6 bladsye.

Gereformeerd-wees van die Vrye Gerformeerde Kerke in Suid-Afrika

kerk

Die vorige sprekers het reeds verduidelik wat met Gereformeerd-wees bedoel word. Ek hoef dus nie nou nog daaroor uit te wei nie. Wat julle veral sal wil hoor is hoe dit in die Vrye Gereformeerde Kerke (VGKSA) gestalte kry. ’n Mens sou sê dat dit in elke gemeente of kerkverband dieselfde behoort te wees. Gereformeerd is mos gereformeerd. Tog het elke gemeente of kerkverband sy eie klimaat, as ek dit so mag sê, en sy eie aksente. Wat is die klimaat binne die VGKSA? Hoe word Gereformeerd-wees daar uitgeleef?

Om ’n beeld daarvan te kry moet ek iets van die geskiedenis van die VGKSA noem. Die geskiedenis is grotendeels bepalend vir die klimaat binne die VGKSA.

Die Vrye Gereformeerde Kerke is geïnstitueer deur Gereformeerde Nederlanders wat ná die Tweede Wêreldoorlog na Suid-Afrika gekom het. Hierdie mense het kort tevore ’n kerkstryd in ‘De Gereformeerde Kerken in Nederland’ (GKN) deurgemaak, wat tot ’n kerkskeuring gelei het.

Hierdie skeuring is die ‘Vrijmaking’ genoem en het in die veertigerjare van die twintigste eeu in Nederland plaasgevind. In die dertigerjare van daardie eeu het daar in die GKN ’n beweging ontstaan wat opnuut oor die leer en lewe vanuit Bybelse norme wou nadink. Daarvoor het egter geen ruimte bestaan nie. In ’n teenreaksie het die algemene sinode probeer om die Bybelse kritiek tot stilswye te bring. Onder dreiging van dissiplinêre maatreëls is ’n bepaalde leerstelling oor verbond en doop as bindend opgelê. Van hierdie binding het baie hulleself toe vrygemaak. Alhoewel hulle offisieel die naam ‘De Gereformeerde Kerken in Nederland’ behou het, gebruik hulle meestal die toevoeging ‘Vrijgemaakt’ ter onderskeiding van die ander kerkverband, wat onder die naam ‘De Gereformeerde Kerken in Nederland’ bly voortbestaan het.

Van die Gereformeerde immigrante wat uit die vrygemaakte kerke in Nederland na Suid-Afrika gekom het, het gemeen dat hulle nie sonder meer lid van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) kon word nie, aangesien die GKSA op daardie stadium hulle bande met die nie-vrygemaakte Gereformeerde Kerken in Nederland, ook ná die kerkskeuring van 1944, gehandhaaf het. Indien hulle sonder meer by die GKSA sou aansluit, sou hulle (so het dit vir hulle gevoel) hulle vrymaking in Nederland feitlik weer ongedaan maak. Hulle sou dan weer een in leer, diens en tug word met die kerke wat die Gereformeerde spoor verlaat het.

Die wens was egter om gewoon Gereformeerd te wees en te bly. In die lyn van die aloue kerk en van die kerke van die Reformasie, wou hulle vashou aan die aloue onfeilbare Woord van God soos dit in die drie Formuliere van Eenheid saamgevat is. Hulle wou gewoon christelike kerk wees, ’n kerk wat hom aan die skriftuurlike leer en kerkregering bind. Hulle het hulself beskou as deel van die heilige algemene christelike kerk wat Christus van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader.

Deur die feit dat die VGKSA apart van die GKSA vergader het, het die Vrymaking ’n duidelike stempel op die ontwikkeling van die kerke geplaas. Die VGKSA was genoodsaak om meer na Nederland te kyk vir hulp en predikante. Daardeur kon die kerke nie onmiddellik geniet van positiewe bestuiwing van ander gereformeerdes in Suid-Afrika nie. Die gemeentes het daarom langer die karakter van immigrante-gemeentes behou en die proses van afrikanisering is vertraag.

