Bron: Waarheid en Dwaling. 3 bladsye.

Geneeskunde en die Eerste Gebod (2)

Ons het verlede keer begin om na te dink oor die belang van die eerste gebod in die geneeskunde. Die Here vra in die eerste gebod dat ons Hom alleen sal vereer, en die afgode sal vermy en ontvlug. Dit het groot implikasies in die gewone mediese praktyk. Ons het ook gesien dat daar wel van afgode in die geneeskunde gepraat kan word. Die gesondheid en welstand van die mens word dikwels vandag as die hoogste norm gestel. Dit neem dikwels die plek van die vertoue op die Here en die doen van sy wil in.

Daar is egter ook ander gode wat in die plek van die diens aan die Here gestel word. Die geneeskunde vereer dikwels die gedagte dat die natuurwetenskaplike metode die enigste verklaring van die werklikheid is. Navorsingswerk word gedoen tot eer van die wetenskaplike model en teorie, sonder dat God daarin 'n plek ontvang, of die eer ontvang van sy skeppingswerk. Op so 'n wyse word God uit sy eie werklikheid uitgeredeneer. In hierdie artikel wil ons kyk na die implikasies hiervan in die mediese wetenskap.

Waar kom die Natuurwetenskaplike Metode vandaan?🔗

Onder die invloed van die Verligting het die natuurwetenskaplike denke 'n groot stempel op die mediese wetenskap geplaas. Descartes het gesê: 'Cogito ergo sum', of 'ek dink, daarom is ek'. Hierdie stelling het verreikende impak op die verdere ontwikkeling van die geneeskunde gehad. Natuurwetenskaplike metodes wat die skepping op 'n pragtige manier begin ondersoek het sedert die Renaissance, het nie slegs gedien ter beskrywing en verklaring van die werklikheid nie, maar is steeds meer gesien as die enigste ware weergawe van die werklikheid. Slegs met jou rede kan jy die werklikheid deurgrond.

Verder is die wonders wat daar in die skepping ontdek is, losgemaak van die Skepper. Dit het so ver deurgewerk dat meeste wetenskaplikes vandag nie meer die skeppings- en onderhoudingswerk van die Here in hulle resultate eerbiedig nie. Nog minder word daar nagedink oor die felt dat ons wetenskaplike hipotese-vorming en God se wet vir die hele skepping, met mekaar verband hou.

Hierdie metode ontleed die werklikheid tot haar kleinste boustene en bou dit dan weer op met behulp van die logika, wiskunde en meganika. Die werklikheid word nie meer beskou as hoe die mense dit ervaar nie, maar wat die wetenskap daarvan sê. Via Vesalius (die man wat die eerste keer die menslike anatomie sistematies ondersoek en geboekstaaf het), Harvey (wat die bloedsomloop beskryf het) en andere, het die studie van die menslike Iiggaam geweldige voortgang gemaak.

Alhoewel Vesalius die resultate van sy ondersoekwerk tydens die disseksies van menslike Iiggame duidelik verbind het aan die Skepper van die menslike Iiggaam, is hierdie band tussen die Outeur van die Iiggaam en die wonderlike detail daarvan, oor die afgelope paar honderd jare stelselmatig deurgesny.

'n Meganistiese Wêreldbeeld🔗

Mede as gevolg van die natuurwetenskaplike metode het 'n meganistiese wêreldbeeld die afgelope eeue in die geneeskunde begin heers. Die mens is 'n baie ingewikkelde masjien. Siekte is 'n meganiese defek van hierdie masjinerie, wat met tegniese ingrepe herstel kan word.

Hierdie beeld het groot vooruitgang in die behandeling van verskeie siektes meegebring, omdat dit as basis die werking van die menslike Iiggaam het, soos God dit tot in die molekulêre detail gemaak het.

Die invloed van hierdie gedagte het egter ook die wêreldbeeld en lewensgevoel van die Westerse mens baie sterk beïnvloed. Dit is jammer dat God dikwels nie in hierdie wêreld van wetenskaplike teorieë en modelle, nog in die alledaagse mediese praktyk 'n plek kry nie. Dit het tot gevolg dat die moderne arts die pasiënt as 'n komplekse sisteem van geneties-neurologies-hormonale inligting beskou.

Daarmee saam het geneeskunde steeds meer die karakter van 'n tegniese wetenskap gekry. Vernuwing in die tegniek beteken dikwels die vooruitgang van die geneeskunde. Ons sien dit in die Iiteratuur as daar oor kloning gepraat word. Ons kan die menslike Iiggaam opbou uit al sy deeltjies. Miskien kan daar in die toekoms sulke deeltjies uit embrionale stamselle gekloon word. Soms kan dit egter nog nie gedoen word nie, weens gebrekkige tegniese gereedskap. Nog 'n voorbeeld is 'n terminale siek pasiënt wat 'n einde aan sy lewe maak deur 'n tegniese hulpmiddel, naamlik 'n inspuiting met 'n chemiese stof, te gebruik.

Wetenskaplike modelle en die strewe om die gesondheidsorg met tegniese middele te beheer, bepaal in ons tyd die wêreldbeeld van die moderne geneeskunde. Mens sou kon sê dat die geneeskunde in ons tyd 'n sekulêr-godsdienstige funksie begin vervul. Dit toon opmerklike ooreenkomste met die Grieks-Helleense kultuur waar gesondheid en heil in religieuse sin één was. Dit was die taak van die arts om probleme met hierdie lewensideaal so veel as moontlik op te los.

