Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Geloofsopvoeding en die Kinderbybel

“Kom sit lekker op my skoot, Ruben. Dan lees ek ʼn mooi storie vir jou.” Ma vat die kinderbybel. Sy lê hom oop op die tafel. Daar is ’n pragtige prent in van die Vader wat op die uitkyk staan. In die verte kom ’n hawelose man aan. Die verlore seun! Hy kom terug na sy Vader. Jy kan aan die gesig van die vader sien dat hy ontsettend bly is. Ruben suig op sy duim en luister dromerig na die storie wat sy ma voorlees. Dit is half een. Al die ander gesinslede is by die skool of by die werk en Ruben se jonger sussie lê in die bed. ’n Heerlike rustige oomblik vir Ruben en sy ma. ʼn Pragtige geleentheid vir geloofs-opvoeding.

Warmte🔗

Wie kan nie daardie heerlike oomblikke onthou nie? Lekker by pa of ma sit en luister na die pragtigste verhale. Heerlike tye vol warmte en liefde. Jy onthou nog presies hoe die kinderbybel gelyk het, insluitend die pragtige tekeninge van Jesus. Vir ʼn peuter en ʼn kleuter bestaan slegs dit wat hy kan sien. Dit beteken in hierdie geval dat die ervaring wat Ruben opdoen, belangriker is as die verhaal self. Dit gaan oor God, en terselfdertyd is die sfeer mooi, warm en liefdevol. Dit spreek in hierdie oomblikke die meeste. Vir Ruben beteken dit op hierdie leeftyd: by geloof, by God, hoort liefde, rustigheid en warmte. Ruben ervaar en leer daardeur: by God is ek veilig, Hy hou van my. Dat die geweldige liefde en genade van God die Vader ook uit die storie na vore kom, gaan op hierdie oomblik nog grotendeels aan hom verby. ʼn Tweede belangrike element is die mooi prent in die kinderbybel. Pragtige gesigsuitdrukkings, pragtige kleure. Ook dit sal Ruben baie aanspreek. Daarvan vertel ma vir Ruben baie dinge, terwyl sy hom dit laat aanwys. Sy vra hom: Wat dink jy, hoe kyk die vader? Kwaad of bly?

Veiligheid🔗

Ruben wil ook graag dat sy ma dieselfde storie die volgende dag weer lees. En die dag daarna weer. Dit beteken die storie bied hom ʼn stukkie veiligheid. Hy weet al hoe dit eindig. Dit beteken minder spanning. Ruben kan ook eindeloos na dieselfde prentjie bly kyk en dikwels dieselfde vrae daaroor vra. Na ʼn paar keer vertel hy self wat jy verduidelik het. Saam met jou verhaal glo jou kind onvoorwaardelik in God. Daar is opregte totale oorgawe. Daar is geen twyfel.

Meer Diepgang🔗

Dit is heel anders as jy na Wilma kyk. Sy is tien jaar oud. As jy vir haar uit die kinderbybel lees, vra sy duisende vrae. Hoe kan daar ʼn pad deur die water wees? Swem die visse dan teen ʼn rand vas? Het daar niks water op die Israeliete gespat nie? Wilma is op ’n leeftyd waar sy wil weet hoe dinge in mekaar pas, hoe dit werk en hoe dit presies verloop het. Sy glo ook vas in God, maar sy het wel haar vrae. Intussen het die sonde- en skuldbesef goed by haar ontwikkel. Wil God my regtig hê? Ek doen so dikwels verkeerd, is ek nie te sondig nie? Die vrae begin nou by haar opkom. Vir haar is verhale oor vergewing nou baie gepas. In die evangelies is daar genoeg voorbeelde. Wilma wil nou weet wat het die een storie met die ander te doen. Ruben leer deur die stories vertroue en bou feitekennis op. Op Wilma se leeftyd is daar meer behoefte aan verbande tussen Bybelse gebeurtenisse.

Kinderbybel-Kennis🔗

Kinderbybels het ʼn groot invloed op baie mense. So byvoorbeeld het baie mense ʼn spesifieke beeld van sommige Bybelse gebeurtenisse, wat slegs gebaseer is op die fantasie van die verteller. Maar as jy die werklike teks in die Bybel lees, vra jy jouself af waar dit dan geskryf staan! Hoe baie verkeerde romantiek is daar byvoorbeeld rondom die kersverhale. Vir sommige mense kom die beeld dat Jesus in ʼn stal gebore is, uit die kinderbybel. Waar kom die skrywers daaraan? Die feit dat die Kind in ʼn krip neergelê is, staan slegs in Lukas 2. Hierdie feit sou daarop kon wys. Die woord stal word nie genoem nie. Dit gaan klaarblyklik meer oor die krip. Want dit is ook die teken wat die herders van die engele gekry het. Dit moet dus iets besonders wees: ʼn Kind lê in ʼn krip. Nie dat die storie oor ʼn stal verkeerd is nie, maar u sien dat dit goed is om te besef dat ’n verteller interpreteer, invul. Dit vra altyd van die leser: bly krities, gebruik die Bybelteks. As ouer is jy in die meeste gevalle al ’n meer geoefende Bybelleser. Dit kan verrykend wees as jy reëlmatig vooraf ’n storie eers noukeurig uit jou eie Bybel lees. Terwyl jy jouself daarby afvra: Wat sou die Here God ons met hierdie verhaal wil sê? As jy vervolgens die Bybelgedeelte langs die storie uit die kinderbybel lê, kan dit soms verrassende dinge oplewer. Dit kos tyd, maar jy word beslis nie geestelik armer hierdeur nie!

