Bron: Wegwijs. 3 bladsye.

Hartlike gehoorsaamheid

Gehoorsaamheid en normatiewe denke is nie baie gewilde onderwerpe in die wêreld van vandag nie.  Daar is mense wat koue rillings kry as hulle maar net die woorde ‘gehoorsaamheid’ en ‘norme’ hoor.  Het uiterlike groepsdwang nie baie dinge stukkend gemaak nie?  Is daar in ons gereformeerde kringe nie ook baie mense wat slagoffer geword het van die ‘dryf na perfeksionisme’, wat ons vandag die ‘normatiewe idealisme’ noem nie? Met die sweep van gehoorsaamheid aan te hoog gestelde norme, is mense opgejaag en bang gemaak.  Sonde was om ʼn reël te oortree.  En om te glo was: om jou aan die groepskode te hou.

Op hierdie punt het daar ʼn groot ommeswaai in die religieuse denke plaasgevind. Vroeër was die oortreding van norme die grootste oortreding, terwyl vandag die seermaak van iemand se gevoelens as die grootste sonde gesien sal word. Hiermee word daar ʼn kontras tussen geloof en gehoorsaamheid geskep. Gehoorsaamheid sou dus onpersoonlik en gevoelloos wees.  Jy onderhou puur uitwendig en werktuiglik ʼn aantal reëltjies.  By gehoorsaamheid het jy nie ʼn eie verantwoordelikheid nie.  Jy word ʼn kuddedier.  Jy onderwerp jou willoos aan ʼn groepskode.  Maar geloof sou dus anders wees nie.  Dit is individueel.  En ʼn saak van verhouding.  Dit is om God lief te hê.  Dit is lewe uit die belofte van God, in plaas van lewe na sy wet.

In die moderne klimaat is die gevaar lewensgroot dat met die badwater van perfeksionistiese dissipline, ook die kind van die geloofsgehoorsaamheid weggegooi word. Daarom ʼn paar opmerkings oor Skriftuurlike gehoorsaamheid.

Gehoorsaamheid van die geloof🔗

Dit gaan in die gehoorsaamheid aan God en aan sy wet om gehoorsaamheid van die gelóóf.  As ons, met die apostel Paulus, jaag na die volmaakte, doen ons dit nie om op dié manier deur Christus gegryp te word nie.  Die weg van selfverlossing en eie geregtigheid het Paulus juis as skade en drek geag.  Hy en ons jaag na die volmaakte, omdat ons self deur Christus gegryp is.  Ons gehoorsaamheid is nie ʼn jagtog na sielerus nie, maar is die vrug van dankbaarheid vir die vrede deur God geskenk (Filippense 3).

Niemand mag dan ook ʼn lewe uit die belofte, en ʼn lewe na die eis, teen mekaar afspeel nie.  Hulle hoort bymekaar.  ʼn Christelike lewe is ʼn lewe uit ʼn ware geloof na die wet van God en tot sy eer.  ʼn Hartlike voorneme om na God se wet te lewe is selfs inhoud van God se belofte aan ons.  Christus volstaan nie daarmee om ons vry te maak met sy bloed nie.  Hy vernuwe ons ook, deur sy Heilige Gees, na sy beeld.  In laasgenoemde kry die vergewing effek:  by U, HERE, is vergewing, sodat U gevrees word!

Dit is die magtige werklikheid van die nuwe verbond wat die HERE ons betuig - dat Hy sy wet in ons binneste wil lê en dat Hy sy gebooie wil skryf op die tafel van ons hart.  Dit is die werk van sy Gees in ons.  As Christus in ons leef, en ons in Hom, dan breek ons met die sonde.  Dan wil ons nie langer in sonde leef nie.  Dié wat uit God gebore is, het ʼn afkeer van die sonde, wat wetteloosheid is.

God se persoonlike wil🔗

Die wet van God is nie ʼn versameling reëltjies nie.  Dit bevat die persoonlike wil van Hom wat sy enigste Seun vir ons gegee het toe ons nog sondaars en vyande van Hom was.

Ons ken in ons samelewing talle reëls wat ons met mekaar afgespreek het, maar wat ook anders kon gelui het.  Allerhande voorskrifte is heeltemal willekeurig.  Hulle kan ook net so weer afgeskaf of aangepas word.  Dat ons links van die pad bestuur en nie regs nie, soos in Europa, berus louter en alleen op ons afsprake.  Uiteindelik sou dit baie anders gereël kon word.

Maar die wet van God is nie ʼn dokument met ʼn aantal willekeurige reëltjies nie.  In sy wet het die HERE vir ons aangedui hoe Hy ons lewe gemaak en bedoel het.  Só pas dit by sy skeppingswerk.  En só wil Hy dit graag hê!  Dit is sy persoonlike wens.  Daarom is sy wet ook nie die een dag sus en die ander dag so nie.  Daarom sal hemel en aarde eerder vergaan as wat Hy ʼn jota of tittel van sy wet sal laat val.