Ons sien dit duidelik tot uitdrukking kom in die omgang van die moderne geneeskunde met die begin en einde van lewe. Die pragtige navorsingswerk wat gedoen is oor die begin van lewe met al die faktore daarby betrokke, word nie gekoppel aan wat die Outeur van hierdie 'prosesse' in sy Woord daarvan sê nie. Die Here word in die moderne wetenskap dikwels uit sy eie werklikheid uitgeredeneer.

Die Natuurwetenskaplike Metode as Roeping van die Here🔗

Die Here het aan ons die opdrag gegee om met die gawes wat Hy ons gegee het, en dus ook ons verstand, die goddelike orde in die skepping te ondersoek en na te vors. Die resultate hiervan kan dan gebruik word in die behandeling van siekes, sodat hulle weer gesond hul God kan dien. In hierdie wetenskapbeoefening word die eer altyd aan die Outeur van die skepping gegee, en word daar rekening gehou met die wette van hierdie Outeur vir sy skepping.

So kan die resultate van hierdie wetenskapbeoefening met vrug aangewend word tot voordeel van pasiënte sodat hulle weer hul roeping kan uitvoer. Dit geld ook ten opsigte van ongelowige pasiënte. Die Here roep ons om die menslike liggaam na te vors tot in die fynste detail en samehang soos Hy dit gemaak het.

Elke mediese student maak met die pre-kliniese vakke soos anatomie, fisiologie, immunologie, mikrobiologie ensovoorts kennis. Hierdie vakke rus op hul beurt weer op vakke soos chemie, fisika en molekulêre biologie. Die ondersoekresultate van hierdie vakke berus op die toepassing van die natuurwetenskaplike metode. Hierdie metode is gewoonlik eksperimenteel van aard en behels die stel van 'n probleem en hipotese, die toets daarvan met materiale en metodes, die verkry van resultate en die beredenering van 'n gevolgtrekking.

By die toepassing van hierdie metode word allerlei faktore uit die werklikheid op kunsmatige manier konstant gehou of uitgeskakel. Sodoende kan die verhouding tussen een faktor en 'n ander faktor bepaal word. Daar word dus dikwels afstand geneem van die konkrete en komplekse verbande waarin die faktor hom in die werklikheid bevind. Die resultate van hierdie ondersoek is dus altyd 'n reduksie van die werklikheid.

Ons kan sê dat die verbande en samehange in die menslike liggaam so geweldig mooi geskape is, dat ons wetenskaplike metode in die verstaan hiervan slegs 'n begin maak. Om die volle prentjie soos God dit gemaak het te sien, is hierdie metode beperk. Die navorsing wat gedoen word om die genoom van die mens te bepaal is daarvan 'n goeie voorbeeld. Die fyn detail van die menslike genoom wat ons nou begin verstaan, raak nog nie aan die samehang daarvan met die hele molekulêre biologiese omgewing binne die menslike sel nie.

Die voordele van die natuurwetenskaplike metode in die geneeskunde is groot. Sodoende kon daar terapeuties ingegryp word op probleme en siektes wat deur noukeurige navorsing van die basiese wetenskappe vasgestel is. Baie oorsake van baie siektes kon bepaal word. Nougesette navorsing oor die skepping van die Here het resultate opgelewer wat in verskeie siektes groot verligting en genesing gebring het. Ons kan die Here dank vir hierdie gawes.

Die probleem is egter dat hierdie metode verabsoluteer word tot die enigste bron van kennis aangaande die werklikheid. In hierdie wêreldbeeld is daar nie meer plek vir moraal en lewens­beskouing nie. Trouens, dit vorm obstruksies in die uitvoering van die wetenskaplike metode. As die kloning van stamselle wat van menslike embrio's verkry kan word, kan lei tot die groei van menslike organe wat vir oorplantingdoeleindes gebruik kan word, dan moet die wêreldbeskoulike denke oor die menslike embrio nie daarin 'n speek in die wiel wees nie. God se wet word dan geskei van sy skepping.

Daar is niks verkeerd om die skepping en die fynste detail daarvan te bestudeer en te ontrafel nie. Dit is trouens ons opdrag. Maar dan moet ons die skepping wel deur die bril van die Skrif bestudeer en werklik ook al die data oor die werklikheid gebruik in ons wetenskapbeoefening. Dit beteken ook die wette van die Here wat aan ons die grense van ons handelwyse binne die skepping gee.

Hy wat dit ignoreer, bedryf wetenskap in ongeloof. Hy stel in die plek van die Here en Sy wil, sy eie rede en metode om na die skepping te kyk. Sodoende ignoreer hy die Outeur van die werklikheid wat hy bestudeer en bring in die plek daarvan sy eie rede. Dit is afgodediens: om in die plek van die Here iets anders te hê of te versin waarop die mens sy vertroue stel. Die wetenskaplike wat God en sy gebod reeds by sy probleemstelling of hipotese buite rekening laat, moet nie verwag om God terug te vind in sy resultate nie.

Hoe ryk is die navorsingswerk van die wetenskaplike nie, wat sy ondersoekresultate kan verbind aan die Outeur van die hemel en die aarde en ook die wyse implikasies van sy lewenswette daarmee insien!