Nederland

Teen die agtergrond van die Vrymaking van 1944 en van die reformatoriese beweging in die GKN wat daaraan voorafgegaan het, kan ’n mens sekere eienskappe van die VGKSA, veral in die beginjare, ontdek. Dit word ook wel vrugte van die Vrymaking genoem. Ek noem onder andere:

  • ’n Sterk kerklike betrokkenheid van lidmate. Hulle het geleer om nie slegs leiers blindelings te volg nie, maar om self op grond van Skrif en Belydenis moeilike keuses te maak.
  • Die kerkkeuse is baie belangrik geag, met ’n sterk klem op artikels 27-32 van die NGB. Daar was dus ’n lewende kerkbesef.
  • Deeglike heilshistoriese prediking – in die jare voor die Vrymaking is hard gewerk aan reformasie van die prediking. Elemente soos heilshistoriese eksegese en verbondsmatige prediking het groot aandag ontvang.
  • Die amp van alle gelowiges word sterk beklemtoon. Dit word van elke lidmaat verwag dat hy die Bybel (en die belydenisskrifte) ken en dit ook voortdurend bestudeer. Allerlei bybelstudieverenigings is opgerig.
  • Aandag vir die gereformeerde onderwys – deur ’n sterk verbondsmatige visie op die kerk word daar baie aandag aan die opvoeding en onderwys van die kinders van die kerk gegee. Sodra dit moontlik was, is eie laerskole deur lidmate opgerig.

Hierdie vrugte van die Vrymaking stempel tot vandag toe die kerklike lewe, veral in die ou immigrante-gemeentes, al moet ek sê dat die nadruk daarop minder sterk is. Oor die jare het ons die betreklike waarde van sekere aksente leer sien.

Ontwikkelinge na 1990 het die gesig en karakter van die VGKSA behoorlik verander. Sedert 1993 het ’n aantal leraars en individuele lidmate vanuit die Nederduits Gereformeerde Kerk hulle by die VGKSA aangesluit.

Dit vanweë die onskriftuurlike leer en kerkregering wat in die NGK deurgevoer is. In 1995 bedank ds. P. Nel en ’n aantal lidmate na jare se stryd uit die NG Moedergemeente te Bethal. ’n Nuwe gemeente word gestig en in die kerkverband van die VGKSA opgeneem. Dit beteken dat die VGKSA vanaf dié datum nie net uit ou immigrante-gemeentes bestaan nie, maar nou ook ’n egte Afrikaanse gemeente in hul midde het. In 2001 word ’n ander Afrikaanse gemeente, dié van Springs, in die kerkverband opgeneem. Hierdie ontwikkelinge het die proses van afrikanisering binne die VGKSA gestimuleer en ons des te meer ons verantwoordelikheid in Suid-Afrika laat besef.

Die ontwikkelinge in die sending is ook besig om nuwe uitdagings aan die VGKSA as kerkverband te stel. Ná 1990 het die VGK-gemeentes self die verantwoordelikheid vir sendingwerk in Mamelodi, Soshanguve en in die Kaapse Vlakte aanvaar. Dit het die betrokkenheid van die kerke by die sending versterk. Twee gemeentes wat vanuit die sendingwerk ontstaan het, naamlik die gemeentes Mamelodi en Soshanguve-Noord kon geïnstitueer word en het inmiddels deel van ons kerkverband geword. Dit beteken dat ons kerkverband op hierdie oomblik tog ’n behoorlike verskeidenheid ken. Daar is die ou immigrante-gemeentes wat enersyds nog deur die Nederlands-kerklike agtergrond gestempel word, maar wat andersyds steeds meer besig is om te afrikaniseer, mede deur die Afrikaners wat in haar midde opgeneem word en die derde generasie immigrante wat hier in Suid-Afrika grootgeword het. Dan het ons die egte Afrikaanse gemeentes wat vanuit die NG agtergrond in die kerkverband opgeneem is. Ten slotte het ons ook die Sotho-sprekende gemeentes wat vanuit die sending nou ook deel van die kerkverband is.

Hierdie ontwikkelinge dwing die VGKSA om voortdurend na te dink oor sy Gereformeerd-wees. Vanuit ons geskiedenis weet ons wat dit beteken as gewetens bo die Skrif gebind word. Ons wil nie in die slaggat val deur self gewetens van kerke of lidmate bo die Skrif te bind nie. Tog kan dit maklik gebeur dat ons ons eie identiteit en spesialiteite (byvoorbeeld die vrugte van die Vrymaking) so sterk beklemtoon dat hulle amper tot norm verhef word.

