Bron: De Wekker. 6 bladsye.

Gelowige nadenke oor die hemel

Die Bybel oor die lewe ná hierdie lewe🔗

Ek is onlangs gevra om in ʼn preek in te gaan op die vraag: hoe sal dit in die hemel wees? Dit was nie vir my moontlik om daarop ʼn antwoord te gee nie. Met eerbied gesê: ek was nog nie daar nie en kan nie daaroor verslag gee nie.

Paulus praat in 2 Korintiërs 12:2-4 van ʼn ervaring — “Ek weet van ʼn man in Christus, veertien jaar gelede — of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit — dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ʼn man — of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit — dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ʼn mens nie mag uitspreek nie”. In 1 Korintiërs 2:9 praat Paulus oor “wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ʼn mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” — ’n verwysing na Jesaja 64:4.

Die gevolgtrekking uit hierdie tekste is dat ons, mense hier op aarde, nie die onuitspreeklikheid van die grootheid en heerlikheid van God in die hemel kan bevat of omvat nie. Ons kan net daaraan dink en daaroor praat deur die woorde waarin God ons op hierdie aarde iets van die hemelse heerlikheid te kenne gee, na te spreek. Dié heerlikheid is te groot en te verhewe vir ons om hier op aarde ’n voldoende beskrywing daarvan te gee, al sou ons al iets daarvan gesien het. Paulus skryf selfs dat dit nie geoorloof is om die onuitspreeklike woorde uit te spreek nie.

Oor die titel🔗

In die lig hiervan het ek ‘gelowige nadenke oor die hemel’ as titel vir hierdie artikels gekies. Hiermee bedoel ek dat ons, wanneer ons oor die hemel dink en praat, ons laat lei deur wat God daaroor in sy Woord geopenbaar het.

Ek wil graag ’n aantal tekste noem (en soms nader toelig) waarin oor die lewe na hierdie lewe, dit wil sê oor die hemelse heerlikheid en oor ewige verderf, gepraat word. Ek noem met opset ’n aantal tekste uit die Ou Testament waaruit sal blyk dat daar ook in die Ou Testament die verwagting is van lewe met God ná hierdie lewe.

Vervolgens gaan ek dan op die liggaamlike opstanding by die wederkoms van Christus in. Daarna gee ek aandag aan die beskrywing van die hemellewe waarin Christus die middelpunt is, en sluit af met ’n woord van persoonlike toepassing.

Dankbaarheid🔗

By die verassingsplegtigheid van Jan Wolkers (bekende Nederlandse skrywer, skilder en beeldhouer wat in 2007 oorlede is) is daar met baie nadruk een van sy uitsprake aangehaal: ‘Daar is geen lewe na die dood nie. Daar is nie ’n hemel nie, en as daar een is, wil ek nie daar wees nie”.

Ons moet nie die invloed van uitsprake soos dié onderskat nie. Dit is dringend nodig om die boodskap van die Bybel daarteenoor te stel en aan ons jeug deur te gee.

In ons artikels staan die woord van Jesus aan die moordenaar aan die kruis sentraal: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Let op die komma. Dit staan voor die woord ‘vandag’ en nie daarna nie, hoewel die laasgenoemde wel die opinie van sommige eksegete is.

Hierdie kruiswoord is beslissend vir die oortuiging dat elkeen wat in die geloof sterwe dadelik na sy sterwe by Christus sal wees.

Daarom lees ons ook in Openbaring 14:13, “salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe”, dus nie eers ná ’n tyd wat mense soms ʼn sieleslaap noem nie.

Aan die slot van Hebreërs 9:28 word gesê dat Jesus “vir die tweede maal sonder sonde (sal) verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid”. Paulus bring hierdie werklikheid op ’n ander manier onder woorde in Romeine 14:8: “. . . of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here”.

Ons is in ons sterwe en dus direk na ons dood van Hom. Die hoe kan ek nie nader omskryf nie; die dat daarvan, staan op grond van die voorgaande tekste vas.

Die Ou Testament🔗

Ek gaan nou na die Ou Testament. In Psalm 73:26 lees ons, “Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem”. Ons tref dieselfde vertroue van geborgenheid by God in die uur van sterwe ook in Psalm 73:26 aan: “Al beswyk my vlees en my hart — God is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid”. Ons val dus nie by ons sterwe uit God se hand nie, maar ons bly in God se hand as ons Hom in sy genade leer ken en liefhet.

Ek herinner ook aan Daniël 12:2: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik”. Hier word die tweevoudige afloop van die menselewe duidelik gestel: óf ewige behoud óf ewige verderf.

Psalm 17:15: “Maar ek sal u aangesig in geregtigheid aanskou; ek sal versadig word met u beeld as ek wakker word”.

