Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Geneeskunde en die Eerste Gebod (1)

Toe die Here sy wet aan Israel gee, skenk Hy daarmee 'n Iewensreël vir die hele kosmos. Tien woorde waarmee die Here universele bemoeienis maak met die hele wêreld. Dit is veral die kinders van God se taak om die wet in die daaglikse praktyk uit te lewe. Elke Sondag kondig die Here sy koninkrykswet af, sodat die koninkryksburgers hierdie wet in die samelewing op al die Iewensterreine kan gaan toepas.

Dit is daarom belangrik om die wette van die Here ook in die geneeskunde uit te lewe. Om dit te kan doen sal ons die woorde van die Here goed moet verstaan, maar ook ons tyd en die denkklimaat wat heers in die geneeskunde. Die Here gee aan ons norme om daaraan in ons vak te voldoen. Dit is ons taak om die dinge daarbo te bedink (Kolossense 3:1). Die koninkrykswet daarbo geld vir die Iewe en dus ook vir die geneeskunde in hierdie lewe.

Alhoewel hierdie taak nie maklik is nie, is dit wel noodsaaklik. Daarom sal ons begin met die eerste gebod.

Jy mag Geen ander gode Voor My Aangesig hê nie🔗

Die Heidelbergse Kategismus gee 'n pragtige uiteensetting van die betekenis van hierdie gebod (antwoord 94). Hieronder volg 'n verkorte weergawe daarvan.

In die eerste gebod vra die Here dat ons,

  1. om alleen reg sal leer ken en alle ander gode vermy en ontvlug,

  2. ons in nederigheid en lydsaamheid aan Hom alleen onderwerp en alles van Hom verwag, en

  3. Hom bo alles moet liefhê en dus nie teen sy wil handel nie.

Hierdie drie opdragte het geweldige implikasies vir die gewone praktyk van die geneeskunde.

In hierdie artikel gee ons slegs aandag aan die eerste punt. Die Here vra van ons om alle ander gode te vermy en Hom alleen te dien. Wat sou dit met die geneeskunde te doen hê? In die geneeskunde werk ons tog tot verligting van pyn en as dit moontlik is tot genesing van pasiënte?

Op die oog af sou daar geen betekenis vir die eerste gebod in die mediese wêreld wees nie, totdat mens besef dat daar inderdaad heelwat ander gode in die mediese wetenskap aanwesig is. Daar word ook vandag tot eer van baie ander gode in mediese praktyke gewerk. In plaas daarvan dat ons praktyk afgestem is op die eer van die enigste Here, word daar dikwels ander gode vereer tydens mediese handelinge.

Gode in die Mediese Wetenskap🔗

Watter gode sou dan ook 'n rol kon speel? Hier word 'n paar genoem:

  1. Ons mediese praktyk is dikwels afgestem op die gedagte dat die gesondheid en welstand van die liggaam van die mens die hoogste waarde is.

  2. Geneeskunde vereer dikwels die gedagte dat die natuurwetenskaplike metode die enigste ware verklaring van die werklikheid is. Al die navorsingswerk word gedoen tot eer van die wetenskaplike model en teorie, sonder dat God daarin 'n plek ontvang, of die eer van sy skeppingswerk ontvang.

  3. Dikwels word die noodlot as die dryfkrag agter mediese gebeure beskou. Die hand van God word nie herken en erken nie, maar die feit dat byvoorbeeld 'n kind met 'n gebrek gebore word, word toegeskryf aan die noodlot. Vir sommige tref dit sleg en vir ander weer beter. God is hiervolgens nie meer in beheer nie.

  4. Die outonomie van die pasiënt word as hoogste norm beskou. Veral in die postmoderne omgewing vandag sien ons dat die outonome mens, en nie die wil van God nie, deurslaggewend is. Op hierdie manier word daar sonder skroom teen die wil van die Here gehandel en is daar van die oproep van die eerste gebod weinig sprake, naamlik om die Here lief te hê en van alle skepsele af te sien (dus ook myself) eerder as dat ek in die allerminste teen sy wil sal handel. Die versoek van 'n pasient aan sy dokter om hom of haar te help by selfdoding is hiervan 'n duidelike voorbeeld.

Hierdie vier is voorbeelde van wat die Heidelbergse Kategismus 'iets anders uit te dink of te hê' noem (antwoord 95), wat in die plek van God of naas Hom kom. Dit is dus gode in die mediese praktyk.

Elkeen hiervan (en daar is waarskynlik meer) verdien om meer diepgaande onder die loep te kom. Laat ons begin met die eerste een.

Die Gesondheid van die Liggaam is die Hoogste Norm🔗

Die gedagte is springlewend dat die gesondheid en welstand van die liggaam van die mens die hoogste waarde is. Dit neem dikwels in die mediese praktyk die plek van die vertroue op die Here en die doen van sy wil in.

