7 bladsye.

Hebreers 12:14-29 - Sinai en Sionsberg

Die Berg Sinai (1)🔗

Die Hebreërboek is ʼn volgehoue waarskuwing aan belydende gelowiges teen afvalligheid en verlating van die Here Jesus en die leer van God se Woord en die ware kerk. Hebreërs is in besonder (in die eerste plek) geskryf aan Christelike Joodse bekeerlinge, in die eerste eeu na Christus, om hulle teen afvalligheid te waarsku, sodat hulle nie die Here Jesus verlaat om na ʼn Christuslose Judaïsme terug te keer nie. Die skrywer doen dit deur herhaaldelik die Ou Testamentiese kerkinrigting teenoor dié van die Nuwe Testament te stel. Telkens weer konstateer Hebreërs dat die nuwe verbond in Christus ʼn beter verbond is met beter beloftes, omdat dit ʼn beter priesterskap het en beter offers op ʼn beter altaar in ʼn beter tabernakel. Tewens, om van Jesus Christus terug te keer na diensbaarheid onder die wet, is om te vergaan onder die vurige toorn van God!

Die tweede helfte van Hebreërs 12 (verse 18-29) som die hoofpunte van die Hebreërboek op met beeldspraak van twee berge, die berg Sinai en die berg Sion. Verse 18-21 behandel die berg Sinai, verse 22-24 sit Sion uiteen en verse 25-29 is ʼn vermaning om nie na die berg Sinai terug te keer nie, maar by die berg Sion te volhard.

Die twee berge, Sinai (18-21) en Sion (22-24), word skerp kontrasterend teenoor mekaar gestel. Sinai is as’t ware “Onheilsberg”. Dit is ʼn ongenaakbare en skrikwekkende berg. Bly weg! Sion is die geseënde berg, want daar woon die Drie-enige God, die heilige engele, die getroue heiliges en die Here Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond. Bly by Sion, die hemelse Jerusalem, die ware kerk van Christus!

Om die begrip en draagwydte van Sinai te verstaan, moet ons in ag neem dat die Jode, veral in die apostoliese tyd, hulle godsdienstige bevoorregting hoog aangeslaan het. Hulle had ʼn wonderlike heiligdom met heilige ameublement: die tabernakel/tempel. Daar het priesters voorgegaan, die geslag van Aäron bygestaan deur die Leviete. Voorop in die werk van die priesters en Leviete was die bring van offers: brandoffers, spysoffers, vrede-offers, sondoffers, skuldoffers, drankoffers, hefoffers, beweegoffers ens. Die Jode het ook geroem op hulle wette. Hierdie wette, voorskrifte, uitsprake, verklarings en gebooie het ‘n menigte areas gedek: wat jy mag eet en nie eet nie en wat om te doen as jy melaats word, wette oor godsdienstige feeste, seremoniële reinigingswette en vele meer. Die Jode het op al die dinge (tabernakel/tempel, priesterskap, offers, wette) geroem omdat God dit aan hulle gegee het. Jehova het die dinge uit liefde en genade aan hulle (en nie aan ander nie) gegee en Hy het dit baie honderde jare tevore gedoen, sodat hierdie godsdiensvorme baie eerbiedwaardig en 'n gryse antikwiteit is.

En waar was Israel toe God hierdie dinge vir sy volk gegee het? By die berg Sinai! God het die bloudruk vir die tabernakel gegee en Moses het dit by Sinai gebou. Die stam van Levi is by Sinai afgesonder vir diens. Die priestersamp is by Sinai ingestel. Die voorskrifte oor offers is by Sinai gegee. By Sinai het God met Israel vanaf die berg gepraat. By Sinai het Jehova aan Israel die tien gebooie op twee kliptafels gegee. By Sinai is baie ander wette gegee. By Sinai het God Israel ʼn volk gemaak, sy eie verbondsvolk.

