3 bladsye.

'Help, Ek Voel Niks Nie'

In hierdie artikel wil ons aandag gee aan die vraag: hoe ervaar ons ons kindskap van God? Hoe voel dit vir jou? Dit gaan dus oor geloof en gevoel.

Hou Jy van God?🔗

Ek het onlangs katkisasie oor die tweede gebod aangebied aan ‘n groep veertienjariges. Die vraag het toe aan die orde gekom: hoe dink jy oor God? Watter beeld het ons van Hom?  Ons bely almal dieselfde: ek glo in God die Vader. Ons bid almal met dieselfde woorde: ons Vader, wat in die hemel is. Maar dink ons dan ook dieselfde? Voel ons ook dieselfde? Of is daar onderling groot verskille waarvan ons meestal nie eers bewus is nie?

Ek het toe met die vraag begin: hou julle van jul Vader in die hemel? Vir almal was die antwoord so te sê 'n vanselfsprekende  'ja'. Die antwoord is voor die hand liggend, want enigiemand op daardie leeftyd sal weet dat jy hierdie antwoord behoort te gee. Of jy dit ook so voel, kom by so 'n antwoord nouliks aan die orde. Jy kan mos nie sê dat jy nie van God hou nie!

Wanneer Hou God van Jou?🔗

Hierdie eerste vraag was eintlik maar net die aanloop na die volgende een: wanneer hou God van jou?

Toe kom daar allerhande antwoorde na vore: as jy na Hom luister (gehoorsaam is), as jy sy wet onderhou, as jy veg teen jou sonde, as jy vergewing vra, as jy goeie werke doen, as jy kerk toe gaan, gereeld bid en in die Bybel lees. Hierdie antwoorde het ek sonder kommentaar op die bord geskryf en dadelik die volgende vraag gestel: wanneer hou God nie van jou nie? Dit sal ‘n mens nie verbaas nie dat daar toe presies die teenoorgestelde opmerkings gemaak is. Ook hulle is genoteer en daarop het die laaste vraag gevolg: wat dink jy nou eintlik, hou God van jou of nie?  En om dit vir hulle bietjie makliker te maak, kon hulle kies uit 5 antwoorde:

  1. God hou altyd van jou; 

  2. God hou meestal van jou;

  3. God hou soms wel en soms nie;

  4. God hou baie keer nie van jou nie;

  5. God hou glad nie van jou nie. 

'n Drietal het die eerste antwoord gekies (moontlik onder invloed van enkele preke wat ek onlangs oor God se onvoorwaardelike liefde gehou het). Vier het gekies vir antwoord 2, vyf vir nommer drie en een het vir antwoord 4 gekies.

Die konklusie t.o.v. die tweede gebod (ons beeld van God) was duidelik: ons sê wel almal dieselfde, maar tog is ons beeld van God verskillend. Jy sou kon sê dat daar onder die dertiental katkisante ten minste vier verskillende godsbeelde blyk te wees.

Wat van Jou Ouers?🔗

Op sigself beskou was dit vir die meeste al 'n hele ervaring om die teenstelling te ontdek: jy sê wel dat jy van God hou, maar jy is nie altyd seker of Hy wel van jou hou nie. Ons het nog 'n rukkie verder hieroor gepraat. 

'Ek is bly julle praat so reguit, eerlik hieroor. Sou julle kans sien om ook reguit te antwoord op nog 'n persoonlike vraag - sommer so in mekaar se teenwoordigheid?  Wat van jou ouers?  Hou jy van jou pa en ma?' 

Dit is ook so 'n tipe vraag waarop mens nie maklik nee kan sê nie. Maar hulle het darem iets geleer uit die vorige vraag, want hier en daar kon mens tog 'n bietjie weifeling agterkom. En dit moet ons nie verbaas nie, want Pa en Ma moet ook dikwels teen die wil van hul kinders ingaan. In elk geval, almal het opnuut met ‘ja’ geantwoord. 

En toe volg ek natuurlik met die vrae: wanneer hou jou ouers wel van jou?  En wanneer hou hulle nie van jou nie? Daar was klein verskille in die antwoorde, maar almal het omtrent dieselfde gesê: dit is afhanklik van jou gedrag. Wat jy doen of nie doen nie is bepalend vir die vraag of jou ouers van jou hou. En toe ek daarna gevra het of hulle dink dat hulle ouers van hulle hou (met dieselfde 5 moontlike antwoorde as hierbo aangegee), was die uitslag amper identies as die uitslae van die eerste rondte (of God van jou hou).

