Hierdie artikel bestudeer gasvryheid soos ons dit in verskillende dele van die Skrif vind.

4 bladsye. Vertaal deur Charlotte Roestorff.

Goddelike Gasvryheid

Baie van die woorde wat ons vandag algemeen gebruik, het nie dieselfde betekenis as wat in die Bybel daarmee bedoel word nie. ʼn Eenvoudige soektog op Google, byvoorbeeld, lewer bladsye vol inligting oor die Gasvryheidsbedryf (hotelle, restaurante ens.), maar niks wat met Bybelse gasvryheid ooreenkom nie. In moderne spreektaal is daar ʼn geringe ooreenkoms met die Bybelse begrip gasvryheid, maar dit is skeefgetrek en ontoereikend in dié sin dat dit ingestel is op selfsugtige en ekonomiese voordeel.

Christene praat soms van gasvryheidskomitees in ʼn kerk (bv. lidmate wat by die deure erediensgangers verwelkom). Wanneer ons die huise van ons vriende of ouers verlaat, sal ons dalk sê: “Dankie vir julle gasvryheid”. Dit is nie ʼn verkeerde gebruik van die woord nie, maar dit gee slegs gedeeltelik die bedoeling weer van die Bybelse lering oor die onderwerp. Donald Guthrie skryf in sy kommentaar op Hebreërs 13:2:

 Dit is duidelik dat iets meer as die blote onthaal van vriende en bekendes (hier) bedoel word.

Die feit dat ons ʼn groot deel van die betekenis van gasvryheid in ons tyd verloor het, doen geensins afbreuk aan die belangrikheid daarvan in die Skrif nie. Een hedendaagse skrywer het dit onder ons aandag gebring met dié woorde: “... gasvryheid is ʼn gebod van God in die Ou Testament ... word ʼn “goeie werk” genoem in die Nuwe Testament ... en het bo-aan die lys van Christelike maatskaplike diens gestaan in die vroeë kerk”.

Die Engelse woord “hospitality” kom van die Latynse woord “hospitalis”, wat “gas of vreemdeling” beteken. Gasvryheid, soos dit ook in ons taal voorkom, dui op die vriendelike en gulhartige behandeling van ʼn gas. Die woord “gasvryheid” kom net vier keer in die Bybel voor. Die basiese Bybelse omskrywing van gasvryheid is liefde vir vreemdelinge. Daarom sien ons uit die staanspoor uit dat die Bybel (in omvang) die hedendaagse denke oor gasvryheid verbreed en (in sy kenmerkende christelike gesindheid) die perspektief intensiveer.

Ou-Testamentiese grondbeginsels van gasvryheid🔗

Wie was ʼn “vreemdeling” in die Ou Testament en hoe beskou God hom in sy openbaring? Van die onderskeie Hebreeuse woorde waarmee “vreemdeling” vertaal is, is die algemene betekenis konsekwent. Hulle verwys na daardie mense wat tussen die Hebreërs gewoon het maar nie van Israelitiese afstamming was nie. Hulle moes onderskei word van ʼn buitelander wat die land tydelik besoek het.

Vreemdelinge was deel van ʼn bepaalde groep mense vir wie God ʼn besondere deernis gehad het, en God se volk het ʼn spesiale verantwoordelikheid gehad ten opsigte van hul versorging. Alhoewel die vreemdeling nie ʼn volle burger was nie, het hy erkende regte en pligte gehad. Hy was onder die beskerming van God, en die Israeliete is beveel om hom goed te behandel. Sy regte is beskerm deur wetlike bepalings. Indien hy arm was, het hy dieselfde voorregte geniet as die Hebreeuse armes.