Dink maar ook oor Sinai in terme van die boeke van die Ou Testament. Van Eksodus 18 tot Numeri 10 was Israel se laer by die berg Sinai. Dit is meer as die helfte van Eksodus, die hele Levitikus en 30% van Numeri. Die res van die Ou Testamentiese geskiedenis van Joshua af behandel die seëninge en vloek oor Israel aldan hulle getrou was aan die Woord van God by Sinai gegee, of nie. Waarheen het Elía gegaan om sy bedanking in te dien as profeet van die wetsveragtende, verbondverbrekende volk van die Noordelike Koninkryk (1 Kon. 19)? Sinai! Sommige Psalms bepeins God se openbaring by Sinai (bv. Ps. 68; 97). Die profete wat in die Ou Testament geskryf het, van Jesaja tot Maleagi, het God se verloste volk teruggeroep tot dankbare gehoorsaamheid aan sy wet by Sinai gegee.

Kortom, Sinai was die roem van die Jode want, anders as alle ander volke (met hulle valse godsdienste), het Israel God self by Sinai ontmoet en daar hulle wette en besondere erediensvorme uit sy hand ontvang. Die voorgaande stel ons in staat om die begrip en draagwydte van Sinai in Hebreërs 12:18-21 te verstaan. Hier verteenwoordig Sinai die Ou Testamentiese wet en erediens, met die tabernakel/tempel, priesters, offers, altaar en oorvloed van gebooie.

Nou moet ons begryp wat die woorde “het gekom” by Sinai in vers 18 beteken. “Het gekom” is hier in die voltooide teenwoordige tyd (perfektum) en sluit daarom in, aankoms by Sinai en voortgesette verblyf daar. Met ander woorde, julle eerste eeuse Joodse Christene het nie by Sinai – as verteenwoordigend van Ou Testamentiese wet en diens, met skadu’s en tipes, sonder die middelaarskap, offer en bloed van Jesus Christus - gekom om daar te bly nie. Dit is die idee van Sinai hier: berus in die vorm en inhoud van Ou Testamentiese wet en diens, sonder vergiffenis van sonde in die kruis van Christus.

Dit is dan die argument van Hebreërs 12:18-20. Wil julle, Joodse Christene, die Ou Testamentiese wet en diens hê wat by Sinai gegee is, sonder die offer van die beloofde Messias? U moet gerus Eksodus 19-20 en Deuteronomium 4-5 weer lees. Die Ou Testamentiese wet en diens van Sinai (op sigself genome en sonder die bloed van Christus) openbaar net God se heiligheid en toorn. Dink aan God se openbaring by Sinai! Die hemele was gevul met donder en weerligte; die berg was gehul in vuur en donkerheid; die aarde het geskud. Dít is wat Sinai (Ou Testamentiese wet en diens) sonder die bloed van die kruis beteken: “  ...’n berg ... en ‘n brandende vuur en donkerheid en duisternis en storm en basuingeklank en die geluid van woorde waarby die hoorders gesmeek het dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie - want hulle kon die gebod nie verdra nie: selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word. En Moses, so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder” (Heb. 12:18-21).

Is dit waarna u verlang?

Die Berg Sinai (2)🔗

Hebreërs 12:18-21 is ʼn waarskuwing teen afvalligheid, veral teen afwyking van die evangelie van Jesus Christus na Joodse wettisisme. Die eerste van sewe dinge wat in Hebreërs 12:18-21 oor Sinai (wat hier die Ou Testamentiese wet en diens, sonder Christus se kruis en middelaarskap voorstel) genoem word, is dat dit fisies tasbaar en stoflik is: “ ʼn tasbare berg” (18). In teenstelling is die ander berg, Sion, nie fisies tasbaar of stoflik nie (22). Passend by die fisies tasbare en stoflike aard van die berg Sinai, het die erediens wat by Sinai verorden is, bestaan uit ʼn “aardse heiligdom,” die tabernakel (9:1); “vleeslike verordeninge” (10); ʼn fisiese altaar; diere-offers; priesterlike kleding van linne; ens.

Die tweede van die sewe punte wat oor Sinai gemaak word, is die berg as “brandende vuur” (12:18). Vuur simboliseer die teenwoordigheid van God, want “ ... onse God is ʼn verterende vuur” (29). In besonder verteenwoordig die vuur God se jaloesie en sy brandende onverdraagsaamheid teenoor sonde en sondaars. “Want die HERE jou God is ‘n verterende vuur, ‘n jaloerse God” (Deut. 4:24). God se vurige oordeel val op Judaïsme sonder Christus, Jode wat van die Christendom afvallig word, almal wat van die evangelie afwyk en almal wat die Here Jesus nie ken nie.