Prof Trimp het ons geleer dat Gereformeerd-wees niks te make het met konserwatisme of tradisionalisme nie. Konserwatisme wil alles hou soos dit is. Dit beskou die opvattings van sekere leiers of sekere historiese gebeurtenisse as die einde van alles. Dit maak ’n kerk steriel. Konserwatisme kan belangrik en getrou voorkom, maar dit is in stryd met die Gees, wat Here is en lewend maak. Dit het verword tot ’n uitwendige vormgeloof. Daarom is daar die dood in die pot. Die bevel van die Here: ‘Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom’ (Openbaring 2:25) het niks te doen met ’n gearriveerde houding, wat tevrede is met wat reeds bereik is nie. Dit wys eerder op die voortgaande stryd van die kerk, wat groei in geloof en liefde (vers 19).

kerkgangers

Uit reaksie teen konserwatisme kan mense so progressief word dat hulle die kerk van sy eie fondament vervreem en verander in ’n produk van die moderne tydgees. Prof Sakkie Spangenberg is ’n ekstreme voorbeeld daarvan. Die laaste NG sinode het ook dergelike tendense gewys. Sulke progressiewes wil feitlik (ook al erken hulle dit nie) nie langer Gereformeerd wees, of aan die gereformeerde belydenisskrifte, aan die belydenis dat die Bybel God se onfeilbare Woord is, gebind wees nie. Hulle soek iets nuuts – ’n nuwe kerk op ’n ander fondament.

In die geskiedenis van die kerk moet ons altyd teen twee ekstreme posisies waak. Die Bybel spreek beide die wettisisme van die konserwatiewes en die vrysinnigheid van die progressiewes aan. Wat dit betref is daar niks nuuts onder die son nie. Aan die een kant waarsku Paulus teen die wettisisme van die Judaïste: ‘Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie’ (Galásiërs 5:1). Aan die ander kant waarsku Paulus teen ’n wettelose lewe, teen die losbandigheid van die progressiewes: ‘Alles is my geoorloof, maar nie alles is nuttig nie; alles is my geoorloof, maar ek sal my nie deur iets laat oorheers nie’ (1 Korinthiërs 6:12). En: ‘Gebruik net nie julle vryheid as ’n aanleiding vir die vlees nie (Galásiërs 5:13).

Let daarop dat beide, die wettisisme en vrysinnigheid, in die aanhalings diensbaarheid, oftewel slawerny genoem word. As ons tussen die twee sou moet kies sou ons waarskynlik vir die wettisisme kies. Dit neem in elk geval die wet van God ernstig op, dink ons dan. In prinsipe staan die konserwatiewes op een lyn met die liberale progressiewes. Ons moet albei resoluut afwys, want die evangelie van genade, die gereformeerde geloof, is op die spel. Albei is ’n nuwe slawerny. Albei is in beginsel ’n dien van die vlees. Of ek nou blindelings op ou patrone of gewoontes vertrou óf dat ek ’n vryheid sonder grense soek, in beide gevalle dien ek myself in plaas van om die evangelie van genade vas te hou.

Beide posisies is ewe gevaarlik en verwoestend, hoe aantreklik hulle ook voorgestel mag word. Die wettiesis doen dikwels ’n beroep op trou aan die Woord van God. Die vrysinnige beroep hom dikwels op die christelike vryheid en die beweeglikheid van die Gees van God. In beide gevalle is die dood in die pot. Geloof sonder gehoorsaamheid is dood. Ons lees in Matthéüs 7:21: ‘Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.’ Aan die ander kant: werke sonder ’n lewende geloof is ook dood. Wat is immers goeie werke? Die Heidelbergse Kategismus gee ’n pragtige antwoord in Sondag 33: ‘Slegs die wat uit ’n ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word, en nie die wat op ons goeddunke of op oorgelewerde gebruike van mense gegrond is nie.’

As Gereformeerd-wees niks met konserwatisme of liberale progressiwiteit te doen het nie, waar moet ons dit dan wel ’n plek gee? Prof Trimp wys op die pad van progressiewe reformasie. Semper Reformanda. Om gereformeerd te wees moet ’n mens altyd bly reformeer. Dit beteken ’n mens moet altyd weer terug na die Woord van God. Dan laat jy jou nie inspireer deur die gees van die tyd nie, maar deur die Gees en Woord van Christus, die Koning van die kerk. Jy wil voortbou op die een fondament van die katolieke kerk. Jy herhaal nie slegs wat jou vaders in die verlede gesê het nie. Jy bly luister na die lewende en altyd relevante Woord van God. Op pad na die volheid van kennis en geloof delf jy nuwe sowel as ou skatte uit die Skrifte uit. ’n Gereformeerde kerk kan nie stilstaan nie. ’n Gereformeerde kerk moet per definisie voortbeweeg terwyl sy die Woord van God uitdra en uitleef in ’n veranderende wêreld.

