Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

God sigbaar teenwoordig in die erediens?

'n Leë allerheiligste🔗

Een van die mees uitstaande kenmerke van die aanbidding van die God van Israel, was dat daar geen beelde van Hom kon wees nie. Die volk van die Here trek weg by die Sinaiberg met ‘n tabernakel wat leeg is. Flavius Josephus skryf in sy bekende boek Die Joodse Oorlog oor die vernietiging van die tempel. Hy beskryf die binnekant van die tempel. Oor die allerheiligste vertel hy : “In hierdie ruimte was daar heeltemal niks”. Nadat die volk in ballingskap gegaan het was daar nie eers ‘n verbondsark meer nie. Daar was werklik geen beeld van die Here in die tempel nie. Totaal ongehoord!…’n Godsdiens sonder ‘n beeld van jou God?! In die tempel van Salomo was dit ook net soos met die tabernakel – slegs die ark met die engele daarby wat die voetbank van die onsigbare God was.

Die bedoeling van die tempels van die gode was juis om ‘n huis te hê om die gode in te huisves. Jy kon jou god daarin neersit en op hierdie manier baie naby jou hê. Jy bring die onsigbare wêreld van die gode onder beheer. Jy kan sy guns selfs wen deur offers. Die optrede van die gode word oorsigtelik. Waarom wil die Here dan nie dat daar van Hom ‘n beeld gemaak word nie? Die Here se huis lyk kompleet asof dit nie bewoon word nie. Is die God van Israel dan te vêr weg? Weet hulle dalk te min van hulle God en ken hulle Hom te sleg? Is Hy die onbekende god?

Nee, dit was nie omdat Israel hulle nie kon voorstel hoe hulle God is, dat hulle nie ‘n beeld van Hom kon maak nie. Dit was juis omdat hulle so onbeskryflik baie van Hom geweet het. Dit was juis die feit dat Hy die Lewende teenwoordige God was, wat dit onmoontlik gemaak het om van Hom ‘n beeld te maak. Hulle was juis so onder die indruk van wat Hy elke dag vir hulle doen. God se huis is daarom nie ‘n neersitplek vir ‘n beeld nie, maar ‘n huis van gebed. Aanbidding. Omdat Hy so ‘n indruk van Homself op hulle maak.

Hy laat Homself sien🔗

In die Ou Testament lees ons meer kere dat God Homself “laat sien” het. Een van die opvallendste kere, was by die berg Sinai (Ex. 24). Wanneer die Here sy verbond op ‘n plegtige manier met sy volk kom bevestig, sien Moses, Aäron, Nadab en Abihu en sewentig van die ouderlinge van Israel die heerlikheid van die Here (24:10-11): “Hulle het die God van Israel gesien”. Soos ‘n magtige koning op sy troon, verskyn die Here. Al waarvan die ouderlinge kon vertel, was dat hulle die plek onder die voete van God gesien het. Dit was ‘n helder vloerwerk van saffierstene en so helder soos die hemel self. Die res wat hulle gesien het, was gewoon onvoorstelbaar. Onbeskryflik. En tog staan daar geskryf : “…en hulle het God aanskou…”. Wanneer Moses dan alleen vêrder op die berg klim, bedek ‘n wolk die hele berg (vs. 15). Uit die wolk het die Here met Moses gepraat. Hierdie verskyning van die Here was in die oë van die Israeliete soos ‘n verterende vuur (vs. 17).

Israel sien nie ‘n beeld nie. Nie omdat God nie ‘n gestalte het nie. Moses het met God van aangesig tot aangesig gepraat, soos iemand met sy vriend praat (Ex. 33:11). Wanneer Moses die heerlikheid van die Here wil sien nadat die volk gesondig het met die goue kalf, laat God hom net gedeeltelik toe. Die heerlikheid van die Here het verby Moses gegaan terwyl Moses self met die hand van die Here bedek en beskerm was. Toe die Here sy hand van Moses wegneem, kon hy die Here van agter sien (Ex. 33:22-23). Vir die volk is die heerlikheid van die Here te veel. Hulle hoor ‘n stem. Hulle kry twee kliptafels. God gee sy Woord vir hulle. Deur Moses wat met ‘n blinkende aangesig vanaf die Here kom om die Woord van die Here aan hulle te gee.

