Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Genesis 12:1-9 - God kom Self na die Aarde

Lees Genesis 11:27–12:9

God se liefde vir die wêreld is deur die hele Bybel duidelik. Hy wil nie dat iemand verlore gaan nie. Hy het die wêreld só lief dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie liefde vir die wêreld word sommer heel vroeg in die Bybel al gesien. Dit is niks nuuts wat skielik op die toneel verskyn met die geboorte van Jesus Christus nie. Die hele drama van God se sending na die wêreld getuig van hierdie liefde. Sy genade-koms na die wêreld laat van die begin af sy liefde sien.

Mens se Sending🔗

Kort na die sondvloed kom die mensdom bymekaar in die land Sinear (Gen 11:2). Hulle het vir mekaar gesê dat hulle vir hul ‘n stad met ‘n hoë toring moet bou, sodat hulle nie oor die aarde verstrooid raak nie. Angstig om in die groot wêreld van God te gaan lewe en die aarde te vul, soek hulle hul behoud in die wêreld deur mekaar onderling te help. Hulle steun nie meer op die Here God wat hulle sý seën beloof het nie. Hulle soek nie hulle seën in die Here en sy Woord nie, maar in hulle onderlinge samewerking. In die stad wat die mense wou bou, was daar geen vertroue meer in die Here se sorg nie. Die Here wou dat die mense die aarde sal vul, sodat die kennis van die Here en sy heerskappy oral oor die hele wêreld sigbaar sal wees.

Die stad, wat hulle later Babel sou noem, was ‘n plek waaroor die Here sy oordeel kon laat kom het. Babel was ‘n stad sonder die heerlikheid van God – sy seën en goedheid het nie oor die stad geheers nie. Met ‘n hemelhoë toring probeer hulle ‘n baken stel waar mense altyd weer die hulp van die mensdom kon inroep. Hulle steur hul nie aan die roeping om in geloof die aarde te vul nie. In Babel was die leuse: eendrag maak mag! Hul krag het nie meer daarin gelê dat hulle God se gestuurdes op hierdie aarde is wat onder sy sorg en Koningskap geleef het nie.

God se Sending🔗

God sou niemand in daardie stad enige onreg aangedoen het as Hy uit die hemel vuur en swawel van oordeel laat reën het om hulle te vernietig nie. Niemand in daardie stad het na die Here gevlug vir hulp en sorg nie. Hy het beloof dat Hy die mens wat die aarde vul, sal seën. Die wêreld is nie ‘n woesteny wat deur die krag van die mens tot orde gebring hoef te word nie. En tog stuur die Here nie die dood as loon op hulle sonde nie. Die Here kom Self na die aarde (Gen 11:5). Hy daal Self na die stad toe neer. Presies hoe die Here dit gedoen het, word ons nie vertel nie. Ons weet wel wat Hy daar kom doen het. Hy kom verwar hulle taal, sodat die mense noodgedwonge oor die wêreld versprei. In hul taalverwarring versprei hulle tog oor die wêreld. Dit is God se sending in hierdie wêreld – om die wêreld te vul met mense vol geloof in die trou en sorg van die Here. ‘n Wêreld sonder mense wat in angs leef. ‘n Wêreld vol mense wat in vertroue leef.

Om dít te bereik, gaan die Here nou heel doelgerig met iemand uit die nageslag van Tera verder. Dit is Abram. Hierdie man moes doen wat die inwoners van Babel nie wou doen nie. Die roeping van Abram is ewe eenvoudig as duidelik: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat ek jou sal wys” (Gen 12:1). Heeltemal uit genade en sonder dat Abram enigiets hiervan verdien het, kies die Here hom om sy seën te kan ontvang. Die seën van die Here vir Abram moet ook ‘n spesifieke doel dien. Hy moet tegelyk die Here se instrument wees om sy seën na alle volke en nasies te bring. Die seën wat die Here wil gee vir mense wat oor die hele wêreld versprei is, kom via Abram se uitverkiesing.