Die VGKSA wil presies dít doen en dít wees. Ons wil nie ’n kerk met ’n spesialiteit wees nie, ’n aparte klein klub van gelykgesindes nie. Ons wil geen tradisionaliste wees wat blindelings alles wil hou soos dit is, maak nie saak wat die Skrifte daaroor sê nie. Ons wil geen uitwendige vormdiens hê waarby ’n lewende geloof in Jesus Christus ontbreek nie. Ons wil ook geen konfessionaliste wees wat die Bybel aan die belydenisskrifte gelykstel nie. Ons wil mekaar nie bind aan persoonlike menings en interpretasies van die belydenis asof hulle die Woord van God self is nie. Ons wil egter wel trou aan die belydenis wees. Ons wil dit bly lees en waardeer in die lig van die Skrifte self. Ons wil immers voortbou op die een fondament van die katolieke kerk. Ons wil ook geen biblisiste wees wat vir alles tekste soek sonder om reg te doen aan die voortgang van die heilsgeskiedenis nie. Ons wil ook geen liberale progressiewes wees wat die moderne tydgees aan die kerk wil opdring, wat die kerk aan die wêreld wil gelykmaak nie. Ons wil bly stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is – die katolieke geloof wat in die gereformeerde belydenisskrifte saamgevat word.

boustene

Dit is geen maklike stryd nie. Ons erken dat ons dikwels daarin tekort skiet en tekort geskiet het.

Ons bestaan uit sondige mense wat steeds weer teruggeroep moet word na die Here en sy Woord. Ons moet voortdurend deur die snoeimes van die Woord of van beproewing gesnoei word. Met enkele voorbeelde wil ek vir julle wys hoe ons in die praktyk inderdaad worstel om gereformeerd te wees en te bly.

Toe die gemeente van Bethal in ons kerkverband opgeneem is, was die gemeente daaraan gewoond om net ’n beperkte aantal Psalms en baie gesange te sing. Artikel 67 van die VGKSA Kerkorde bepaal: ‘In die erediens sal die Psalms gesing word volgens ’n beryming wat deur die algemene sinode aanvaar is, en ook daardie gesange wat die sinode goedgekeur het.’ By die aanvaarding van Bethal in ons kerkverband het die sinode artikel 67 van die Kerkorde nie aan Bethal voorgeskryf nie. Hulle is nie gedwing om hul gesange, wat nie deur die sinode goedgekeur was nie, te los nie. Ons het mekaar op grond van Skrif en belydenis aanvaar, in die vertroue dat op grond van Skrif en belydenis ook die kerklied aandag sou kry. Bethal het die Kerkorde aanvaar met dien verstande dat hy tyd gegun sou word om in die rigting van die Kerkorde-bepalings te groei. Dieselfde het gebeur met die gemeente van Springs. Daardie kerke het inmiddels sover beweeg in die rigting van die Kerkorde dat hulle, soos die ander kerke, nou die Totiusberyming van die Psalms en die Skrifberymings as hul kerklied gebruik. Ons kry met ’n vergelykbare situasie te doen noudat twee sendinggemeentes deel van die kerkverband is, terwyl hulle nog geen bruikbare Psalmberyming ken nie.

Hierdie voorbeeld wys dat die VGKSA ook geen prinsipiële besware teen gesange het nie. Die sinodes van die VGKSA het juis vanaf 1992 deputate benoem om ’n nuwe seleksie gesange volgens sekere norme aan die kerke vir toetsing beskikbaar te stel, ook al het die sinode wel bepaal dat die aantal gesange die Psalms nie mag verdring nie. Die feit dat ons nog steeds geen gesange op tafel het nie, wys tog iets van die aarseling of versigtigheid in hierdie saak.

