3 bladsye.

Genesis 50:20 - Die Toekoms van Sy Wederkoms

Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het.

Génesis 50:20

Lees Génesis 50:1-26

Met die jaarwisseling is ons nou op die oorgang van die oue na die nuwe. As ons oor die skouer kyk, sien ons agter ons maar ’n bra somber prentjie van swak ekonomiese omstandighede, van werkloosheid en geweld en politieke spanninge. Vir baie huise was dit ’n jaar wat armoede gebring het, of dalk ernstige siekte, of ’n jaar waarin jy ’n dierbare moes begrawe...

En terwyl ons so terugkyk op die oujaar, kom die vraag op: Wat hou die nuwe jaar vir ons in? Lê daar vir ons ’n beter jaar voor as dié wat verby is? Almal van ons hoop so. En daarom sê ons in hierdie dae vir mekaar: Voorspoedige nuwejaar. Daar is egter mense wat sê: As ons realisties wil wees, moet ons nie te opgewonde wees oor wat die nuwe jaar vir ons inhou nie. Gemeet aan die jaar wat verby is, lê daar vir ons nog donkerder dae voor.

Nou is dit so - en gelukkig ook so - dat ons nie in die toekoms kan sien nie. God leer ons egter tog hoe om na die toekoms te kyk. In die Bybel maak Hy aan ons bekend hoe die gelowiges terugkyk na die verlede en vorentoe kyk na die toe­koms. Hy leer dit vir ons onder andere in die geskiedenis van Josef en sy broers, net na hulle pa se dood.

Toe het húlle gestaan op die oor­gang van ’n ou era na ’n nuwe era:

  • Agter hulle het die lewe in Kanaän gelê. Kanaän, die land wat die Here vir hulle gegee het om in te woon. ’n Mooi land, maar hulle lewe daar was nie altyd ewe mooi nie: die twaalf broers se lewe in Kanaän is ’n verhaal van onderlinge mededinging en afguns, waarin hulle pa twee van sy seuns voorgetrek het bo die ander - Josef en Benjamin, sy lieflingseuns.

    Josef het boonop allerlei drome oor homself te vertel gehad, waarmee hy sy broers se jaloesie nog verder aangeblaas het, sodat hulle hom op die ou einde as ’n slaaf na Egipte verkoop het, en met ’n leuen na hulle pa toe gegaan het - met die storie dat Josef deur ’n wilde dier verskeur is.

    En toe daar ’n paar jaar later hongersnood in Kanaän gekom het, en hulle in Egipte gaan koring koop het, het hulle tot hulle ontsteltenis ontdek dat Josef daar in Egipte onderkoning geword het. Die geskiedenis is aan ons almal goed bekend. Toe het hulle Jakob, hulle pa, daar uit Kanaän gaan haal, en almal het in Egipte kom bly. Die hele tyd het Josef se broers se gewete hulle bly aankla oor wat hulle Josef aangedoen het, maar hulle het ook geweet dat, solank Jakob by hulle is, Josef nie sou wraak neem nie, omdat hy nie hulle pa wou ontstel nie.

    En toe is Jakob dood. As ’n mens so daarna kyk, het Jakob se dood ’n era afgesluit. Hy was die laaste van die aartsvaders. En vir Josef se broers het daar met sy dood ’n nuwe era aangebreek.

  • Voor hulle het ’n nuwe lewe gelê, die lewe in Egipte, in Egipte waar die bordjies skielik verhang is - waar Josef, die slaaf, onderkoning geword het, waar Josef, die broer wat deur hulle verwerp is, voortaan oor hulle sou regeer. En met die dood van Jakob het hulle nie geweet wat om te wagte te wees nie.

    Josef se broers was duidelik benoud oor wat vir hulle in die nuwe tydperk voorgelê het. In vers 15 lees ons dat hulle vir hulle self gesê het: “Sê nou Jo­sef gaan ons voortaan as vyande behandel en hy gaan ons terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het?”

