Bron: Kerk en Woord, 2003. 4 bladsye.

Handelinge 2:1-4 - Pinksterfees

En toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die hemel 'n geluid soos van 'n geweldige rukwind en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is daar tonge gesien soos van vuur wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit het. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Handelinge 2:1- 4

oes🔗

Pinksterfees – Oesfees🔗

Die uitstorting van die Heilige Gees het plaasgevind op die Joodse Pinksterfees. Die instelling daarvan vind ons in Deuteronomium 16:9-12.

Dit was, na die viering van die Paasfees, die tweede groot jaarlikse fees wat die Israeliete moes vier.

Die Pinksterfees was 'n dankdag vir die insa­meling van die oes. Volgens voorskrif moes dit op die vyftigste dag, sewe volle weke vandat die sekel die eerste keer in die ongesnyde graan geslaan is, gevier word. Dit het met allerhande seremoniële handelinge gepaard gegaan.

Handelinge 2 vermeld nadruklik dat die uit­storting van die Heilige Gees plaasgevind het toe die gemeente bymekaar was om die Pink­sterfees te vier. Daaruit kan afgelei word dat dit nie toevallig was dat die Gees juis op die dag uitgestort is nie. Pinksterfees is die fees van die volheid: die gerwe van die laaste oes moes dan aan die Here gebring word "elkeen volgens die gawe van sy hand ooreenkomstig die seën van die Here jou God wat Hy jou gegee het".

Die Heilige Gees word uitgestort in die volheid van die tyd. Dit is die laatste sen­trale heilsfeit voor Jesus se wederkoms. Jesus, die gekruisigde, word op Pinkster en daarna gepredik as Hom wat deur God opgewek is (Handelinge 2:24 en 32, 10:4). Die groot dade van God in Christus word verkondig. Die Gees is die onderpand van die ewige heil wat alle gelowiges deelagtig sal word. Hy woon in die gemeente en verbind ons gedurig met die verheerlikte Heiland. So sal dit wees tot sy wederkoms. Deur sy Woord en Gees woon Christus in sy kerk en deur die werk van die kerk versamel Christus die oes van almal wat tot die ewige lewe uitverkies is.

Gees en Woord🔗

Die uitstorting van die Gees het met wonder­baarlike verskynsels gepaard gegaan: 'n geluid van 'n geweldige rukwind, tonge soos van vuur en die spreek in ander tale. 'n Menigte het saamgestroom en was in die war. Hulle het vir mekaar gevra: Wat kan dit tog wees? (2:12). 'n Vraag wat ook vandag nog gehoor word. Daar heers steeds baie misverstande rondom die persoon en die werk van die Heilige Gees. In die NGB word slegs een baie kort artikel aan die Godheid van die Heilige Gees gewy. Ook in die Heidelbergse Kategismus word in slegs een vraag en antwoord ons geloof in die Heilige Gees bely (Sondag 20). As Gerefor­meerde Kerke moet ons dit dalk oorweeg om die belydenis op hierdie punt uit te brei, omdat die sektes en "evangeliese" stromings ongeloof­lik baie verwarring saai met hulle lerings oor die werk van die Heilige Gees.

Ons mag nooit die werk van die Heilige Gees losmaak van die werk van Christus nie. Petrus stel dit in sy Pinksterpreek duidelik:

Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uit­gestort, wat julle nou sien en hoor. Handelinge 2:33

lug

Dit is dus Christus wat vanuit die hemel aktief optree en hierdie heilsfeit bewerkstel­lig. In kringe waar die werk van die Heilige Gees losgemaak word van Christus, kom juis daardeur allerhande dwaalleer voor.

Ook kom dit baie voor dat daar 'n teenstel­ling gemaak word tussen Gees en Woord en die twee van mekaar geskei word. Die Gees word losgemaak van die Woord. Daar word dan gestel: Die prediking van die Woord is nie so belangrik nie, want dit is slegs uitwendig. Alles kom op die inwendige werk van die Gees aan, want per slot van rekening moet die Gees die geloof in 'n mens wek. Die gedagtegang is dan dat die Gees onmiddellik, sonder die middel van die Woord, sou werk. Die Gees werk gewoonlik juis deur die Woord.

Die aanklag word verneem: Die Gerefor­meerde leer is dalk wel suiwer, maar die Gees heers nie daar nie, want daar is geen mani­festasies daarvan, soos die spreek in tonge, wonderbaarlike genesings, ensovoorts nie. 'n Suiwer leer beteken niks nie. Kyk nie na die leer, na die dogma van die kerk nie, maar na die lewe; nie na die leer nie, maar na die Heer. Die Heilige Gees is egter die Gees van Christus, die Gees van die Woord. Natuurlik moet beide die leer en die lewe skriftuurlik gesond wees.