Dít is wat ons bedoel wanneer ons sê dat God se genadige uitverkiesing in diens staan van God se sending in hierdie wêreld. Uitverkiesing mag ons nooit in die donker skuilhoeke van ons harte dwing waar daar alleen maar onsekerheid is nie. God se uitverkiesing het juis ten doel om al die geslagte van die aarde te laat deel in die Here se seën. Hierdie seën is niks minder nie as ‘n gesonde en mooi verhouding met die Here en ons naaste nie. ‘n Verhouding waarin die Here ons lewensblydskap, versorging, veiligheid, vrede en rus in die wêreld wil gee. Dáárvoor het die Here neergedaal en vir Abram ‘n konkrete opdrag gegee om in geloof te gaan leef.

Goddelike Sekerheid🔗

Wanneer die Here in sy uitverkiesende liefde so na een enkele man kom, beteken dit nie dat die mensdom oor die hele wêreld van God se radarskerm verdwyn het nie. Die Here laat die mensdom en die wêreld nie aan hulself oor om ‘n ander begin te maak nie. Abram se uitverkiesing staan in diens van God se koms na die wêreld om weer Godsvertroue vir mense te gee. Uitverkiesing staan in diens van lewe uit die genadige liefde van die Here. God se manier om al die geslagte van die aarde te seën, gaan via Abram se uitverkiesing. Abram se verkiesing is veel meer as die persoonlike verlossingsverhaal van ‘n individu. Dit is nie die verhaal van hoe die Here een man van die afgode van die Chaldeërs gered het om hom in veiligheid te laat woon in die veilige Kanaän nie. Kanaän was allermins vry van afgodery. Ons lees heel pertinent dat die Kanaäniete in daardie tyd in die land was. Die verleiding van die afgode van hierdie mense sou nog in die toekoms van Abram en sy nageslag vir spanningsvolle oomblikke sorg! Wanneer die Here vir Abram verkies om

weg te gaan uit sy vaderhuis en land, breek die Here alle menslike strukture af waaraan Abram sou kon vashou om sy toekoms op die aarde te verseker. Hy moet uit sy land uittrek. Weg van sy familie af. Uit sy vader se huis. In Babel is veiligheid en verlossing op aarde gesoek deur bymekaar te bly en vir mekaar te sorg. Dít kom die Here doelbewus afbreek by Abram.

Vir Abram is daar geen menslike vashouplekke in die wêreld nie. Abram moes in geloof lewe. Hy moes lewe van die beloofde seën van die Here. Sekerheid lê vir Abram nie in dit wat binne menslike vermoë opgesluit is nie. Sekerheid lê in die seën van die Here. Houvas in die lewe is nie iets van eie bloed en familiebande nie. Al hierdie valse sekerhede word vir Abram in sy verkiesing juis weggeneem. Abram sal geseën word en hy sal ‘n seën wees vir ander. Waar daar geen menslike houvas meer is nie, kom daar verlossing in die wêreld.

Hierdie Goddelike sekerheid wil die Here steeds vandag gee wanneer ons mag hoor van sy verkiesende liefde. Geen bron van twyfel en onsekerhede nie, maar juis van verlossing en lewe met God. Wanneer Abram sy sterkte en toekoms nie in sy familie soek nie, mag hy leef uit die sekerheid dat die Here hom tot ‘n groot nasie sal maak. Dit is God se werk. Abram moet leef te midde van die Kanaäniete. Uitverkiesing beteken nie ‘n onttrekking aan die wêreld nie. Maar juis terwyl Abram deur die land trek, kom die Here heel persoonlik na Abram om hom te versterk en bemoedig. Die Here kom verseker hom: “Aan jou nageslag sal ek hierdie land gee”. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die Here wat aan hom verskyn het. Só is Abram veilig in die wêreld. Veilig by die liefdevolle God wat nie uitgesluit is van sy eie wêreld nie.