Plek van aanbidding🔗

Dit is nie omdat ons God vêr weg en onbekend is, dat ons van Hom geen beeld mag hê nie. Juis omdat Hy met sy genadige heerlikheid by ons is, mag dit nie. Omdat Hy vir ons optree, vir ons veg, na ons gebede luister en voor ons uitgaan en ons lewe lei, kan ons Hom nie saamdra in ‘n stom, dowe en magtelose beeld nie. Hy dra sy seun, Israel…Daarom het ons geen beeldehuis vir die Here nie ; daarom is die gemeente van die Here ‘n plek van aanbidding en gebed. Ons kerkgebou moet ‘n plek wees waar voor God gekniel kan word!! Nie voor stom beelde nie, maar neerbuig in aanbidding en verwondering omdat die Here by ons is!!

Ons kom nie na Hom met beelde van Hom in ons hande nie. Ons kom met gevoude hande om te buig. Of opgehewe hande na die hemel omdat tempels en geboue God nie kan bevat nie – Hy woon en troon in die hemel. Soos Salomo wat by die inwyding van die tempel voor die Here kom – hy het “neergesink op sy knieë…en sy hande na die hemel uitgebrei en gesê : ‘Here, God van Israel, daar is in die hemel of op die aarde geen God soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte, wat voor U aangesig wandel met hulle hele hart…” (2 Kron. 6:13-14).

Tweede gebod🔗

Daaroor gaan dit in die tweede gebod – die Here laat Hom nie dien soos wat ons wil nie. Ons godsdiens mag nie ons uitdrukking van iets van ons eie wees nie. Ons godsdiens mag ‘n eggo wees van die indruk wat die Here op ons maak. Die heidene maak beelde van hul gode, omdat hulle dié gode onder beheer wil bring en in hul mag kry. Ons daarenteen, aanbid God omdat Hy ons onder die mag van sy genade en onder die indruk van sy barmhartigheid en goedheid gebring het. Die Here wil deur die tweede gebod ons leer dat ons nie oor Hom kan beskik na ons eie willekeur nie. Ons kan God nie met ‘n beeld dwing om ons te help nie. Ons kan ook in ons slegte ervarings in die lewe nie ‘n beeld van God gaan vorm wat ons vêr weg uit ons lewe kan gooi nie.

Asaf skrik oor die verkeerde beeld wat hy van God gemaak het. Hy het gesien hoe voorspoedig dit gaan met die goddelose – hulle oë puil uit van die vet terwyl hulle hoogmoedig teen die hemel praat (Psalm 73:7-9). Hy het selfs die idee begin kry dat dit nutteloos is om die Here te dien (vs. 13). God sien tog niks hier op aarde raak nie. Totdat…..totdat hy die heiligdom van die Here ingegaan het…Geen beeld gesien nie, want geen huis kan die Almagtige God bevat nie. En hy het uitgeroep : “Wie het ek buiten U in die hemel?!! Buiten U begeer ek niks op die aarde nie. Ek is altyddeur by u en U het my regterhand gevat”(vs. 22, 25).

Die tweede gebod roep ons tot beskeidenheid en aanbidding. Ons kan God nie voorstel in ons nood soos wat ons wil hê Hy moet wees nie ; maar ons moet ons wel verdiep in sy Woord waar die Here vir ons ‘n ryk beeld gee van wie en hoe Hy is. Daarom maak ons geen beelde van God nie, maar luister heel goed na die beeld wat God van Homself vir ons gee. Laat die Here ‘n indruk op ons maak. Daarvoor moet ons tot stilstand kom.  Daarvoor gebruik die Here soms siekte, terugslae…nie om ons eie beelde van Hom te bevestig nie. Juis om ons beelde van die Here stukkend te laat breek.

Die Lewende God is meer as dikwels, nie te herken in die geykte beelde wat ons van Hom vorm nie. Wanneer ons die dood of God se toorn of teenspoed in die oë kyk, lyk die Here heel anders as wat ons, ons indink. Maar Hy is nóóit anders as wat Hy in sy Woord gesê het nie. Daarom moet ons minder oor God se beeld fantaseer en meer luister na sy Woord. Daarom kan ons nooit oor Hom praat of oor Hom nadink, sonder om altyd weer ons gedagtes gevange te laat neem deur die Woord van die Here nie.

