Bron: Waarheid en Dwaling. 4 bladsye.

Genesis 13:1-18 - Geheiligde Kerkvolk

Want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde ...

Genesis 13:1-18

Ons sien in Genesis 13 die ontvouïng van ‘n persoonlike en salige verhouding van die HERE met Abraham. Maar tegelyk ook hoedat die HERE sy kerkvergaderende werk begin en voort- sit. Die HERE neem altyd die inisiatief in die sluiting van sy verhouding met ons. Hy openbaar Homself opnuut aan ons. Hy bevry ons uit ons sterwende omstandighede. Dit meen ook dat Hy ons wil afsonder vir Homself. Met sy eerste ontmoeting met Abraham in die beloofde land, kon ons dan ook in God se beloftes hoor hoedat Hy ’n geheiligde kerkvolk vir Homself in die oog het. Dit is wat Hy in en deur Abraham tot stand wil bring. Hier met sy tweede ontmoeting aan Abraham in die beloofde land, sien ons sy bedoeling nog duideliker dat Hy ’n geheiligde kerkvolk vir Homself in die oog het:

  • ’n kerkvolk wat afgesonderd by Hom kom leef (13:1–4);

  • ’n kerkvolk wat afgesonder word van dié wat nie deel is van God se verbond nie (13:5–13;)

  • ’n kerkvolk wat - in die geloof afgesonder - diensbaar aan Hom leef (13:14–18).

Afgesonder by God🔗

Genesis 13:1-4 maak bekend hoedat die HERE sy belofte van verlossing en seën opnuut waar maak en uitbrei. Nadat Abram en Sara wonderbaarlik behoue gebly het in Egipte, ondanks Abram se bedrogspel met die leuen dat Sara sy suster is, kon hulle weer terugtrek na Kanaän, na die Suidland. Maar hierdie keer is hy baie ryker as voorheen. Farao het vir hom kleinvee, beeste, esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele saamgegee.

Toe die HERE hom oorspronklik geroep het, wou Hy Abram afsonder weg van sy eie blyplek, na die land wat die HERE vir hom sou aanwys. En Abram het kinderlik gelowig die instruksies van die HERE gevolg sonder dat hy vooraf die eindbestemming presies geweet het. Hy het op God vertrou. Oral waar die HERE hom in die beloofde land tot rus laat kom het, het hy altare opgerig en die HERE gedien. Die area tussen Bet-el en Ai was so ’n besondere ontmoetingsplek met die HERE. Dit is as’t ware asof die HERE sy uitgeroepene bestel het om te kom na waar Hy hom wil ontmoet, met hom wil verkeer. Met hierdie praktyk het die HERE ’n besondere karakter van kerkwees in die Bybelse geskiedenis ingebring wat ons vandag nog steeds onderhou, en wat eenmaal op die Nuwe Aarde ook deel van ons bestaan sal wees, naamlik om gereeld hulde in te bring binne die verruklike heerlike Jerusalem waar God by die mense sal woon (Openbaring 21 en 22). Abraham kom dan juis terug na die plek van ontmoeting om die HERE te dank vir sy wonderbare uitredding ondanks homself. Die openbare erediens moet ten aanskoue van die wêreld weer voortgaan. Die hele wêreld moet weet: Hierdie God is onse God en Hy maak sy beloftes waar; Hy moet erken word, omdat daar geen ander God naas Hom is nie. Profeties erken en getuig die kerk wat by die HERE saamkom, dat Hy alleen God is. Priesterlik gee die kerk wat by die HERE saamkom hulleself in offerbereidheid aan die HERE oor. Koninklik proklameer die kerk wat by die HERE saamkom dat almal onder sy heerskappy moet buig. Die openbare erediens teenoor die wêreld gaan weer verder. Dit is waartoe geloofstrou en die erkenning van die God van ons verlossing ons bring.

