Gryp Vas aan God
Gryp Vas aan God
Lees Hebreërs 11
Hoofstuk 11 van Hebreërs bespreek enkele Ou Testamentiese figure wat deur hul lewende geloof aan God se beloftes vasgegryp het. Die HERE wou aantoon dat die kenmerke van die ware geloof net so getrou is as al die natuurwette wat ons ken. Dit stel nooit teleur nie.
Die Hebreër-briefskrywer het in 11:1 die stel kenmerke bekend gemaak waarbinne die geloof funksioneer. Dit is wetmatighede wat nooit teleurstel nie. Want geloof is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
Hierdie dinge wat ons hoop, wat ons nie sien nie, blyk telkens die beloftes van die HERE te wees. Die ware geloof gryp altyd vas aan die lewende God wat sy beloftes waar maak.
Uit die voorbeelde van die Hebreër-briefskrywer ontdek ons hoedat die verskillende kenmerke soos sluitstukke van die geloofsleutel die betekenis van die ware geloof ontsluit. Hierdie verskillende kenmerke kan soos volg beskrywe word:
- Die ware geloof berus vertrouend in God se Woord wat heilsbeloftes in die vooruitsig stel wat nog nie gesien kan word nie.
- Die ware geloof verwek by die gelowige ’n vertrouensvolle gesindheid wat God se Woord bo alles ernstig neem.
- Die gelowige toe-eiening van God se Woord laat die gelowige volgens menslike logika “abnormaal” optree as gevolg waarvan hy/sy vervolg, bespot word.
- Deur sy geloofslewe neem die gelowige egter God se beloftes ook in besit.
Ons kan dit ook soos volg stel:
Die ware geloof
- berus in God se Woord
- verwek ’n vertrouensvolle gesindheid
- laat die gelowige abnormaal optree en
- laat die gelowige ook die beloftes in besit neem.
Met die verskillende gelowiges en hul omstandighede gaan ons hierdie kenmerke van die ware geloof in behandeling neem:
- Die eerste is dat die ware geloof vertrouensvol in God se Woord berus, wat heilsbeloftes maak, wat nog nie gesien kan word nie.
⤒🔗
Die Persoon en die Openbaring van God, wat Nog nie Gesien was nie←⤒🔗
Noag (vs 7)
- Hy het ’n Goddelike waarskuwing ontvang dat God die wêreld gaan verdelg weens die boosheid van die mens.
Abraham (vs 8-10)
- Hy is geroep dat hy na ’n vreemde land sou gaan wat God aanwys as sy erfenis - die stad van God wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
Sara (vs 11)
- God het die belofte gemaak dat sy ’n seun sou baar in haar ouderdom.
- Terwyl dit by haar onbekend was: dat sy ooit vrugbaar was, en selfs bo haar ouderdom kon baar.
Abraham (vs 17-19)
- God het belowe: In Isak sal jou nageslag genoem word.
- Hy is daarop op die proef gestel en hy het die belofte vasgehou dat God vir Isak uit die dood sal opwek.
Isak (vs 20)
- God het voor die tweeling se geboorte reeds openbaar gemaak dat die oudste die jongste sal dien. Dat God sy verbondsvolk uit Jakob sal bou.
Jakob (vs 21)
- Josef het drome gedroom wat oor sy verre toekoms geprofeteer het.
- Jakob het dit besef en daarom die onbekende voorsien...
- Dat hulle familie verlossing in Egipte sou nodig hê.
Josef (vs 22)
- Die volk sou na 400 jaar weer na die beloofde land terugkeer - is belowe aan Abraham.
- Josef het aan hierdie heilsverwagting vasgegryp wat hy toe nog nie gesien het nie.
Amram/Jogébed (vs 23)
- God sal sy volk uit slawerny verlos – was die geloofsverwagting in omgang.
- Wat egter nog onbekend was, was wie die persoon sou wees wat die HERE sal gebruik vir die bevryding.
Moses (vs 24-28)
- Hy het ook geglo (wat sy moeder se funksie ook al dalk mog wees) God sal sy volk uit slawerny verlos.
- En nadat Hy deur die HERE geroep is, en die volk die eerste pasga moes eet, het hy die belofte geglo wat hy nog nie gesien het nie: dat die verderwer nie hulle eersgeborenes sou aanraak nie.
