Bron: Kerk en Woord, 2001. 4 bladsye.

Genesing van Jou Versteurde Verhoudings

Lees Lukas 15:11-32 en Dordtse Leerreëls, Hoofstuk 5:5

konflik

Het u dit al iewers meegemaak dat die verhouding tussen mense versteur is, byvoorbeeld in die huwelik, tussen kollegas op die werk, op vergaderings...? Dit kan mense fisies siek maak en lei tot psigiese spannings, hartkrampe, maagsere of asma.

Maar as die verhouding met God versteur is, is dit veel ernstiger. Dit is onmoontlik om daarmee te lewe.

In die vyfde paragraaf van die vyfde hoofstuk van die Dordtse Leerreëls kom die versteurde verhouding met God aan die orde. Ses simptome van so ’n versteurde verhouding word genoem, gevolg deur die genesing.

Die eerste simptoom van iemand wat sy salige verhouding met God versteur, is dat hy God vreeslik vertoorn.

Maar kan God op sy uitverkore kinders vertoorn wees? God is tog liefde? ’n Toornige God is tog eintlik meer ’n Ou Testamentiese gedagte?

Tog hoor ons ook in die Nuwe Testament dat God se toorn vanuit die hemel geopenbaar word. Ondanks die volmaakte liefde wat Christus aan ons bewys het, mag ons nie ons vryheid misbruik om te sondig nie. Want sonde maak skeiding tussen ons en God. Dan mors ons met sy liefde vir ons. God kan nie saam met die sonde leef nie. Ons kan wel, maar Hy nie. Daarom vertoorn ons God deur ons sonde. En as ’n gelowige in growwe sonde val, wek dit God se toorn op. Dan is Hy diep gegrief, en dit word weerspieël in die blydskap en die seën wat so iemand ontbeer.

Die Here is ’n heilige God. Die sonde het sy Seun die smarte van die hel en die dood gekos. Daarom kan Hy nie sommer so oor die sondes van sy kinders heengaan asof dit niks is nie en daarom sien Hy dit nie deur die vingers nie.

Van hierdie vreeslike toorn oor sy kinders moet ons een ding goed weet: Dit is nie toorn as ’n gestrenge Regter nie, want die volkome voldoening wat Christus gedoen het, het God se toorn by Gólgota weggedra. Sy toorn is nou soos van ’n liefdevolle Vader wat diep teleurgestel en beledig is (soos in die gelykenis van die verlore seun).

Hierdie toestand tussen ons en God kan ook merkbaar word deurdat die Here ons met teenspoed beproef en ons laat voel dat Hy vertoorn is met ons.

Dan verberg Hy sy persoonlike seën in ons lewens.

Dan ervaar ons nie meer sy troos nie en ons smaak nie sy nabyheid nie. So kan ons in ’n hopelose stuk twyfel ingedompel raak en selfs byna wanhopig word.

wanhopig

Daar is ’n noue skakeling tussen die gebrek aan geloofsekerheid en om in sonde te val. Growwe sonde verduister ons visie op die Here en Hy trek sy lig terug. Dan is daar nie sprake van geloofsekerheid nie.

Deur ’n slordige lewenswandel vertoorn ons die Here en is daar nie blydskap in ons lewens nie.

Laat elkeen wat hierdie blydskap en sekerheid mis, selfondersoek doen: Watter sonde knaag aan die wortel van my lewe? Drank? Nikotienverslawing? ’n Sondige verhouding, rusie met my kollega, ’n familievete, gebrek aan vergewensgesindheid teen iemand wat my swaar beledig het...?

Growwe voortwoekerende sonde vertoorn God vreeslik. Hoor dan weer na die Woord van die Here en bemerk die roede wat jou rug oopkloof en kyk wie die roede hanteer.

Die tweede simptoom is dat iemand deur sy/haar gedrag die dood verdien. Die gelowige kan nooit in hoogmoedigheid sê: God sal my tog nooit weer loslaat nie, en dan maar rustig voortsondig nie. Dit het die apostel Paulus baie goed besef, omdat hy as Fariseër die Christene met ’n passie vervolg het. Hy het die dood verdien.

