3 bladsye.

Geprivatiseerde Godsdiens

Mistieke ervarings, bonatuurlike verskynings, ontmoetings met engele... So beleef ’n groot aantal hedendaagse Amerikaanse Christene hulle godsdiens. Omtrent een derde van hulle, skryf die bekende tydskrif Newsweek. In Europa lyk die prentjie selfs donkerder. Ongeveer elke sewende Europeër glo in towerkuns en heksery; waarsêery het soveel aanhang gekry dat daar in Duitsland meer fortuinvertellers en waarsêers is as al die Protestantse en Katolieke predikante en priesters saam, skryf die Duitse tydskrif Der Spiegel. Intussen neem belangstelling in die Christelike kerk by die dag af. Waarom gebeur al hierdie dinge? En hoe raak dit ons in Suid-Afrika?

Vir eeue lank was Europa as’t ware die bakermat van die Christelike godsdiens gewees. Nou, aan die begin van die 21ste eeu, staan die kerke leeg - imposante museums van n vervloë era. Oor die hoekoms en waaroms hiervan het die Switserse teoloog Ingolf Dalferth lank ernstig kopgekrap. In ’n artikel in Theology Today (April 2000) het hy sy bevindings neergeskryf. Hy bevind dat Europeërs nie minder godsdienstig as voorheen is nie. Hulle is nog steeds aangetrokke tot religie. Maar aan die kerk het hulle geen erg meer nie. Die rede? Groepsgodsdiens is uit. Elkeen wil sy eie persoonlike godsdiens hê wat hy op sy eie beoefen. Ons kan praat van ’n grootskaalse privatisering van die godsdiens.

Die geprivatiseerde godsdiens is ’n godsdiens waarin elkeen self besluit wat hy wil glo. Die mens wil hom nie laat voorskryf nie. Die kerk met sy dogma en dissipline word beskou as toonbeeld van godsdienstige voorskriftelikheid. Daarom loop die moderne Europeër wye draaie óm die kerk. En hy beoefen ’n kafeteria-godsdiens, soos Dalferth dit noem. Dit wil sê: elkeen kyk die godsdiensspyskaart deur en bestel net wat hom pas. Elkeen matig homself die vryheid aan om self te besluit wie God is. Vandaar ook die titel van Dalferth se artikel: “I determine what God is!”

’n Lang Aanloop🔗

As ’n mens mooi daaroor dink, is hierdie geprivatiseerde godsdiens nie ’n onverwagte ontwikkeling nie. Dit is die onbetaalde rekening van die afgelope eeue se godsdienstige afwykings van kerk en teologie in Europa. Die hedendaagse wekroep van “Ek besluit wie God is” is immers maar net ’n verlengstuk van die 14de en 15de-eeuse wekroep van Rome: Ons besluit wie God is. Die Roomse kerklui het besluit, en die massa moes maar net by die stem van Rome inval. Wie nie by Rome wou inval nie, was tot in die buitenste duisternis geban, soos Luther en Calvyn en die ander Hervormers van die 16de eeu beleef het.

Na die Hervorming is die Europese denke stormenderhand deur die Rasionalisme van die 17de eeu oorgeneem. Dit het ook die denke van baie Protestantse kerke binnegesypel en bederf, sodat selfs Protestantse kerklui en teoloë tot die oortuiging geraak het dat die mens se verstand − die universele rede van die mens − die maatstaf van die waarheid is. Ook die Skrifwaarhede is deur modernistiese teoloë aan die toets van die mens se verstand onderwerp − en te lig bevind. Die wekroep van die 18de en 19de eeu het geword: Die mens se rede besluit.

Toe kom die 20ste eeu en die mens begin homself as individu vooropstel. Dit was die eeu van ontwikkeling vanaf die modernisme na die post-modernisme, waarin die waarheid relatief tot elke individuele mens gestel is. Elkeen besluit vir homself wat die waarheid is.

Weereens is ook die Skrifwaarhede in hierdie postmoderne maalkolk ingesuig. Die vanselfsprekende ontwikkeling was dat die mens sou roep: Ek besluit self wie of wat God is. Eers was dit: “Ons besluit wie God is”. Toe word dit: “Die mens se rede besluit wie God is”. Nou het dit uitgekom by: “Ek besluit self wie God is”.

Dit lyk dus werklik of die kerke in Europa (en die VSA) te staan gekom het voor ’n samelewing wat net eenvoudig anders oor sake begin dink het, op ’n manier wat lynreg teenoor kerkvorming staan. Dit gaan net mooi niks vir die kerke help om allerhande aanloklike veranderings in te voer nie.