Israel (vs 29-30)
- God het deur Moses telkens belowe dat Hy sy volk self sal verlos sonder mense se toedoen, wat hulle toe nog nie gesien het nie.
Ragab (vs 31)
- Aan haar is met ’n eed belowe dat sy en haar familie gespaar sal bly met die verwoesting van Jerigo. Dit het sy nog nie gesien nie aangesien alle aanduidings uit haar eie kennis was dat die Here als voor Israel in die woestyn platgevee het.
- Die ware geloof verwek by die gelowige ’n vertrouensvolle gesindheid wat God se woord bo alles ernstig neem.
Dit is opmerklik hoe anders die gesindheid van die ongelowiges teenoor God se Woord is. Farao vra spottende met sy kultuurhoogmoed oor die Godheid van die agterlike Israelitiese kleinveeboere: Wie is tog die HERE dat ek na sy Woord moet luister.
Die Persoon en Sy/Haar Houding/Gesindheid←⤒🔗
Noag (vs 7)
- Hy het eerbiedige vrees gehad vir God se aankondiging dat hy die aarde gaan verdelg - so anders as die mensemassas rondom hom wat net maar al hoe verder en erger gesondig het.
Abraham met sy wegtrek uit sy vaderland (vs 8-10)
- Hy het God op sy woord geneem en dit gehoorsaam.
Sara (vs 11)
- Sy het Hom getrou geag wat dit beloof het.
Abraham met die offer van Isak (vs 17-19)
- Hy het God op sy woord geneem.
Isak by die seën van sy seuns (vs 20)
- Hy het nie sy seën wat hy verkeerdelik uitgespreek het teruggeneem nie, welwetende dat God se Woord die waarheid was. Hy het dus ’n eerbiedige respek vir God se belofte gehad.
Jakob by die seën van Efraim en Manasse (vs 21)
- Biddend op die knop van sy kierie in diepe respek vir die goddelike seën wat die engel van die HERE gegee het toe die hom op die heupsening by die Jabbok geslaan het sodat hy daarna permanent mank was.
Josef (vs 22)
- Die beloftes wat die Here vir hom in sy drome verpak het, het Josef gelowig begroet.
Amram/Jogébed (vs 23)
- Die belofte van die verlossing was so oorweldigend dat hulle nie die gebod van die koning om die seuntjies te vermoor, gevrees het nie.
Moses (vs 24-28)
- Ons ontmoet by Moses ’n skerp prioriteitstelling, wat wys hoe hy die verlossingsbelofte van God waardeer het: Hy het die smaad van Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte en hy het uitgesien na die beloning.
Israel (vs 29-30)
- Hulle het op die HERE vertrou wat vir hulle die weg gebaan het deur die see.
Ragab (vs 31)
- Sy het soveel waarde geheg aan die nuusberigte wat sy oor God gehoor het, dat sy Hom gevrees het en om begenadiging gepleit het.
- Dat die egte geloof die mens se houding so beïnvloed dat jou gedrag dienooreenkomstig volgens menslike logika nie toepaslik/ normaal is nie, en dat jy daaroor vervolg en bespot word.
Die Persoon en Sy/Haar Werke←⤒🔗
Noag (vs 7)
- Hy het die kolossale skip op droë grond onder gespot gereed gemaak.
- Tot redding van sy huisgesin en tot veroordeling van die wêreld.
Abraham (vs 8-10)
- Weggetrek onder sy mense uit waar hy tuis en ingeburger was en hy het as vreemdeling gaan woon in die aangewese land, in tente.
Sara (vs 11)
- Sy het krag tot bevrugting ontvang, wat meen dat sy verwagtingsvol huweliksomgang beoefen het ten spyte van haar ouderdom en onvrugbaarheid, en sy het gebaar. Sy het haarself ingedink wat die mense sou sê: Wat het tog Sara in haar ouderdom oorgekom?
Abraham (vs 17-19)
- Hy het Isak geoffer teen alle logiese sin in. Hy het sy eniggeborene prysgegee.
Isak (vs 20)
- Hy het die seën wat hy oor Jakob uitgespreek nie teruggeneem en sy fout teenoor sy eersgeborene reggemaak nie, maar sy eerste uitspraak gehandhaaf.
