Bron: Kompas, 2007. 3 bladsye.

Goeie Kerklike Tradisie

kerk binne

Alle kerke leef met bepaalde tradisies. Nie almal sal dit altyd wil erken nie. Party sal graag daarin wil roem dat dit nie hulle gebruik is om met ʼn tradisie te leef nie. Wel, volgens my leef jy dan ook uit ʼn bepaalde tradisie. Tradisies is eie aan ons menswees. Ons hoef glad nie verleë daaroor te voel nie. Tradisie is ʼn bepaalde vorm waarin my lewe as diens aan die Here gegiet word.

Elke Gedagte Gevange vir Christus🔗

Dit is eie aan die evangelie dat dit nooit los van ʼn bepaalde kultuur wil funksioneer nie. Vanuit die Gereformeerde sendingkunde word daar daarom ook nooit van meet af aan totaal afwysend na bestaande kulture gekyk nie. Daar word na ʼn weg gesoek waarin die lewe van geloof in Jesus Christus beslag kan lê op die bestaande kultuur. In die woorde van die apostel Paulus gesê: “Elke gedagte word gevange geneem tot die gehoorsaamheid aan Jesus Christus” (2 Korinthiërs 10:5). Hierdie proses beskryf die bekende sendingwetenskaplike, J.H. Bavinck, as ʼn “inbesitneming” (possessio) van die kultuur vir Christus.

Dit is daarom ten sterkste af te keur wanneer Christene hulle terugtrek uit ʼn kultuur, asof Christus en kultuur niks met mekaar te doen het nie. Die krag van die kerk om die evangelie te verkondig lê veral daarin dat dit in ʼn spesifieke kultuur en tradisie en tyd gebring word.

Wanneer die evangelie so sy gang gaan in ʼn spesifieke tyd, kultuur en gewoontes, ontwikkel ʼn eie kerkkultuur.

Vorm🔗

Die gevolg van die evangelie wat grondvat in ʼn bepaalde kultuur, is dat die lewe met God bepaalde vorms gaan aanneem. Die ontmoeting in die erediens neem ʼn heel spesifieke vorm aan. Die manier waarop gepreek word. Onderlinge afsprake wat tussen plaaslike gemeentes gemaak word. Meer sulke voorbeelde kan genoem word. Sulke vorms waarin kerklike aktiwiteite gegiet word, is goed. Solank ons altyd maar weer besef dat die vorms nie ʼn doel op sigself is nie.

Vorms waarin ons ons lewe met die Here gegiet het, mag nooit ʼn eie lewe begin lei nie. Geen lewe los van die doel wat dit dien om ons lewe met God Self invulling te gee nie. Dit is veral belangrik dat sulke tradisies en vorms verstaan sal word. U ken almal die polities modieuse woord “deursigtigheid”. Nou ja, ons kerklike tradisies behoort deursigtig te wees. Veral vir die jeug van die kerk moet dit glashelder wees wat die betekenis van sulke tradisies en vorms is. Ook vir besoekers aan die kerk en hulle wat dalk vir die eerste keer in die proses is om vorm te gee aan hulle diens aan die Here. Hoe mooi sal dit wees as ons eie kerklike tradisies nie die weg vir nuwelinge na die Here se diens afsny nie. Goeie kerklike tradisies sal oop deure en oop vensters wees waardeur gegaan en gekyk kan word om uitsig te kry op die lewe met die Here.

Relativeer?🔗

In enige kerklike gemeenskap is kerklike tradisie teenwoordig. Sommiges kan baie tuis daarmee voel en ander kan voel dat dit teen hul grein ingaan om op só ʼn manier uiting te gee aan hul geloofsvreugde en diens aan die Here. Wat moet ons basiese houding ten opsigte van kerklike tradisies wees? ʼn Mens kan jou met frustrasies en geweld daarteen verset in ʼn poging om dit af te breek. Dit sal nie spreek van respek en liefde vir ons voorgeslagte nie. Jy sal die ander uiterste kon volg deur jou tradisies as norm te neem waaraan elke nuwe geslag gelowiges gemeet moet word. Ook dit sou ʼn verkeerde houding wees, omdat ons juis bely dat alle mense uit hulself leuenaars is en daar net een waarheid is wat bo alles en almal is … die waarheid van God se Woord (NGB Artikel 7).

nagmaal

Identiteitsvorming🔗

Ons lees die Bybel meestal asof dit regstreeks aan ons geskryf is. Asof ons die eerste lesers van die Bybel is. Die gevolg daarvan is dat ons die Bybel verstaan vanuit ons posisie en ervaring. Ons vergeet sommer maklik dat ons verstaan van Paulus se briewe aan die gemeentes gekleur is deur geslagte oor eeue voor ons. Dit beteken dat ons nie altyd meer so sensitief is vir die probleme waarmee die eerste lesers geworstel het nie. Hulle situasie is nie gelyk te stel aan ons situasie nie. Die meeste van ons is gelowiges uit huise wat geslagte lank ʼn Christelike agtergrond het. In die Nuwe Testament was dit anders. Met name in Rome. Die gemeente in Rome was vol gelowiges wat eerstegenerasie gelowiges was. Dit was mense wat geweet het wat dit beteken om ongelowig te wees. Om deel te wees van die duisternis – sonder geloof in God as Skepper en Redder.