Afgesonder van die Wêreld🔗

Uit Genesis 13:5-13 blyk dat Abram en Sara nie alleen is nie. Telkens moet ons hoor dat Lot, Abram se kleinneef, met hom saamgetrek het. Uit hoofstuk 12 lyk dit asof dit maar gewoon bykomende inligting is wat die geskiedenisbeskrywing moet volmaak. En selfs ook as ons weer van Abram se terugtrek uit Egipteland lees, lyk dit maar net weer soos meegaande inligting wat die geskiedskrywer gee dat Lot ook saamgetrek het. Buitendien, wat is dan tog snaaks daaraan dat familielede dikwels iewers saam met mekaar verhuis na ’n plek toe, of mekaar dikwels onder dak neem? In Suid Afrika is daar selfs nog baie plekke waar tot vier geslagte saam in een perseel bly. Dit is dus eintlik vir ons gevoelens gewoon natuurlik.

En ja, selfs die stukkie geskiedenis wat in verse 5-13 beskrywe word, herken ons ook al te goed steeds in ons eie lewe. Daar kom om een of ander rede verskille, botsing van belange, misverstande tussen die mense wat so by mekaar woon en werk. As die HERE se genade die situasie beheers, kom daar wysheid wat hulle in vrede en met behoud van respek in staat stel om terrein te verdeel en uit mekaar se hare te bly. Ook dit is dus vir ons gevoel ’n baie realistiese en natuurlike menslike ding wat tussen Abram en Lot gebeur het. Abram is immers nie die enigste wat baie vee het nie. Ook Lot is ryk. Nou moet die troppe van Abram sowel as van Lot van die gras in die omgewing vreet en van die water daar drink. Dit terwyl Abram se vee en beeste baie gegroei het. Die land waar hulle boer, lewer nie genoeg vir al die diere op nie. En dan woon die Kanaäniete en Feresiete ook nog daar. Ook hulle moet van die beskikbare water en die kos lewe.

Abram sien hoe sy veewagters en Lot s’n elke dag rusie oor die kos en water vir die diere maak. Hiervoor moet ‘n oplossing gevind word. Broeders mag nie in onmin met mekaar lewe nie. Abram het die vrede lief. Die wat saam die HERE aanroep, is ook verplig om as broeders met mekaar te lewe, om die vreugde van Psalm 133 te ken: ‘Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers voor die aangesig van die HERE saamwoon’.

Abram het ook al oor ‘n oplossing nagedink. Hy sien raak dat hulle nie op dieselfde plek kan bly nie, want as hulle op die een plek bly sal die getwis oor te min voedsel nie weg gaan nie. Sy voorstel is dat een van hulle op ‘n ander plek gaan bly.

Al het hierdie dinge soveel duisende jare gelede gebeur, kan ons dit baie goed verstaan. Basiese menswees op aarde verander nie. Ons kan dit selfs waag om te sê dat elke gemeente met sy besondere samestelling uit verskillende families en individue, wat op mekaar aangewese was en steeds is, dit maar te goed besef.

En tog, dit is nie juis oor die tipiese menswees dat die skeiding tussen Abram en Lot opgeteken is nie. Die HERE wys ons hoe Hy sy kerk vergader, beskerm en onderhou. Hy wys ons wat dit beteken as ons lees dat Hy sy bruidskerk voortdurend reinig en heilig vir Homself, sodat sy sonder vlek of rimpel sal wees. Afgesonder vir Hom. En dan is dit uit sy raad, sy almag, sy voorsienigheid bepaal dat daar ’n oorsaak moet kom wat daarop moet uitloop dat hulle huishoudings van mekaar skei. Wanneer ons dan met medemenslikheid daarna kyk, is dit vir ons gevoel so vreeslik hartseer dat die twee huishoudings moet skei. En tog, noudat ons oor al die eeue van die heilsgeskiedenis daarheen terugkyk, besef ons dat dit die manier is hoe God se liefdevolle raadsplan gewerk het, waarmee Hy die vrou afgesonder het, en haar in gereedheid gebring het om uit sy verlossingskrag, die groot nasaad voort te bring wat die kop van die slang sou vermorsel. Hy wou in Abraham en Sara sy bruidskerk afsonder en eenkant kry om sy heilsbeloftes in hulle waar te maak.

