Bron: Kompas. 4 bladsye.

Heilshistoriese verstaan van die Bybel

Die Bybel bevat baie verhale. Verhale oor mense uit 'n ver verlede. Watter waarde het die verhale vandag vir ons? Is dit nog relevant? Wat maak ons daarmee in ons huidige situasie? Hoe kan ons reg doen aan wat geskrywe is en tegelykertyd die hoorder van vandag aanspreek?

Eksemplarisme en moralisme🔗

In hul begeerte om die Bybelse verhale vir ons vandag relevant te maak, gebruik baie mense die Skrif op 'n eksemplaristiese manier. Die Bybel sou ons 'n voorraad van “eksempels” of voorbeelde bied, wat ons sê wat ons moet doen en wat ons nie mag doen nie. Die Skrif word gesien as 'n versameling van verhale wat morele lesse bevat. Dit geld veral vir die sogenaamde historiese gedeeltes van die Skrif. Die ervarings van Bybelse persone word behandel as modelle vir ons lewe, wat selfs die norme vir ons aandra. Beskrywende gedeeltes van die Bybel word gebiedend vir ons gemaak. So word byvoorbeeld die geskiedenis van Ester gebruik om mense op te roep om bereid te wees om hul lewe vir hul volksgenote op te offer. Hierdie benadering word dikwels gekoppel aan 'n sisteem van beloning. Die gebeurtenisse wat in die Skrif beskryf word, word ge­bruik om te wys dat goeie gedrag beloon sal word, terwyl slegte gedrag gestraf sal word.

Die boeke van 'n populêre ‘evangeliese' skrywer Max Lucado, vertoon hierdie eksemplaristiese en moralistiese gebruik van die Skrif. In die verlede het mense dikwels die verhaal van Jesus se besoek aan die bruilof te Kana (ook op 'n eksemplaristiese manier) as 'n trouteks gebruik om ons te leer dat ons Christus ook vir ons bruilof moet nooi. Max Lucado hanteer laasgenoemde geskiedenis as 'n voorbeeld vir ons om as Christene te ontspan en te geniet van die lewe. Waarom het Jesus na die bruilof gegaan? Max vertel ons dat die enigste rede waarom Jesus gegaan het was dat Hy van mense hou, lief is vir lekker kos en miskien selfs met die bruid wou dans. Hy het basies gegaan om pret te hê. En waarom het Jesus water in wyn verander? Max suggereer dat Jesus dit gedoen het omdat Hy bekommerd was oor die verleentheid van sy vriend vanweë die tekort aan wyn. Die moraal van die verhaal is dan volgens Max dat alles wat vir jou belangrik is, ook vir Jesus belangrik is en dat Hy ons daarin sal help.

God se selfopenbaring🔗

Wat is verkeerd met die eksem­plaristiese, moralistiese gebruik van die Skrif? Die belangrikste beswaar is dat die mens met sy dade en gevoelens sentraal gestel word en nie God nie. In die Bybel gaan dit nie soseer oor Abraham, Dawid of watter gelowige of ongelowige ook al nie. Dit gaan nie in die eerste plek oor mense as voorbeelde van goeie of slegte gedrag nie, maar oor God. Ook al kan ons die element van voorbeeld in die geskiedenisse nie ontken nie, is daar egter 'n verskil tussen die erkenning van die bestaan van voorbeelde en die eksemplaristiese gebruik van die Skrif.

Die Bybel is God se oer-openbaring. Wanneer ek 'n gedeelte van die Skrif lees, dan moet ek vra: wat doen God hier? Hoe is Hy besig om sy plan uit te voer? Hoe is Hy besig om die sonde te straf, sy heil te openbaar en die Verlosser nader te bring? Samevattend, wat doen God hier met en vir sy volk, hoe is Hy besig om Homself aan sy volk bekend te maak?

Wanneer ek byvoorbeeld in die profete lees hoe God bepaalde gesindhede en gedrag onder sy volk veroordeel, dan hoor ek daarin hoe God dink, oordeel en spreek oor sulke sondes en ongeloof. Ek leer so sy gedagtes en oordele op 'n baie praktiese en konkrete manier ken. So spreek Hy my ook aan. Ek hoor dat my sondes veroordeel word, nie om­dat ek presies dieselfde dinge as hulle gedoen het nie, maar omdat ek in die lig van die wet my son­de leer ken het as verbonde aan die sonde wat in die Skrifgedeelte veroordeel word. Ek lees hoe God reageer as die heilige en soewereine God, volgens sy reg. Ek weet: daardie God is my God. So is Hy.