Die derde en vierde verskynsels by Sinai is soortgelyk: “donker en duisternis” (Heb. 12:18). Beide “donker en duisternis” en ook “vuur” word in Eksodus 19 en Deuteronomium 4-5 genoem. Ons sou kon sê dat donker die kleur van ’n voorwerp is en duisternis die uitwerking daarvan, sodat die allesinsluitende donkerheid duisternis veroorsaak. Hierin lê twee idees opgesluit: donker en duisternis wat skrik aanja (vrees vir die donker!) en wat ons verhinder om die heerlikheid van God te aanskou. Maar hoe kan daar dan sowel vuur as donker/duisternis wees? Sou die vuur dan nie die duisternis tot ’n mate verdryf nie? Dit is net so in die hel wat die Skrif beskryf as ’n plek van beide duisternis en vuur. Vuur en duisternis is beide vreesaanjaend.

Die vyfde verskynsel by Sinai is die “storm” (Heb. 12:18), ’n storm met donder en weerligte in die lug. Dit verhoog nogeens die verskrikkende werking van God se openbaring by die berg Sinai toe Hy die wet gegee het. Wil u werklik die evangeliekerk van Jesus Christus verlaat? Teruggaan na die Ou Testamentiese wet en erediens? Hierna? Na Sinai?

Die sesde aspek van God se openbaring by Sinai is die geluid van ’n basuin, ‘n “baie sterk basuin” (Eks. 19:16), wat “sterker en sterker” geword het (19) toe die Here die berg nader. Die verskriklike geluid van die basuin kondig die koms van die Almagtige God aan en daag die volk voor Jehovah, die regter. Dit versinnebeeld die verskrikking van die wet wat ons veroordeel weens ons menigvuldige sondes en sondeskuld.

“Die geluid van woorde” is die sewende en laaste verskynsel by die berg Sinai (Heb. 12:19). Met oorverdowende geluid, wat angs bring in die harte van die versamelde volk, kondig God die tien gebooie aan. Wat ’n ontsettende gebeurtenis was die gee van die wet! Dink aan wat Israel gesien het: ’n berg wat brand met vuur tot in die lug, omhul met donker en duisternis, met weerligte wat deur die hemel klief. En wat het hulle gehoor? Donder, ’n basuin en, die stem van God!

Let op die vreesbevange reaksie van die volk by Sinai.  Die Israelse hoorders “... smeek ... dat hulle geen woord meer sou toegevoeg word nie”(19). Hoekom?  Want “hulle kon die gebod nie verdra nie”(20). Dit sê nie dat die volk verkeerd was om God te smeek om nie aan te hou om só met hulle te praat nie. Hulle was reg, en God gee hulle gelyk; van nou af aan sal Hy tot hulle spreek deur ’n middelaar, Moses, (Deut. 5:23-31). Maar Hebreërs 12 sê dat én God se stem én wat Hy sê, verskriklik was in sy oordeel “want hulle kon die gebod nie verdra nie”(20). Toe God die die wet van omhoog gedonder het, het almal hulleself herken as skuldige en veroordeelde sondaars wat ewige verdoemenis verdien. Ons word herinner aan Galasiërs 4:21: “Julle wat onder die wet wil wees, sê vir my, luister julle nie na die wet nie?” Gedonder, basuin, God se verskrikkende stem – dit is wat jy kry as jy na die Ou Testamentiese wet en erediens teruggaan en Jesus Christus en sy Nuwe Testamentiese kerk versaak!

Sinai het selfs vir die diere vernietiging ingehou: “selfs as ‘n dier die berg aanraak, moet dit gestenig word of met ‘n pyl neergeskiet word” (Heb. 12:20). Hoor u wat God sê? Staan terug! Jy het nie toegang tot die berg nie! Bly uit! Nie eers diere mag naby kom nie, laat staan nog mense. Dit is die Ou Testamentiese boodskap van die erediens. Die allerheiligste is verbode grond vir 99.999% van die volk. Net die hoë priester het toegang – een maal per jaar, vir ’n kort tydjie, en hy moet bloed bring. Hetsy by Sinai of die allerheiligste – God is vir die volk ontoegangklik. Geen toegang! Bly op ’n afstand! Verstaan u? Jehovah is nie toegangklik deur die Ou Testamentiese wet en diens nie. Net maar deur die bloed van Jesus Christus kan ons tot God nader.  Moet dan nou nie teruggaan na die armsalige bepalings van die wet nie! En wat het met ’n dier gebeur, ’n skaap, of ’n beeskalf, wat teen die berg op gedwaal het? Die volk moes dit doodmaak deur steniging of ’n pyl. Hoekom nie met ’n mes nie? Die Israeliete mog nie naby kom nie; hulle moes afstand hou, selfs van die dier wat die berg Sinai aangeraak het. As die Israeliete afstand moes hou selfs van ’n dier wat die berg op gedwaal het, moes hulle sekerlik hulle afstand hou van die verskriklike God wat by Sinai geopenbaar is!