Aan die ander kant van die grens wag die volle saligheid🔗

Die Nuwe Testament🔗

Ons gee nou aandag aan ʼn aantal tekste uit die Nuwe Testament. Ons sal dit weereens volledig aanhaal. Hierin word gepraat oor die opwekking, of die opstanding, van die liggaam.

In Johannes 6:40 sê die Here Jesus: “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag”. In Johannes 5:28 en 29 word ook gepraat van “uitgaan . . . tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling”.

In 2 Korintiërs 4:14 skryf Paulus: “Want ons weet dat Hy wat die Here Jesus opgewek het, ons ook deur Jesus sal opwek en saam met julle voor Hom sal stel”. Ons hoor dieselfde in 1 Korintiërs 6:14: “En God het ook die Here opgewek en sal ons opwek deur sy krag”.

Dan is daar die pragtige Romeine 8 vers 11: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon”.

In 2 Petrus 3:13 lees ons oor die belofte van die nuwe hemel en die nuwe aarde, ’n herinnering aan Jesaja 65:17: “Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ʼn nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie”.

Die verheerlikte liggaam🔗

In Filippense 3:20, 21 praat Paulus nadruklik oor die nuwe, verheerlikte liggaam: “Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp”

Let veral op die laaste woorde, “wat ons vernederde (ek verstaan hier ‘ons vergane’) liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam”.

In 1 Korintiërs 15 gaan Paulus nog dieper op die opstanding van ons liggaam in. Ek haal verse 42 en 43 aan: “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag”.

Paulus praat oor saai en opgewek word. By die eerste sê hy: saai in swakheid. Hierdie woorde sê presies wat Paulus met begrawe bedoel. Die koringkorrel val in die grond en sterf, en lewer só veel vrug (Johannes 12:24). So is dit met die liggaam van ’n oorlede gelowige. Net soos uit die sterwe van die koringkorrel, word uit die dood nuwe vrug deur God tot stand gebring. So sal dit met ons liggaam wees. Die koringkorrel word gesaai, maar straks groei die vrug in heerlikheid.

Saai teenoor verbrand🔗

Die beeldende taal in die hoofstuk moet ons diep raak. Wat my betref is hierdie beeldspraak ʼn beslissende argument vir begrawe, teenoor kremasie. Dit is nie hier die plek om dieper in te gaan op die besware teen kremasie nie. In geval van bewustelik gekose lykverbranding vind die beeldspraak van Paulus geen toepassing nie. Dit is betreurenswaardig en onjuis. In sulke gevalle word die beeldspraak van Paulus gerelegeer tot iets wat, in verband met die opstanding van die liggaam, tussen hakies staan; of erger, genegeer word.

Een laaste teks vra ons aandag. 1 Tessalonisense 4:13-18: “Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ʼn geroep, met die stem van ʼn aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde”.

Paulus praat hier oor die wederkoms van Jesus. Dan sal die “wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here” nog lewe, maar daar sal natuurlik ook baie wees wat reeds gesterf het. Let op die oorblywendes, dié wat dan nog lewe. Hulle sal die ontslapenes nie voorgaan nie. Inteendeel, die ontslapenes sal éérs opgewek word en daarna sal die oorblywendes (die wat nog lewe) weggevoer word, die Here tegemoet. Ook hier tref ons die sekerheid van die lewe na die dood aan. Dit geld die ontslapenes én die wat die dag van Jesus se wederkoms nog sal belewe. Eers vind die opwekking van die dode plaas; daarna volg diegene wat dan nog lewe Jesus na die hemel. Ek neem met vrymoedigheid aan dat laasgenoemde deur Paulus bedoel word met die uitdrukking “in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug”.

Die konklusie van Paulus is dieselfde as wat ons in sommige van die tekste hierbo aangetref het: so sal ons altyd by die Here wees.

’n Tweevoudige gevolgtrekking🔗

Ek maak uit die teksmateriaal ’n dubbele gevolgtrekking:

Allereers gee God ons by ons sterwe die gemeenskap met Christus. Daar is nie ’n onbewuste tussenfase soos ’n soort doodsslaap nie.

Vervolgens kry ons ’n nuwe liggaam. Die opstanding van die dode vind by die wederkoms van Jesus plaas. Die geskiedenis van die saligwording word dus nie by die sterwe voltooi nie. Wie in Christus glo, sal salig sterf. Dit beteken dus dat ons in ons sterwe salig is. Daar verloop egter nog ’n periode waarin die gesaligdes moet wag op die nuwe liggaam. Die nuwe liggaam, as vrug van die opwekking van die dode, word eers geskenk, en daarom ook ontvang, wanneer Jesus weer kom. Dán word die geskiedenis van die aarde en die wat daarop gewoon het, voltooi en dan eers breek die geskiedenis van die nuwe hemel en die nuwe aarde aan.