Ons moet selfs verder kyk. Ons moet raaksien watter grondmotief daar binne die onheilige gemeenskap van die huishoudings leef. Want wanneer ons daardie verderflike grondmotief herken, sal ons ook verstaan waarom dit so noodsaaklik is dat daar ’n afskeiding plaasvind. Die grondmotief is hebsug en afguns teen die geseënde beloftedraer van die HERE. Ons sien dit eintlik al te goed in die manier waarop die verdeling van die land en die skeiding plaasgevind het. Abram gee vir Lot die geleentheid om te kies. Lot stem in en kyk oor die land rond om te bepaal watter deel hy sal kies. Die eerste wat opval is dat Lot ook regtig die eerste keuse gaan uitoefen. Is dit reg van Lot? Hy het gesien hoe die HERE Abram die draer van die belofte gemaak het en op ‘n besondere manier met hom gewerk het. As Lot Abram eerste laat kies het, het hy God se werk erken en die posisie wat die HERE vir Abram gegee het. Lot oorweeg nie in die eerste plek God se werk nie. Sy oë en hart word deur verlange na die mooiste en mees vrugbare plek beheers. Hy word beheers deur die verlange na rykdom. Enkele tekste waar die Heilige Gees baie sterk hierteen waarsku, is 1 Timoteus 6:9 en 1 Johannes 2:16,17. Gierigheid is die wortel van alle kwaad. Lot kyk na die Jordaanstreek en sien hoe baie water daar is en hoe groen die gras daar is. Lot kies dit wat in mense se oë die beste deel is. Hy trek met al sy vee en met sy familie en al sy besittings na die Jordaanstreek.

Ons moet nou mooi dink. Dis asof ons deur die Bybelskrywer binne in Lot se gedagtewêreld ingelei word. Wat is dit wat Lot so graag begeer? Voorspoedsgodsdiens. Soos die belegging in ’n piramideskema.

Van Abraham lees ons heeltemal iets anders in Hebreërs 11:9 en 10 - ‘Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is’. Abram bly waar hy was. Dit beteken dat hy die minder goeie stuk grond moet gebruik terwyl hy meer diere as Lot het. Hy moet met die minste genoeë neem terwyl die HERE hom aangewys het as die man waaruit sy volk moet voortkom.

Lot trek met alles wat hy het in die rigting van Sodom. Die stad wat die simbool van ‘n voluit sondige lewe is. Uiterlik lyk dit asof Lot na die paradys getrek het maar geestelik kom hy daar waar die dieptes van die hel baie goed sigbaar is. Lot gaan selfs in die goddelose stede van die Jordaanstreek woon. Lot wil nog die HERE dien, maar met sy gedrag speel hy met die ewige lewe en maak hy die lewe vir homself baie moeilik. Ons lees later in 2 Petrus 2 dat God die goddelose stede Sodom en Gomorra met sy oordeel gestraf het en dat Hy 'die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het die regverdige man,wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke'.  Lot gaan in die geselskap van groot sondaars woon. Hy bring homself en sy gesin in gevaar.

Die geloofsverskil tussen Abram en Lot was enorm. Wanneer nie meer die werke van God gesoek en betrag word nie, nie sy belofte en sy Woord nie maar ons eie wens en begeerte voorop staan - dan tree die vervalsing van die kerk na vore. Dan moet daar dringend kerklike reformasie plaasvind. Die HERE wil sy bruidskerk suiwer en heilig, weg van enige selfverlossing, weg van enige hebsug. Die suiwer geloof fokus nie op die versugting na tydelike genot, van welvaart wat ons verlange op God vernietig nie. Suiwer geloof hou die oog gefokus op die troue Verbondsgod wat sy beloftes waar maak.

Daarom het die skeiding tussen Abram en Lot ‘n werklikheid geword. Nou is niemand van Abram se vader se huis meer by hom nie. Nou is hy en sy huishouding met Sarai alleen.

