Bron: Nader Bekeken. 3 bladsye.

Heilige Opregtheid

man met vergrootglas

“Hoekom bid jy nie saam nie?” het ek op ʼn keer vir ʼn katkisant gevra.“Ek het net nie ʼn behoefte daaraan nie,” was die antwoord.“Maar jy kan ten minste darem jou oë toemaak,” sê ek.

Toe tree iemand anders ook tot die gesprek toe:“Dit is mos baie eerliker om nie te maak asof jy bid nie. Sy is ten minste eerlik. Daar is so baie ander mense wat skynheilig is.”

Maak Asof🔗

Bogenoemde voorbeeld gee ʼn aanduiding van die waardering wat daar bestaan vir sogenaamde ‘opregtheid’ (outentisiteit). Hierdie ‘opregtheid’ kan omskryf word as ʼn houding waaruit dit duidelik word dat daar ooreenstemming (harmonie) is tussen jou innerlike en uiterlike. Wat na buite sigbaar is, kom ooreen met hoe dit binne is. Jy speel nie toneel nie, maar jy is en doen soos jy voel.

Soms hoor jy dat ʼn predikant beoordeel en getakseer word op grond van hierdie beginsel. ‘By hierdie dominee kan jy agterkom dat hy staan by die boodskap wat hy bring. Hy bedoel opreg wat hy sê.’ So word daar ook soms die goedbedoelde advies gegee dat ʼn predikant daaraan moet werk om tydens katkisasie opreg te klink. As hy dit nie doen nie, sal daar weinig vrug op sy arbeid wees.

Ek het gepraat van ‘hierdie beginsel’: om ʼn persoon (of dit wat hy sê) te beoordeel op grond van die mate van opregtheid wat hy vertoon, maar as ek dit anders sou formuleer, sal jy dadelik sien dat dit hier gaan oor ʼn onvanpaste subjektiewe beoordeling. Dit gaan dan immers oor watter indruk iemand op my maak — hoe hy oorkom. As ek ooreenstemming vind tussen die binne- en buitekant van my gespreksgenoot, dan is hy vir my outentiek. Maar … kan ek, soos ek is, seker wees van die juistheid van my beoordeling?

Vuurtoring🔗

As jy op ʼn vuurtoring staan, kan jy baie ver sien, maar dit sou oordrewe wees om te sê dat jy die hele wêreld kan sien. As jy net na die see kyk kan jy trouens nie land agter jou sien nie. As mense het ons maar ʼn beperkte gesigsveld. As jy slegs sou oordeel op grond van wat jy in een oomblik waarneem, dan sou jy tot die slotsom kon kom dat die aarde net uit water bestaan; of net uit land. Vanuit die hoë vuurtoring kan ek wel sien dat die horison ʼn bietjie rond is, maar by die huis lyk my straat of die aarde tog maar taamlik plat.

Hoe kan ek, as klein mensie, enigiets wat ek ervaar korrek en volledig beoordeel? Veral wanneer ons te doen het met iemand en nie met ‘iets’ nie? Ken ons al die motiewe wat iemand beïnvloed? Weet ons wat iemand besiel? Lê die norm van ons oordeel in onsself, of in wat die ander doen?

Die Betroubare Woord🔗

Ons moet nie dink dat ons self in ons eie wysheid sal soek en ʼn objektiewe norm sal vind, nie. ’n Norm buite onsself; iets waaraan ons ‘opregtheid’ kan meet, sodat ons van ‘heilige opregtheid’ kan praat. Nee, so slim is ons doodeenvoudig nie.

Dit is nou presies wat die Bybel ons leer: Adam wou nie net ʼn skepsel bly nie. Dit was vir hom veels te beperk. Hy wou soos God wees. Self besluit wat reg of verkeerd, eg of vals is. Dit was die begin van alle ellende. Die Here vertel nie vir ons hierdie verhaal omdat ons Hom daarvoor gevra het nie, maar omdat Hy dit vir ons wil vertel. “Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê…” (Johannes 6:40).

Die Here vertel vir ons hierdie dinge, omdat Hy wil hê dat ons lewe. Oor wat eg en outentiek is in ʼn mens se lewe. Dit is dom as jy nie daarna luister nie!

vuurtoring

Ons Hart🔗

Ons innerlike, oftewel ons hart, is geskape om ʼn oop verhouding met God te hê. Geskape om na God te luister en met Hom te praat. Op dieselfde frekwensie. Dit is egte lewe!

Toe het die sonde gekom en ons hart was nie meer geskik om ʼn oop verhouding met die Here te hê nie. Dit is nou op ʼn ander frekwensie. Geen verrassing nie: dit is die frekwensie van die satan. En hy praat nou ons slegte hartetaal. Ook dit vertel die Here ons in sy Woord, omdat Hy wil hê dat ons moet lewe.

Kind van Adam🔗

Wanneer so ʼn sondige kind van Adam outentiek (opreg) is, is dit nie so ʼn goeie ding nie. Ja, ongetwyfeld sal sy uiterlike dan in harmonie met sy innerlike wees. Sy hart word as’t ware sigbaar na buite. Hy gee nie voor nie, maar is opreg. Maar dit is dan presies wat ons bely in Sondag 2, antwoord 5 van die Heidelbergse Kategismus: van nature is ek geneig om God en my naaste te haat. Dit bely ons. En dit beteken: dit is hoe ek werklik is, vanuit myself, as kind van Adam.