Hierdie voorbeeld wys ook hoe die VGKSA met sy Kerkorde omgaan. Die Kerkorde is nie ’n klomp reglemente wat rigied afgedwing moet word nie. Die Kerkorde staan nie op dieselfde vlak as die Skrif en die Belydenis nie. Daar is ’n onderskeid tussen die skriftuurlike beginsels en die praktiese uitwerking van die beginsels. Die Kerkorde is opgestel ter wille van die goeie orde in die kerke, om die voortgang van die evangelie te bevorder, sodat die gemeentes vergader en opgebou word in onderworpenheid aan Christus. Om die Psalms onmiddellik op die kerke wat by die kerkverband aansluit af te dwing, sou die doel juis verhinder. Aan die ander kant verwag ’n mens binne die kerkverband ’n lojale nalewing van die Kerkorde. Die Kerkorde is mos ’n produk van gemeenskaplike oorleg. Die kerke het hulleself vrywillig daaraan verbind. In die kerk van Christus moet ons ja, ja wees. Daarom spreek die kerke in die slotartikel uit dat hulle hul daarop sal toelê om volgens die bepalings van hierdie Kerkorde te leef solank hulle nie deur die algemene sinode verander is nie.

Nou ’n ander voorbeeld. Soos ek aan die begin van hierdie lesing genoem het, was die gereformeerde onderwys vir ons kinders een van die vrugte van die Vrymaking wat ons nog steeds hooghou. Toe die kwessie van tuisonderrig in die gemeentes opgekom het, is die VGK-gemeentes gedwing om na te dink oor watter plek hulle aan die eie gereformeerde laerskool gee. Is dit ’n norm waaraan elke ampsdraer en lidmaat gemeet moet word? Die bespreking hieroor het ons opnuut laat besef dat ons mooi moet onderskei tussen die skriftuurlike beginsels waaraan elkeen gebind is en die praktiese uitwerking daarvan, wat verskillend kan wees. Die kerkraad van Pretoria het toe op grond van die Skrif uitgespreek dat die ouers primêr verantwoordelik is vir die onderwysing van hul kinders in die vrees van die Here, maar dat dit tegelyk ons gesamentlike verantwoordelikheid is. Die kerkraad het tewens uitgespreek dat die Skrif nie die een of ander onderwysmodel voorskryf nie. Ouers het daarom die verantwoordelikheid om te soek watter model in hulle spesifieke geval die beste is. Hoewel die kerkraad in die lig van die geskiedenis sy voorkeur vir onderwys aan ’n gereformeerde dagskool gegee het, het die kerkraad lidmate vermaan om mekaar nie oor hierdie saak te veroordeel nie.

onderwys

’n Laaste voorbeeld. Die afgelope jare het die kerke baie gediskusseer oor die regulerende beginsel. Enkele lidmate het die woorde van Sondag 35 dat ons God op geen ander manier mag vereer as wat Hy in sy Woord beveel het nie, gehanteer as: ‘wat God nie gebied het nie, is verbode.’ Op grond daarvan is besware aangeteken teen die kerklike feesdae en teen gesange in die eredienste en is daardie praktyke selfs as afgodery veroordeel. Die kerkraad van Pretoria het hierdie sake beskou as ondergeskikte punte van Kerkorde en kerklike praktyk waaroor ons mekaar nie behoort te veroordeel nie - op grond van Romeine 14 en 15 en na analogie van artikel 47 van die Kerkorde. Uiteindelik het klassis A ’n handleiding in verband met die hantering van Kerkorde artikel 68 en HK Sondag 35 uitgegee. Ek wil graag gedeeltes uit die handleiding deurgee om te wys hoe ’n klassis van die VGKSA geprobeer het om sy Gereformeerd-wees uit te leef.

  • Artikel 68 van die Kerkorde: ‘Die kerkraad sal op Kersdag, Goeie Vrydag, Pase, Hemelvaartsdag en Pinksterdag die gemeente saamroep tot openbare eredienste, waar die heilsfeite wat die gemeente op hierdie dae in die besonder herdenk, verkondig word.’
  • Die klassis skryf die volgende: “Hierdie ‘herdenking van die heilsfeite’ moet duidelik onderskei word van die sg. heilige dae wat ons ken vanuit die Roomse kerklike tradisie waardeur gelowiges se gewetens gebind en gedwing word. Kerkrade belê op hierdie dae bloot wettige eredienste waarin die Here soos in enige ander erediens aanbid en gedank word in en deur ons Here Jesus Christus. 

Dit staan die kerkraad vry om op enige dag van die week ’n erediens te belê. So ’n praktyk sal die kerkraad natuurlik altyd moet doen met inagneming van die plaaslike omstandighede, nood en behoefte op ’n spesifieke tyd in die lewe van die gemeente. 