    Daarom kom hulle na hulle pa se begrafnis na Josef toe en pleit dat hy hulle sal vergewe. Vooruit laat weet hulle hom van ’n opdrag wat hulle pa voor sy dood sou gegee het dat Josef hulle tog moet vergewe - so het hulle gehoop om Josef se hart sag te maak. Maar dan antwoord Josef hulle, en in sy antwoord is dit duidelik dat hulle nie hoef te probeer om sy hart te verander nie. Sy hart was klaar verander, deur die Heilige Gees van God.

    Die antwoord waarmee hy hulle antwoord, is woorde wat God hom in die mond gelê het. Dit is God se antwoord aan elkeen wat ’n donker verlede agter hom het en onseker is oor wat die toekoms inhou. Josef het vir sy broers gesê:

Julle wou my kwaad aandoen, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is: Hy het gesorg dat ’n groot volk in die lewe gebly het.

Daarmee sê hy: Dit is so - daar lê swaar tye agter die rug. Die grootste deel daarvan was buite julle beheer, soos die hongersnood wat oor almal gekom het. Vir ’n deel daarvan was julle self aandadig, soos toe julle, julle broer as ’n slaaf verkoop en vir julle vader in sy droefheid gelieg het. Maar wat ook al gebeur het, en wat vorentoe ook al mag gebeur, een ding weet ek: God is in beheer. Hy beskik oor alles. In die tyd wat verby is, het Hy alles toegelaat om te gebeur, en dit met ’n goeie doel: om ’n groot volk in die lewe te hou, die nageslag van Jakob.

Daarom sou dit verkeerd wees om opstandig te raak teen alles wat agter die rug lê, want dit sou opstand teen God beteken. Josef kan daarom nie sy broers wil terugkry oor wat hulle teen hom verkeerd gedoen het nie. Daarmee sou hy immers in op­stand kom teen God se Raadsplan, en dit beteken: teen God self! Nee, sy broers se verkeerde dade van die verlede is voort­aan ’n saak tussen hulle en God. God het toegelaat dat hulle die sonde doen, maar dit verontskuldig hulle geen oomblik nie. Hulle staan steeds skuldig voor God vir wat hulle gedoen het, selfs al het God hulle verkeerde dade uiteindelik vir ’n goeie doel gebruik. Voor God moet hulle met hulle sonde die pad van berou en bekering loop.

So wil God hê dat elkeen van ons moet maak met die sondes van die verlede, van die afgelope jaar. Wat ander mense teen jou verkeerd ge­doen het, is nie iets waaroor jy wraak en vergelding mag skree nie, want die belangrike is dat sulke mense hulle met God versoen. En wat ons eie sondes betref: in plaas daarvan dat ons sit en tob oor ons eie sondes, gaan vra God op jou knieë om vergiffenis. Smeek Hom in alle opregtheid en Hy sal vergewing gee.

Daar is ook baie ander dinge wat in die afgelope jaar gebeur het wat ons tot droefheid stem, maar wat buite ons beheer was: droogte, die ekonomiese situasie, werkloosheid, verskeurdheid op kerklike- en volksterrein, vertroebeling van die politieke situasie in ons land en daarbuite, oorloë en terreur, moordbendes wat in al hoe toenemende mate op weerlose mense toeslaan... Maar ook wat dit betref, leer God ons deur die woorde van Josef dat Hy, die alwyse God, dit ten goede gedink het om te doen soos dit vandag is. Wat sy doel daarmee is, kan ons nie nou insien nie, maar waarskynlik sal ons eendag verstaan, wanneer ons van aangesig tot aangesig sien.

Of nog nader aan huis: in jou huis het dinge moontlik die afgelope jaar skeefgeloop - finansieel het sake dalk sleg agteruitgegaan en vir die jaar wat voorlê, voorsien jy niks anders nie as ’n gespartel om finan­sieel kop bo water te hou. Of emosioneel was daar dalk by jou ’n ineensinking sodat die lewe vir jou nie die moeite werd voel nie.