Jakob (vs 21)
- Hy het die omgekeerde seën op die twee seuns van Josef uitgespreek, ten spyte daarvan dat Josef hom probeer reghelp het.
Josef (vs 22)
- Hy het sy sarkofaag bewaar laat bly om by Abraham begrawe te word, anders as hoe die koninklikes gemaak het om vir hulle ’n permanente grafhuis te bou (Piramide).
Amram/Jogébed (vs 23)
- Hulle het strydig met die normale vrees wat die volk vir Farao gehad het, die seuntjie weggesteek omdat hy mooi was.
Moses (vs 24-28)
- Hy het strydig met die normale verwagtings om die troon te bestyg, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word. Hy het dus afstand gedoen van die troon.
- Hy het verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om tydelik die rykdomme van Egipte en die genot van die sonde te besit.
- Hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien. Hy het Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees.
- Hy het die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed.
Israel (vs 29-30)
- Hulle het die mees onmoontlike en die heel dwaasste ding gedoen deur deur die rooi see te gaan; hulle het in alle menslike dommigheid rondom Jerigo geloop soos voorgeskryf.
Ragab (vs 31)
- Sy het tog maar die rooi tou uitgehang en haar familie by haar vergader.
- Die vierde kenmerk van die geloof is dat die gelowige in sy/haar geloofsaktiwiteit die beloofde heil in ontvangs neem:
Die Persoon en die Vrug←⤒🔗
Noag (vs 7)
- ’n Erfgenaam van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
Abraham (vs 8-10)
- “erfgenaam van die geregtigheid wat volgens die geloof is” (Rom 4).
Sara (vs 11)
- om uit ’n verstorwe vader ’n ontelbare menigte geboorte te gee.
Abraham (vs 17-19)
- Hy het Isak uit die dood uit terug ontvang.
Isak (vs 20)
- Hy het Jakob na Laban laat gaan waar die Here hom geseën het en teruggebring het.
Jakob (vs 21)
- Die twee seuns se nageslagte was so dat die een meer geseënd as die ander was...
Josef (vs 22)
- Sy sarkofaag is met die uittog saamgeneem.
Amram/Jogébed (vs 23)
- Die seuntjie is in die paleis opgeneem en koninklik grootgemaak.
Israel (vs 29-30)
- God het sy volk uit die onmoontlike verlos.
- God het sy volk die onmoontlike oorwinning besorg.
Ragab (vs 31)
- Sy is verlos en het met Salmon getrou en het Boas gebaar – in die geslagslyn van Christus.
Die Hebreërbriefskrywer het hierdie klompie gelowiges se geloofsomstandighede ’n bietjie beskrywe, maar dan skiet sy tyd te kort. Hy sou ook nog kon verhaal van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete.
Sy lesers kan self maar die geskiedenis gaan navors om te sien hoedat hulle geloof op God se beloftewoord berus het, hoedat hulle geloof gemaak het dat hulle God se Woord ernstig geneem het, hoedat hulle gevolglik volgens hul geloof in God se beloftes opgetree het sodat die wêreld hulle bespot en vervolg het, dat hulle die geloofsvisie op die komende bedeling van God se volkome verlossing ingestel het, en hoedat hulle met die onsigbare ewige heilsverwagting gesterwe het sonder dat hulle dit toe reeds in besit geneem het, omdat God dit vir hulle beskik het sodat hulle dit nie sonder ons sou verkry nie.
Dan vra ons: Maar waarom wil hy so ’n hele wolk van getuies nader roep om oor die werking van die geloof te getuig? En die antwoord is omdat dit hieruit duidelik word dat die ware geloof nie sommige tye en by sommige mense anders werk as by andere nie.
Die voorbeelde wat hy aangehaal het dek die ganse Ou Testamentiese kerkgeskiedenis – en hy skryf dit vir die Nuwe Testamentiese gemeente om vir hulle te sê: Die geloof werk nog steeds net so. Die kenmerke van die geloof is soos ewige wette wat nooit teleurstel nie.
En dan kom ook weer die diepteknoop: Die groot heilsbelofte waarop almal gehoop het en waarvoor hulle verdruk en mishandel is, gestenig, in stukke gesaag en deur die swaard vermoor is, was die volmaakte offergawe van ons Here Jesus Christus, wat intussen gekom het en op Gólgota gekruisig is, dit is ook waarin Hebr 11 uitmond en Hfst 12 begin: op Jesus, die Leidsman en die Voleinder van ons geloof wys. Hy is die Een wat God tot ons volkome verlossing belowe het, die Een wat in al die gevalle van die verskillende geloofshelde die verlossingsverkondiging was waarna met reikhalsende verwagting uitgesien is.
