Bron: De Wekker. 3 bladsye. Vertaal deur Alet du Plessis.

Geloofsgroei

boompie

Spiritualiteit. Kortliks beteken dit dat daar na wedergeboorte en die eerste bekering lewe is vir iemand wat tot geloof gekom het. Geloofslewe, geestelike lewe, lewe uit en in die omgang met die Here. Daarby is God se Woord die enigste leidraad. God se Woord is die norm en rigsnoer van die geestelike lewe. Dit kan ook nie gebeur sonder die toepaslike, innerlike werking van die Heilige Gees nie. Hierdie werking is altyd gebonde aan die Woord. Die Gees pas die Woord toe. Die Gees maak God aan ons bekend deur en uit die Woord. Die noodsaaklikheid van die wedergeboorte, die inhoud van die wedergeboorte, die bekering en tot geloof  kom, wat dit alles beteken en die geestelike groei daarna – dit alles moet in die prediking en in die pastorale bediening behandel word. Daar kan nie beswaar wees as die kerkraad met die “jaarlikse huisbesoek” die tema van geloofsgroei behandel nie. Dit is seker moontlik dat daar gevare aan verbonde kan wees, maar dit doen nie afbreuk aan die wettigheid van die tema nie. ʼn Wedergebore christen moet tot geestelike volwassenheid kom. Daar moet gegroei word – uit Christus, in Christus en na Christus toe. Die wedergeborene is, as ek dit so mag stel, nog glad nie geestelik volwasse nie. Want dit sou beteken dat al die jare en die tyd wat nog voorlê met al sy verskillende ervarings, geestelik gesproke eintlik niks verder sal bydra nie. Dit kan mos nie die geval wees nie.

ʼn Eie inhoud van geestelike volwassenheid🔗

Geestelike volwassenheid is die vrug van ʼn lewe met en uit Christus. Die Heilige Gees begin om ons te lei deur die Woord van God; en wel met die hele en die volle Woord van God. Geestelike mondigheid beteken dat ons in staat is om op ʼn selfstandige wyse as christen te kan dink en leef. Ons leef nie meer onder die mag van die duiwel, die sonde, die ou mens, die vloek en die slawerny van die wet nie. Jesus Christus heers in en oor ons met sy Woord en Gees. Hy het die Koning van ons lewe geword. Dit plaas ons in die vryheid van Christus. Hierdie is ʼn algehele vryheid omdat ons geheel en al aan Christus verbonde is. Vryheid in gebondenheid. Christus is die heerlike geheim van hierdie vryheid. Sien 1 Korintiërs 3:21-23.

Geestelike volwassenheid het dus ʼn eie kwaliteit en inhoud in vergelyking met die algemene menslike of psigiese volwassenheid. Soos wat volwasse word ʼn voortdurende proses is, so is daar ook lewenslank ʼn groei na geestelike volwassenheid. Ons kan nie die Woord hier buite rekening laat nie. Ons moet die volle Woord bly verkondig sodat ons tot die volle antwoord op die Evangelie van Jesus Christus kan kom. Dit is die alles insluitende antwoord van geloof, hoop en liefde en hierdie antwoord gee ons met ons hele lewe. Daar word niks uitgesonder nie. Ons verhouding met God het sy eie inhoud, so ook ons verhouding met ons naaste. Ons liefde tot God mag nie wees ten koste van die liefde tot ons naaste nie, en die liefde tot ons naaste nie ten koste van die liefde tot God nie. In die verkondiging sal die volle Woord tot sy reg moet kom. Die abc maar ook die xyz van die Evangelie. Hoe God die mens bekeer en hoe die sondaar na Christus toe kom: dit hoort in die prediking. Maar hoe ons uit en met Christus moet leef in die omgang met ons naaste, behoort ook daarin te wees. Ook hulle wat reeds geoefen is in die Woord moet verder daarin kan ontwikkel.

naasteliefde

Nuwe Testament🔗

In die Nuwe Testament kom die onderwerp van geestelike groei en geestelike volwassenheid so dikwels voor dat ek net ʼn klein deel uit die oorvloedige hoeveelheid stof kan behandel. Die grondpatroon van hoe om gemeente te wees, word in die slot van Handelinge 2 en 4 geteken. Die vier karaktertrekke vind ons in Handelinge 2:42. Daar is ʼn direkte verband tussen die “leer van die apostels” en die groei van die gemeente. Ook in Kolossense 1:6 word gesê dat die Evangelie “vrug voortbring en verder versprei”. Tekste wat skryf oor die groei van die gemeente is Kolossense 2:19 (die beeld van die liggaam) en Efesiërs 2:21, 22 (die gemeente as tempel van God).