Hoe Voel Dit?🔗

Op sigself beskou is dit niks nuuts dat die beeld wat ons van ouers het, baie invloed het op die beeld wat ons van God het nie.  Sowel die manier waarop ons oor Hom dink, as die wyse waarop ons Hom ervaar. 

Watter gevoel gaan gepaard met die gedagte dat jou ouers eers van jou hou, as jy dit op een of ander manier verdien? Dié gedagte maak kinders vanselfsprekend onseker. Want wanneer doen jy nou iets regtig goed? Wanneer is dit genoeg? Wanneer is jy lief of gehoorsaam genoeg om seker daarvan te wees dat hulle van jou hou? Wat is die grens van ongehoorsaamheid om tog nog te kan dink: hulle hou darem seker nog so 'n bietjie van my? Jy sal bowendien op dieselfde manier na die ander kinders in die gesin kyk: wanneer kry hulle aandag of waardering, of straf? Want daarvan kan jy ook leer hoe dit wel of nie moet wees nie. En dit kan soms weer lei tot onderlinge wedywering of jaloesie, sowel by die huis as by die skool.

Hoe meer ek daaroor praat met kinders en met ouers, hoe meer word dit duidelik dat baie dikwels liefde en aanvaarding aan voorwaardes gebind is. Ek hou van jou, ek aanvaar jou as jy aan my verwagtings voldoen.  Dit is die sein wat kinders, selfs die kleintjies, voortdurend opvang. Dit is die sein wat ouers dikwels ook uitstuur. Jy moet presteer om aanvaar te word. Jy moet voldoen aan 'n aantal (soms uiterlike) kriteria om in te pas, om byvoorbeeld deur ander as 'n goeie Christen gesien te wil word. Maar die regte gevoel oor liefde ontbreek nog baie keer. Dit kan lei tot 'n lewe wat in een sin kernagtig saamgevat kan word met:  ek het alles, maar ek is nie gelukkig nie. Of: ek doen baie, soms meer as wat ek kan, maar dit gee my nie 'n gevoel van vrede nie.

En Wat van God?🔗

Watter gevoel maak dit by jou wakker om te weet dat God jou Vader is? Maak dit jou regtig bly? Is dit vir jou heerlik om Sondae na Hom toe te gaan? Verlang jy daarna om met Hom in gebed te wees? Die antwoord op hierdie vrae het baie te doen met die antwoord op die ander vraag: wanneer hou God van my? Want as jy op daardie vraag nie met volle oortuiging kan antwoord: 'altyd, want ek is sy kind!' nie, dan kan dit nie anders nie: die onsekerheid sal jou hele lewe met Hom beïnvloed. Gestel jy sou dink: God hou nie van my as ek sonde doen nie. Dan het jy 'n groot probleem. Want wanneer doen jy nie sonde nie? Ons bely in ons Kategismus dat selfs ons beste werke in hierdie lewe onvolmaak en met sondes besmet is (antw. 62). Dan gaan dit dus nie oor daardie begeertes, oor daardie woorde en dade, waarvan ons self maar al te goed weet dat hulle sondig is nie. Maar dit praat oor die mooiste oomblikke uit my lewe, my vroomste gedagtes, die dinge waarop  ek menslik gesien, trots op mag wees. Ook dit is onvolmaak en met sondes besmet.  Dan sou God in hierdie lewe dus nooit regtig van jou kon hou nie. Solank as wat ons dink dat ons iets moet doen om deur God aanvaar te word, dan kan die die emosionele band met Hom nie groei nie. Want op hierdie voorwaardelike basis kan geen werklike vertroue groei nie. En die gevolg is dat ons altyd in ‘n verstandelike tipe stryd bly:

Ek mag nie twyfel nie. God se woord is waar, God se beloftes is betroubaar. Die Here Jesus het vir al my sondes gesterf. Ek is mos gedoop? Dan weet ek tog immers dat ek God se kind is? Dit moet genoeg wees. Ook sonder dat ek daarby iets voel. 

Maar die hartseer is dat die gevoel in ons verhouding met God geen egte plek kry nie.