’n Vraag🔗

In verband met ons tema kom die vraag onwillekeurig op: hoe sal die lewe in die tussentyd daar in die hemel wees? Die vraag is verstaanbaar, maar kan nie in detail beantwoord word nie. Ek het reeds in die eerste artikel daarop gewys. Ons moet versigtig wees vir fantasieë oor die hemellewe. Die Bybel is karig met inligting oor die hemellewe. Met die woorde “altyd by die Here wees”, word daar as ’t ware ’n grens getrek. ’n Gelowige ken die geheim van die lewe met Christus tot ’n meerdere of mindere mate. Dit is die geheim van ’n salige lewe deur die geloof in Christus as die Saligmaker; die bewuste omgang met Hom, op die hoogtes en in die dieptes.

Die belewing van hierdie saligheid is nou nog gebrekkig, tydelik en afgebroke, sal daar volkome wees. Hoe die volkomenheid sal lyk en beleef word, kan en mag geen mens hier al beleef of beskryf nie.

Miskien kan ek dít daarvan sê: die grootste van ons geloofsbelewenisse met Christus hier op aarde is klein in vergelyking met die volheid wat kom.

Ons dink weer aan kontinuïteit en diskontinuïteit. Wie Christus hier, deur die genade van die Heilige Gees, ken, mag daarvan seker wees dat hy of sy eendag die volkome saligheid sal belewe.

Die dat daarvan staan was. Dit word deur Christus geskenk en gewaarborg. Die hoe daarvan is die groot geheimenis van God, die geheim van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees. Dié geheim sal in die belewing van die hemellewe aan ons geopenbaar word. Dit is God se groot verrassing.

 Die grote dag is nog verborge,
 wag dit gelowig af,
 terwyl die grote môre
reeds skemer bo die graf.

Eerbiedig die grens wat God tussen nou en dán trek, maar wees daar seker van dat die volle saligheid aan die ander kant van dié grens wag.

So seker as wat God u dit nou in beginsel laat belewe, so seker sal Hy u ook die volheid, die voltooiing, daarvan laat ervaar. Dié sekerheid berus nie in ons ervaring nie, maar in God wat nou reeds die ervaring van die saligheid gee.

Die hemellewe word bepaal deur omgang met die Lam🔗

Die hemellewe word in Openbaring nader beskryf met die plek van die Lam. Ek haal enkele verse uit hoofstuk 7 aan. Daar word gepraat van die menigte wat niemand kan tel nie. In vers 10 lees ons dan: “en hulle het met ʼn groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!” Dan vervolg vers 13 tot 17: “Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom? En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie; want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee”.

Uit hierdie beskrywing van die hemellewe kan ons die gevolgtrekking maak dat daar met Jesus Christus as die Lam, gemeenskap sal wees. Die hemellewe sal dus in groot mate deur die aanwesigheid van en omgang met die Lam bepaal word.

Dieselfde kan afgelei word uit Openbaring 21:22-23: “En ʼn tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp”.

Dit beteken dat die hemellewe tot ’n belangrike mate deur omgang met en kennis van Christus as die Lam, bepaal sal word. Die Lam word ook in Openbaring 5:12-13; 19:7-9; 22:1,3 genoem.

Die hemellewe is dus meer as die paradys. Dáár was nie sonde en dus ook nie die noodsaak van versoening nie. Vir die hemellewe is verlossing uit die skuld en die mag van die sonde kenmerkend. Daarom word in Openbaring so dikwels oor die Lam gepraat. Ek onderstreep weer eens die treffende uitspraak van Openbaring 21:23 dat die Lam die lamp van die stad is — Hy vervang die lig van die son en die maan.

Op grond van hierdie gegewens kan ons sê dat die geloofsgemeenskap met Christus daar nie net volkome en voltooid is nie, maar ook sentraal sal wees.

Messiaanse tussenspel?🔗

Ek herinner my die standpunt van Prof. A.A. Van Ruler dat daar in die nuwe hemel en die nuwe aarde nie plek is vir Christus as Lam nie: Die oorspronklike paradystoestand keer terug sonder dat die Lam daarin ʼn plek inneem. Sy uitspraak oor ’n messiaanse intermezzo, wat wil sê dat die verlossing deur die Lam, histories beskou, ’n tussengebeure is, is bekend. Vir die herinnering en betekenis van die Lam sal op die nuwe aarde nie meer ’n plek wees nie. Die oorspronklike gemeenskap met God, soos dit in die paradys was, keer weer terug.

In ’n radiogesprek met prof. Van Ruler oor sy teologie, het ek hom gevra hoe hy oor die plek en betekenis van die Lam, soos dit in Openbaring beskryf word, dink. Hy het my ’n antwoord skuldig gebly.