Sinai was nie net vir die diere en die volk verskriklik nie, maar selfs ook  Moses, “ ...  so vreeslik was die gesig, het gesê: Ek is verskrik en ek sidder” (21). Dit was dieselfde Moses wat God by die brandende braambos teëgekom het. Hy wat voor die magtige Farao gestaan het om keer op keer Jehovah se boodskap van oordeel oor hom en sy volk te bring. Dié Moses wat wat Israel se rebellies en murmererings getrotseer het. Hy, die middelaar! Selfs Moses was verskrik en het gesidder. Hoeveel erger die verskrikking vir hulle wat van die Here Jesus wegdraai om terug te gaan na die wêreld, of na saligheid deur die wet en eie werke!

Sionsberg (1)🔗

Die eerste-eeuse Jode, aan wie die geïnspireerde Hebreërbrief van die Nuwe Testament in die eerste plek geskryf is, het voor 'n keuse gestaan. Hulle kon vashou aan Jesus Christus, ter wille van Hom ly en met heerlikheid gekroon word; óf hulle kon hulle weer voeg by die meerderheid van hulle volksgenote deur na Ou Testamentiese wet en diens terug te keer en vir ewig verlore gaan!

In Hebreërs 12 word, deur gebruik te maak van twee berge, Sinai (18-21) en Sion (22-24), die twee opsies skerp afgeteken. Aan die een kant, soos ons hierbo gesien het, is daar die berg Sinai met al sy verskrikkende verskynsels. Sien u hoe dit brand? Dit is daar, omhul in donkerheid en duisternis, verlig deur flikkerende weerligstrale! Hoor u die oorverdowende geluid van donder, basuin en - die stem van God? Die arme volk het gepleit om nie verder die stem te hoor nie; die arme diere is gedood as hulle maar net aan die berg raak; die arme Moses was verskrik en het gesidder (19-20). Aan die ander kant is daar die berg Sion. Dit is 'n plek van vrede, veiligheid en seën (22-24).

Jy wil nie terugdraai van die Woord en die evangelie van Jesus Chistus nie, wil jy? Hetsy na Joodse wettisisme (dit was die versoeking vir die eerste-eeuse Joodse bekeerlinge) of na 'n valse kerk of 'n heidense godsdiens of na die wêreld? Want sodra jy die Here Jesus verlaat, is die donder en weerlig, die donkerheid en die vuur van die berg Sinai al wat jy het! Die vloek en oordele van die wet! Die siel wat sondig, dié moet sterwe (Eseg. 18:4)! Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (Gal. 3:10)!

Hou dan vas aan die berg Sion, die ware kerk en koninkryk van Christus! Ter wille van jou én jou kinders, en jou lewe! Jy is 'n burger van die hemelse Jerusalem; jy is in geselskap van tien duisende engele en in  gemeenskap met Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond (Heb. 12:22-24). Wat meer kan jy vra?

Ons besin oor wanneer ons by Sion kom. Hebreërs 12:22-24 verwys nie na die toekoms nie. Die teks praat nie van na Sion kom wanneer ons sterf, met ons siele nie. Dit verwys nie na kom by Sion in die ewige staat van heerlikheid in ons opgestane liggame nie. Dit sal gebeur ja, maar dit is nie wat hier in die oog is nie, want die teks sê nie, "Maar julle sal by die berg Sion kom" nie.