Indien die Woord egter nie suiwer verkondig word nie, indien die suiwer leer nie gehand­haaf word nie, dan gaan onherroeplik die Christelike lewe daardeur skade ly.

Rukwind en Tongevuur🔗

Handelinge vertel ons oor 'n geluid uit die hemel soos van 'n geweldige rukwind en oor verdeelde tongevuur wat hulleself verdeel en op elkeen van die aanwesiges gaan sit. Christus self het teenoor Nikodemus gespreek oor die ooreenkoms tussen die wind en die Gees:

die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.Johannes 3:8

In sy oorsprong en sy einde is die wind onna­speurlik. As 'n onnaspeurbare mag ten goede en ten kwade is die wind beeld en teken van die Gees. Ons weet hoe onstuitbaar 'n orkaan is. So het daar 'n onweerstaanbare beweging in die wêreld op gang gekom toe die Gees oor die saamvergaderde gemeente uitgestort is. "Julle het Jerusalem met julle leer vervul", kla die Sanhedrin (Handelinge 5:28). Die evangelie het sy loop vanuit Jerusalem oor die hele wêreld begin en dit sal voortgaan totdat Christus kom.

Dan is daar tonge soos van vuur. Die vuur verlig en verwarm, maar kan ook verterend werk. Waar die Gees van die Here kom, daar verlig Hy deur sy Woord die gelowiges se verstand en ontsteek Hy hul harte in vurige liefde vir God en die naaste. Die suiwerende en onderwysende werk van God se Gees word gesimboliseer deur die vurige tonge wat hulself verdeel en op elkeen van hulle wat bymekaar was, gaan sit het.

Dit herinner aan die menorah, die sewe-­armige kandelaar wat op bevel van die Here in die heiligdom geplaas moes word (Eksodus 25:31-40).

Die sewe vlammetjies het die lig van die Godskennis, wat aan Israel geskenk is, gesim­boliseer. Te midde van die dodelike duisternis van die heidense volke rondom Israel, was die lig van die kandelaar die bewys dat aan Israel die lewe in God se genade beloof is.

Lig spreek in die Skrif spesiaal van die werk van die Heilige Gees. Gees en lig word soms as sinonieme gebruik. Vrug van die Gees is gelyk aan vrug van die lig (Efesiërs 5:8 & 9). Die kerk van Christus het die opdrag om deur die Woord en daad die evangelie te proklameer oor die hele wêreld. Die kerk word in Open­baring 1 'n kandelaar genoem.

Julle is die lig van die wêreld. Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.Matteus 5:13 & 16

Die teks (vers 3) vermeld dat daar tonge gesien is soos van vuur wat hulself verdeel en op elkeen gaan sit het. Die gemeente wat bymekaar gekom het, sien dus vlamme wat hulself verdeel. Hulle ontvang nie elkeen apart 'n individuele vlammetjie nie, maar hulle sien saam die tonge van vuur wat hul­leself verdeel en op elkeen gaan sit. Elkeen persoonlik ontvang die verdeelde vuur. Die ontvang daarvan is nie individualisties nie, want elkeen ontvang dit saam met almal wat hier eendragtig saam vergader is.

sewe-armige kandelaar🔗

Saam en Persoonlik🔗

Volgens Handelinge 1:15 was daar tydens 'n samekoms voor die Pinksterfees omtrent 120 gelowiges bymekaar. Ons neem aan dat dit dieselfde groep is wat nou ook op die Pink­sterdag bymekaar gekom het. Die opvallende is dat almal, sonder uitsondering, die Hei­lige Gees ontvang het. Daar is geen besondere voorwaardes gestel waaraan elkeen persoonlik moes voldoen voordat hulle die Heilige Gees ontvang het nie. Almal het op gelyke wyse deel gekry aan die heil deur die ontvang van die Heilige Gees.

In Sondag 20 van die Heidelbergse Kategis­mus bely ons:

Die Heilige Gees is ook aan my gegee sodat Hy my deur 'n ware geloof aan Christus en al sy weldade deel laat kry, my troos en ewig by my bly.

Ook hier word geen enkele voorwaarde of beperking gestel nie. Sola fide: deur die geloof alleen.