Hoe daardie meerdere, daardie volmaaktheid, vir ons sal lyk, kan ons, mense op hierdie aarde, ons nie voor ons aankoms in die hemel voorstel of beskryf nie. Ons tref egter wel telkens in die boek Openbaring die lofsang op die verlossingswerk en die aanbidding van God aan. Ons beskou dit vanuit die genade wat ons hier ontvang en geniet. Ons aardse belewing van die saligheid is, om dit so te stel, klein in vergelyking met die belewing van die volmaakte heerlikheid.

Gebruik ons die begrip ‘kontinuïteit en diskontinuïteit’ (Van Genderen), moet ons die Middeleeuse uitdrukking ‘totaliter aliter’ (‘heeltemal anders’) kwalifiseer. Die laasgenoemde is in ʼn sekere sin waar. Ons kan ons nie die heerlikheid van die hemelse saligheid in sy volle omvang, hoogte en diepte, lengte en breedte indink nie. Daarmee is egter nie genoeg gesê nie, want die beginsel — as ons dié woord maar hier kan gebruik — sal dieselfde wees.

Gerig op vereniging met Christus🔗

Hiermee kom ons by die vraag: hoe kan en moet ons die hemellewe tegemoet gaan? Paulus spoor ons in 1 Tessalonisense 4:8 daartoe aan. Ons moet die sondes wat ons verhinder om in verwagting op Hom besig te wees, voor God bely en dit ook bestry. Dit kan alleen gebeur as die Heilige Gees die sondes aan ons ontdek. Die kennis en belydenis van hierdie belemmerende sondes is deel van die geestelike lewe van ʼn Christen.

Moet daar nie in die prediking en geloofsgesprekke meer aandag aan die ewige lewe in die nuwe hemel en die nuwe aarde, gegee word nie? Ons lees die belofte van die Heiland in Openbaring 22:20: “Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou”. In hierdie belofte druk Jesus ook die verlange na sy verskyning aan ons, uit.

In antwoord op sy verlange na haar sê die bruid: “Amen”, en bid: “ja kom, Here Jesus!”

Dit is goed om die gemeente, wanneer ons die loflied op God in die kerk sing, daaraan te herinner dat die gesaligdes in die hemel dit in volkomenheid doen. Wanneer ons in ’n kersdiens ‘Ere aan God’ sing, kan vir die gemeente gesê word: hulle wat ons na die hemel voorgegaan het, sing dit daar in volmaaktheid.

Dit is goed om die vraag te (laat) stel: Hoe staan dit in ons lewe met hierdie bede?

Die spanning tussen die hemelverlange en die opdrag op aarde🔗

In verband met die praktiese belewing van hierdie verlange wys ek op Filippense 1:21 en die daaropvolgende verse. Paulus sê, “vir my is die lewe Christus en die sterwe wins . . . ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste”.

Dit is helder duidelike taal, vir g’n misverstand vatbaar nie.

Tog laat Paulus daarop volg: “maar om in die vlees te bly, is nodiger om julle ontwil. En dit vertrou en weet ek dat ek sal bly, ja, saam met julle almal sal bly tot julle bevordering en blydskap in die geloof . . . “

Paulus versaak nie sy roeping op aarde ten gunste van sy verlange om met Christus te wees nie.

Sy lewe word gekenmerk deur die spanning tussen die ewig by Christus wees en die taak wat op aarde uitgevoer moet word. Die spanning sou verdwyn as hy net met die hier en nou, of net met die hemel besig sou wees. Ons gelowig besig wees met die hemel kan tot uitdrukking kom in die gebed om sy koms, as die vergestalting van ons verlange om ewig by Hom te wees.

Intussen mag ons ons roeping op hierdie aarde nie vergeet of versaak nie. Dit beteken om gelowig te lewe in die spanning tussen die ‘alreeds’ en die ‘nog nie’. Die ‘alreeds’ oorheers die een keer, maar meer dikwels is dit die ‘nog nie’. Dit is nodig dat in die prediking op beide gewys word.

Miskien is daar mense wat in dié verband van ’n onmoontlike spanning of selfs ’n splitsing wil praat, maar dit is nie houdbaar nie. Dit gaan dáároor dat ons vanuit die hede na die toekoms gewys word; en dan weer vanuit die verwagting die krag kry om in die hede te lewe.

Ek sluit af met die Maranáta uitroep uit 1 Korintiërs 16:22, wat oorgeneem en herhaal word in Openbaring 22:17: “En die Gees en die bruid sê: Kom!”

Artikel 37 van die Nederlandse Geloofsbelydenis is hieraan ontleen: Daarom verwag ons hierdie groot dag met sterk verlange om die beloftes van God in Jesus Christus, ons Here, ten volle te geniet”.