Ons moet daarom nie onmiddellik 'n verbinding lê tussen onsself en die Skrifgedeelte deur te soek na allerlei parallelle en voorbeelde nie. Die verhouding is daar in Hom wat besig is om Homself bekend te maak in die spesifieke situasie van die spesifieke men­se.

Heilsgeskiedenis🔗

PICTURES

Die Bybel gee vir ons nie los ver­hale wat op 'n atomistiese wyse, los van die res van die Bybel, verstaan en gebruik kan word nie. Die Bybel wys ons die weg wat God met sy volk en met die wêreld gegaan het. Dit beskryf God se groot reddingsaksie in en deur Jesus Christus. Ons noem dit heilsgeskiedenis. Ons noem dit ook verbondsgeskiedenis om te benadruk dat dit gaan oor die omgang van God met sy volk. Deur die hele Bybelse geskiede­nis loop 'n pragtige lyn wat ons moet respekteer.

Die hele Ou Testament wys ons hoe ons Verbondsgod, na die wonderlike begin in die Paradys en die verskriklike sondeval daarna, die koms van sy Seun as Verlosser voorberei. Ons moet die Ou Testament op Christus gerig lees. Christus self het daarop gewys dat die Skrifte van Hom getuig (Joh. 5:39). Sy koms is reeds in die paradys aangekondig. In Gen. 3:15 maak die Here duidelik dat die hele geskiedenis deur die stryd tussen die vrouesaad en die slangesaad beheers sal word. Daarom moet ons die geskiedenis van Kain en Abel nie slegs sien as 'n voorbeeld van haat en geweld wat ons moet vermy nie. In die lig van Gen. 3:15 het ons in daardie geskiede­nis juis te doen met 'n aanval van Satan, wat in Kain woon, teen God se troue kneg Abel (vgl. 1 Joh. 3:12). Christus is besig om in die wêreld te kom, maar Satan probeer om sy koms te verhinder. So beskryf Openbaring 12 die geskiedenis van die Ou Verbond as die worsteling van die vrou wat die Kind moet baar en die draak wat die Kind wil verslind. Daarom mag ons die geskiedenis van Ester ook nie versmal tot die morele les om soos Ester bereid te wees om jou lewe vir jou volksgenote op te offer nie. Hier het ons te doen met 'n massale aanval op God se volk en God se ingryping om dit te keer en om die pad na Christus oop te hou.

Ons moet die Bybelse verhale dus altyd in die kader van God se verlossingsplan lees. Ons kan die belewenisse van Bybelse persone nie sommerso op een lyn met ons eie ervarings stel nie. Elke Bybelse persoon het 'n eie plek in die heilsgeskiedenis ontvang om tot die oorwinning van die vrouesaad oor die slangesaad te kom.

Eenheid🔗

Is daar dan nog 'n verbinding tus­sen die Bybelse persone en ons vandag? Die heilsgeskiedenis is 'n eenheid. Ons kan die volgende verbindinge tussen ons en die Bybelse persone noem:

  • Hulle God is ons God. Die een Verbondsgod wat die geskie­denis beheers is gister, van­dag en tot in ewigheid dieselfde.
  • God se beloftes aan die vaders het basies betrekking op die verlossing in Jesus Chris­tus. Dit geld ook vir ons van­dag.
  • Die geloof is deur alle eeue heen, een en dieselfde. Reeds in die Ou Testament het God gewys dat sy volk op Hom kan vertrou en het Hy geloof geëis. Dis vandag nie anders nie. Daarom kan Abraham se geloof 'n voorbeeld vir ons geloof wees (Rom. 4:19 e.v.). Die Skrif gee ook die geskie­denis van die vroeëre generasie as 'n voorbeeld vir die latere generasie (1 Kor. 10; Hebr. 3 en 11.)
  • Die verbond in die Ou en Nuwe Testament, met sy belofte en eis, is in prinsipe een en dieselfde. Hoewel die bediening verander het, bly die essensie dieselfde. Dis die een verbond van genade.
  • Basies is dit een en dieselfde kerk in die Ou en Nuwe Tes­tament. Christus vergader sy een heilige, algemene Christelike kerk van die begin van die wêreld af tot die einde toe.
  • Die uiteindelike doel is vir alle gelowiges dieselfde. Die gelowiges van die Ou Testament het nie slegs aardse seëninge verwag nie. Hulle het die nu­we, hemelse Jerusalem ver­wag (Hebr. 11:10,16). Ons sien uit na dieselfde herstel van die verdorwe wêreld.