Jona die profeet het die opdrag van die Here moedswillig verwerp toe hy ’n skip na Tarsus gehaal het. Hy het die dood verdien.

Petrus se lewe het vanweë sy verloëning van die Here Jesus aan ’n sydraadjie bokant die hel gehang.

Daarom roep ons uit: genade op genade. As u my nie vashou nie, dan is ek ’n verlore mens. Ek het deur my growwe sonde die doodskuld op my gelaai.

Vervolgens word as simptoom van ’n versteurde verhouding genoem die bedroewing van die Heilige Gees. Ons dryf as’t ware weg van Hom wat as ons Trooster en Lewendmaker aan ons gegee is en wat in ons liggaam as ’n tempel woon. Hy dryf van ons weg wanneer ons die sonde ons kameraad maak en in growwe sonde leef.

Hier word met nadruk nie bedoel die sonde van laster teen die Heilige Gees nie, want dit is die onvergeeflike sonde. Dit is wanneer ons die werk van God sommer direk afmaak as die werk van die duiwel. Dan laster ons die Gees, en dit is volgens die uitspraak van Christus geheel onvergeeflik. Dit gaan hier om die bedroef maak van die Heilige Gees. Want ons het aan die Heilige Gees ons ewige lewe en die volgehoue instandhouding van ons salige lewe te danke. As ons Hom bedroef, trek Hy homself langsaam maar seker terug en later merk ons nie meer veel van Hom nie. Dan gaan ons die kerk uit net soos wat ons daar ingekom het. Dan spreek die Woord ons nie meer aan nie. Ons staan nie meer in verwondering oor God se genade nie. Alles word vir ons gewoon. Dan lees ons die Bybel sleepvoetig. Die gebed word slegs ’n formele gebeurtenis; ware ontmoeting en omgang met die Here is daar nie meer nie. Dan keur ons prakties alle dinge by ander mense af, maar ons sien nie die balk in ons eie oog nie.

Op hierdie manier probeer ons vasklou aan die kwade in ons eie lewens en tog ook met gevlei by die Here kom. Die Heilige Gees word bedroef.

’n Verdere simptoom van wat gebeur as ons die Gees bedroef, is dat ons die beoefening van die geloof vir ’n tyd verbreek. Hierdie tyd kan ook lank duur. Dan het die geloof nie heeltemal verdwyn nie, maar ons beoefen dit nie aktief nie. Dis net dat ons in die verborge omgang met God asook in die najaag van sy wil ver onder die maat bly. Geen brandende hart nie. Geen ywer nie. Geen lus meer om God se woord te lees, om saam met sy gemeente te verkeer en so meer nie.

Kerkgang word ’n las. Ander mense neem ons saam om te gaan kwaad doen. Dan word ons ook vir iemand anders 'n struikelblok na God toe. Dit is ongeloofsbevordering. Die Here verwag soveel van ons en ons doen so min vir Hom.

Die vyfde simptoom is dat ons gewete swaar gekwes word. Dit is wanneer ons gewete ons aankla dat ons besig is met growwe sonde, maar ons onderdruk die gewete. Ek brand en wond my gewete net soos ’n persoon wat sy motor se olieliggie stukkend slaan wanneer dit aangaan, net sodat hy van die waarskuwing ontslae kan wees.

waarskuwingsliggie

Hierdie wonde wat ons aan ons gewetens toebring is ook die oorsaak van ’n groot verskeidenheid sielkundige afwykings. Ons weet dat ons verkeerd doen, maar ons weier om ons te bekeer. Dit is ’n gevaarlike verhardingsproses. Daar is mense wat oorspanne is omdat die las van hardnekkige son­de hul lewe beheers en hul lewensvreugde verduister.

Soms is dit net een hardnekkige sonde, maar dit beheers alles. Hy skend sy gewete en hy word depressief. En geen besoek aan die sielkundige bring verligting nie, want die weg na die Here moet weer bewandel word. Solank ’n mens dit nie doen nie, is jy self skuldig aan die verwonding van jou gewete.