Ons kom na Sion in die hede. "Maar julle het gekom by die berg Sion" (22). Die voltooide verlede tyd word gebruik. Julle het in die verlede by Sion gekom, toe julle weergebore is en so in Jesus Christus geglo het, en julle is steeds daar, by Sion, in geloof. Dit is waar van elke Nuwe Testamentiese gelowige, ook van jou, kind van God. Toe jy, deur God se genade, na Christus gekom het, het jy ook by die berg Sion (Christus se kerk en koninkryk) gekom. Jy het in die verlede gekom en jy is steeds daar - by Christus en sy kerk.

Dit sluit Joodse Nuwe Testamentiese gelowiges in. "Maar julle (eerste-eeuse Joodse bekeerlinge tot Christus) het gekom by die berg Sion" (22). Joodse bekeerlinge kom nie na die berg Sion deur na Palestina in die Midde-Ooste te migreer, of deur as 'n godsdienstige toeris na Jerusalem koers te kies, of in 'n toekomstige Joodse millenium nie. Joodse gelowiges kom na Sionsberg net soos al die heiliges: deur geloof alleen in die Here Jesus, die enigste Verlosser. "Maar julle [gelowige Jode en heidene] het gekom [in die verlede en is nou in die hede] by die berg Sion" (22).

Dit is nie die enigste geseënde werklikheid waartoe ons gekom het nie. Die evangelie-voorregte in Hebreërs 12:22-24 kan onder ses hoofde gerangskik word: Sion en Jerusalem, engele, die kerk, God, die heiliges in die hemel en, die klimaks, Jesus self. "Maar julle het gekom [1] by die berg Sion,  en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en [2] tien duisende engele, by [3] die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en [4] by God, die Regter van almal, en [5] by die geeste van die volmaakte regverdiges,  en [6] by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel" (22-24).

Noudat ons besin het oor die tyd van ons koms by Sion, oorweeg ons die aard daarvan. Wat beteken dit om by Sion te kom. Soos ons gesien het, is dit nie 'n fisieke koms nie. Dit is nie immigrasie na die land Kanaän, soos 'n klompie Jode, veral in die laaste eeu, gedoen het nie. Dit is nie om Tel Aviv toe te vlieg en na die aardse stad Jerusalem toe te ry nie.

Dit is om te kom in die geloof. Onthou die definisie van geloof in Hebreërs 11:1: "Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie". Deur geloof word Bybelse waarhede aangegryp en vasgehou sodat ons die wese of verwerkliking en die getuienis of oortuiging daarvan in ons harte het. Die werklikheid van die evangelie word deur die geloof naby gebring en gesmaak. Gryp die waarheid wat in Jesus is, vas; moenie wegdraai nie! Om tot God te kom is, in die Hebreėrbrief veral, om as aanbidder tot Hom te nader met gebed en lof. Die gelowige nader God met geloof, hoop en liefde. Hy kom in sy voorhowe en nader sy troon met verheerliking en danksegging. Om deur die geloof in aanbidding tot die Drie-enige God te kom, is om te kom deur Jesus Christus, die enigste Middelaar, en deur die krag van die Heilige Gees.

Omdat God se troon in die hemelse Jerusalem is en Christus van sy kerk onlosmaaklik is, beteken om as aanbidder deur Christus tot God te kom noodwendig om te kom by Sion, die stad en koninkryk van die Drie-enige God. Sionsberg is 'n werklikheid van die evangelie. Daarom is om na Sion te kom 'n geestelike aktiwiteit van alle gelowiges wat lede is van die strydende kerk op aarde. Moet nie tou opgooi nie! Hou vol, geliefdes!

Sionsberg (2)🔗

Die heerlikheid en voorreg van die Nuwe Testamentiese bedeling en kerk sluit ons teenwoordigheid by die berg Sion en Jerusalem in: "Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem ..." (Heb. 12:22). Die berg Sion staan hier teenoor die berg Sinai (18). Sinai is 'n tasbare, fisiese en stoflike berg, terwyl Sion nie-fisiek, nie-stoflik is. Dit is 'n geestelike werklikheid. Die strydende kerk - ons in hierdie wêreld - nader en bestyg Sionsberg alleen deur die geloof.