Afgesonder vir God🔗

Maar Abram is dan juis nie alleen nie. Want nou, vir die tweede keer in die beloofde land, verskyn die HERE aan hom. Die HERE is die volmaakte Herder van sy kinders. Abram staan op ’n berg. Hy kan die hele omtrek van die beloofde land sien. Alles wat hy sien en alles wat daarby hoort, selfs die plek waar Lot nou woon, sal eendag die besitting van sy nakomelinge vir ‘n baie lang tyd wees. Hieraan hoef Abram nie te twyfel nie. Hierdie hele land sal nie net hulle besitting wees nie; hulle sal ook as ’n groot menigte daarin woon. Die volk sal so groot word dat dit net so ontelbaar word soos die stof van die aarde. Dit is God se werk. Hy sorg vir die vrugbaarheid van die volk. Ander beelde wat die groot aantal van Abram se nakomelinge onderstreep is:

  • die sterre - Genesis 15:5, 22:17, 26:4; Deuteronomium 1:10, 10:22, 28:62.

  • die sand by die see - Genesis 22:17, 32:12.

Die land sal vol van Abraham se nakomelinge wees. Dit word vervul as die volk Israel uit Egipte trek en die land Kanaän binnestroom. Dan sê die HERE vir hulle: ‘Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het’ (Josua 1:3). Ja, en ook nie net soos Hy dit met Moses gespreek het nie, maar soos wat hulle geloofsvader Abraham eens gedoen het.

Die HERE het vir Abram die opdrag gegee om deur die hele land te trek. Hy mog nie net met sy gehoor nie, maar ook met al sy ander sintuie God se belofte toe-eien. Dit is ‘n bemoediging van God. Soos ’n teken en ’n seël vir Abram. Al die plekke wat hy sien en elke voetstap wat hy gaan maak, wys dat daardie stuk grond die grond is wat sy nakomelinge sal besit en waarop hulle sal leef. So seker is God se belofte.

Dan gehoorsaam Abram die opdrag. Nadat die HERE met hom gepraat het, vertrek hy van die plek tussen Bet-el en Ai. Die plek waar hy uiteindelik gaan woon is by Hebron, by die terpentynbome van Mamre. Hy gaan nie in ‘n Kanaänitiese stad woon nie. Hy hou ‘n goeie afstand terwyl dit nie beteken dat hy nie met die mense in die omgewing omgaan nie. Nee, hy leef sy roeping voluit uit. Hy verwerf aansien en respek by die mense rondom. As hy uittrek om oorlog te maak, dwing hy heilige ontsag af. Daarvan getuig die volgende hoofstukke van Genesis. Waarom? Wanneer hy by die terpentynbome van Mamre kom, by Hebron, bou hy weer ‘n altaar. Abram kan op sy woonplek nie sonder ‘n altaar vir die HERE lewe nie. Sy lewe kan nie sonder die openlike aanbidding van God nie, want die HERE dra sy lewe. En hy erken dit.

Dit is deur hierdie geloofsoorgawe wat die HERE sy kerkvolk vergader deur die eeue heen. Maar ook meer as dit. Hy heilig sy kerk. Hy het haar anders gemaak. En hierdie andersheid teenoor die sondige wêreld, het Hy in Christus vir ons vervul. Die HERE het ons vir Hom eenkant gesit, sodat ons ’n uitverkore priesterdom, ’n koninklike volk sal wees wat die deugde verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Die gewetensvraag lê dus op elke gelowige en elke gemeenskap van gelowiges: staan dit werklik duidelik uit in die lewe waar ons daagliks omgaan, watter verskil daar is tussen ons en die ongelowiges? Is dit opmerklik dat ons nie in hierdie tydelike reeds ’n materialistiese Kanaän vir onsself wil aangryp nie, maar uit die beloftes van die HERE lewe? Wanneer mense aan hulle eie planne en gedagtes meer gesag verleen as aan die Woorde en die werke van die HERE, wanneer medegelowiges die gees van gierigheid in hulle omdra, is die gees van die valse kerk ook in ons midde. Dan moet daar drastiese maatreëls getref word. Reformasie. Kerk-suiwering. Maar laat ons dan die HERE se werke in ons erken. Laat ons nie nalaat om die offerdiens voort te sit nie. Laat ons ons lewe as dankoffer aan Hom toewy!