Dit was mense wat nie grootgeword het met Bybels in die huise of gereelde eredienste of huisbesoek van die ouderling nie. Hulle het geen geloofsopvoeding as agtergrond gehad nie. Die meeste het nog maar pas tot geloof gekom. Baie was nog getroud met ongelowiges. Dikwels die enigste Christen in ʼn gesin. Hulle was nog baie intensief besig met identiteitsvorming. Daarmee bedoel ons maar net dat die jong gelowiges tussen ʼn paar vure gesit het. Hulle het as jong gelowiges skielik nie meer probleemloos deel gevorm van die samelewing in die groot stad Rome nie. Tegelyk was daar in Rome ʼn sterk teenwoordigheid van Jode met hulle sinagoge(s). Daarby het hulle ook nie ingepas nie. Die sinagoges het immers Christus as Seun van God verwerp, terwyl die vroeëre heidene nou begin het om, deur die Messias van Israel, God as Skepper te aanbid. Die tradisionele volk van God het goed ontwikkelde lewenspatrone, gewoontes en gebruike gehad. Dit was asof die skaduwee van die sinagoge die lig van die lewe van die jong gemeente gedemp het.

Watter Tradisie?🔗

Waar en hoe pas hulle nou in by die volk van God? Wat is hulle identiteit? Word hulle werklik by God aanvaar net soos die gelowige Jode? Is hulle tweederangse burgers van God se koninkryk? Die Jode het goed ontwikkelde sedelike lewens gehad wat volgens die Torah ingerig was. Hulle het baie voorregte gehad. Aan hulle is die Woord van God toevertrou (Romeine 3:2). Vanaf Abraham tot Jesus het God heel eerste tot die Jode met sy genade, sy woorde en sy dade gekom. Dit het geweldige groot voordele ingehou om deel te wees van God se verbondsvolk. Net soos dit vandag nog baie vir ons en ons kinders beteken.

Wat beteken dit nou alles vir die identiteit van die gemeente? Met hierdie vraag begin Paulus in Romeine 3:9. Word die Jode dan nou nog bevoordeel? Bring die feit dat hulle die openbaring van God in die Ou Testament (Torah) gehad het, nie ʼn bevoorregting mee nie, en wat gelowiges uit die heidendom benadeel nie? Het hulle wat reeds lankal die verbond van God gehad het, nie ʼn voordeel bó die ander nie? Hulle aanbid al vir só lank die enigste ware Skepper-God en hulle lewens was gerig op liefde vir God en hulle naaste.

Gereformeerde Tradisie🔗

Ons kan duidelik die vergelyking met ons situasie vandag sien. Ons is dikwels gemeentes met ʼn heel sterk ontwikkelde eie identiteit. Daar is gewoontes en gebruike wat al vir geslagte oorgelewer is en in baie opsigte beproef is. Die manier hoe ons die lewe in die gemeente struktuur gee rondom die verenigingslewe. Ons eredienste het ʼn heel sterk band met eeue-oue tradisies en gebruike. Lidmate is gewoond aan ʼn patroon waarin hulle gereeld ouderlingbesoek kry en ook nog tussendeur by geleentheid ʼn besoek van die predikant. Byna as vanselfsprekend stuur lidmate hulle kinders na die Gereformeerde Laerskool. Kategese vir jongmense van die gemeente is deel van die begeleiding tot belydenis van geloofaflegging. Dit is alles vorms waarin ons ons lewe as Christene gegiet het. Op sig is niks verkeerd daarmee nie.

Die vraag is wel watter rol hierdie gebruike/werke begin speel in die beoordeling van onsself en met name ook die beoordeling van ander. Ons sal dit moeilik kan ontken dat die teenwoordigheid van al hierdie dinge in ons lewe lei tot ʼn positiewe beoordeling deur ons oor ons eie lewe. Tegelyk kan die afwesigheid daarvan by ander maklik sorg vir ʼn houding van afkeur van ander.

kerkdeur

Wet van die Geloof🔗

Die Skepper-God het ʼn pad vir alle mense kom wys. ʼn Pad vir mense met ʼn eerbare tradisie, asook vir hulle sonder enige aanbidding van die Skepper-God, maar wat nou tot geloof gekom het. Dit is ʼn geregtigheid van God deur die geloof in Jesus Christus. Niemand, maar absoluut niemand word by voorbaat hiervan uitgesluit nie. Dit is vir ELKEEN WAT GLO. Elkeen wat na God teruggelei word, moet losgekoop word. Hierdie loskoop kan vir almal net in Jesus Christus gekry word. Op geen ander manier nie.

Die Here God het ons ʼn manier gegee waarop ons alle roem, ook in eie tradisies, kan afleer. Dit is ʼn liefdevolle genadige manier. In Christus wil God ons laat sien dat alle roem uitgesluit is. Dit is ʼn manier waarop God ons almal beskeie wil maak. Diep nederig onder die besef van ons eie sonde, maar bo-al deurtrek van die besef van God se goedheid en genade in Christus. Dit is ʼn nuwe wet wat die Here gee. Die wet van die geloof (Romeine 3:27). Sonder gehoorsaamheid aan hierdie wet gaan mense verlore. Vir hulle wat deel in die ryk tradisie van die wet en die verbond én vir hulle wat daarsonder opgegroei het.

Allesbepalend🔗

Hierdie wet van die geloof is ALLESBEPALEND vir hoe ons as gemeente ons teenoor ander gaan opstel. Watter wet wil ons handhaaf? Die wet van die werke of die wet van die geloof? Wil ons mekaar laat veilig wees by Christus alleen? Dit is tog skrikwekkend om te sien en te hoor aan watter tradisies lidmate mekaar wil bind. Mense is bereid om so goed as te sterf vir hulle verstaan van die invulling van die erediens. Die blydskap van die geloof kan erg versuur waar daar vasgehou word aan gebruike wat niks te doen het met die wet van die geloof nie.