Met elke stukkie geskiedenis uit die Ou Testament het die HERE die heerlike verlossing van die toekomstige bedeling belowe. Daarop was die gelowiges se geloofsverwagting ook ingestel ... en aan hierdie belofte het hulle onverswak vasgeklem, en hulle is selfs daarmee die graf in – die geloofsoog geanker en gerig op die heerlikheid van die toekomstige bedeling, en hulle kon na afloop van hul aardse lewe tot rus kom van al hul werke sonder dat hulle die heerlikheid gesien het, en sonder dat hulle dit in besit geneem het.
Ons lees hier een van die troosryke redes waarom gelowiges nie nou reeds op hierdie aarde aanhou bly lewe nie. Die Here het vir hulle iets beters, iets heerlikers, die volmaakte erfenis van die toekomstige bedeling in die vooruitsig gestel. En hulle sal dus in die doderyk by Christus rus totdat die volle getal van die uitverkorenes volgeraak het sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.
Hoe hartseer is dit dan om altyd weer in die wandelgange van kerklike praatjies en geskrifte die siniese gespot te hoor, dat daardie oue boek morsdood en vergane is, lankal uitgedien vir vandag se sogenaamde nuwe wêreld. Dit was immers God se lewende onveranderlike liefdesverklaring, vandag nog net so lewend, kragtig, tweesnydend.
Maar veel erger wanneer gelowiges en kerkmense goedsmoeds die Bybelse lewensbeskrywing eenkant toe skuiwe en die denke van die moderne wêreld oorneem. Hoeveel keer kom ons dit nie teë dat egliede teleurgesteld is in die verwagtings wat hulle van die huwelik gekoester het, en gevolglik die huweliksgeloof om Christus se verhouding met sy kerk te vertolk, verloor het nie.
Dieselfde met die geloofsvisie op die gesin as die fondamentsteen van die verbondsgemeenskap en van die kerk en van die samelewing. As mens dit vandag steeds waag om die seën van die christelike verbondsgemeenskap vanuit die Woord aan mense voor te hou, word jy van diskriminasie teen vrou en kind aangekla. En subtiel syfer die etter van die ontbindende wêreld in die kerk in en dit vertrek die evangelie tot ’n streling van die gehoor.
Die worstelvraag tot die terugglyende gemeente van die Hebreërs was: waarom gryp julle nie meer God-alleen se beloftes vas nie? Waarom beskou julle Hom-alleen nie meer as die Een wat sy beloftes waar maak nie? Waarom vervang julle sy enige beloftewoord met jul eie saligheidsplan?
Hierdie vrae is vandag steeds net so aktueel. Vandag word dit as belaglik beskou om die Bybel as die enigste bron van jou geloofsbelewing te gebruik. Daarmee moet ons ons gewetens voor die HERE stel: Hy het sy Seun as enigste middelaar en offer vir ons sondes gegee, die Leidsman en die Voleinder van ons geloof sodat ons ons visie op sy heerlikheid kan vasnael en ons moeitevolle lewe op hierdie aarde in die lig daarvan inrig.
Waarom deins ons so maklik terug wanneer ons tussen mense belaglik gemaak word wanneer ons die Bybelse waardes koester? En as ons sien watter offers gelowiges al in die verlede gebring het omdat hulle nie bereid is om hulle kosbare verhouding met God met selfgefabriseerde uitspinsels te bevuil nie. Plaas dieselfde werking van die ware geloof deur die eeue nie dan dieselfde appèl op ons nie?
Voorwaar, ons word tot geloof opgeroep net soos hulle almal, om slegs aan God se beloftewoord vas te gryp, Hom op sy woord te neem, ons lewens volgens hierdie hoop in te rig, die vervolging daarvoor te trotseer, en as gelowige by God opgeneem te word in sy heerlikheid totdat Hy eenmaal weer kom om alles volkome nuut te maak, wanneer ons saam met almal wat so geglo het die erfenis in besit neem waarvan die heerlikheid nog nie nou al gesien word nie.