Verskil🔗

Voordat ons persone en gebeurtenisse uit die Bybel as voorbeelde kan neem, moet ons eers die historiese afstand tussen daardie mense en gebeurtenisse én ons vandag, in ag neem. In die ge­skiedenis van God se omgang met sy volk is immers 'n bepaalde voortgang sigbaar. Onherhaalbare en beslissende dinge het gebeur waardeur die hele situasie vir die toekoms anders is as wat dit voor die tyd was. Die hele Ou Testament is met name geskryf in 'n situasie van verwagting van die koms van die Messias en dra dus 'n ander karakter as die Nuwe Testament, wat ge­skryf is nadat die volheid van die tyd aangebreek het. Wetsvoorskrifte onder die Ou Verbond wat na Christus vooruitgewys het, is in die Nuwe Verbond afgeskaf (Hebr. 10:1-18, Hand. 10:9-16). Die tempel van klip onder die Ou Verbond is in die Nuwe Verbond vervang deur 'n lewende tempel, die gemeente van Christus. Ja, elke Christen het self 'n tempel van God geword waarin God deur die Heilige Gees woon.

Hoewel die kernbelofte in beide bedelings dieselfde gebly het (naamlik: gemeenskap met God op grond van Christus se verlossingswerk), is daar wel 'n verskil in die sekondêre beloftes. In die Ou Testament was daardie kern­belofte verbind aan die belofte van nageslag en van 'n eie land. Hierdie sekondêre beloftes was 'n soort waarborg vir die vervulling van God se heilsbelofte. Ons ontvang nie daardie spesifieke beloftes nie. As Nuwe Testamentiese gelowiges ontvang ons egter die Heilige Gees op 'n manier waarop die Ou Testamentiese kerk dit nie ontvang het nie.

Daar Is ook 'n verskil met betrek­king tot die ampte. Voor Christus se koms was daar die ampte van profeet, priester en koning. Na sy koms was daar aanvanklik die apostels en profete. Daarna het die ampte van diaken, ouderling en predikante gekom. Dit hou verband met die groei van God se openbaring, totdat die vervanging van profete deur predi­kante en ouderlinge 'n nuwe tydperk inlui waarin ons die voltooide Bybel besit.

Tydens die lees van die Bybel is dit dus nodig om eers noukeurig die verskil tussen die tyd van die teks en ons tyd vandag vas te stel. Wie dit nie doen nie, kan nie anders as om die Skrif verkeerd te interpreteer nie en val maklik in 'n atomistiese en wettiese gebruik van die Skrif.

Konklusie🔗

Ter afsluiting wil ek vir u die konklusies van Professor NH Gootjes van die Hamilton Theological College uit Clarion (1990) deurgee.

Die belangrikste aandagspunte vir die heilshistoriese metode kan in vier reëls saamgevat word.

  1. God se sentrale plek moet in elke geskiedenis gehonoreer word.
  2. Die verhouding van die spesifieke gebeurtenis tot God se verlossingswerk moet duidelik gemaak word.
  3. Die ontwikkeling van die heilsgeskiedenis moet in rekening gebring word.
  4. Die spesifieke funksie van 'n persoon in die Bybel (profeet, priester, koning, apostel) moet gerespekteer word.

Deur te fokus op God se werk beteken nie dat die mens in die toepassing verdwyn nie. In die heilsgeskiedenis is die mens aanwesig en belangrik. Die vraag is nie of die mens betrokke is nie, maar hoe hy betrokke is. Die mens moenie vandag iets moet doen omdat 'n Bybelse persoon dit gedoen het nie. In so 'n toe­passing word God en sy verlos­singswerk genegeer. Ons moet dinge doen omdat die verhaal wys dat God dit verlang en gebied en dat God regeer en ons op Hom kan vertrou.

Slegs wanneer die historiese gedeeltes van die Bybel na hul eie aard verklaar word, word God as Verlosser geëer en ontvang ons die bemoediging wat ons werklik nodig het vir 'n lewe in geloof.