Die berg Sion (waarop die koninklike paleis gestaan het) sluit hier ook die berg Moria, die tempelberg, in, soos algemeen in die Bybel die gebruik is. Die berg Sion met die paleis verteenwoordig Christus, die groot Dawidiese koning en sy beloofde regering oor die volk van God. Hy lei die koninkryk van God in, die die heerskappy van die Drie-enige God wat, deur die Heilige Gees, geregtigheid, vrede en blydskap bring (Rom. 14:17). Die tempel op die Sionsberg is God se woonplek en getuig van ons verbondsgemeenskap met Hom in Christus. Die Here Jesus is ons priester, offer en altaar wat vir ons verlossing en die vergiffenis van sonde bring. Dit is hoekom in die Psalms en die profete Sion die plek is van liefde, genade en blydskap, die plek van heil en alle geluksaligheid.

So is al die heerlike beloftes en profesieë aangaande Sionsberg in die Skrif. Dink aan Psalm 2. Ten spyte van die helse aanslae van Herodus, Pontius Pilatus en die ongelowige Jode en heidene (1-3; Hand. 4:25-28), salf God sy Seun as "Koning ... oor Sion, my heilige berg" (Ps. 2:6). Die gelowige heidene word ingesluit in sy "erfdeel" en "besitting"(8), maar Hy verpletter die goddelose met sy "ysterstaf" (9). Sion is die plek waar ons weer gebore word (87:4-6) en die Sionsberg is onoorwinlik (46; 48; 125).

Dit is waarby jy, kind van God, gekom het: die heerlike werklikheid van wat deur die Sionsberg in die Ou Testament aangekondig en geteken is. Die profesieë oor die Sionsberg voorspel die een, heilige, algemene en apostoliese kerk van Christus. Al die beloftes oor Sionsberg - sy skoonheid, blydskap en vastigheid - is joune, gelowige! Moenie dat iemand dit van jou wegneem deur dit op die Jode in een of ander toekomstige, aardse duisendjarige ryk toe te pas nie.

Ons vind hier twee sleutelbeginsels van die hermeneutiek, twee belangrike reëls van Bybeluitleg. Eerstens, Skrif moet Skrif uitlê. Tweedens, die Nuwe Testament moet die Ou Testament interpreteer. Sommige mense noem dit "vergeesteliking", keur dit af en wil niks daarvan weet nie. Maar laat ek ek u daaraan herinner dat volgens Hebreërs 12: 18-22 die berg Sion nie, soos die berg Sinai, 'n tasbare berg is nie. Die berg Sion word net in die geloof genader; dit is die betekenis van "het gekom" in vers 22 (vgl. o.a. Mat. 11:28; Joh. 6:35; 14:6).

Gaan nou na Jesaja 2:1-4. Vers 2 voorspel dat die berg Sion die hoogste berg in die wêreld sal word. Sommiges reken dat hier van bergvorming sprake is in 'n letterlike Joodse millenium en dat Sion hoër sal wees as Everest. Maar Hebreers 12 leer ons dat die berg Sion nie 'n tasbare berg is nie (18,22). Meer nog, dié begrip van die berg Sion mik te laag, want Hebreërs 12:22 praat van "die hemelse Jerusalem", dus van 'n hemelse Sion in Jerusalem. Galasiërs 4:26 verwys na "die Jerusalem daarbo" wat "vry" is en "die moeder van ons almal". Om op te trek na die berg Sion in Jerusalem (Jes. 2:3) verwys nie na 'n trek na die Midde-Ooste in 'n Joodse millenium nie; dit is 'n nadering tot die God en Vader van die kerk van Christus, want deur geloof het ons "gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem" (Heb. 12:22).

Jesaja 4:5 voorspel nie letterlike kolomme van vuur en rook bokant elke huis in 'n Joodse koninkryk nie. Dit profeteer God se genadige verbondsteenwoordigheid in die huise en eredienste van sy Nuwe Testamentiese volk, om ons te beskerm en te bewaar. "Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (Christus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons" (2 Kor. 1:20).

In Hebreërs 12:22 staan dat ons gekom het by "die stad van die lewende God". Anders as Sinai, 'n berg in die woestyn, is 'n stad met wonings, strate en mure 'n plek van orde, skoonheid en veiligheid. Jehovah, die lewende God, bly permanent by sy volk in sy stad; hierdie is nie net 'n kort, skrikwekkende verskyning soos op Sinai nie. Die strome van die Heilige Gees maak die stad van die lewende God bly (Ps. 46:4; Hand. 2) - die kerk van die evangelie en haar geestelike diens in die bedeling van die Nuwe Testament.

