder alle omstandighede onvoorwaardelik aan Hom gaan bly vashou. Die volharding in die geloof word getoets, grondig getoets. Wat gaan Abraham doen as die meeste, dit wat die naaste aan hom lê, van hom gevra word?

Oor sulke beproewing kan 'n mens talle vrae stel. Is die Here dan nie alwetend nie? Kan Hy in sy alwetendheid nie die krag van sy kinders se geloof deurgrond nie? Is dit vir Hom dan nog nodig om sy kinders op die proef te stel — en dan boonop op so 'n manier? En verder: staan daar nie geskrywe dat God nooit iemand versoek nie en deur niemand versoek kan word nie (Jakobus 1:13)? Hoe rym dit met dit wat die Here van Abraham verwag?

Hoe rym dit met die beproewings wat die Hebreër-gemeente moet deurmaak — die geloofsvervolging, die finansiële druk wat daarmee gepaard gaan, die ellendes wat jy moet verduur omdat jy Christus van harte liefhet? En wat van óns beproewings? Dit lyk soms asof daar geen einde kom aan alles wat skeefloop nie. Die een ding na die ander tref 'n mens. Jy word gesif en nogmaals gesif. Dit wil selfs voorkom asof gelowiges dikwels baie swaarder kry as ongelowiges (Psalm 73:4).

gesif

Vrae, raaiselagtige vrae, ingewikkelde vrae, moeilike vrae. Vrae waarop ons antwoorde soek. In geloof antwoorde soek. Ons weet dat ons geen antwoorde kry vir alle hoekoms en waaroms nie. Die Pottebakker is geen antwoord aan die klei verskuldig nie (Romeine 9:20). Maar dit neem nie weg dat ons perspektief in ons geloofslewe nodig het nie. Ons mag die Here tog vir helderheid van verstand en insig vra as Hy ons beproef?

Die helderheid kry ons as ons luister wat die Here self oor die beproewing van sy kinders sê. Want wat doen die Here as Hy sy kinders toets? Dryf Hy ons tot die uiterste om te kyk wanneer ons breek? Sal 'n vader dit aan sy kind doen? Tog nie. Dit is duiwels, dit is nie wat die hemelse Vader met ons doen nie. Die Here beproef ons nie bo ons vermoë nie. Hy laat ook nie toe dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Korintiërs 10:13). Deur beproewing dryf die Vader ons nie van Hom af weg nie, maar trek Hy ons met mag nader. En die belangrikste van beproewing: die Vader is met sy eie werk in sy kind besig. Abraham se geloof is nie iets wat Abraham aan homself te danke het nie. Die Here werk dit in hom en versterk dit in hom. Die oomblik as Abraham se geloof dus op die proef gestel word, is die Here besig om die geloof in Abraham te laat groei. Die Here werk deur beproewing lydsaamheid, volharding, groei in geloofsvertroue en geloofskrag. Dan breek die Here nie af nie, maar Hy bou op. Hy vernietig nie sy kind nie, maar skuur en skaaf en vorm — op 'n manier wat ons verstand ver te bowe gaan. Wie kan die Here ten volle hierin volg?

Die implikasie hiervan vir al God se kinders is ingrypend. Menslik neig 'n mens om teen beproewing vas te kyk. Veral as die een slag na die ander jou tref word die hoekom-vrae baie. Alles raak deurmekaar, niks maak meer sin nie. In sulke omstandighede is dit wesenlik om in geloof raak te sien waarmee die Here in jou lewe besig is. Dan mag en moet ons in geloof bely, die Here laat die werke wat Hy in die lewe van sy kinders doen, nie vaar nie. Inteendeel, Hy gaan daarmee voort. Hy loop die pad saam met ons. Dit is vir ons om deur die krag van sy Gees die pad saam met Hom te loop.

Hoop, Isr'el, in jou klagte;
vertrou, o volk, wat treur;
sy guns verduur die nagte,
sy heil breek eind'lik deur.
Dan skyn 'n soete vrede:
gans Israel word vry
van ongeregtighede.
HEER, doen ook so aan my!
Psalm 130:4 (berym)