Die meeste sektes en "evangeliese" stromings maak van die ontvang van die Heilige Gees 'n baie individualistiese saak. Hulle vra: Het jy die Gees ontvang? As jy nie in tonge spreek nie, die uur en dag van jou bekering nie kan noem nie, ensovoorts, dan aanvaar hulle een­voudig dat jy nie die Gees ontvang het nie.

'n Ware geloof wat voortspruit uit jou geboorte binne die verbondskring, die doop wat jy as 'n onmondige kindjie ontvang het toe gelowige ouers jou na die doopvont gedra het en jy voor die Christelike gemeente gedoop is, die verbondsonderrig wat jou gelowige ouers jou gegee het, die kategese en die prediking van die kerk waardeur jy self tot die geloof gekom het, is volgens hulle feitlik van geen waarde as jy nie kan getuig van 'n kragdadige plotselinge bekering nie.

Ook word gevra: Is jy 'n wedergebore Chris­ten? Wedergeboorte word daarby gewoonlik beskou as 'n daad van die mens self, of as 'n besondere ervaring wat 'n gelowige moet beleef.

Wedergeboorte is egter deur en deur 'n daad van God en word jou met die geloof uit genade geskenk. Die daaglikse bekering, die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens, is onmiskenbare vrugte van die wedergeboorte.

Die geloof wat jy het, is 'n gawe van God gewerk langs die mildelike weg van die Woord en die Gees. As jy glo, het jy die Gees ontvang, want daarsonder is geen geloof moontlik nie. Deur die doop is jy in Christus geheilig en is jy deur die Heilige Gees tot lidmaat van God se eniggebore Seun en daardeur tot sy kind aangeneem. Ons moet daarteen waak dat ons nie gaan twyfel aan ons geloof deurdat ons deur 'n onjuiste vraagstelling voor 'n verkeerde dilemma gestel word nie.

Ja, ons het die Gees ontvang, ons is in Chris­tus ingelyf, ons uit genade kinders van God ons Vader, ons het deel aan die salwing met die Heilige Gees (1 Johannes 2:20 & 27) en ons is wedergebore Christene. Dit alles uit genade alleen.

Nie Individualisties🔗

Volgens die Metodisme en baie sektes kom die Heilige Gees persoonlik en individueel tot ons. Telkens tot een persoon alleen en stig en bou die Here op die wyse sy kerk. In Handelinge 2:4 lees ons iets anders. "En hulle is almal vervul met die Heilige Gees." Die hele gemeente, oud en jonk, manne en vroue, ryk en arm, het die gawe van die Heilige Gees ontvang.

Die Heilige Gees kom gewoonlik op die "gewone" wyse sy woning maak in die gemeente van Christus: deur verbond en doop, deur Woord- en Sakramentbediening, deur kategese en Bybelstudie, kom die Gees tot elkeen persoonlik binne die gemeenskap van die heiliges. Waar Christus met sy Gees kom, daar kom die Gees met die Woord!

Bybel

Die tonge van vuur het op elkeen van hulle, wat in die gemeenskap van die geloof byme­kaar was, gaan sit. Hulle was eendragtig byme­kaar. Die geluid van 'n stormwind het die hele huis vervul. Saam het hulle die tonge van vuur, wat bo elkeen van hulle gaan sit het, gesien. Elkeen is persoonlik deur die vuur geraak. Dit mag vir niemand in die kerk van Christus wat waarlik glo, 'n vraag wees of hy/sy wel deel het aan die gawe van die Heilige Gees nie.

Die vervulling met die Gees gaan vandag nie meer gepaard met allerlei opsienbarende tekens nie. Hierdie tekens, die genesing van siekes deur die apostels, ensovoorts, was bedoel as aanvangversterkers van die kerk en het na die apostoliese tyd opgehou. Vandag kom dit tot uiting deur 'n lewe in en uit die geloof. Dit is 'n lewe wat aan die diens van die Here prioriteit geen, wat in eenvoudige gehoor­saamheid die onderskeie Goddelike roepings op alle lewensterreine vervul.

Die vraag hierby is nie of ek wel 'n besondere geloofservaring gehad het nie, maar of ek, wat die genade van Pinkster ontvang het, my pinksterroeping getrou vervul. Het ek 'n vaste band met Christus en sy kerk? Is ek gehoor­saam in die vervulling van my Goddelike roe­ping deur Christus se naam te bely, myself as 'n lewende dankoffer aan Hom toe te wy en teen die sonde en die duiwel te stry? Is ons daders van die Woord?