In Psalm 39:13 pleit Dawid by God om genade op grond daarvan dat hy hom vereenselwig met ʼn vreemdeling, met dien verstande dat God selfs meer goedgesind was teenoor vreemdelinge. Dawid kon sy redenasie baseer op Deuteronomium 10:18 waarin Moses sê: (God) ... wat reg verskaf aan die wees en die weduwee, en die vreemdeling liefhet, sodat Hy hom brood en klere gee.” As dit is hoe God vreemdelinge behandel, is dit nie verrassend dat sy volk beveel word om dieselfde te doen nie.

Die volgende vers gaan voort: Daarom moet julle die vreemdeling liefhê.” God sê vir sy verbondsvolk, en daarom ook vir ons:

Ek het die vreemdeling in jou midde lief. Ek verskaf reg aan hulle en maak voorsiening vir hul gerief; daarom moet julle, My volk, dieselfde doen want julle moet ʼn weerspieëling van My karakter wees.

Terwyl die wêreld sy eie redes mag hê om sogenaamde gasvryheid te betoon, is die Christen se redes ongetwyfeld anders. Die Christen se rede waarom hy enigiets dink of doen, hang saam met die karakter van God; God is die begin en einde van Christelike denke en praktyk. Met ander woorde, die rede waarom ons gasvryheid betoon is nie om vir onsself naam te maak of om te verseker dat mense van ons hou nie, dit hou eerder verband met God en in die besonder met sy liefde vir vreemdelinge.

Daar is ʼn tweede rede vir hierdie opdrag. Die Israeliete moes die vreemdeling liefhê, nie net omdat God hom liefhet nie, maar ook omdat hulle vreemdelinge was in Egipteland. Hierdie rede vir gasvryheid word dikwels aangehaal in die Ou Testament.

Byvoorbeeld, Eksodus 23:9: “Julle mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ʼn vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het”.

Nie net mag julle hom nie verdruk nie, maar “jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland” (Levitikus 19:33).

Toe God die Israeliete beveel het om die vreemdeling lief te hê, het Hy dit nie op ʼn abstrakte manier gedoen nie. Inteendeel, daar is talle noukeurige voorskrifte in die Wet, insluitend maar nie beperk tot die volgende nie: Vreemdelinge moes in die verbond ingesluit word (Génesis 17:12). Hulle was begunstigdes van en aanspreeklikes teenoor die wet van God (Levitikus 17:15; 18:26, ens.). Hulle is selfs verwelkom by die gemeenskaplike maaltyd van die HERE, die Pasga, mits hulle lede van die verbondsvolk geword het deur die besnydenis (Eksodus 12:49). Die HERE het die Sabbat selfs vir die vreemdelinge ingestel (Eksodus 20:10; 23:12). God se volk moes voorsiening maak vir vreemdelinge (Levitikus 19:10).

Ons sien ʼn soortgelyke, selfs intensiewer sorg vir die vreemdelinge in die profetiese boeke. Die profetiese woord betreffende vreemdelinge het dikwels een van twee vorme aangeneem. Hulle het seën beloof as die volk die egtheid van hul liefde vir God sou bewys deur die vreemdelinge in hul midde lief te hê. Die profete het ook vloek beloof as vreemdelinge sleg behandel sou word. Versuim om die Here se wil te gehoorsaam met betrekking tot die vreemdeling sou, onder andere, tot gevolg hê dat die Here se huis in verlatenheid sou verval (Jeremia 22:3-5). Hartseer soos dit is, vind ons hier ʼn aanskoulike beskrywing van hoe ver die volk afgedwaal het van God se wet. In Esegiël 22:7 is verdrukking van die vreemdeling onder die eerstes in ʼn lys van beskuldigings wat God teen Jerusalem rig waarvoor Hy haar verstrooi onder die nasies van die vreemdelinge wat oor haar sou regeer. Die volk het inderdaad geweier om te luister en te gehoorsaam.

 Gevolglik sou God “hulle met ‘n stormwind verstrooi onder al die nasies vir wie hulle tot nou toe onbekend was”.   Sagaria 7:14

Die droewige ironie is dat die “vreemdeling-verdrukkers” verdruktes geword het as vreemdelinge in ‘n vreemde land. Die feit dat dieselfde boodskap nà die ballingskap gepreek is (Maleági 3:5) as getuienis dat die probleem selfs toe nog voortgeduur het.

