Bron: Desiring God Ministries. 2 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

God is die Evangelie

Het jy jouself al ooit afgevra watter waarde God se vergifnis vir jou het? Of watter waarde die ewige lewe het? Waarom sou iemand die ewige lewe begeer? Waarom wil óns vir ewig lewe? Hierdie vrae maak saak, omdat ons begeerte om hierdie dinge te ontvang, juis mag bewys dat ons dit nie het nie.

Neem nou, byvoorbeeld, vergifnis. Jy mag dalk God se vergifnis begeer omdat jy so ellendig skuldig voel. Jy wil net verligting kry. As jy kan glo dat Hy jou vergewe het, sal jy wel verlig voel, maar jy sal nie noodwendig die saligheid beërwe nie. Hy gee dit nie aan diegene wat dit net wil gebruik om sy gawes te ontvang nie, maar nie vir Homself nie.

Of jy wil van ‘n siekte genees word, of ‘n goeie werk kry, of ‘n lewensmaat. Dan hoor jy dat God jou kan help om hierdie dinge te kry, maar eers moet jou sondes vergewe word. Iemand vertel vir jou dat Christus vir jou sondes gesterf het, en dat as jy dit glo, jou sondes vergewe sal word. Dus glo jy dit om die struikelblok uit die weg te ruim sodat jy die gesondheid, die werk en die lewensmaat kan kry. Is dit die saligmakende evangelie? Ek dink nie so nie.

Met ander woorde, dit maak saak wat jy hoop om deur vergifnis te verkry. Dit maak saak waarom jy dit wil hê. As jy vergifnis net wil hê om die skepping te geniet, dan word die Skepper nie vereer nie en jy word nie gered nie. Vergifnis is kosbaar net oor een enkele rede: dit maak dit vir jou moontlik om gemeenskap met God te beoefen. As jy nie om hierdie rede vergifnis begeer nie, sal jy dit hoegenaamd nie kry nie. God laat Hom nie gebruik as betalingsmiddel vir afgode nie.

Netso moet ons ook onsself afvra: waarom wil ek vir ewig lewe? ‘n Mens kan sê: omdat die hel die enigste alternatief is en dít gaan so pynlik wees. Of iemand anders kan sê: omdat ‘n mens by God nie neerdrukkend hartseer sal voel nie. Nog een mag sê: my dierbares het daarheen gegaan en ek wil by hulle wees. Ander kan selfs droom van ‘n ewigheid van seksuele bevrediging of liplekker kos. Of meer rykdom en status. By al hierdie verlangens ontbreek een ding: die verlange na God Self.

Die saligmakende beweegrede waarom ‘n mens die ewige lewe moet begeer, vind ons in Johannes 17:3:

En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

As ons nie die ewige lewe begeer omdat ons vreugde in die Here wil vind nie, sal ons dit nie kry nie. Ons mislei eenvoudig onsself deur te dink dat ons Christene is as ons die heerlike boodskap van Christus gebruik om enigiets te verkry wat ons liewer het as vir Christus. Dit sal blyk dat die “goeie nuus” nie goed sal wees vir hulle wat God nie as die eintlike ware goed beskou nie.

Jonathan Edwards bewoord dit in sy preek aan sy gemeente in 1731 soos hieronder aangehaal. Lees dit aandagtig deur, en mag dit u tot die volle besef laat kom van die werklike goedheid van vergifnis en die lewe.

Die verlostes geniet die goedheid van God vanuit ‘n objektiewe perspektief. Sy vergifnis van hul sondes bring hulle daartoe dat hulle God Self as die beliggaming van alle goedheid deelagtig word en geniet. Hy is die hoogste goed, en die somtotaal van alles wat goed is wat Christus vir ons met sy bloed gekoop het. God is die erfdeel van die gelowiges; aan Wie hul wese deel kry. God is hul rykdom en skat, hul voedsel, hul lewe, by Hom is hul woning, Hy is hul sieraad en kroon, hul eer en heerlikheid tot in ewigheid. In die hemel het hulle niks anders nie as vir God; Hy is die groot goed waaraan die verlostes deel kry by hul sterwe, en waartoe hulle opstaan aan die einde van die tyd. Die Here God, Hy is die lig van die hemelse Jerusalem; en die “stroom van lewende water” wat vloei, en die boom van die lewe wat “in die middel van sy paradys” groei. Die heerlike uitnemendheid en skoonheid van God sal dít wees wat vir ewig hul gedagtes sal verkwik en die liefde van God sal vir hulle ‘n feesmaal wees tot in ewigheid. Die verlostes sal inderdaad ook ander dinge geniet; hulle sal die teenwoordigheid van die engele geniet, en van hul medeverlostes. Maar dit wat vir hulle genot en vreugde sal verskaf in bogenoemde of in hoegenaamd enigiets anders, sal dít wees wat hulle van Gód sien in hulle omgang met hierdie wesens, persone en dinge. (The Sermons of Jonathan Edwards: A Reader [New Haven: Yale University Press, 1999], pp. 74-75).

So groet ek julle, terwyl ons saam vreugde vind in God deur die blye boodskap,