Die Verlore Seuns🔗

In die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15: 11-32) vertel die Here Jesus ons iets oor die aard van God se Vaderliefde. Dit is goed om sorgvuldig te luister na wat Hy ons leer. Want verstaan ons altyd die betekenis van hierdie bekende gelykenis? Die grootste misverstand skuil al in die gelykenis se naam: die verlore seun. Daarby sou jy al die vraag kon stel: Watter een van die twee was nou eintlik die verlore seun? Want die gelykenis begin met die woorde: 'n vader het twee seuns gehad. Net hieroor sal dit al ‘n idee wees om eerder te praat van die gelykenis van die twee verlore seuns. 

In die verband van hierdie artikel wil ek wys op twee aspekte: Hoe die seuns oor hulle vader dink en die manier waarop die vader na sy kinders kyk. Eers die twee seuns. Ondanks die groot onderlinge verskil is daar 'n sterk ooreenkoms te sien in die manier waarop hulle na hulle vader kyk. Die jongste dink in die dieptepunt van sy ellende: Ek sal opstaan en na my vader gaan en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u. Ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie, maak my soos een van u huurlinge.

Die oudste seun sê in sy kwaadheid oor die fees wat sy vader vir die jongste wil hou: Ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie. Beide seuns het dus blykbaar altyd gedink dat hulle dit op een of ander manier moes verdien om sy kind te mag wees. Die jongste het gevoel dat hy, toe hy nog (gehoorsaam) by die huis was, deur sy gehoorsaamheid dit self verdien het om kind te wees. Die oudste het sy vader altyd beskou as werkgewer. Hy het hom moontlik elke dag afgesloof en gewerk en gewerk en gewerk tot hy omgeslaan het. Dit het hy hy blykbaar nodig gehad om as kind deur sy vader aanvaar te word. Nooit het hy een gebod oortree nie. Hoe is dit moontlik?! Dit moes baie moeite gekos het! Die ontstellende ooreenkoms is hierdie: nie een van die twee kan hulle voorstel dat hulle 'n vader het wat hulle onvoorwaardelik liefhet, wat gewoonweg van hulle hou, omdat hulle sy seuns is nie.

Die Vader🔗

In die gelykenis ontmoet ons dus die nooit-ontdekte-vader. Dit terwyl die vader hom teenoor beide seuns duidelik as vader laat ken. Toe die jongste nog ver van sy ouerhuis was, blyk die vader op die uitkyk vir hom te wees. Sodra die seun binne sig kom, lees ons dat sy vader hom sien en innig jammer vir hom gevoel het. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom hartlik.  Opvallend is dat ons nie 'n woord van verwyt lees nie. Die vader vra nie: wat het jy aangevang, of: wat het van al die geld geword nie. Hy sê ook nie: ai seun, as jy net geweet het wat jy my aangedoen het nie. Niks van dit alles nie. Vader laat kom die beste kleed, 'n ring en skoene en gee opdrag om die vetgemaakte kalf te slag. Want sy vaderliefde is nie afhanklik van wat die seun alles aangevang het nie. Hy is vader, omdat Hy vader is. In watter toestand sy kind ook al by die huis aankom, sê hy dat die seun sy kind is! Welkom tuis! Ek is so bly jy is terug!

Dieselfde houding toon die vader as die oudste seun kwaad buite bly staan het. Dan is daar nie 'n afwagtende, voorwaardelike houding wat sê: kom binne sodra jy jou slegte bui afgeskud het, dan sal ons verder praat nie. Nee, as die oudste seun nie wil ingaan nie, dan kom die vader buitentoe.  In 'n paar woorde laat hy agterkom dat hy nie 'n werkgewer is nie, maar vader is.  En ook nog altyd was. Kind, jy is altyd by my. Jy mag nog altyd my kind gewees het. Jy mag gebruik gemaak het daarvan. Al wat myne is, is joue. Jy sou enige tyd saam met jou vriende kon fees gevier het, sonder dat jy dit eers self verdien het. Jy sou kon feesgevier het bloot omdat jy my kind is. Kom binne by jou vader, wat op dieselfde manier ook die vader van jou broer is.

Ons Vader🔗

Op hierdie manier wil die Here Jesus ons leer dat ons Vader in die hemel ons werklik lief het.  Paulus skryf in Romeine 5:8: 'Maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog maar sondaars was.’  Juis met hierdie onvoorwaardelike liefde wil God in ons hele lewe, sowel as in ons denke as in ons gevoel, kinderlike wederliefde wek. Hy wil die diepe oortuiging by ons wek: Hy is my Vader, nie omdat ek dit verdien nie, maar 'bloot' omdat ek sy kind mag wees!