Saad van Eva🔗

Daar was eens op ʼn tyd ʼn Mens. ʼn Mens met ’n hoofletter geskryf. En hierdie Mens was soos wat Hy was. (Is dit toevallig dat Hy Homself in die Ou Testament geopenbaar het as Jahweh — Ek is wat Ek is?). Jesus Christus, Seun van God. As jy wil weet wat ‘eg’ is, moet jy na Hom kyk.

Hy het gespreek en sy woorde was soos genesende salf op skrynende wonde. Hy het gespreek en sy woorde was soos ʼn tweesnydende skerp swaard (Openbaring 1:16). Hy het kwaad geword en sy woorde was soos ʼn gesel. Partykeer was Hy hartseer en het Hy gehuil. Hy het genees, vermaan en vertroos. En by al hierdie woorde, emosies en handelinge was die uiting daarvan in volle ooreenstemming met wat daar in sy binneste was. Alles wat tot uiting gekom het, het regstreeks uit sy hart gekom. Hy het nooit toneelgespeel nie. Hy, ons Heiland, was suiwer outentiek. Heilige opregtheid.

Ja, want sy hart was nie soos die hart wat in antwoord 5 van die Kategismus beskryf word nie. Hy het ʼn hart gehad, ʼn innerlike, wat Hy self beskryf het met die woorde: ‘My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te voltooi’ (Johannes 4:34). En as ons nou nog ʼn bietjie verder soek na wat die wil van die Vader is, dan kom ons by hierdie woorde uit:

Dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.Johannes 6:39

Hy soek die lewe! Vir ander. Dit sluit naatloos aan by hoe die Here Jesus self die wet (wil) van sy Vader saamvat en vervul: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, hele siel en met jou hele verstand … en jou naaste soos jouself’ (Matteus 22:37).

Opnuut Gebore🔗

Dieselfde Jesus het op ʼn nag teenoor Nikodemus, die man wat die Bybel baie goed geken het, gesê dat iemand net die ewige lewe kan verkry as hy opnuut gebore word (Johannes 3). Mense se harte, hulle innerlike, moet dus nie maar net ʼn bietjie reggemaak word nie, in die sin dat ons moet leer om ander mense in ag te neem (sodat ons byvoorbeeld tog maar ons oë toe te maak terwyl daar gebid word om nie iemand anders aanstoot te gee nie). Nee, ons harte moet opnuut gebore word! Herskep deur die Gees van Christus. Eers dan kan ons soos Christus wees, ʼn gesindheid ontvang net soos syne (Filippense 2:5). Kyk wat sê Jesus van Homself:

Die werke wat die Vader My gegee het om te volbring, die werke self wat Ek doen, getuig van My dat die Vader My gestuur het.Johannes 5:36

Klaarblyklik verwys die Here Jesus na sy Vader met alles wat Hy doen en sê. Waarom? Omdat sy hart, sy innerlike so volmaak in verbinding met sy Vader is. Hy kon slegs lewe deur sy Vader se wil te doen. Dit was sy lewe!

hart

Tot so ʼn lewe wil die Heilige Gees ons ook vernuwe, sodat ons hart weer ten volle gerig is op ons Skepper. Dan sal ons ook dit doen waartoe ons geskape is: om van die Skepper te getuig. Nie in die sin dat ons net moet evangeliseer nie, maar dat ons op so ʼn manier moet lewe, werk, plesier hê en ontspan dat ons die Heilige God en ons naaste daarin soek. Anders gestel: ons gaan met ʼn hart wat deur die Gees vernuwe is só lewe dat ons weer beelddraers van ons Skepper word. Jy sal God al hoe meer kan sien in ons doen en late. En dit is wat ons ‘heilige opregtheid’ noem. Jy wys wie jy is. Nie wie jy vanuit jouself is nie, maar hoe die Here jou gemaak het.

Eerlikheid🔗

In hierdie lewe bereik ons nog nie die einddoel dat ons heeltemal vernuwe word, sodat ons God se wil erken en doen nie (Romeine 12:2). Dit beteken dat daar altyd nog vrae in ons hart kan wees. Dalk ook twyfel. Dit is nie nodig om hier doekies om te draai nie. Ons mag dit gerus erken. Dit is eerlik. Maar dit mag nooit ons einddoel wees nie, want ‘eerlikheid’ is nog nie dieselfde as ‘heilige opregtheid’ nie. Eerlikheid maak my gevoelens nog nie goeie gevoelens nie. Hierdie eerlikheid sal uiteindelik ook moet voldoen aan die eise van die enige, betroubare Woord van die Here. Want slegs dan kan hierdie eerlikheid ʼn tree wees in die regte rigting, na waar die Woord van die Here sodanig besit neem van my hart dat die vernieude hart sal sigbaar word. Dan sal almal sien watter groot werk die Here aan my gedoen het!

Heilige Opregtheid🔗

Hierdie volgende woorde sê die Here Jesus van Homself, maar wanneer sy Gees ons vernuwe, mag dit ook vir ons geld:

Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer; maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het, is waaragtig en daar is geen ongeregtigheid in Hom nie. Johannes 7:18

Heilige opregtheid beteken: jy is eg. Nie meer ek nie, maar Hy in my en ek in Hom.