God se wet is nie ʼn versameling onpersoonlike reëltjies nie. In die wet brand die vuur van God se heiligheid, van sy ernstige liefde wat wederliefde vra.  Daarom kan die Kategismus in vraag en antwoord 10 ook sê dat God geen sonde ongestraf wil laat bly nie.  Hy wil dit nie.  Dit is nie vir die HERE om’t ewe of ons sy gebooie oortree nie.  Hy skuif dit nie lakoniek eenkant, asof Hy sê:  ‘dit staan nou wel so in my wet, maar dit wil nie sê dat dit (of dat Ek) nie anders kan nie’.  Nee, sy wet, dit is Hyself.  Toe Dawid teen die sesde en die sewende gebod gesondig het, het hy bely:  ‘Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in U oë!’ (Psalm 51).  Die wat hul aan God se gebod vergryp, stel hulself op teenoor Hóm.

Die formulering van vraag 4 in die Kategismus is ook fraai.  Daar staan nie:  ‘Wat eis God se wèt van ons?’ nie, maar:  ‘wat eis Gòd in sy wet van ons?’  Dit is die HERE self, met wie ons in die wet te make het. 

Daarom is dit nie goed om te praat van ‘ons Christelike norme en waardes’ nie.  Dan máák jy iets persoonliks daarvan. ʼn Pakket van reëls en verordeninge.  Ons is nie gebonde aan norme en waardes nie.  Ook nie aan die Tora as ʼn afsonderlike grootheid, los van God nie.  Ons is liefdevolle gehoorsaamheid verskuldig aan die HERE, aan sy wet.

Vertroue🔗

God se gebooie is nie dom, of onsaaklik, of pure teorie waarmee jy niks in die praktyk kan doen nie.  Omdat dit die wet van die HERE is, weet ons dat die wet wys en verstandig en regverdig is. Die wet is presies afgestem op hierdie wêreld wat deur die sonde ontwrig en gebroke is. ‘U insettinge was gesange vir my in die huis van my vreemdelingskap’ (Psalm 119:54).  Watter volk ken sulke gebooie soos hierdie?  Dit is omdat geen volk so ʼn God het soos die volk van die HERE nie (Deut. 4:5-8)!

God se wet knel nie die lewe af of skaad dit nie.  Dit is die wet van ons Verlosser.  Hy waarsku ons juis teen die slawerny van die sonde.  In sy gebooie gee Hy, as Skepper, die gebruiksaanwysing vir mens en wêreld.  Dit kan jy alleen maar tot jou eie skade negeer.  Die ketting van ons lewe loop vas sodra dit nie meer oor die twee tandwiele van die liefde tot God en die liefde tot die naaste loop nie.

Egte Christelike gehoorsaamheid word gekenmerk deur vertroue.  Die wat eers die HERE gaan nareken of die nakom van sy gebooie wel slim en saaklik genoeg is, hy gehoorsaam nie.  ʼn Kind wat eers gehoorsaam is wanneer hy/sy kon uitmaak of die opdrag van pa of ma iets oplewer, is nie gehoorsaam nie, maar eiesinnig en eiewys.  Jy kan nie gehoorsaam wees sonder om te vertrou nie.  Of anders gestel:  egte gehoorsaamheid aan die Here is ondenkbaar sonder die lewende band van die geloof in Hom.

Liefde🔗

Ons Heiland het die wet van sy Vader saamgevat in die een gebod, naamlik om God en ons naaste lief te hê.  Met hierdie samevatting het Hy ons nie ʼn maatstok in die hande gegee om te bepaal watter gebod ‘christelik’ en watter gebod Nuwe-Testamenties is nie.  Hy het ons ook nie ʼn  nuwe gebod gegee wat die gebooie van sy Vader buite werking gestel of tweederangs gemaak het nie.  Met hierdie gebod het Hy ons juis die diepte aangewys van die wet van sy Vader.  Hy het die stof van God se gebooie afgevee en ons geleer om God se wet te lees.

Die Fariseërs het God se gebooie uitgehol.  Christus het ons weer geleer wat God se gebooie inhou.  Die HERE vra nie ʼn uiterlike gehoorsaamheid aan slegs dit wat swart op wit staan nie.  Die HERE eis ons harte.  As die HERE doodslag verbied, mag niemand daaruit aflei dat dit dus nie verbode is om mekaar in die hospitaal in te slaan nie.  As die HERE sê:  Jy mag nie doodslaan nie, dan beteken dit ook dat ons geen plek aan vleeslike haat en wrok in ons hart mag gee nie (vgl. Mat. 5).

God se wet is die wet van sy verbond, die verbond van sy genade en liefde. 

In daardie verbond pas by ons nie ʼn letterknegtige houding nie:  ek laat slegs ná wat God swart op wit in sy Woord verbied het.  As ʼn vrou sou sê:  ek laat slegs ná wat my man swart op wit verbied het, dink ons nie veel van haar huwelik nie.  So is dit in die huweliksverbond van die HERE ook.  Ons sal deur ons ondersoeke van God se Woord  juis probeer om Christelike fyngevoeligheid te ontwikkel, sodat ons die wil van die HERE leer ken, ook in situasies waarvoor daar geen uitgedrukte gebooie is nie.  Dít is lus en liefde om na God se wil te lewe!

Ons sal deur ons ondersoeke van God se Woord  juis probeer om Christelike fyngevoeligheid te ontwikkel, ook in situasies waarvoor daar geen uitgedrukte gebooie is nie