Bybelgetrou🔗

Hoe kan jy weet of ’n kinderbybel die Bybel getrou navertel, sonder om dit halfpad in die deurwerking van die kinderbybel eers agter te kom? In elke kinderbybel staan ’n woord vooraf. Dit kan jou ’n goeie idee gee van die visie en die bedoeling van die skrywer(s). Verder kan jy dit gou opmerk as jy in die boekwinkel hier en daar ’n stukkie lees, veral die kritiese punte: skepping, deurtog deur die Skelfsee, wonders van Jesus, die opstanding.

Leeftyd🔗

Soos uit bostaande voorbeeld van Ruben en Wilma blyk, maak dit ’n verskil of die Bybel vir jonger of ouer kinders bestem is. Dit geld vir die taalgebruik, maar ook vir die keuse van die verhale. Nie elke Bybelverhaal is geskik vir kleuters nie. Spesifiek omdat hulle nog sukkel om tussen fantasie en werklikheid te onderskei. Bowendien het hulle geen idee van tyd en afstand nie. Hoe ver weg is vroeër? Byvoorbeeld die verhaal oor die verderf-engel wat die eersgeborenes in Egipte dood gemaak het: Kan dit vanaand by ons ook gebeur?

Godsbeeld🔗

Tydens die deurblaai in die boekwinkel kan jy terselfdertyd ook na die Godsbeeld kyk. Hoe word daar oor die Here God gepraat? Of word Hy nie in beeld gebring nie? ’n Aantal kinderbybels beskryf naamlik die mense van die Bybel en hoe hulle dinge beleef lewenseg, maar die Here God bly heeltemal buite beeld. Hulle vertel byvoorbeeld wel van die moeite van die swangerskap van Maria, maar van Wie die kind was wat sy in haar moederskoot mog gedra het, en later: dat dit die Redder van die wêreld is, dit word nie genoem. Moderne Bybelverklaarders wil dikwels die wonder weg verklaar, omdat hulle dit nie verstandelik kan verklaar nie. Maar dit is hoekom dit ’n wonder was! Dit maak sulke skrywers se kinderbybels tot oulike storieboeke en niks meer nie.

Vertelling🔗

Verder kan 'n mens kyk na hoe die verhaal opgebou is. Is dit spannend, is dit feitlik, is dit erg verromantiseer? Word daar baie moraliserende opmerkings gemaak? Af en toe is aanvaarbaar, maar as dit by omtrent elke verhaal die geval is, is dit irriterend. Word daar ook spieëlverhale gebruik? Hoe word dit gebruik en hoe gaan die skrywer daarmee om?

Die taalgebruik verskil ook van kinderbybel tot kinderbybel. Soms word ’n woordeskat gebruik wat alle eerbied laat wegval. Aan die ander kant is dit belangrik dat die taalgebruik nie te ver van kinders af staan nie. Is daar baie moeilike woorde? Wat van die standaardbegrippe soos sonde en genade en geregtigheid? Die begrippe is nie alleen moeilik vir kinders nie, maar vir baie kinders ook te abstrak. Dan sal ’n groot deel van die verhaal deur die gebruik van hierdie woorde, hulle ontgaan. Belangrik vir ’n kinderbybel is dat die sinne kort is. Dat die storie in die teenwoordige tyd geskryf is en dat daar nie moeilike woorde gebruik word nie.

Visie en Lyn🔗

Tenslotte sou u nog kon kyk na die lyn en die visie wat in die kinderbybel gebruik word. Hoe word daar omgegaan met die skepping en die sondeval? Hoe word reg gedoen aan die heilsfeite? Het die wederkoms ’n plek gekry? Hoe word daar gepraat oor die herstel van alle dinge? Is Jesus iemand wat net groot wonders doen of die Verlosser wat sou kom? Word daar – spesifiek in die kinderbybel vir ouer kinders – ook aandag gegee aan die lyn van die Bybel? Hoe die Here God deur die geskiedenis heen werk. Kry die kinders wat die behoefte het aan meer, ook agtergrondinligting?

Tenslotte🔗

Die keuse het nie makliker geword met so baie kinderbybels en boekies met Bybelstories op die mark nie. Aan die ander kant is daar tans pragtige kinderbybels verkrygbaar.

’n Nadeel van elke kinderbybel is dat dit verhale bevat wat navertel is. Dit is verhale wat ook 'n stukkie van die belewenis van die skrywer bevat. Daarmee moet jy tydens die voorlees altyd rekening hou. Dalk kan jy langs jou kinderbybel jou gewone Bybel oop laat lê by dieselfde verhaal.

Wat natuurlik die mooiste is, is om aan jou kind ’n storie te vertel waar jy self vol van is… Ook al sou jy dit eers net een maal per week doen, dit is regtig die moeite werd om te probeer!