Nuwe Testament🔗

In die Nuwe Testament sien ons selfs nog duideliker dat God geen persoon ontsien nie (Handelinge 10:34). Daar bestaan geen verskoning vir slegte behandeling van die uitlander nie.

In die Evangelies sien ons dat Jesus onderrig gee in die wet op gasvryheid in sowel woorde as dade. Daar kan skynbaar tereg gesê word dat gasvryheid ʼn prominente plek inneem in die hart van Jesus se boodskap. Wanneer Jesus leer dat liefde die vervulling van die wet is, vereis Hy dit nie net teenoor vriende nie, maar ook teenoor vyande en vreemdelinge. Toe Jesus die reikwydte van die woord “naaste” verduidelik het, het Hy doelbewus ʼn vreemdeling, ʼn Samaritaan, gebruik om sy bedoeling tuis te bring (Lukas 10:30 e.v.). Hierdie lering was nie nuut nie; inteendeel, dit het sy grondslag in die Ou Testament (Levitikus 19:18, 33, 34). Calvyn wys die verband tussen die Ou en Nuwe Testament.

God se volk “word beveel om vreemdelinge en buitelanders lief te hê soos hulself. Hieruit wil dit voorkom asof die woord naaste nie beperk is tot ons familiebetrekkinge of dergelike persone wat naby aan ons is nie, maar dat dit verder reik om die hele menslike geslag in te sluit; soos wat Christus demonstreer in die persoon van die Samaritaan, wat medelye gehad het met ʼn onbekende man, en teenoor hom die medemenslike plig nakom, wat deur ʼn Jood, en selfs ʼn Leviet versuim is.”

Nie net het Jesus onderrig gegee ten opsigte van die voorskrif om die vreemdeling lief te hê nie, Hy het ook in sy gelykenisse en genesings aan die vreemdeling ʼn besondere status gegee. Hy het gasvryheid gebruik as ʼn geleentheid tot lering. Hy het aan sy dissipels beloof dat Hy sou weggaan om vir hulle plek te berei. Die een wat in sy lewe geen plek van sy eie gehad het om sy kop neer te lê nie, sal eendag tot in alle ewigheid die groot gasheer wees. Tog is dit opmerklik dat op aarde, die “hoof van alle dinge” Homself onderwerp het om gasvryheid te ontvang. Een toepassing wat hier ter sake is, is dat ons ander mense die geleentheid behoort te gee om gasvry teenoor ons te wees, nie net om ons eie onthalwe nie, maar ook om hulle sʼn. Ongelukkig is te veel van ons huiwerig om onsself aan die genade van andere oor te gee, maar wil ons eerder vir onsself sorg.

Handelinge en die Sendbriewe🔗

Handelinge en die Sendbriewe word onder een opskrif behandel, ter wille van dit wat hulle gemeen het. Die optekening van die gebeure in die boek Handelinge en die skryf van die Sendbriewe het min of meer gelyktydig plaasgevind. Daar is ʼn noue historiese verband tussen die twee kategorieë Bybelse literatuur, met ander woorde, die skrywers van die Sendbriewe en die sendelinge oor die algemeen was die ontvangers en verkondigers van gasvryheid soos die boek Handelinge daarvan getuig.

In Handelinge sien ons gasvryheid as ʼn algemene reël onder die Christene. In die vroeë stadium van die kerk het gelowiges dinge met mekaar gedeel. Daar was ʼn groot praktiese behoefte aan hierdie gasvryheid. Toe die gelowiges ʼn groep vreemdelinge was, verstrooi deur die wêreld, en ook toe hulle van die een plek na die ander gegaan het, kon hulle slegs onder hul geloofsgenote ʼn heenkome vind.