Die ergste simptoom is dat mens vir ’n tyd die besef van die genade verloor. Kyk mooi hoe dit hier bewoord word. Hier staan nie dat die genade verdwyn nie. God se genade gaan beslis nie weg nie. Maar die sondigende gelowige verloor die besef, die gevoel van die genade. Hy ervaar nie meer dat genade genade is nie. Hy besef nie meer wat genade is nie, en hy beleef nie die blydskap van die genade nie. Die ergste is wanneer so iemand dit nie eers as ’n verlies beskou nie. Hy mis dit nie. Dan is God se kind bitter ver van die huis af. Dan lyk dit ook nie meer asof hy enigsins ’n band met God het of ooit gehad het nie.

So gaan die morsende lewe van die vallende gelowige voort waar hy sy erfporsie uitmors op allerlei sinlike genot, op die begeertes en die drange van hierdie lewe totdat hy uiteindelik soos die verlore seun tussen die varke beland en van verwaarlosing en hongerte begeer om van die varke se peule te eet.

In Psalm 32 het Dawid al hierdie simptome aangrypend beskrywe wat alles met hom gebeur het toe hy met sy sondes God vertoorn en die Heilige Gees bedroef het:

3. Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag;

4. Want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed.

Hierna beskrywe die Dordtse Leerreëls wat die genesing is uit hierdie ellendige toestand. Dit duur totdat daar ernstige berou en bekering is.

Daar is ’n weg terug. Dawid kon sy sondes bely en na God terugkeer. Die verlore seun van die gelykenis kon met sondebelydenis en met berou weer na sy vaderhuis terugkeer.

Dawid het bely: Ek het teen u, ja U alleen gesondig. En Dawid het gesondig teen Bátseba en Uría en Joab sy leërowerste wat saam bedrog moes pleeg, en teen die hele volk wat hy in die steek gelaat het. Maar as hy tot berou kom sê hy: Teen u, en U alleen het ek gesondig. Sonde teen mense is ten diepste sonde teen die Here, teen Hom alleen. Dit is immers Hy wat al die gebooie gegee het, hoedat ons Hom en ons naaste moet liefhê. So is alle oortredings oortredings van die wet wat Hy gegee het. So hoor ons die belydenis ook van die verlore seun: “Ek het gesondig teen die hemel en voor u. Ek is nie werd om u seun genoem te word nie, maak my soos een van u huurlinge.”

Deur ernstige berou is terugkeer moontlik na die goeie weg. Die terugkeer word gekenmerk deurdat iemand hierdie verkeerde koers, die verkeerde weg verlaat, met die sonde breek, afstand neem van al daardie bose bagasie in sy hart wat God se genade ondermyn het.

Terugkeer vind plaas as ek weer van harte gaan luister na God se Woord. Weer hartlik en uit diepe behoefte gaan bid en weer vreugde vind in die diens van die Here. Hierdie terugkeer is beslis nie aan die dwalende gelowige te danke nie. As hy aan homself oorgelaat was, sou hy hoe langer hoe verder afgedwaal het. Dit is slegs aan die Gees van God te danke. Dit is alles God se werk, sy trou. Dit is die diepe geheim van die volharding wat in die res van hoofstuk 5 uitvoerig bespreek word.

Wanneer iemand langs die weg van berou en bekering weer terugkom, laat God sy vriendelike aanskyn opnuut op daardie persoon skyn. Hierdie paragraaf het begin met die vreeslike vertoorning van God, maar dit eindig met die verligting van God se vriendelike aangesig.

ouer en kind

’n Kind wat sy vader of moeder bedroef het, is weer tevrede sodra hy merk dat die blik van vader of moeder verander het. Dit is weer goed. Hulle kyk weer met tere ontferming, met aangename blydskap na hom. Dieselfde is die geval wanneer ons met diepe berou oor ons sonde weer na God toe terugkeer. ’n Versteurde verhouding verdonker die sekerheid van die geloof, maar ’n herstelde verhouding bevorder weer die sekerheid van die geloof.

Toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.

Daar is blydskap in die hemele oor een sondaar wat hom bekeer. God was en is en bly genadig vir ’n uitverkore kind, vir ’n begenadigde sondaar. Die mens wat dit waarlik insien en glo, sal opstaan en terugkeer en neerkniel en in gehoorsame blydskap verder leef. Die verhouding is weer herstel. Die Here het dit gedoen!