Gesin en Eindtyd
Gesin en Eindtyd
Die meeste van ons ken die uitdrukking dat "die gesin 'n kerkie in die kerk" behoort te wees. Word hierdie veelseggende woorde miskien dringender noudat die Woord op allerlei lewensterreine weggestoot of tot swye gebring word?
In sy inleiding op die boek Daniël skryf Luther as volg oor die eindtyd:
Dan sal hulle die Evangelie laat uithonger. Die wêreld sal vry lewe en uitroep: daar is geen God meer nie. Niemand bekommer hom meer oor die Skrif nie. Daar sal geen openbare preekstoele meer wees nie. Alleen gruwelike genotsug. Dan sal die Evangelie nog net in die gesinne deur die ouers voortbestaan. Op hierdie wyse kan as die kerke in die openbare lewe swyg, die evangelie tog nog op aarde bly verkondig word, naamlik deur die vroom Christene in die huisgesinne.
'n Skrywe van die hervormer wat opmerklik en markant tegelyk is. Dit gaan nie om die vraag hoe lank die Evangelie voortgang kan hê sonder "openbare preekstoele" nie. Ook nie oor die opvatting van Luther oor die eindtyd, oor die vraag of daar nog 'n bloeityd vir die kerk gaan wees nie. Dit is wel aangrypend as hier gepraat word oor die laat uithonger van die Evangelie, oor die ontbreek van die openbare preekstoel, oor 'n alles oorheersende genotsug. Mens moet blind wees om hierdie verskynsels nie ook vandag waar te neem nie.
Van belang is die sitaat oor die Christelike gesin. Dit was ook Luther se bedoeling toe hy hierdie gedeelte geskryf het. Die Here Jesus en Paulus het in baie uitsprake oor die eindtyd die beeld voor oë gehad van 'n gemeente, 'n kerk in groot nood. Die aanvalle op die Woord is hewig en kragtig. Die "openbare preekstoel" wankel en word omver gewerp. 'n Onstuitbare sug na genot doen sy verwoestende werk, en dit nie alleen buite die gemeente nie.
Wie sal wil ontken dat ons bedreig word deur 'n ontstellende materialisme? Word die gesag van die Woord onder ons groter of sien ons juis die teenoorgestelde? Is verslapping en louheid geen verskeurende monsters nie?
Al hierdie vrae laat ons oorweeg hoe dit in ons gesinne met die plek van die Woord van God, met die werk van God met die "voortgang van die Evangelie" staan (Luther) As ons jong mense op allerlei lewensterreine weinig of niks meer merk van die Woord van God en die krag daarvan nie, kom hulle dan nog wel daarmee in ons gesinne in aanraking? Kan hulle in hul ouerhuis die gehoorsaamheid in God proe en bespeur?
Ons verheerlik nie die verlede nie, maar konstateer ons wel dat in die beste tyd van die Kerk in ons land die Woord 'n groot betekenis in die gesinslewe gehad het. Dit sê nogal iets. Moet dit ons nie aangryp en neerwerp aan God se voete as dit geestelik so stil is? In ons gesinslewe het ons bo alles godvresende ouers nodig! Kan en mag dit vanuit die skrif anders gesê word? Dit is waar dat ons hier nie kan volstaan met alles wat ons self aandra buite die werk van die Heilige Gees om nie. Maar laat dit ons roep om die krag en deurwerking van die Woord deur die Gees nie?
Is ons gesinne plekke waar geworstel word vir die werk van God en die voortgang daarvan nie? HERE U werk? Is daar 'n vurige roep om die heerskappy van die lewende Christus, die Koning van die heerlikheid? Ek wil nie graag ontken dat die nood in ons gesinne groot kan wees nie, op allerlei maniere. Maar is hulle groter as die wonders van God?
Daarom, die tyd is kort! God is nog altyd die Almagtige. En ook vandag is Christus die Saligmaker wat uitgaan om die verlorenes te soek en salig te maak! Wat 'n begin kan maak waar almal uitgewerk is!