Hierdie kerklike feesdae is verder iets anders as die versekulariseerde viering van Kersfees (en ander kerklike feesdae) waar die viering totaal losgemaak word van die welgevallige aanbidding van ons God deur Jesus Christus. 

Ons het waardering daarvoor dat lidmate stiptelik aan die tweede gebod gehoorsaam wil wees. Ons wil immers self ook die beginsel, dat eiewillige godsdiens afgodery is, sterk bly vashou. Nogtans het gereformeerde kerke en vergaderings nooit in die kerkgeskiedenis so ver gegaan om te sê dat dit afgodediens sou wees om ’n erediens te belê op ’n ander dag as Sondae nie. Daarom vermaan ons lidmate om nie mede-gelowiges summier te veroordeel nie. 

Ons wil ook daarop wys dat ’n mens nie die woorde in Sondag 35 moet omkeer nie. Want daar staan dat ons God op geen ander manier mag vereer as wat Hy in sy Woord beveel nie. Dit is egter iets anders as om te sê: Alles wat nie uitdruklik beveel word nie, is verbode. Sondag 35 het immers nie net op die erediens betrekking nie, maar ook op ons daaglikse lewe. Alles wat ons doen, of ons eet of drink, moet tot eer van God gedoen word. Dat ons hele lewe stiptelik in ooreenstemming met God se Woord moet wees is duidelik. Daaraan wil ons vashou; in besonder ook in die erediens.

Ons moet oppas vir ’n wettiese tendens in ons hantering van die tweede gebod in die beoordeling van ander.

Daaraan maak ’n mens hom skuldig wanneer hy ander veroordeel wat gemeenskap met die Here soek in ’n erediens deur Jesus Christus se Middelaarskap. Hierdie verhouding van die gemeente met God deur Christus is presies waarvoor die Wet gegee is. Die verhouding van die gemeente tot God mag nie verander word in ’n verhouding van die gemeente tot die Wet nie. Die Wet is in Ou en Nuwe Testament vir die volk van die Here gegee om die volk met die Here te laat leef. Die Wet is nooit ’n grootheid los van of naas die Here self nie. Die Wet is geen bundel onpersoonlike en abstrakte bepalings nie. Losgemaak van die Wetgewer wat sy wet gee sodat ons in gemeenskap met Hom kan leef, word die wet ’n slawedrywer. 

kos

Die sola scriptura (die Skrif alleen) wat ons bely in artikel 7 van die NGB sluit nooit die wettige leergesag van die kerk uit nie. Dit wil alleen maar die verheffing van die kerklike gesag gelyk aan of bo die Skrif ontmasker. Die sola scriptura moet altyd invulling kry. Dit kan maklik tot ’n leë slagspreuk verander waarin dit gaan oor ek met my eie insig in die Skrif alleen. Wanneer ons as kerke (en lidmate dus) ons daartoe verbind om die kerkordelike afsprake te hou, stel ons nooit die Kerkorde gelyk met die Skrif nie. Ons is volledig aan die Kerkorde gebind omdat ons ons woord aan mekaar gegee het dat ons hierdie afsprake sal hou. Dit is iets anders as om mekaar boskriftuurlik te bind. Ons “gewete” is nie vry om gemaakte afsprake te ignoreer en te minag nie. 

Ons herinner lidmate dus aan artikel 31 van die Kerkorde: “Die uitspraak wat met meerderheid van stemme aanvaar is, sal as bindend aanvaar word, tensy daar bewys word dat dit in stryd is met die Woord van God of met die Kerkorde”. Indien ’n lidmaat met ’n beswaarskrif teen art 68 van die Kerkorde kom waarin hy vanuit die Skrif sy besware deeglik begrond, is sy gewete nie gebind om die eredienste op hierdie feesdae by te woon nie.”

Ek het baie uit die handleiding van die klassis aangehaal. Vir my gevoel kan julle daaruit verneem wat Gereformeerd-wees van die VGKSA inhou. Ons wil die Woord van God, soos dit in die gereformeerde belydenisskrifte bely word, handhaaf. Ons wil bly stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is (Judas vers 3). Daarom waardeer ons ook die onderlinge kerklike afsprake waarmee ons die onderwerping aan Christus, die Koning van die kerk, wil bevorder en beveilig.