In Johannes 3:30 praat Johannes die Doper selfs oor die “groei” van die Here Jesus self. Slegs God kan wasdom gee: 1 Korintiërs 3:7; ook 2 Korintiërs 9:10. Slegs God kan “aan julle saad gee en dit laat groei”. Oor die geloof wat toeneem lees ons in 2 Tessalonisense 1:3 en 2 Korintiërs 10:15. Nog ʼn belangrike teks lui: “om te groei in die regte kennis van God”. Die kerngedagte is dat die groei altyd ʼn groei uit, in en na Christus toe is. Sien Efesiërs 4:15, 16: om so in alle opsigte te groei na Christus toe. Die groeiproses word gekenmerk deur die liefde. Sonder liefde kan daar nie groei wees nie. Dit beteken om gewortel te wees en opgebou te word in Christus, sien Kolossense 2:6, 7. In 1 Petrus 2:2 lees ons dat ons deur die volle en suiwer Woord kan opgroei en die saligheid verkry. Petrus praat van die toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus, 2 Petrus 3:18. Die gemeente as geheel en elke gelowige persoonlik mag nie bly staan  by die eerste begin van God se werk tot saligheid nie. ʼn Mens moet jouself daarin oefen om aan die vaste spyse te werk en te verwerk. Tekste in die verband is: 1 Korintiërs 3:2 en Hebreërs 5:11-6:3. Wie nog van melk leef is nie op hoogte van die ware prediking nie!

ʼn Belangrike feit is dat geestelike groei dié middel is teen die invloed en oorreding van die dwaalleer. Wie nie groei in Christus nie, bly gevoelig vir verskillende vorms van dwaalleer. Daar bly geestelike onmondigheid (Efesiërs 4:14). Die Bybel weet van die agteruitgaan in die genade. Waar daar nie groei is nie, kom stilstand en agteruitgang. Daar is verskillende stadiums in die proses van afval. Daar is ʼn vaste lyn wat deur agteruitgang loop: ʼn mens gee nie ten volle antwoord op die volle Evangelie nie. Anders gestel: ʼn mens laat nie die Heilige Gees met die volle Woord in jou lewe werk nie. Mens stel jou eie gedagtes voor en bo die Woord. Daarom is ʼn radikale vernuwing in ons denke ʼn deel van die geestelike groei (Romeine 12:2; ook Korintiërs 10:5). Hernude denke bring nuwe handelinge. Die gesindheid van Christus woon en werk in ons. Die wysheid van Christus word ryp in ons. Groei in die geloof beteken ʼn voller, ryker, dieper kennis van Christus. Christus kry gestalte in ons (Galasiërs 2:20; 4:19b).

afwaartse diagram🔗

Trou aan die Woord🔗

Die Bybel is ook bekend met allerhande belemmeringe in die geestelike groei. Ons sal te veel afdwaal om nou uitgebreid daarop in te gaan. Om toe te neem in geloof, hoop en liefde is seker nie altyd ʼn opwaartse lyn nie. Daar is ʼn geestelike stryd aan verbonde om in die geloof te vorder. ʼn Lang aanhoudende omgang met die Woord is daarvoor nodig. Gebed is elke dag noodsaaklik. Dit hou meer in as wat ons dink. Maar wat vir my belangrik is, is dat die tema van geloofsgroei, of geestelike groei, heeltemal Bybels is. Daaroor kan ons nie verskil nie. Daarom mag ons mekaar nie onder verdenking bring as ons op sekere tye in die gemeente aan hierdie tema aandag gee en dit baie beklemtoon nie. Dit dien die geestelike opbou van die gemeente. En ons is (as ampsdraers) daartoe geroep: om die gemeente te dien en op te bou met die hele Woord, ook met temas uit die Woord waarvan ons moontlik persoonlik nie so baie hou nie. Wanneer ons besorgd is oor mekaar (!) se eensydige uitkyk op sekere sake, moet ons met mekaar daaroor praat en mekaar nie met onbegrip onder verdenking stel nie. Want deur ontmoeting en gesprek kom ons dikwels agter dat die saak by die ander persoon anders is wat ons gedink het.

Die Here bewerk onder ons onvoorwaardelike trou aan sy Woord. Maar Hy gee ons ook die wysheid om die Woord reg te verstaan in hierdie tyd waarin Hy ons laat lewe. En die tyd is inderdaad boos! Juis daarom het ons alle moontlike standvastigheid en groei nodig.