Die gesondheidsbegrip het oor die afgelope paar dekades geweldig verbreed. Gesondheid is nie net meer die ontbreking van siekte nie, maar dit verwys ook na dinge soos om goed te lyk, om goed te voel en jeugdigheid. Dink maar aan die geweldige groei van vakgebiede soos ortodonsie, plastiese chirurgie en die Prozac manie van ons tyd. Prozac is 'n middel wat goed gebruik kan word vir die regte indikasies, maar wat dikwels verkeerdelik vir allerhande soorte moegheidsindrome voorgeskryf word.

Die strewe na gesondheid het vandag definitief 'godsdienstige' trekke. Aan die een kant is gesondheid 'n doel op sigself, en aan die ander kant ook 'n voorwaarde om te kan funksioneer en veral te kan geniet. Karl Jaspers, filosoof en medikus, het hierdie hoë ideaal van gesondheid in 1959 soos volg raak getipeer: 'Die verlies van die transendente werklikheid het die aardse gelukstrewe tot die absolute verhoog'.

Met ander woorde, die feit dat ons nie meer die Here ken en erken as die outeur van die werklikheid (en dus ook mediese werklikheid) nie, bring mee dat byvoorbeeld die gelukstrewe van die mens waarin gesondheid 'n sentrale plek het, die hoogste goed word.

Die Sekulêre Heilsverwagting lê in die Gesondheid van die Liggaam🔗

Die heil van die liggaam word verafgod. Om die Here te dien is nie meer prioriteit nie, maar om die liggaam te dien. Geen wonder nie dat ons vandag sien dat daar groot moeite is met die geboorte van kinders met 'n gebrek. Dit moet ten alle koste verhoed word. Liggaamlike gesondheid is amper heilig. Daarsonder kan jy nie geniet en 'kwaliteit van lewe' ervaar nie. Daarsonder kan jy ook nie aan die verbruikerskultuur deelneem nie. Wat God te sê het oor sy handewerk en sy definisie van die kwaliteit van Iewe, is irrelevant.

Die mediese wetenskap, die tegniek en gesondheidsorg moet as hoogste prioriteit hê om elke aantasting van die gesondheid te voorkom sodat die mens verder kan ontplooi in persoonlike geluk.

Die konsekwensie van hierdie opvatting is dat die lewe eintlik nie meer sin het en ook beëindig mag word as 'n gesondheidsprobleem nie behandel of omgekeer kan word nie. Daarom ook die toename in eutanasie, pasiënt geassisteerde selfdoding en abortering van kinders met 'n liggaamlike gebrek.

Die mediese wetenskap word nie gesien as 'n middel waardeur ons weer gesondheid en krag mag ontvang sodat die mens sy God kan dien nie.

Ons hele samelewing word bepaal deur die ideaal van 'n jong gesonde liggaam. Die liggaam word verafgod in die 'gym'. Advertensies stel dit ook so voor. Selfs in die verkryging van werk en die toelating tot 'n mediese fonds geld die gesonde liggaam as norm. Binnekort sal ook nog bepaal kan word of iemand geneties wel gesond is, watter siektes hy sal kry en watter risiko's daar sal wees. Die goeie embrio's kan geselekteer word voor bevrugting met behulp van pre-inplantasie-diagnostiek.

Die genot van die eie liggaam is die norm. Ons sien ook dat die liggaam vereer word in die moderne gebruik van geboortebeperkende middels. Van roepingsbewustheid is daar vandag selde iets sigbaar by pas getroude paartjies. Dit wat God sê oor kinders kry in die huwelik, is in elk geval irrelevant in die meeste moderne mediese praktyke.

Die Skrif oor die Verafgoding van die Liggaam🔗

Die Skrif ken ook die verafgoding van die liggaam. Ons lees in Habakuk 1:11 van 'n man se krag wat sy god is. 'n Mens kan ook jou maag tot god maak (Filippense 3:19). Dit word opgesom deur Johannes as hy praat van die begeerlikheid van die vlees, die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe, wat nie uit die Vader is nie (1 Johannes 2:16).

Ons sien dit vandag: mense vereer die skepsels in plaas van die Skepper. Dit is moderne Baäldiens. Baäl was tog immers die god van vrugbaarheid, die krag van nuwe Iewe, reën en donderweer. Dinge in die skepping word aanbid, in plaas van die Skepper. Die geskape dinge soos die liggaam bly dan nie op die plek waar God dit gestel het nie. Nee, dit word kragte waaraan mense goddelike eer bring.

Eerste Liefde🔗

Die eerste gebod vra eerste liefde vir die Here en sy diens, ook in die mediese praktyk. Om die Here lief te hê, beteken om sy woorde te gehoorsaam. Dan val die menslike liggaam en sy gesondheid in die regte perspektief. Dit word dan diensbaar in God se koninkryk.

Volgende maand gaan dit DV oor die verering van die natuurwetenskaplike metode as die enigste ware verklaring van die mediese werklikheid.