2 bladsye. Vertaal deur Nic Coetzee .

Gesamentlike Verering

Die beweging vir kerkgroei vereis “hedendaagse aanbiddingstyle”, wat in praktyk beteken dat psalms/gesange vervang moet word met “prysliedere”. Dié bestaan uit eenvoudige liriese frases, dikwels herhaal, op ʼn eenvoudige melodie in popmusiek-styl. Die probleem met hierdie liedere is nie dat dit “hedendaags” (kontemporêr) is nie. In werklikheid is die liedere dikwels glad nie hedendaags nie. Baie van hulle dateer uit die 1970’s. Dit is verskeie dekades gelede. Party is meer as ʼn halfeeu oud. Hierdie liedere behoort hoofsaaklik tot hul ouers se generasie. Die spesifieke stel prysliedere wat deur ʼn besondere kerkgroei-leraar verkies word, is dikwels gebaseer op die musiekstyl van sy grootwordjare. Maar jongmense hou dikwels van prysliedere. Nie omdat hulle tuis gewoonlik na hierdie tipe musiek luister nie, maar omdat dit “kerkmusiek” is. Dit is waarskynlik die enigste soort kerkmusiek wat hulle ken, die soort waarmee hulle grootgeword het. Vir hierdie jong mense het hierdie tipe musiek “tradisioneel” geword.

Dit lyk asof die mense wat in die twintig jaar na die Tweede Wêreldoorlog gebore is (“Baby Boomers”) die eerste geslag was wat vereis het dat die musiek waarna hulle in aanbiddingsdienste luister soortgelyk moet wees as die musiek waarna hulle vir ontspanning luister. Dit het in die 1940’s by niemand opgekom om aan te dring dat aanbiddingsdienste groot orkeste soos dié van Glen Miller en sy orkes moes insluit nie. Die gesangstyl van die vroeëre eras dra die merktekens van die eeu waarin hulle geskryf is, maar dit is nie soortgelyk aan die agtiende-eeuse opera partiture of die negentiende-eeuse musiekteater nie.

Weereens is die kwessie nie “hedendaagse musiek” nie. Nuwe liedere word elke dag geskryf en gepubliseer. Musiek deur liedskrywers soos Steven Starke of James Boyce is meer hedendaags as die prysliedere wat vanuit die Jesus Movement van die 1960’s kom. Maar hierdie hedendaagse liedskrywers is besig om gesange te skryf.

Gesange word geskryf om gesamentlik te sing, deur baie mense met baie verskillende tipes stemme wat saamkom om te sing. Die prysliedere wat uit die hedendaagse Christelike musiek-genre kom is oorspronklik geskryf vir solo optredes. ʼn Amy Grant het ʼn deuntjie nodig wat sy kan kleur gee met vibrato, lopies, sleutelveranderings, en groot toenemende emosionele crescendo’s. Maar ʼn gemeente bestaande uit baie mense wat probeer saamsing kan nie so sing nie.

Gesange word met ʼn vaste ritme geskryf wat dit makliker maak vir groepe mense om saam te sing. Dit akkommodeer tipies hoë stemme, lae stemme, en stemme tussenin. Dus kan basse, tenore, baritons, alte en soprane dieselfde lied sing, en tog geen wanklanke nie maar ʼn wonderlike, betekenisvolle effek, naamlik harmonie voortbring. Aan die ander kant het prysliedere gewoonlik ʼn enkele melodie-lyn met baie uitvoering-gebaseerde variasies, wat dit moeilik maak om dit goed in ʼn groep te sing.

Gesange word heeltemal uitgeskryf, sodat elkeen wat musiek kan lees – en dit word nog op skool geleer – kan saamsing, al is dit onbekend. Om een of ander rede is die neiging om  prysliedere se lirieke op skerms te projekteer. As jy nie die wysie reeds ken nie, het jy ʼn probleem.

Prysliedere beeld dikwels ʼn intimiteit met God uit wat “nie-kerk-mense” – ook bekend as nie-Christene – moeilik sal vind om hul eie te maak, en wat selfs Christene verwarrend kan vind. Dit is meesal in die vorm van sekulêre liefdesliedere vir Jesus. Dit gaan dikwels uit van die vroulike standpunt as byvoorbeeld gesing word “Jesus, ek het U so lief” op ʼn manier wat mans kriewelrig maak. Partykeer word “Jesus” nooit genoem nie, maar die lied word gerig aan “jou”, wat netsowel ʼn menslike minnaar kon wees.

Hierdie “Jesus-is-my-kêrel” tipe liedere mag ontheiligend of ydel wees. Hoewel dit waar is dat die Skrif die kerk as die bruid van Jesus beskryf, is daardie beeld kollektief, openbarend, en skeppend. As sodanig is dit is nie romanties, eroties, of sentimenteel nie.

Nog ʼn toets vir prysliedere is of daar enigiets is wat dit in besonder onderskei as Christelik, of nie. Hierdie liedere neig om vol emosie te wees en gerig te wees aan ʼn godheid, maar sonder leerstellige of bybelse inhoud. ʼn Vriend het ʼn goeie toets voorgestel: as ʼn Moslem geen probleem sou hê om die lied te sing nie, is dit waarskynlik nie goed om dit in Christelike aanbiddingsdienste te gebruik nie.

Die vraag is nie of ons gebruik moet maak van hedendaagse musiek in die kerk nie, maar of ons popmusiek moet gebruik. Popmusiek is na sy aard pakkend, onderhoudend, en “gewild”. Dit kan nie veel inhoud hê nie, en is ook baie minder kompleks en het minder diepte. As dit hierdie eienskappe sou hê is dit nie meer popmusiek nie. Die kuns van die volkskultuur, met sy tradisies en gemeenskap-ervaring besit wel hierdie aspekte, net soos die bewustelik-geskepte kuns van hoë kultuur met sy uitdagende inhoud.

ʼn Belangriker saak is of ons die indruk moet skep in ons aanbidding dat die Christelike geloof ʼn “pop-geloof” is – ontdaan van diepte, kompleksiteit, en eise – en of dat dit tradisioneel, gemeenskaplik, en uitdagend is.

Ek sê nie dat prysliedere almal van nature sleg is nie, en ek kritiseer ook nie die spiritualiteit van dié wat daarvan hou nie. Dit het plek in persoonlike toewyding of wanneer gesing deur ʼn groep jeugdiges om ʼn kampvuur. Maar my argument is dat dit nie goed werk wanneer dit gebruik word vir gemeenskaplike aanbidding in ʼn kerk nie. Dit is as gevolg van hul inherente maar objektiewe beperkings, en nie net as ʼn saak van “persoonlike voorkeur” nie.