Hebreërs 12:22 verwys vervolgens na "die hemelse Jerusalem". "Sion", "stad" en "Jerusalem" is een en dieselfde. Jerusalem is die stad van die lewende God, en Sion is die plek van die tempel en die paleis in die stad Jerusalem. Daarom beteken 'n "hemelse Jerusalem", 'n hemelse stad en 'n hemelse Sion. In die laaste drie hoofstukke van Hebreërs word hierdie punt herhaaldelik gemaak ter wille van Joodse Christene wat gevaar loop om te judaïseer deur letterlike, fisieke, Ou Testamentiese skadus op te soek, in stede van hulle werklikheid in Christus. Vader Abraham het nie 'n letterlike fisieke stad verwag nie, "want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is" (11:10). Die aartsvaders, Abraham, Isak en Jacob en ook Sara se hoop was nie op 'n letterlike aardse Kanaän nie, "hulle (verlang) na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei" (16). Maar God skaam hom wel vir hulle wat na 'n aardse stad verlang. Daarom bely die Christelike kerk: "Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige" (13:14). Ons het, in die woorde van ons teks "gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem" (12:22). Dit is soveel beter!

Sionsberg (3)🔗

Die eerste heerlike voorreg van die Nuwe Testamentiese Kerk is  volgens Hebreërs 12:22-24, ons koms by die (geestelike) berg Sion en Jerusalem. Die tweede seëning van die Nuwe Testamentiese kerk en bedeling is die engeleskaar: “Maar julle het gekom ... by tien duisende engele” (22). Hier word gepraat van uitverkore godsalige engele, nie van Satan en sy demone nie. Hierdie ontelbare skare van engele is baie meer as dié wat by die berg Sinai was. Ons kom na hulle, ons is nie soos die Ou Testamentiese kerk wat aan die voet van Horeb in ons sandale staan en bewe nie! Om na die engele toe te kom is nie aanbidding tot of deur hulle nie, dit is afgodery. Ons én die engele saam aanbid die Almagtige God as sy skepsele en dienaars.

Vroom gelowiges en engele in die hemel en op die aarde dien, soos Paulus ons in Efesiërs 1 en Kolossense 1 leer, saam dieselfde Heer, naamlik Jesus Christus. Die heiliges en die engele tesame word aangevuur deur dieselfde heilige ywer; húlle in die hemel, sondeloos en volmaak, ons op aarde, in swakheid en onvolmaaktheid (maar opreg). Beide die verlostes en die engele betrag die geheimenisse van die evangelie. Ja, selfs die engele is daarmee besig (1 Pet. 1:12). Hebreërs 1:14 leer dat dat die heilige engele geeste is vir bediening ter wille van ons saligheid.

Ons derde heerlike voorreg in die Nuwe Testamentiese bedeling is dat ons lede is wat hoort by die een ware kerk van uitverkorenes van alle eeue: “...by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (12:23). Die “feestelike vergadering” dra die gedagte van pelgrimsfeeste. Nuwe Testamentiese gelowiges vier nie letterlik die feeste van die Pasga (en ongesuurde brode), Pinkster en die Loofhuttefees in die aardse Jerusalem nie. Ons sal dit ook nie doen nie. Wanner ons bid, gemeenskap onder mekaar het, en in geloof in erediens saam vergader deur Christus, ons Middelaar, is ons op ons pelgrimsreis om voor God te vergader. Sagaria 14: 16-21 leer dus nie dat in dae wat kom alle gelowiges jaarliks na Jerusalem sal optrek en in hutte woon en luister na die klokkies van die perde nie. Christus in sy bedeling van die Nuwe Testament is die vervulling van die heenwysings en voorafskaduwings in die Ou Testament.1  Ons word genoem “die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is” (Heb. 12: 23), vanweë voorrang wat ons het omdat ons deur genade alleen verenig is met Christus, die eersgeborene, wat in alles eerste is (Kol. 1:18), volgens die raad en voorbeskikking van God.