Handelinge 2 is ʼn voorbeeld van hoe die gelowiges hulle besittings met die armes gedeel het. Ons sien dat aan Paulus op sy reise voortdurend gasvryheid betoon is, veral deur die kerk in Filippi. Hierdie deug is in sy sendbriewe besing (Filippense 4:10-16). ʼn Voorbeeld hiervan is Lydia se gulhartigheid nadat sy tot bekering gekom het (Handelinge 16:15). Ook in die Sendbriewe bemerk ons baie getuienis dat gasvryheid beoefen is. In Romeine 16:23 word na Gaius as Paulus se gasheer verwys.

In die apostels se argument ten gunste van Christelike gasvryheid sien ons ʼn opvallende aansluiting by die Ou Testament. God se medelye met nie-Joodse vreemdelinge in die Ou Testament en selfs in die Evangelie verkry ʼn ryker en ruimer betekenis in die Nuwe Testament en word veral in Paulus se sendbriewe onderstreep.

Met die Ou Testamentiese agtergrond vars in die geheue, sal ons verstaan dat gasvryheid die merkteken van God se volk, en in die besonder van die herders van God se kudde, moet wees omdat dit die merkteken van God is. Maar daar is ‘n dieper verband.

Paulus maak ten volle gebruik van die voordeel dat sy gehoor grootliks bestaan uit “vreemdelinge” en “buitelanders”. Dus sien ons dat God se liefde vir vreemdelinge in die Ou Testament ʼn kleinskaalse voorafskaduwing is van die grootskaalse instroming van vreemdelinge in die verbond in die Nuwe Testament. Reeds van baie vroeg af tot vandag toe word die kerk voltallig gemaak deur oorwegend vroeëre vreemdelinge.

Die krag van sy argument in Efesiërs 2:12 is sowel letterlik as geestelik.

In die verlede, sê Paulus, was julle “sonder Christus ...vervreem van die burgerskap van Israel, en vreemdelinge ten opsigte van die verbondsbeloftes ... sonder hoop en sonder God in die wêreld”. Die vreemdelinge – hulle was ons.

Ons was die vreemdelinge en buitelanders. Maar nou, sê Paulus “het julle wat destyds ver was naby gekom deur die bloed van Christus” (vers 13). So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en die huisgesin van God”.Efesiërs 2:19

Nou verstaan ons waarom Paulus en Petrus die opdrag tot gasvryheid met soveel krag kan gebruik. Omdat ons voorheen vreemdelinge was. Soos die Israeliete van ouds, “ken ons die hart van ʼn vreemdeling”. Christelike gasvryheid of liefde vir vreemdelinge weerspieël en bewys op sy beurt God se liefde teenoor ons toe ons vreemdelinge was.

Bybelse slotsom🔗

By die voleinding van die geskiedenis, sien ons die mees volmaakte toonbeeld van gasvryheid – God se gasvryheid, volmaak en permanent betoon. Dan sal God in sy huis, in Homself, vir ewig opneem hulle wat vreemdelinge en bywoners op aarde was. Hulle wat die geringste van Christus se broers was, wat op aarde honger en dors was; hulle wat die voorwerpe van marteling, wrede bespotting, geseling, gevangenskap en steniging was; hulle wat in stukke gesaag is, versoek is, met die swaard vermoor is; hulle wat in skaapvelle en bokvelle rondgeswerf het; wat gebrek gely het, siek was, gemartel is ... hulle wat in verlate plekke, en oor berge rondgeswerf het en in grotte en in gate in die grond (Hebreërs 11). Nooit weer sal hulle honger of dors kry nie.

In die sewende hoofstuk van die Openbaring aan Johannes, vra een van die ouderlinge vir hom: “Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?” Johannes antwoord hom: “My heer, u weet dit.” Die ouderling sê vir hom:

Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam. Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie ...Openbaring 7:13 e.v.

In die hemel sal God die gasheer wees en die huis.