Bron: De Wekker, 2007. 2 bladsye.

Hartstog vir God

‘Hartstocht voor God’ en ‘Passie voor God’ is die titels van twee onlangse Bybelstudieboeke. Dit is aangrypende woorde, maar stem mens ook enigsins onrustig. Hulle beteken dat ʼn mens vuur en vlam vir God is — maar hoe doen mens dit?

Moenie Elke Hartstog Vertrou Nie🔗

(Lees 1 Konings 18 en 19). Op die berg Karmel lyk dit na ʼn wedstryd tussen die Baälspriesters en die profeet Elia. Dit lyk of die priesters in hulle hartstog voorloop. Hulle bid hulle letterlik stukkend; hulle roep, dans en kerf hulleself dat die bloed spat. Agter al die vertoon is onsekerheid. Hulle kan nie met vertroue bid nie. Miskien sal Baäl jou goedgesind wees, miskien nie. Jy kan maar net roep so hard soos jy kan om aandag te trek, . . . en wag. Met Baäl weet mens nooit waar jy staan nie. Dit is in wese ʼn god van niks nie.

Elia spot daarmee: “Roep hard; hy is mos ʼn god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word” (1 Konings 18:27). Maar hoe hulle ook al roep: daar kom g’n geluid nie, niemand gee antwoord nie, niemand gee ag op hulle gebede nie.

Baäl word in ons wêreld ook hartstogtelik gedien. Dit is die god van welvaart en aardse geluk. Maar ook vandag is dit duidelik, en dit geld alle afgode: al staan jy op jou kop van hartstog — wanneer jy hulle die meeste nodig het, laat hulle jou in die steek.

Ware Hartstog kom uit die Hart van God🔗

Elia se optrede is minder opspraakwekkend. Hy bid wel vurig: “Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, God is. . . “ (vs. 37). `n Mens hoor daarin ’n hart wat aan die brand is vir God. Hy sou dan ook nie anders die moed gehad het om volk én koning saam te roep om dan openlik konfrontasie te soek nie. By al sy hartstog straal daar by Elia nogtans ’n diepe rus uit. Die geheim daarvan is in die Naam. Elia se naam beteken  ‘my God is Jahweh’. In dié Naam sê God ‘Ek is hier!  Ek is teenwoordig, by julle, by jou’.  So wil God vír ons wees!  ʼn God op wie ons kan staatmaak. In die Nuwe Testament sê Jesus: noem Hom ‘Onse Vader’ (Matteus 6:9). ʼn God wat ʼn hart het vir ons.

Hiermee het ons by iets belangriks gekom.  As dit oor hartstog in verband met God gaan, begin dit nie by ons nie; dit begin by God.  Sy hart is vuur en vlam vir ons! Dit is ʼn groot wonder. Wie is óns? Mense wat kans sien om, net soos Israel destyds, van God af weg te loop en ons heil te soek by wat hierdie lewe bied en wat hierdie aarde oplewer. Terwyl ons dit geniet, kan ons mos sonder God klaarkom. Tog kom Hy na ons toe. In die koms en werk van Christus sien ons hoe innig en hoe diepgaande. Hy sê: ‘Ek ís hier’. Dan ontdek ons: God soek, let wel, na mý! Hy soek na my, nie om my te straf nie, maar om te wys dat Hy vir my omgee. Onse Vader op soek na Sy afgedwaalde kind.

Dan is dit ook nie nodig om histeries, lank te bid nie. Sekerlik kan ons Hom in nood aanroep en as ons baie op die hart het, die tyd daarvoor neem. Dit word egter nie van ons vereis om daarmee Sy aandag te trek nie. Sy aandag ís reeds op ons, nog voor ons bid. Daarom sê Jesus: “En as julle bid, gebruik nie ʼn ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word. Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra” (Matteus 6:7, 8). Dit was ook Elia se sekerheid. Hy is gedra deur die God wat sê: ‘Ek is daar vir jou’. Toe word die Here vir hom alles.

God maak ook Ons Harte Brandend🔗

Veral in die Psalms kry ons mense wat vertel wie God vir hulle is. ’n Voorbeeld is die begin van Psalm 18: “Ek het U hartlik lief, HERE, my sterkte. Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder”. Dit is woorde wat aan ons gegee is om stil, een vir een te bepeins. Dink ook weer aan die Vadernaam wat Jesus ons geleer het en dink daarby aan alles wat ʼn vader vir sy kind moet wees, maar waarin aardse vaders dikwels te kort skiet: wysheid, liefde, sorg, beskerming. Dit word alles in God gevind. Dit is goed om die woorde van Dawid te bepeins en dan te bid: Here God, sal U dit alles vir my wees? Leer my om dit alles in U te vind . . . Dan sal God die vuur waarvan dié woorde spreek, uit sy hart na ons laat oorslaan sodat ons harte ook vir Hóm brandend word. Sodat ons weet dat ware geluk is om aan Hom te behoort en dat volle blydskap net van Hom kom. Dan word ons verhouding met God die hart van ons lewe. ʼn Verhouding wat gekenmerk word deur vertroue: Hy is daar, Hy sal daar wees.

Dié vertroue word soms beproef as die tekens van Sy nabyheid nie sigbaar is nie. Hoe dikwels praat die Skrif nie van “wag op die Here” nie! Die versoeking is dan om die leemte voortydig met emosies wat ons by onsself en by mekaar opwek, te vul. Juis dan moet ons, ons met afwagting oefen in die vertroue: hoop op God!  Dan sal ʼn ander ons nooit ompraat nie. God self kan en wil ons leer, soos Hy Sy ander profeet, Habakuk, geleer het, en waarop Habakuk sê:

“Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie — nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes”.