Die vierde heerlike vooreg wat vir ons opgeteken is in Hebreërs 12, is dat ons mag kom tot die enige, ware en lewende God, “... by God, die Regter van almal” (23). Wat 'n voorreg om te mag kom tot die Drie-enige en glorieryke Jehovah, ons enigste Skepper, Here en Verlosser! Waarom word Hy hier “die Regter van almal” genoem? By Sinai het God, deur sy heilige wet, Israel (en die hele wêreld) tot skuld veroordeel. By Sion is God ons Regter wat ons vryspreek en ons, deur die geloof alleen, volmaak regverdig verklaar in Jesus Christus. Laat ons Hom dan nader met danksegging en alle lofspraak, met ontsag en met eerbiedige vrymoedigheid!

In die vyfde plek het ons gemeeskap met die heiliges in die staat na hulle sterwe na die liggaam; gelowiges, gestorwe na die liggaam wat tans saam met Christus in die hemel leef en regeer: “... die geeste van die volmaakte regverdiges” (23). Hierdie gemeenskap met die verheerlikte heiliges is nie, soos die Oosters Ortodokse dit wil hê, deur middel van ikone van die vaders nie. In teenstelling met Rome, het ons ook nie gemeenskap met afgestorwe heiliges in die vagevuur (daar is nie so'n plek nie) of met afgestorwe heiliges as tussengangers (hulle het geen so'n funksie) nie. Ons het gemeenskap met verheerlikte heiliges omdat ons, soos hulle, as lede verenig is met Jesus Christus ons Hoof en deur Hom die Heilige Gees ontvang. Tesame aanbid en dien ons die Drie-enige God in een groot koor en orkes van gewillige dienaars. Dit weerspreek ook die kettery van  'n sieleslaap tussen sterwe en die opstandingsdag, wat deur sommige Anabaptiste geglo word.

Die sesde en hoogste voorreg van die Nuwe Testamenties kerk, is dat ons kom by Christus (en nie net by Moses nie): “... by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel” (24).  Op sigself genome kon die Ou Testamentiese offers nie 'n enkele sonde vergewe nie (10:1-4). Maar die kruis van Christus het vryspraak gebring vir die uitverkorenes van God in die Ou én die Nuwe Testament (9:14-15). So het Hy het geword “ Middelaar van 'n nuwe [en beter] verbond”.

Die “bloed van die besprenkeling” beteken nie dat al die bloed van Christus se liggaam tydens sy 33 jaar op aarde nou in sy liggaam in die hemel is nie. Ook nie dat dit in 'n vat van een of ander aard daar gehou word, soos sommige fundamentaliste beweer, nie. Die “bloed van die besprenkeling” beteken uitwerkinge van die verlossingswerk van ons Saligmaker aan die kruis: ons regverdigmaking, heiligmaking, reiniging en vernuwing deur sy Heilige Gees.

Abel se bloed, in boosheid deur Kain vergiet, het tot God geroep om straf (Gen. 4:10). Christus se bloed spreek van die beter dinge van die nuwe verbond: ons losprys en versoening, ons aanneming en aanvaarding deur God, en ons verbondsgemeenskap en hemelse erfenis.

Gelowige, sien u dat die heerlikheid u s'n is? Deur 'n lewende geloof het u gekom by die ewige kerk en stad van God, by die engele en die heiliges wat in die hemel is, by Jehovah wat u regverdig maak en by die Here Jesus Christus self! Teruggaan? Terug na 'n Christuslose Judaïsme, of die godlose wêreld, of die doelloosheid van evolusionisme, of een of ander heidense godsdiens, of na 'n ou lewe in sonde? Nee! Volhard in heiligmaking, gaan voort met Jesus Christus in sy geestelike koninkryk! Moenie net aan 'n draadjie aan die geloof hang nie! Gaan blymoedig en entoesiasties voort, dankbaar vir die ryke saligheid in Christus! Dien die Here Jesus en sy kerk met jou hele hart, saam met jou familie. Moenie teruggaan nie, gaan vorentoe, na die Sionsberg en die hemelse Jerusalem!

(Vertaal deur Nic Grobler nicg@absamail.co.za . Die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933/1953 is gebruik.)

*Ds. Angus Stewart is die predikant van die Covenant Protestant Reformed Church in Ballymena, Noord Ierland. Hierdie is 'n vertaling van 'n kort reeks artikels wat uit sy pen verskyn het in die maandblad van die gemeente, die CR News.

Endnotes🔗

  1. ^ Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 25.