Hy is 'n jaloerse God🔗

Die Here laat geen beelde van Hom maak nie, want Hy is ‘n jaloerse God. Wat moet ons, ons voorstel as God sê : “Jy mag vir jou geen gegote beeld maak nie (Ex. 34:17)”, want “die Here se Naam is Jaloers – ‘n jaloerse God is Hy (34:14). Dit het absoluut niks te doen met afgunstigheid van God nie. Dit gaan wel daaroor dat God geen mededinger naas Homself ‘n plek gun nie. Niemand anders het reg op die hart en liefde van die bruid van die Here nie. Die Here se jaloesie het egter niks te doen met vyandskap teen mededingers nie. Nie God se vyande moet kennis neem van sy jaloesie nie. Sy gemeente moet daarvan kennis neem!! Die gemeente van die Here moet weet dat Hy seën tot in die duisendste geslag van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou. Die afvalligheid van die ouers werk egter deur tot in die derde en vierde geslag.

Die Here wil dat Hy ernstig opgeneem sal word wanneer Hy sy Woord vir ons gee. Ons lees daarom in Exodus 34 dat die Here ‘n tweede keer (!!) sy woorde op kliptafels vir Moses gee. Moses sien die Here se heerlikheid weer nadat die Here sy volk vergewe het nadat hulle die tweede gebod oortree het deur ‘n goue kalf te maak. Wanneer die Here verby hom gaan roep hy : “Here, Here (Jahwe!!), barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou, wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie ; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag” (34:6-7).

Ouers in die kerk mag en moet weet dat hulle lewe met óf sonder die Here ‘n uitwerking het op hul kinders. Die Here was bereid om weer vêrder met sy volk te trek. Hy sal wondere vir hulle doen wat in die gedagtes van niemand opgekom het nie. Hy sal al die volke voor hulle uit verdryf. Die nasies sal die werk van die Here vir die redding van sy gemeente sien! Die Here wil net dat sy kinders by sy Woord sal bly. Hy laat nie ‘n owerspelige gemeente toe om sy bruid te bly nie. Hy het reg op hulle lewe. Hy het daarop reg om deur sy gemeente vereer te word volgens sy heerlikheid. Israel moes daarom die fees van ongesuurde brode vier (Ex. 34:18). Die fees van verlossing uit Egipte. Saam bly wees dat hulle die Here alleen kan dien en geen slawe van Farao meer is nie. Hulle eersgeborenes moes aan die Here gewy wees. Al die feeste wat vertel van die Here se verlossingsreg op hulle, moes hulle getrou vier.

Beeld van die onsienlike God🔗

Moses het hierdie reg van die Here op die diens volgens die Woord van die Here verkondig met ‘n blinkende gesig. Hy het die heerlikheid van die Here weerkaats (Ex. 34:29-35)!! Met gesluierde gesig het hy met hulle gepraat. Jesus Christus het nou na ons gekom as die beeld van God - die "onsienlike" God. Elkeen wat Hom gesien het, het die Vader gesien. Die apostels getuig dat hulle sy heerlikheid aanskou het – die heerlikheid van die Eniggeborene van die Vader. Jesus is self die Beeld van God in lewende lywe!

Hierdie Jesus het by baie die gedagte weer laat opkom dat God te vêr van ons is, maar Jesus is ons almal se vriend. “Jesus” het weer ‘n manier geword waarop talle hulle eie beelde van God gaan vorm gee het. Die beeld van Christus sien ons egter nêrens helderder as juis op Golgotha nie; en by die oop graf. Dan sien ons hoe Christus moes ly om ons vry te maak tot diens aan die Here. Daarom moet ons die stem van die Vader uit die wolk op die berg van verheerliking onthou. Oor Jesus sê Hy : “Dit is My geliefde Seun, in wie Ek ‘n welbehae het, luister na Hom!!” (Matt. 17:5). Luister na Hom wat na Jerusalem moes gaan en baie moes ly onder die owerpriesters en skrifgeleerdes. Laat ons nie die dinge van mense bedink nie, maar die dinge van God (Matt. 16:23).

Dit moet die karakter van ons hele gemeentelewe gaan bepaal. Ons gaan die Here nie dien met ons vooropgestelde idees nie. Ons benader nie die Skrif met ons eie tradisies nie ; ons kom in aanbidding voor Christus, gewillig om na alles te luister wat Hy ons wil sê deur apostels en profete. Ons beeld van kerkwees, van vaderskap, moederskap, stel ons onder die kritiek van die Woord van Christus. Elke keer opnuut, al ons self-gevormde beelde oor God onder sy kritiek stel. Gelukkig is die wat rein van hart is…want hulle sal God sien…(Matt. 5).