Die 21ste-eeuse Europese mens het ’n subjektiewe, geprivatiseerde, selfgesentreerde godsdiensbeskouing aangekweek en is nie vatbaar vir kerklike betrokkenheid nie, al neem die kerk ook watter gedaante aan.

Suid-Afrika Staan ook in die Tou🔗

Om te dink dat die kerke in Suid-Afrika nie ook met die probleem van godsdiens-privatisering te doen gaan kry nie, is helaas wensdenkery. Trouens, die tekens is al hier. Ook in Suid-Afrika is ’n buitekerklike Christendom besig om sy kop uit te steek: mense wat hulleself as godsdienstig beskou, selfs as Christelik beskou, maar wat niks met die Christelike kerk te doen wil hê nie.

Beteken dit dat die Christelike kerk maar moet boedel oorgee? Het die gety nou maar eenmaal teen die kerk gedraai sodat ons, as ons enigsins realisties wil wees, ook maar in Suid-Afrika betyds ons kerkgeboue as museums of kultuursentrums moet begin inrig? Allermins. Ons glo dat die Here dit bedoel het toe Hy gesê het dat Hy sy kerk tot die einde toe sal bewaar sodat selfs die poorte van die doderyk dit nie sal oorweldig nie.

Maar moet ons dan, ter wille van oorlewing, die kerk aanpas? Moet ons die kerk meer “gebruikersvriendelik” maak? Ons kan probeer, maar die les van Europa is dat dit op die lang duur niks sal help nie. Watter ge­daante die kerk ook al aanneem, vir die verindividualiseerde 21ste-eeuse mens is die kerk as sodanig onaanvaarbaar. Ons kan in die 21ste eeu verwag om ook hier in Suid-Afrika voor ’n kerkvyandige gesindheid te staan te kom.

Hou aan, Tydig en Ontydig ...🔗

Waar lê die oplossing dan? Daar is ’n antwoord, sê Dalferth in sy artikel. Dit is egter nie ’n opspraakwekkende of nuwe antwoord nie. Die antwoord is dat die kerk eenvoudig en in geloofsvolharding by die waarheid moet staan en die waarheid moet verkondig.

Onmoontlik? Onverstandig? Dit is dieselfde “onmoontlike” en “onverstandige” taak wat die apostels in die eerste eeu onderneem het. Hulle het aan mense wat absoluut oortuig was: “Ons besluit wie God is” of: “Ek self besluit wie God is”, met kragtige eenvoud verkondig: “Nee, God sê wie God is. Hy en niemand anders nie.”

Soos aan die heidenwêreld van die 1ste eeu moet die kerk in die heiden-geworde wêreld van die 21ste eeu vreesloos bly verkondig: Ons kan nooit met ons beperkte insig en verduisterde verstand onsself aanmatig om te wil besluit wie God is nie. Ons kan alleen maar na God luister. In sy genade het Hy na ons toe gekom en Homself aan ons geopenbaar. Sy openbaring het Hy vir ons laat opteken in sy Woord. Luister daarna. Luister en glo. Dit geld vir my, vir jou en vir ons almal. Glo - nie omdat ek so sê of omdat die kerk so sê nie - maar omdat God so sê. En Hy praat met absolute gesag.

Nuwe Sendingvelde🔗

Kortliks kom dit daarop neer dat die post-Christelike Europa, en ’n moontlike post-Christelike Suid-Afri­ka, nuwe sendingvelde sal word vir die kerk. Nie om die kerk te propageer nie, maar om die evangelie van Jesus Christus te verkondig - die evangelie wat nie die kerk of die mensdom of enige individu uitgedink of gefabriseer het nie, maar wat God aan ons almal in sy Woord geopenbaar het. Slegs die Heilige Gees, wat steeds saam met die Woord getuig, het die krag om die verwronge denke van die verindividualiseerde mens van die 21ste eeu te deurbreek. En daar waar die geloof deurbreek, daar vergader die Here self sy kerk.

’n Geprivatiseerde godsdiens? Mag God ons daarvan bewaar. Daarom pas dit om te bid dat die mens hom sal bekeer van geprivatiseerde gods­diens waarin hy self probeer besluit wie God is. Ook om te bid dat ons self van elke strewe na ’n gepriva­tiseerde godsdiens bekeer sal word en die Here so sal dien soos Hy ons in sy Woord leer.