Vir hierdie jaar sien jy dalk nog minder kans as vir die afgelope jaar - vir die siekte en die pyn, vir die eensaamheid, vir die minderwaardigheid van jou eie bestaan, vir die huweliks-onmin, vir die familievetes, vir die onderstrominge by die werk - wat ook al jou moedeloos stem, God sê vandag vir jou:

Onthou, Ek het dit ten goede gedink dat dit is soos dit vandag is. Aanvaar dit en weet: Ek het ’n goeie doel met alles wat Ek doen en toelaat om te gebeur.

Dit was God se boodskap aan die broers van Josef toe hulle in vrees en bewing vir die toekoms geleef het. Dit het God ook jare later bekendgemaak aan ’n ander klein groepie manne en vroue, toe ook hulle verslae was oor wat gebeur het en nie kans gesien het vir die toekoms wat voorlê nie - die dissipels van Jesus wat verslae by Gólgota staan en toekyk het hoe hulle Rabbi, Jesus op wie hulle al hulle hoop en geloof gerig het - hoe Hy deur die Romeinse soldate gekruisig word, en hoe Hy onder die skimpe en beledigings van die Jode daar gehang het en gesterf het. Ook hulle moes leer dat in die donkerste oomblik van die geskiedenis die oorwinning van God op sy helderste deurgebreek het.

Jesus Christus se kruisdood was nie die einde van sy Koninkryk nie, maar die begin daarvan. God het toegelaat dat die Jode hulle teen Jesus vergryp, sodat Hy daardeur - om die woorde van Josef te gebruik - ’n groot volk in die lewe kon bring: die Godsvolk van die Nuwe Testament.

Die dood van Jesus - ontsettend donker en smartlik soos wat dit was - was die begin daarvan dat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar ewig mag lewe. Dit het daartoe gelei dat God vir Hom in al die volkere ’n eie volk - die gemeenskap van die gelowiges - saamgebring het. En so het die gekruisigde Jesus ’n groot volk vir God versamel.

Al kan ons nie sien wat 1999 vir ons inhou nie, weet ons dit: Wat ook al gebeur, God beskik oor alles - ten goede! Vir sovêr ons deur ons eie sonde aandadig is aan wat gebeur, is daar maar een uitweg: die uitweg van berou en bekering, en sekerheid dat God in Jesus Christus vir elke berouvolle sondaar vergewing tot die ewige lewe skenk.

En soos God ons sondes vergewe, vra Hy dat ook ons bereid sal wees om hulle wat teen ons sondig, te vergewe. Josef het sy broers ver­gewe, nie omdat hulle so hartroerend gesmeek het of omdat sy pa voor sy dood hom so beveel het of omdat hy self so ’n jammerhartige mens was nie, maar omdat God sy hart vergewensgesind gemaak het, omdat Josef geweet het dat God hom van al sy sondes vergewe het daarom was hy bereid om ook sy broers te vergewe en hulle aan die genade van God op te dra.

Ons sê dat ons nie in die toekoms kan sien nie. Heeltemal waar! Maar tog lig God vir ons in sy Woord die sluier so ietwat oor die toekoms - die toekoms van sy wederkoms. Dit weet ons verseker: ons Here kom weer. En as Hy kom, sal Hy die volk wat Hy deur die eeue in die lewe gehou het, die Godsvolk, by Hom vergader.

En om by God te wees, is die toppunt van heerlikheid! Selfs onder die moeilikste omstandighede troos God ons met die uitsig op daardie heerlikheid.

Kom ons gaan almal hierdie nuwe jaar tegemoet, met vertroue op God se sorg en beskikking, met berou oor ons sondes, met sekerheid van sondevergiffenis in Jesus Christus en met 'n heerlike uitsig op die ewigheid.