Bron: De Reformatie. 2 bladsye.

God Moet Teenwoordig Wees

wegkruip

Dit kan op verskillende maniere gesê word. God moet teenwoordig wees. Verpligtend – ʼn eis wat aan jou lewe gestel word. Maar jy kan dit ook as ʼn wens uitspreek:  ek wens dat God teenwoordig sal wees.

Soms ervaar kerkmense dit as ʼn norm wat hulle deur hul opvoeding bygebring is: onthou, God moet teenwoordig wees! Gewoonlik nie met aangename gedagtes daarby nie. Asof God altyd die groot kontroleur (opsiener) is. Of ʼn verkeersbeampte  wat streng toekyk of jy jou wel hou aan die reëls.

Ons erken wel dat God teenwoordig moet wees. Maar is dit ook ons begeerte? In een van die Psalms is dit ʼn hartstogtelike wens: Deurgrond en ken my. Sal U my ken en steeds by my wees in my lewe? Dit is die gebed wat in daardie woorde opgesluit lê.

Nêrens Alleen Nie🔗

Op ʼn manier mag dit ʼn benouende gevoel gee, naamlik dat God altyd teenwoordig is. So staan dit baie nadruklik opgeteken: “U sluit my in van agter en van voor”. Waar jy ook al gaan, God is daar. En dit mag jou benou.

Daar is nêrens ʼn plekkie net vir jouself nie. Net so ʼn bietjie privaatheid sonder ander mense. Jy kan dus nie eintlik vir God wegkruip nie. Hy vind jou altyd.

Adam en Eva het ook gedink dat hulle vir Hom kon wegkruip. Maar tog het God hulle gevind. En Hy het hulle opgesoek.  En juis hier kan jy agterkom dat Hy nie maar net soos ʼn wetstoepasser is wat sy reëls probeer bewaak nie.

Dit is juis uit liefde dat God ons opsoek. Hy het ook vir Adam en Eva gesê: Ek wil nie van julle ontslae raak nie. Jy hoef dus glad nie bang vir Hom te wees nie.

Dat God oral is, en jy nêrens alleen is nie, dat jy nie kan wegkruip nie – dit hoef glad nie ʼn benoude gevoel te gee nie, dit is juis heerlik!

In Jou Element🔗

Want by wie sou jy eintlik meer geborge wees as juis by Hom? Sy oë het my vormlose begin gesien. Hy het my geweef in die skoot van my moeder. God was daar van die begin af.  En juis dit is so bemoedigend.

God se aanwesigheid is vir my soos die vrugwater vir ʼn ongebore baba. Dit is reg rondom jou, gee jou beskerming en voed jou. So is jy in jou element.

So is God rondom my. As Hy my ken, omring Hy my met sy liefde. Hy bied beskerming en Hy voed my. Sy aanwesigheid is my element. As God by jou is, gaan dit goed. In God se liefde is ek in my element. Sodra ek dit besef, dan is ek reg vir die gebed:  Here, deurgrond my. U moet altyd teenwoordig wees, dan is dit goed.

ʼn Stryd🔗

Ja, maar … is dit hoe ek altyd voel? Wanneer voel ek my in my element? Daar is ook ander kragte aan die werk in my hart en in my lewe. In die gewone lewe van elke dag is mens geneig om jou eie ding sonder God te  wil doen.  En dan kan dit voel asof Hy baie ver weg is. Daarom moet daar gestry word teen sleur.  Sleur in gebed en Bybellees. Is ek al biddende in my element? Soms is my gebed ʼn vreemde element in my lewe. Is dit nie wonderlik om dan agter te kom dat Hy regtig Self teenwoordig wil wees nie?  En dat Hy alles in sy vermoë doen om by my te wees. Sy oë wat my vormlose begin gesien het, is nog steeds oop oor my hele lewe, nag en dag.

Hom Leer Ken🔗

Hy ken my. Maar dan wil ek ook vir Hom leer ken. En Hom ook ken in wat ek doen. Soos Hyself gesê het: Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak (Spreuke 3:6).

lang reguit pad

Dit is wanneer dit ʼn wens raak: Here, U sal moet teenwoordig wees, anders loop dinge fout. Hy belowe dat dit dan ook regtig goed sal gaan. Jou paaie word reguit, daar is geen skerp draaie meer in jou lewe nie. Hy lei jou op die ewige weg.

Oorgawe🔗

Op  hierdie manier sal gebed meer wees as net so nou en dan die hande vou. Bid word ʼn houding. Gebed word ʼn lewenstyl. Daar sit ʼn stuk oorgawe in opgesluit. Die mens wat steeds ʼn stukkie vir homself wil hou, kom nie tot daardie oorgawe nie. Daar waar jy alleen wil wees, word ʼn ander nie toegelaat nie. Daar is nie plek vir oorgawe nie.

Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons die seën in die oorgawe raaksien. Gee ek myself oor, dan hoef ek dit nie self te doen nie. Maar dan kan ek dit aan God oorgee. Om myself so aan God oor te kan gee, moet ek weer soos ʼn kind word, ʼn baba in sy element.

Elke mens dink na oor die weg van sy lewe. Waarheen lei die pad? So sal elkeen van ons wel ʼn slag dink aan die oomblik dat ons sal sterwe. Mens kan daarteen opsien. Dit lyk so alleen!

Dit is ʼn weg wat geen mens saam met jou kan stap nie.

Maar juis hier is oorgawe so ʼn uitkoms. God moet teenwoordig wees.

Dan sal die einde wees soos die begin. Hy wat jou vormlose begin gesien het, sluit jou in van agter en van voor, ook wanneer die einde nader kom.  Hy lei jou op die ewige weg.  God moet teenwoordig wees.

ʼn Wens, ʼn gebed vir elke dag.

Ons erken wel dat God teenwoordig moet wees. Maar is dit ook ons begeerte?